Hoe gaan dit met die gewigsverlieskompetisie?

Die span van 20 deelnemers is goed op dreef! Ek is sommer trots op hulle! 

Ek dink die meeste van hulle het al vergeet dat dit eintlik ‘n kompetisie is. Hulle ondersteun mekaar. Gee mekaar raad. Deel resepte uit. Moedig mekaar aan. Vertel van iets lekkers wat hulle gaarmaak. 

Sommige is erg geraak deur die Carb Flu, maar op hierdie stadium is almal al lankal deur daardie nare tonnel van koolhidraatonttrekking. Dis ongelooflik hoe sout en water dit ligter maak, en in erge gevalle, Rehidrate! 

Elkeen van die persone is op sy/haar eie pad van herstel. Ek begin terugvoer kry van oorwinnings wat behaal word, ook in sommige valle teleurstellings. Iemand vertel my dat die alomteenwoordige pyn wat sy altyd gehad het, weg is. Ek probeer om ‘n verhouding met elkeen te bou en minstens een keer per week in persoon met elkeen te gesels. Hoe gaan dit met jou? Liggaamlik? Geestelik? Ons gesels oor meer as net gewigsverlies en kos en dieet. Ons vat hande waar iemand die behoefte het daaraan. 

Ek glo dat hierdie lawwe idee wat ek een aand ná 9 gekry het, nie sommer net ‘n lawwe idee was nie. Ek glo dat dit van God af gekom het, anders sou dit al van die eerste oomblik af gedoem wees. Ek sien ‘n wonderlike groep mense op pad na ‘n nuwe leefstyl met gesonder liggame. 

En die gewigsverlies? Ag, dis wonderlik. Saam het hulle binne die eerste 10 dae al 50 kg verloor … dit is 100 pakke botter! Ons sal binnekort ‘n bakkie én ‘n Venterwaentjie nodig hê om al die pakke botter wat langs die pad verloor raak, op te tel. 

En die pryse? Daar is ‘n wonderlike naweek vir ‘n gesin van 4 in een van Seegogga se vakansiehuise by Struisbaai. Daar is ook ‘n heerlike geskenkpak van Avon-produkte wat Rina van Papendorp geskenk het. Mrs Martins Mikrobes het ook ‘n wonderlike pak skoonmaakmiddels geskenk, dis die lekkerste produkte denkbaar. Rita Oatway het ‘n pragtige skildery geskenk, ons het besluit op die een met die blomme. En dan kry ons ook ‘n heerlike boksie wyn by Rooiberg Kelders, wat mos al vir jare bekend is vir hulle wenwyne. Desiree Kleinhans, eienaar van Suidpunt Potpourri, die mees suidelikste restaurant in Afrika, en ook van Earth, ‘n lieflike restaurant en geskenkwinkel in Struisbaai, het ‘n wonderlike geskenkpak saamgestel. 

So, daar gaan meer as een wenner wees! Ek is so opgewonde!

Kyk gerus HIER indien u meer van my skrywes oor die keto-leefstyl wil lees.

Toortsie

Hierdie bloginskrywing het oorspronklik verskyn in Toortsie se Ketoblog, ‘n blog waar daar net oor Banting, of Keto, of LCHF, en diabetes geskryf word.

13 thoughts on “Hoe gaan dit met die gewigsverlieskompetisie?

    1. Ja! Hierdie week het dit weer eens goed gegaan met die span. Hier en daar kry een swaar of dien die skaal nie soos hulle hoop nie, maar as hulle mooi kyk was daar ander veranderinge ten goede. Ek is ook baie bly.

      Liked by 1 person

    1. Dankie, San. Dit voel vir my of die Here al hoe meer maniere vir my bring wat ek my ding kan doen waar ek ookal is. Onthou, ek pendel en is gewoonlik ‘elders’. Maar met hierdie groep en op hierdie manier kan mense wêreldwyd inskryf en meedoen. Die internet en tegnologie het baie dinge darem verander.

      Like

Gesels saam, asseblief!