Beskermd: Maak ‘n prentjie in Ierse hekelwerk

Die inhoud word beskerm met ‘n wagwoord. Sleutel jou wagwoord hier onder in om die inhoud te kan sien.

Sou ek ooit kon raai

Soms staan ek net in verwondering hoe een ding my, sonder dat ek dit besef het, voorberei het vir iets anders. Soms is dit selfs net ‘n gedagte wat sonder rede, uit die bloute deur my kop flits wat ek na die tyd besef het: daardie gedagte was om my voor te berei. Dit was die Heilige Gees se waarskuwing.

Hoe sou ek ooit as kind en later, as jongmens, kon raai dat my dertienlangejare koshuisveblyf my sou voorberei vir ons weeklikse gependel plaas toe en terug? O ja, my koshuislewe het my ook baie ander dinge geleer, lesse wat ek my lewe lank sal benut, soos aanpasbaarheid, om met mense reg te kom, uithouvermoë, om planne te maak.

In my koshuisjare het ek letterlik twee lewens geleef. In die week, skooldinge, koshuisdinge. Kom Vrydag en my pa kom tel ons by die koshuis op, is daar ‘n heel ander agenda. Dan is skooldinge totaal uit my kop uit. Dan fokus ek op huisdinge. Om saam met my pa op die plaas rond te ry en by mense te gaan hello sê. Om saam met my ma kos te maak, te borduur of waarmee sy ookal besig is. Om met my pop te speel. Saam met Oupa in die tuin te werk, musiek te oefen na hartelus, Sondag kerk toe te gaan, skoon vergeet van huiswerk doen, net om Maandagoggend met ‘n skok te besef dat ek nie my skoolwerk vir die naweek gedoen het nie. Dit is natuurlik hoekom ek ook nie geglo het daaraan toe ek skoolgehou het om oor naweke huiswerk te gee nie.

Nou is ek oud en getroud, maar pendel op en af. Is ek op die plaas, doen ek die kantoorwerk wat gedoen moet word, my program lyk heeltemal anders. Ek maak nie regtig kos as ek daar is nie en sê dat ek eintlik net kamp. Soms gooi ek wel ‘n bondel wasgoed in die masjien, net om die druk oor die naweek minder te maak. Meestal is ek deesdae eintlik ‘rustiger’ op die plaas en bou energie op vir die huistoekom.

By die huis gekom, werk ek soos ‘n besetene om alles weer gedoen te kry vir volgende week se koshuistoegaan. Die wasgoed word gewas, tussen my en Maria ruk ons die huis reg, ek maak kos wat ek kan vries, verwerk groente uit die groentetuin, nooi vriende oor vir ete, doen al my draaie wat in die dorp gemaak moet word, doen inkopies, wat nog alles. Vat my Sondagmiddagslapie.

Ek wonder, as ek nie ‘n koshuiskind was nie, sou ek dit dalk anders hanteer het? Of presies net dieselfde as nou omdat dit wat nou op my lewenspad is, die pad is wat ek moet loop?

Toortsie

Rooikappie

Nikita skryf van ‘n oulike projek wat hulle by die skool gaan doen. Hulle gaan die storie van Rooikappie van ‘n ander kant benader. Die kinders moet die storie oorskryf, maar uit die oogpunt van een van die ander karakters, bv die ouma, of die houtkapper of die wolf.

Ek was baie lief vir kinderstories. Rooikappie. Goue lokkies en die bere, Die drie varkies, Die sewe dwergies. Ag, nou kan ek nie die name van nog van daardie stories onthou nie. Die regte, egte outydse kinderstories. Meestal Europese stories wat iewers in ‘n bos gebeur het. Dit is seker die rede waarom ek so graag toe ons in Europa was, net iewers in ‘n regte bos wou loop. Nie ver nie, want dan sou ek verdwaal, maar net die bosgevoel ervaar.

Ek het eers op ‘n latere ouderdom, toe my eie kinders klein was, gehoor dat daar eintlik ‘n storie of ‘n lessie agter elke storie was. Dalk het ek tog onbewustelik die lessie geleer, want ek het tog altyd geweet om versigtig vir wolwe te wees. Maar ek was nie paranoïes en het ‘n wolf om elke hoek en draai gesoek nie. Ek het ook nooit besef dat Rooikappie se storie dalk wreed is en dit vir kinders kan bangmaak nie.

Want dalk is dit nie op so ‘n manier vir my vertel nie. Dit was sommer terloops dat die wolf vir die ouma en wie nog almal ingesluk het. En op die ou einde word die wolf mos oopgezip en klim almal uit sy maag uit. Hoe wreed is dit tog regtig? En die wolf wat vir ouma insluk is gewoonlik sommer toevallig genoem of ‘n bietjie gedramatiseer, maar niks ernstig nie. En hy is op die ou end dood, so waarvoor moet ons nog bekommerd wees?

Dalk is dit omdat ek in ‘n veilige omgewing grootgeword het, waarvoor ek my ouers oneindig dankbaar is. Daarom dat ek nie dit as wreed ervaar het nie, want dit was nie vir my bekend nie.

Vandag, egter, besef ek dat daar baie ‘Rooikappies’ in ons samelewing rondloop. Dogtertjies en ook seuns wie nooit die voorreg gehad het om voluit kind te wees nie. Kinders wat op ‘n vroeë ouderdom met die wolwe van die samelewing kontak moes maak en hulle moes hanteer terwyl hulle geensins geweet het hoe om dit te doen nie. Ek kan verstaan dat stories soos Rooikappie vir hulle dalk baie nader aan die vel sou voel as vir die kind wat dit gespaar kon bly.

Sjoe! As ek nou dink, besef ek eintlik hoe naïef ek was, as kind, maar ook toe ek my kinders grootgemaak het en dat ek baie meer op God se beskerming staatgemaak het as wat ek ooit kon besef. En dat Hy hulle baie meer beskerm het as wat ek ooit kon dink. Dalk kan ons ook, soos Tommy Lessing voorstel, begin neerskryf van al die kere wat God ons beskerm het of geveg het vir ons, of waar Hy spesifiek ingegryp het. Nie net melding maak van die geleentheid nie, maar die gebeure neerskryf. Want ek weet dat ek later die feite rondom dit vergeet, selfs die geleentheid vergeet. Want eintlik is dit net ‘n genade om ‘n Rooikappie te wees wat beskerm was.

Toortsie

Om jou hond te groet

Holladriehoe skryf vandag hoe sy haar hondjie oor die naweek moes groet. Hoe sy hom nog steeds oral sien, selfs al is hy nie meer daar nie. Ja, ek verstaan daardie oral sien van iemand vir wie jy lief is wat skielik nie meer daar is nie.

In hierdie jaar moes ek ook my ou rifrig groet. Mags was al dertien jaar oud, dis baie jare vir ‘n grootraam hond.

Die laaste paar jare was sy verkieslik ‘n buitehond, want die ou knypers wou glad nie meer werk nie. Sy het al hoe moeiliker op die bakkie geklim en een keer toe ons wil ry, vra ek haar die ou vraag wat altyd werk: ‘Gaan jy sam of bly jy?’ Toe kyk sy my in die oë, draai om en stap hok toe. Toe ek aanhou roep, kom vat sy ‘n happie hondekos, draai om en sê vir my dat sy eerder tuis wil bly.

Sy het nog altyd graag in die berg saam met ons gestap, maar as ons sou stop om te rus, kon ek sien dat haar ou lyf eintlik baie swaar kry. Tog sou sy eerder haar nooi beskerm as om tuis te bly.

In die Desembervakansie het sy een keer soos ‘n pyl uit ‘n boog geskiet agter ‘n kat aan. Sedertdien kon ek sien dat haar heupe ongemaklik. Sy kon ook nie meer gou genoeg opstaan as sy voor die agterdeur gelê het nie. Sy was oud. Sy het swaar gekry.

My man het ingestem om haar veearts toe te neem toe ek hom vra. Ek het vir Mags op die bakkie gehelp en lank staan en kyk nadat hulle gery het. Sy het hierdie boodskap vir my gegee om vir my kinders oor te dra:

Liewe kinders. Mags het hierdie boodskap vir julle. Sy sê julle moet mooi na julleself kyk. Sy was altyd baie lief vir julle. Sy sê sy het hard probeer om altyd die beste hond te wees, maar dat sy nou moeg is. Haar heupe wil nie meer saamwerk nie. Dat sy steeds graag saam met my in die berg sal wil stap, maar dat dit haar regtig baie moeg en seer maak. Haar ou lyf wil nie meer nie. Sy sê sy het alles vir Willa en Milo geleer wat sy kon en dat hulle okay sal wees en dat Willa nou die kans sal kry om haar persoonlikheid ten volle te ontwikkel. Sy sê as Nossie of Gysie oor enige iets twyfel, Willa en Milo sal weet, hulle kan net vir hulle vra. Rus sag, ou grote. ❤️

Sterkte, liewe Holladriehoe.

Toortsie

Intussen het meer as ‘n maand verloop. Willa, my jonger rifrug, hét ontwikkel tot ‘n pragtige hond wat nou weet dat sy die nommer een hond is. Sies tog, sy het baie keer geboelie gevoel (deur die ander honde) veral as ál die kinders se honde ook daar is. As die grootste van die honde, moes ons baie keer keer as sy te rof met die klein hondjies speel. Sy het sommer net vanself teruggestaan as daar ander honde kom. Nou kan ek sien dat sy weet én glo dat sy die nommer een hond op die erf is. Sy het baie meer selfvertroue en voel gemaklik as die ander kleinkindhonde ook daar is.

Ek wonder hoeveel keer het ek al

Ek hou mos van die waarheid. Die onopgesmukte waarheid. Die een sonder te veel polering. As kind en as jongmens het ek die volle waarheid gepraat, ek hoop dat ek dit vandag nog doen. Die reguit waarheid. Soos wat dit uit my hart gekom het, op die oomblik. Reguit, en baie keer totaal onsensitief. Dit maak mense egter ongemaklik. Oor jare het ek takt probeer aanleer. Het ek geleer om partykeer eerder stil te bly. Die woorde te dink, maar nie te sê nie. Of woorde te oordink voor ek dit sê. Of dit glad nie te sê nie en oor tyd al hoe meer gefrustreerd te raak sodat ek dit op die ou end wel sê, onoordeelkundig sê, mespuntskerp sê.

Dit is dalk die rede hoekom ek so van Angus Buchan hou. Angus praat die waarheid soos wat dit in die Woord staan. Vreesloos. Nie verdraaid soos wat die mensdom daarvan hou nie, maar die regte waarheid. Terloops, ek voel soms dat die Woord so verdraai word om die mense gelukkig te hou, maar ook dít werk nie. Die mense is steeds nie gelukkig nie en ‘n verdraaide woord is net ‘n verdraaide woord, niks anders nie.

As kind en as jongmens het ek vir tannie Mags du Toit gehad. Sy het ook net die waarheid geken. As ek twyfel oor iets of kompromië wou aangaan, kon ek maar net vir tannie Mags vra. Sy sou sonder huiwering vir my die waarheid antwoord.

‘n Blogger wat ek graag lees, is Minister Aldtric Johnson. O, hy praat ook die waarheid. Hy draai nie doekies om nie. Op sy mooi manier weet jy presies wat in die Bybel staan en hoe ek, Toortsie, nog soveel het om te leer. Waar ek nog ‘n bietjie skuurwerk moet doen. Sonder om my te laat voel asof ek die slegste mens, die grootste sondaar is wat bestaan.

Kyk nou net na hierdie bloginskrywing van hom: When the devil uses us against our loved ones. Ja. Hy, die duiwel, doen dit. Hy misbruik ons in ons verhoudings. Soos wat hy vir Petrus wou misbruik om die Here te laat afsien van die idee dat Hy gekruisig sou word. Hy misbruik ons sodat ons fokus afgetrek kan word van die Here af. Hy misbruik ons om eerder stil te bly ‘ter wille van die vrede’ en sodoende sonde toe te laat in plaas daarvan om dit te keer. Ons hou ons geliefdes soms terug wanneer hulle die Here voluit wil dien (ons is Christene, maar nie só erg nie). Ons maak selfs mense seer omdat hulle iemand wat ons liefhet, seergemaak het.

Ja, die duiwel gebruik ons in ons verhoudings om sonde toe te laat. Hy doen dit ook met my. Baie keer. Soveel van die goed wat Minister Jonhson daar genoem het, doen ek ook. Ek bly stil as ons kerk homoseksuele huwelike wil toelaat en die sinode nie die ruggraat het om te sê dat dit sonde is nie, maar verwag dat elke gemeente hulle eie keuse daaroor maak. Ek oordink soms woorde te veel en gebruik nie die woorde wat die Heilige Gees vir my gee nie.

Ons almal verskil. Ons almal se Geestelike Gawes, ons Geestelike roeping, verskil. My roeping as profeet, en dit beteken nie dat ek profesië uitspreek nie, vra van my om die waarheid te praat. Om te sê as ons dinge begin skeeftrek. Om selfs soms dinge te sê wat ons, ook ek, nie graag wil hoor nie. Dit is juis omdat God vir my hierdie spesifieke eienskappe gegee het, dat ek sekere dinge fyn waarneem. Dat ek moeilikheid myle ver sien aankom. Dat ek buite die boks dink, selfs heeltemal vreemd dink en vreemd voorkom. Dat ek nie sommer vasgehou wil word deur tradisie nie en ongemaklik raak as dit voel of iets stagneer. Dat ek patrone in gebeure en gedrag makliker raaksien. Dit maak dat ek baie sensitief is vir ander se gevoelens, en as ek dan die ongemaklike waarheid gepraat het, vir dae daarna slegvoel omdat die ander persoon sleg voel.

Ek wonder hoeveel keer in my lewe, ek wil amper sê hoeveel keer per dag ek presies doen waarvan Minister Johnsen praat. Wat ek nie my roeping uitleef nie. Wat ek eerder stilbly. En die ergste is, wanneer ek op die ou end ernstig ‘uitgehaal’ word, is dit baie keer juis omdat ek nie my roeping uitgeleef het nie.

Toortsie