Het ek julle al vertel van Mev Martins?

Ek dink nogal ek het! Hulle was mos een van my prysgewers toe ek verlede jaar die Bantinggewigskompetisie gehad het. En een keer het ek vertel dat, deur hulle produkte in konsentraat te koop, ek baie minder plastiek gebruik.

Juis in hierdie bloginskrywing het ek vertel hoe hulle produkte werk. Nié dat ek dit self uitgedink het nie, ek het dit maar op hulle eie webblad gaan opsoek!

Maar hoekom is ek nou vanoggend so opgewonde oor hulle? Omdat hulle my opgewonde maak! Want sien, hulle is bereid om die ekstra myl te stap vir hulle kliënte. By hulle is jy nie net ‘n nommer nie, maar ken hulle hulle kliënt later op die naam, selfs al het julle nog nooit in persoon ontmoet nie. Dít beteken vir my geweldig baie!

Soos die dag toe ek vir Lize bel en vra of hulle ‘n prys sal borg vir my kompetisie van laas jaar. Sonder huiwering het sy ja gesê, maar meer nog, sy het dit toe sommer by haar ook as ‘n kompetisie aangebied en so die boodskap versprei. Net vandag het ek dit weer ervaar. Ek kon ‘n afslagkoepon op moedersdag kry. Wat ek gekry het. Dit verval môre. Toe ek vandag my bestelling per internet plaas, sien ek nie die plek waar die afslagkoepon aangeteken moet word nie. Óf ek verloor dit, óf ek moet die hele bestelling weer plaas en dit was nogal ‘n klompie produkte. Ek bel haar. Geen probleem! Sy stuur vir my die nuwe bedrag wat die afslagprys insluit, sommer per whattsapp! Is dit nou nie diens nie?

Verder, as jy die betaling per direkte bankoordrag doen, kry jy altyd ‘n geskenk by. Hierdie keer is dit fudge. Die meeste kere is dit ‘n produk. Ek sê: “Maar ek wil nie die fudge hê nie.” “Natuurlik!”, hul stuur vir my sommer ‘n boks van die nuutste produk wat hulle net vandag gekry het! Eintlik, sê ek, is dit nie nodig nie, ek het mos ‘n groot afslagkoepon? Nee, nee, nee, hulle stuur dit saam. Kan ek nie darem net die helfte daarvan betaal nie? Nee nee nee!

‘n Ander keer het ek ‘n oproep gekry van haar af: Watter vriendin wil jy vandag bederf?, en daar, saam met my produkte, kom ‘n bederfpakkie vir die vriendin gratis saam!

Hulle produkte ís goed. Dis lekker om dit te gebruik. Dit is goed vir die natuur. Totaal bio-afbreekbaar en dit mag maar saam met ons afvalwater in die gryswatertenk kom. Dit sal nie skade doen aan ons plante en groentetuin nie. Dit sal nie skade doen aan die natuur nie, nie aan die aarde waarvan ek deel is nie. Dit werk my allergië teë.

Dís hoekom ek julle van hulle wil vertel. Hulle is iemand om te ken!

Toortsie

Nalatenskap

Jetpack vra: What is the legacy you want to leave behind?

Watter nalatenskap wil ek agterlaat? Hoe wil ek hê my mense moet my onthou? Watter monumente het ek in my lewe gebou? Wat ‘n vraag!

Wel, my een groot nalatenskap is sekerlik my kinders en kleinkinders. En ja, ek ís trots op hulle. Ek is ook dankbaar vir hulle. En dankbaar vir my Here vir hulle. Hulle doen hulle ding, is selfstandig. Baie genade van die Here.

Mag my grootste nalatenskap wees dat ek die Here ken. Dat ek ‘n lewende verhouding met die Lewende God het. Mag dit sigbaar wees in my alledaagse lewe. Mag dit straal uit my wese, my oë. Ek skryf dit nou hier en ek is nie sommer skaam om my geloof te bely nie, maar mag dit sigbaar wees selfs al sê ek niks. Mag juis dít ander aanspoor om dit ook te soek.

En ná die vorige paragraaf, tel al die ander duisende goetertjies waarmee ek vroetel, al die kreatiwiteit, al my werk wat ek vir ons boerdery gedoen het, die speel met die plaaswerkers se kinders, die kosboeke, die musiek, eintlik niks.

Toortsie

Belfast linne

Die pennie wat val. Of die kloutjie by die oor bring. Kyk, dis nie sommer ‘n gegewe dat ek iets gaan kliek nie. En as ek die slag iets kliek, is dit ook nie noodwendig dat my kliek die regte kliek is nie.

Ons besoek die Titanic museum in Belfast. Wat ‘n lieflike plek. Uitstekend gedoen! Hul begin met Belfast se geskiedenis en hoe die mense op ‘n stadium daarheen gestroom het om werk te soek. Die industriële revolusie. Die fabrieke. Linne fabrieke. Belfast linne. BELFAST LINNE!

EK BORDUUR MET BELFAST LINNE! Pieng!, val die pennie. Dis HIER waar my uiters duur linne vandaan kom!

Linne word van vlas gemaak. Pieng! Vlassade. Flax seed. Wat ek eet.

Ons beweeg aan in die wonderlike museum wat gebou is op die presiese plek waar die Titanic gebou is. Ons sien van die presiese toerusting wat gebruik is. Ons ervaar hoe die boot te water gelaat is. Ek leer dat daar omtrent vir nog 480 mense plek was op reddingsbote (ongebruikte plekke). Dat die eerste reddingsbote net 12 mense opgehad het terwyl dit meer as 30 kon vat. Dat hul nie die ysberg waarskuwings gehoor het nie omdat die telekse oorvol was van mense in die eersteklas wat boodskappe uitgestuur het. Dat daar nie 24 uur mense op diens was wat inkomende boodskappe moes ontvang nie. Dat …

Manlief vra vir my: “Wat het jy geleer?” Ek: “Dat ons NOU ‘n linnefabriek moet loop soek. Sjoe! Ek betaal baie honderde rande vir ‘n meter borduurlap in Suid-Afrika en hier is ons nou op die plek waar dit gemaak word.” En hy? Dat die Titanic inderdaad in Belfast gebou is en nie in Liverpool soos iemand genoem het nie.

Ons soek ‘n materiaal winkel. Besluit vooraf dat ons nie heeldag gaan soek nie, net een winkel en dan moet ons verder ry. Die dame het nog nooit van 28 draad borduurlap gehoor nie. Al wat sy het, is 3 rolle sintetiese lap, 14 draad Aïda.

Ag wat. Dan koop ek maar weer Belfast linne in Suid-Afrika. Sy sê daar is nie meer linnefabrieke in Belfast nie. As ek reg onthou, was daar een nie te ver van die Titanic af nie, maar my pennie het bietjie skeef geval.

En nou twyfel ek. Ís dit ooit Belfast linne wat ek gebruik?

Toortsie

Waarna luister ek?

Ek hét mos al vertel van Libby, ‘n E-biblioteek waaraan ek behoort. Jy moet lid wees van jou plaaslike biblioteek en op dié manier kan jy dan inskakel by Libby. Ek lees e-boeke en luister audioboeke. Dis veral die audioboeke wat my lewe baie verryk, wat ‘n nuwe pad vir my oopgemaak het, want dit kan ek luister terwyl ek besig is met ‘n handwerkie of terwyl ek in die kombuis woel.

Ek luister meestal stories. Christine le Roux se Omnibus 8 en Elsa Winckler se Romanza Nostalgie is sommer net lekker ligte leesstof. Flying Angels, The Butler en Complications van Danielle Steel was heerlike luisterstof. A Duke for Diana deur Sabrina Jeffries was ‘n heerlike verrassing, ek het nog nooit van haar boeke gelees nie en sal beslis weer na haar boeke kyk. Jeffrey Archer is natuurlik in ‘n klas van sy eie en The Eleventh Commandment het nie teleurgestel nie. Ek sal beslis weer Karen Kingsbury se boeke lees, The Baxters en A Distant Shore was heerlik. Dis lieflike, mooi stories met ‘n Christelike inslag. Kantelpunt van Sophia Kapp, ‘n wonderlike, weldeurdagte boek met soveel dinge waarmee ek my kon vereenselwig. ‘n Boek van bevryding. Bookshop by the Sea, geskryf deur Denise Hunter, het net so lekker geluister. Daar is ook jeugboeke, soos ‘n Goeie dag vir Boomklim deur Jaco Jacobs. Dis regtig ‘n oulike boek om te lees.

Maar waaroor ek einlik wil skryf, is Tolbos deur Irma Joubert. Dis my eerste Irma Joubert wat ek luister. Ek het wel al stukkies voorlesing op die radio gehoor as dit toevallig aan is. In die keurigste, mooiste Afrikaans herleef ek die geskiedenis soos wat ons dit beleef het. Want Katrien is omtrent net so oud soos ek. Al verskil is dat ek regtig ‘n gelukkige kinderlewe gehad het terwyl sy haar ma op ‘n baie broos ouderdom verloor. Sy is rebels, kwaad, woedend. Sy wys my die lewe uit ‘n ander hoek. Soos die Voëlvry beweging. Ek was beslis daardie jare nie in dieselfde kamp as sy nie, maar vandag, as ek terugkyk en Tolbos lees, juig ek saam met haar oor die verandering en groei wat in ons land gebeur het. Besef ek dat elkeen van ons sy deeltjie bydra op sy eie manier. Sy, deur kwaad te wees, ek weer op my manier. Die geskiedenis, die politiek van die dag, PW met sy wysvinger … ek beleef dit weer saam met Katrien sonder dat dit ‘n geskiedenisboek is. Sonder dat dit té veel in my keel afgedruk word. Want, al lees en kyk ek nie nuus nie, al is ek nie betrokke by die politiek nie, leef ek mos vandag. Word ek beïnvloed deur die gebeure van die dag. Kan ‘n mens dit mos nie heeltemal ignoreer nie, want ek woon hier, ek leef hier. Irma Joubert, dankie. Dankie, dankie dankie vir hierdie pragtige boek! En dankie vir Carla Smith wat dit voorlees op ‘n wonderlike, meelewende manier.

Toortsie

(Terloops, ek het in hierdie week gehoor dat die Wes-Kaap se bib weer aanlyn is en dat mense wat gesukkel het om op Libby aan te teken , dit nou weer kan doen. Ek kan natuurlik niks waarborg nie, dis mos maar op hoorsê, maar dalk die moeite werd om weer te probeer.)

Een dag in die stad

Een dag in die stad is genoeg. Dít sê ek tien oor nege die oggend al terwyl ons in die verkeer sit en die dag lê nog voor. Dankie tog dat ek nie bestuur nie en kan sit en konsentreer op my hekelwerk.

Ons moet oor ‘n uur by ons bestemming wees wat nie soveel kilometers is nie en glo darem dat ons betyds sal wees. Alhoewel… teen tien kilometer per uur is stap dalk die beter opsie!

Dankie tog vir koerierdienste. Dankie tog vir internetbestellings wat ons lewens soveel makliker gemaak het. Wat help dat ons nie vir elke bakatel hoef stad toe te ry nie. Wat beteken dat elke pakkie op die koerier se bussie eintlik ‘n hele voertuig minder op die pad is. En die taxi’s wil ‘n mens moedeloos maak. Hul druk eenvoudig net in. Maar sê nou elkeen van daardie mense het ook nog in ‘n kar op sy eie gesit? Hoe het dit dan gelyk?

Maar soms, net soms, is dit wel nodig dat jy stad toe moet gaan. As kind was ek bang vir die middestad. As jongmens was dit ‘n opwindende dag as ek sou stad toe kom. Maar vandag? Net as dit regtig nodig is.

En tog hou ek daarvan om die stede van die wêreld te kan besoek. Iemand vra my nou die dag, in watter wêreldstad sal ek graag wil woon. Ek slaan ‘n ‘blank’. Wêreldstad? Nog nooit só daaroor gedink nie! Enige plek, solank ek net veilig voel. So ‘n rukkie later antwoord ek weer: Enige plek, maar verkieslik ‘n kleiner plattelandse dorp. Ek glo dat ek, as ek my die tyd sal gun, sal kan aanpas op enige plattelandse dorp. Ek sal die handwerkdames loop uitsnuffel en vra of ek deel van hulle mag word.

Maar vir eers bly ek net waar ek is en ek hoop dat die Here dit vir my moontlik sal maak om nog laaaaank daar te mag bly.

Toortsie