Liewe Prins Harry

Liewe Prins Harry

Ek skryf hierdie brief vir jou in Afrikaans, want dis my hartstaal waarin ek my die beste kan uitdruk. En die kans dat dit in elk geval by jou gaan uitkom, ongeag die taal, is sekerlik ‘n ronde nul. Maar dit wat ek hier skryf is al van gisteroggend af in my hart. Dit draai in my kop en eintlik moes ek dit gister geskryf het toe die woorde so vars en duidelik in my kop was.

Liewe Harry, ek is sommer net ‘n gewone boervroutjie hier van Suid-Afrika. Beslis nie iemand met wie jou paaie normaalweg sal kruis nie. Ek ken en verstaan nie eers presies die Britse Koningshuis en presies hoe dit werk nie. Maar ek is ‘n ma. ‘n Ouer. Iemand wat selfs kinders het. Iemand wat self ook ouers gehad het. Iemand wie se kop al baie gestamp het.

Harry (ek hoop nie jy gee om dat ek jou op die naam noem en nie u sê nie. Ek bedoel nie om disrespekvol te wees nie.), ek kan my op geen manier indink wat tussen jou en jou pa gebeur het nie. Ook nie hoe dit moes wees om in ‘n koningshuis groot te word nie. Ook nie wat jy as prins moes verduur nie. Al wat ek dink en weet is dat albei van julle se harte oneindig seer is en nie net julle twee se harte nie, maar almal na aan julle. Ai, Harry, ons as ouers maak maar foute. Baie foute. En ons doen dit omdat ons ook maar soms nie beter weet nie of omdat ons gedruk word of wat die rede ookal is. Maar wat ek weet is dat elke ouer sy kind oneindig liefhet, selfs die slegste van ouers. En ek weet dat jou pa, die koning, jou oneindig liefhet en ek kan nie dink dat hy ‘n slegte ouer sou wees nie. Ek weet dat hy jou liefhet.

Jy weet, selfs al was hy die koningin se seun, die uitverkore een, dat ook hy nie ‘n maklike paadjie sou stap nie. Netflix het vir my gewys hoe hy geboelie is as kind en ek wil amper sê, sy hele lewe lank. En nee, dit gee hom nie die reg om doelbewus verkeerde dinge teenoor jou te doen, wat ek nie weet en nie wil glo dat hy dit sou doen nie. Maar uit sy eie pyn, uit die agtergrond van wat hy moes beleef, uit die bagasie wat hy met hom moes saamdra, het hy opgetree na die beste van sy vermoë, selfs al was dit nie soos jy dit dalk sou wou hê nie. Want weet jy, ons as mense verskil. Ons persoonlikhede verskil. Ons liefdestaal verskil. En juis daarom wil ek glo dat hy vir jou die beste bedoel het.

Liewe Harry, ek volg nie al die skinderstories oor julle gesin nie. Om die waarheid te sê, probeer ek dit heeltemal ignoreer. Want dit is nie in my aard om enige skinderstories te wil volg en uit te ryg nie. En dalk is ek nou heeltemal van die punt af, maar dan is dit ook reg so. Maar as ouer, as ouer ‘tannie’, as Christen, wil ek jou vra: Wil jy nie maar jou pa vergewe vir wat hy aan jou gedoen het nie? Al het hy dit bewustelik gedoen. Al het hy dit selfs onbewustelik gedoen? Wil jy nie die foon optel en vir hom bel en sê: “Pa, ek het jou lief” nie. Selfs dalk, “Pa, ek vergewe jou onvoorwaardelik en wil sommer net jou seun wees.” Sonder voorwaardes. Sommer net omdat jy sy kind is. En, as jy die moed het, vra dalk vir hom ook om jou te vergewe …

Harry, die lewe is so kort. Asseblief. En jou pa is oud. Ag, en as jy nog wonder oor die kroningsgeleentheid … Gaan woon dit ASSEBLIEF by. Ter wille van jou pa! Asseblief! Gaan woon dit in liefde by. Sjoe! Hy het lank gewag vir hierdie geleentheid. Gaan wys hom hoe verskriklik trots jy op hom is. Gaan ondersteun hom.

En, as dit nou nie heeltemal te veel gevra is nie, jou broer … jy weet, julle is al wat julle het van julle gesin.

Tannie Toortsie

Die beste ek

Terwyl ek nou laatoggend my bed opmaak nadat ek eers my episode in die Goue Vroue se laaste avontuur geskryf het, hardloop die gedagtes in my kop. Dis darem wonderlik hoeveel ‘n mens groei in jou lewe as jy dit toelaat!

Ek sou NOOIT in my wildste drome dink dat ek deel van ‘n groep vroue sou wees wat saam die lafste, die avontuurlikste, die verbeeldingrykste stories skryf nie. Dat ek dit enigsins sou waag nie. Want ek kan nie skryf nie. Ek kan nie opstelle skryf nie. Ek het nie verbeelding nie. Wat sal die ander mense dink?

Totdat ek dit een dag gewaag het om te begin gesels op ‘n blog. Nadat ek Julie Julia gesien het en ek op daardie stadium so vereensaam het op die plaas. My kinders was almal iewers in ‘n koshuis en ek vasgevang in my rekenaarwerk op die plaas. My beste vriendin het dorp toe getrek. Ek het nie meer by mense uitgekom nie.

Maar ek het in my bidboek geskryf. En ek het ingeskryf vir kursusse waar die dosent telkens op my werkstukke positief melding gemaak het van my taalgebruik. En iewers het ‘n saadjie begin groei.

Nou skryf ek nie meer so baie nie, en dís waaroor my gedagtes hardloop. Ek lees ook nie meer so baie blogs nie en dis ‘n fout. Want ek kan ‘n vaardigheid wat ek aangeleer het, weer verloor as ek dit nie gebruik nie. En as ek nie blogs lees nie kan ek dalk later die pot heeltemal mis sit.

Ek sal nooit ‘n Deon Meyer of ‘n Chanette Paul wees nie. Dis okay. Want ek is Madelé Burger. Netso kan ek ook nie ‘n Zorada Temmingh word wat my orrelspel aanbetref nie of ‘n Martjie nie en dis ook okay. Ook nie ‘n Erna Visser wat my borduurwerk aanbetref nie. Of my ma wat statigheid en goeie smaak aanbetref nie. Of my pa in sy goedheid nie.

En dis my punt. Ek sal dalk nooit ‘n Billy Graham wees nie. Of ‘n Broer Andrew nie. En dis juis dít wat my vir baie jare gekniehalter het. Want dit maak nie saak hoe goed ek ‘n ding doen nie, daar is altyd iemand wat beter is in daardie spesifieke ding. Of dit naaldwerk is, of musiek of geloof of skryf of of of of … En solank jy na daardie stemmetjie luister wat jou dit vertel, is jy gedoem. Want jy kan jou bes probeer en hard werk en jou alles insit en jou totaal uitbrand en uitmergel en dalk nooit daardie punt bereik nie.

Of jy kan besluit om die beste jy te word. Om dit wat jy doen met oorgawe en passie te doen. Om JOU beste te gee en te wees. En dit te geniet. Jou roeping uit te leef en die beste JY te kan word. Want as jy baie mooi dink, is daar net een Toortsie in die wêreld. En net een Una. En een Woordnoot. En een Kameel. En een Bondelsgedagtes. Een Seegogga. Een Appeltjie. So kan ek aangaan. En ons is bedoel om net een te wees. Uniek. Goed genoeg.

Hoe lekker is dit nou!

Toortsie

Sestien Vyf twee … troue!

Die Goue Vroue is ‘n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Kliek op die volgende link as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…

https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711

…………………..

Dankie Lolla vir hierdie lieflike foto wat jy van my geneem het!

Ek speel die traporrel dat hy so dreun. Die Mendelssohn. Al die orrel se knoppe is uitgetrek om maksimum klank te verskaf. Met my knieë druk ek die twee houte onder die klawerbord wyd oop sodat daar ook meer klank kan uitkom. As ek nou op my eie elektroniese kerkorrel kon speel, sou ek sommer TUTTI gedruk het en albei die volumepedale plat getrap het terwyl die ander volumeknoppie op 16 gestel sou wees. Ek is darem bly dat oom Jan-hulle die ou traporreltjie saamgebring het uit Holland, want hoe kan ‘n mens nou troue hou sonder ‘n orrel en die troumars? Jaaaa, ek weet! Dis 26 April 1664 en Mendelssohn het die troumars eers in 1842 geskryf, maar ek het die troumars al vir jaaare in my kop en ek dateer mos nie uit die 1600’s nie!

Ons hou troue! Pieter van Meerhof trou met Eva Krotoa en ons woon die troue by! Ons almal het mos destyds vir Pieternella van die Kaap gelees en wie sou nou ooit kon raai dat ons haar ouers se troue sou bywoon? Dis ‘n gesellige besigheid. Hy, Pieter van Meerhof, is ‘n avonturier, ‘n toeris en ook nog ‘n chirurg. Hoe hy van die Goue Vroue gehoor het, weet ek nie, maar toe hy van ons avonture hoor, was hy begeesterd. Ek dink dat hy van VirgoC se mediese kennis te hore gekom het. Ons moes net troue toe kom! Dit was so hittete of ons het die troue gemis! Dis net ‘n vloekskoot dat Positief daardie soldaat kon oortuig dat oom Jan ons gestuur het om die eland te jag, anders weet ek nie. Dit sou Donkergat toe wees met ons, al het die Donkergat nog nie eers toe bestaan nie! En ek hou niks van donker gate nie! Dis vreesaanjaend!

Maar dat hier vanaand ‘n heerlike makietie in die Fort is, is nie altemit nie! Al die hogeres van die Kaap is vanaand hier, uitgedos in tabberts wat hulle nog uit Holland saamgebring het. Selfs oom Jan en tannie Maria (of is dit nou Kommandoor of Goewerneur Jan van Riebeeck?) het met ons kom gesels. Hy het vreeslik uitgevra oor ons en ek kon aan sy oë sien dat hy nie heeltemal verstaan hoe ons besigheid werk nie. Dat ons Goue Vroue is wat mekaar in ‘n plek soos ‘blogland’ ontmoet het en dat baie van ons mekaar nog nie eers in lewende lywe ontmoet het nie. Christa hét probeer verduidelik hoe dit werk, maar sy oë het maar baie glaserig gelyk. Ek kry die gevoel dat hy vanaand nog sy wêreldkaart gaan nader trek en met kerslig en al na hierdie onbekende land gaan soek. In al sy omswerwinge vir die HOIK het hy nog nooit van híérdie plek gehoor nie. Tannie Maria was ook geïnteresseerd, want al was ons reg aangetrek en het ons ons respektabel gedra soos dit hoort, kon sy in ons oë ‘n lig sien skyn wat sy nie ken nie. ‘n Mens kan dit ook verstaan, want wat sal sy nou weet van bevryde vroue of vrouens wat geliberaliseerd is? Sy en Appeltjie het tog te lekker gesels. ‘n Mens wil amper sê dat hulle gekliek het. So asof, sou sy in vandag se tye geleef het, sy dalk sou kon inskakel tussen die Goue Vroue. Sy het immers darem self ook al ‘n avontuur of drie beleef. Dis nie elke vrou wat sommer al haar goedjies sal inpak en in ‘n ou bootjie amper om die wêreld vaar nie! Die see is juis so rof en daar is te veel mense wat sterf as gevolg van skeurbuik. Dis tog hoekom die HOIK besluit het om die handelstasie hier by die Kaap te begin.

Die kos is heerlik. Die heerlikste, fynste kos word bedien. Die mans speel biljart. Sonell was die meisie van die aand, the bell of the ball. Sy het amper die bruid oorskadu, as sy sou kon. Maar dit is darem ook nie haar manier van doen nie. Dat die jongmanne mal was oor haar, kan ons nie ontken nie. Haar dansprogram was volbespreek vir die hele aand! Lollos en Ekmyselff het self ook baie dansmaats gehad.

Behalwe natuurlik die regte klassieke danse, is daar sowaar ‘n klomp slawe gereël om, tot groot vermaak van die gaste, die Ikhapara (Riel) te kom dans. Ons verkyk ons aan die energieke pas wat die dans gedoen word en veral die voetwerk is uitstekend. Daar word behoorlik stof uitgedans! Una moet haar omtrent inhou om nie te loop saam dans nie. Sy het juis die aand van haar sestigste verjaarsdag Jerusalema so uit haar hart uit gedans.

Toe die partytjie einde se kant toe staan, wys Trommeltjie vir ons dat dit tyd is om te gaan slaap. Ons slaap mos almal in die groot eetkamer op ‘n kermisbed. Ons groet, ons harte sing. Wat ‘n heerlike aand!

Dis tóé wat die hele garnisoen soldate ons inwag. Ons is ietwat kriewelrig, maar WoordNoot fluister net saggies: “Rustig wees, dames, rustig wees.”

“Dis hulle!”, wys ‘n man met sy voorvinger na ons. Ja! Dis húlle wat die orde hier aan die Kaap wil kom versteur! Hy wys kwaad na my en Positief. “Dis húlle wat onwettig elande jag en probeer voorgee het dat Goewerneur Jan die opdrag daartoe gegee het!”

“Ja!”, sê die een langs hom. “En dit met ‘n GESTEELDE PANGEWEER!”

‘n Ander een staan woedend vorentoe en wys na Frannie en Scrapydo. “En húlle is die dames wat so onkuis met klere omgaan wat ‘n mens nie eers noem nie! Hierdie een”, en hy wys na Scrapydo, “het daardie onnoembare vroulike kledingstuk sommer by die venster uitgegooi en daardie een (Frannie) het dit durf waag om haar een aan ‘n lamppaal op te hang! Dis onsedelik!”

‘n Vierde soldaat swaai sy vinger na Aalsie: “Daardie dame het haar kom mannetjiesagtig gedra en het mansklere… ” Hoes …. hoes … hoes. Hy hyg behoorlik na sy asem. “Sy het MANSKLERE aangetrek en daarmee in die tuin gewerk! Dis ondenkbaar! Hulle wil hulle hier kom staan en stuitig hou!”

Kwaad wys ‘n vyfde soldaat na Kameel: “Dis die dame wat vir Renier Boom verlei het terwyl hy reeds op troue staan met MY DOGTER! Sulke dinge kan níé hier toegelaat word nie! Die Kaap is ‘n ordéntlike plek!”

“En asof dit nie genoeg is nie”, sê nog ‘n soldaat, “het hulle die hele klop wagte die skrik op die lyf gejaag toe hulle in die begraafplaas gemaak het of hulle SPOKE is!” Hy wys na Seegogga. “Hierdie een! Ja hierdie een! Sy was die voorspook!”

“Vang hulle almal! Arresteer hulle! Hulle is almal kop in een mus en as hulle nie alreeds moeilikheid gemaak het nie, kan ons weet dat hulle dit nog sál doen! En as die ander vroue hier aan die Kaap al hierdie dinge moet hoor, sal hulle die Kaap onregeerbaar maak!”, skree die een in bevel.

Tannie Frannie! Jy sal moet HELP! En GOU OOK! Ons is in DIE MOEILIKHEID!

Lys van Afrikaanse Blogs

Ai, ek lees deesdae so min blogs, maar tog is dit lekker om ‘n slag ‘n lys bymekaar te maak van al die Afrikaanse Blogs (WordPress). In die ou dae toe ek begin het, kon ‘n mens by af.wordpress.com gekyk het. Daar het al die nuutste skrywes verskyn. En of Blik nog bestaan, is ek ook van onseker. Dankie, Una, jy het die vlammetie aangesteek wat aanleiding gegee het tot hierdie blog.

In hierdie lys het ek Afrikaanse blogs, ook blogs wat Afrikaans én Engels bevat, ook blogs van Afrikaanssprekendes wat in Engels skryf, ook van Engelssprekendes wat Afrikaans verstaan en by ons Afrikaanses lees, en dan wel ‘n paar oulike Engelse blogs wat ek volg. Jy is meer as welkom om oulike blogs wat jy volg, se skakels vir my in die kommentaar te sit. Ek sit dit graag by.

Abrie dink hardop

Adventuring into retirement

Alta Cloete

Always Anne

Amandaskrywer (Aduppie)

Annekind

Appeltjie

Be Blesstified

Begaafde kind Suid-Afrika

Bella la Vita

Binnekantoe

Bondelsgedages

Bontie se bloggery

Carmen Niehaus

Chessalee

Ciska Olivier

Cuppacinos en Latte

Daisy op die stoep

Dawid Brits

Dewetswild

Diakonos

Die lewe gebeur

Die lewegewer

Die venster

Dr Christa van Staden

Dr Eric Perry’s Blog

Dr Margaretha Montagu

Ek kan nie blog nie

Ekmyselff

Endless dreams and boundless imaginations

Enelda

Engelroeper

Fun with philosophy

Gerhard Scholtz se blog

Henry Meyer se blog

Hervormend

Hier blok ek

Hou van blou

Huilblog

I scrap 2

Jack Greeff Jnr

Kameel se gebabbel

Karin writes dangerously

Kekkelkoors

Koffiekuiers

Kouevuur

Kreukels en plooie

Kruger Theron Stories met Siel

Krummels en katkuite

Ilse Zietsman Blog

Leeshoekie

Letty-Ann se ervarings

Lief God grootliks

Loertoer

Lolla se goete

Lomi

Madeleine Venter

Medicine Mommy

Melanie Kroukamp

Met my hoed in my hand

Mevrou

Mnr Nel

My klaskamer

My silent voice/My stil stem

Natasja Franzen

Net ek

Net nog ‘n paar gedagtes

NG Kerk Nylstroom Oos

Nowathome

‘n Kruik vol jasmyn

Pajamas met sokkies

Penpunt

Perdebytjie se nes

Positief

Rusplekkies op my geloofspad

Safari Sunset

Sagte klippe

Sosiaal Digitaal

Tapestry of Thought

The DM

The travel lady in her shoes

Trommeltjie

Toortsie.com

Twee kinders later

Uit my pen

Una se gedagtes

SA Vryskutskrywers

Schalk Skryf

Seegogga se bloggie

Something over tea

Tannie Frannie

Virgo C

Vlindersag

Vuurklip

Wet and dusty roads

Woestynkind

Woordnoot

Woordwerke

Onthou, hierdie lys is nie in yster gegiet nie en kan gereeld aangepas word indien nodig. Sit vir my jou skakel in die kommetaar en ek sit dit by.

Toortsie

In ‘n bottel

Hierdie foto wys vandag op my Facebook. Dit is geplaas deur Ecological Consciousness. Op my Banting Facebookblad verskyn allerhande dinge wat ek nie noodwendig volg nie. Volgens die byskrif het David Latimer die plantjies in 1960 in die bottel gegooi. Hy het dit slegs een keer oopgemaak in 1972 om ‘n bietjie water in te gooi en sedertdien nooit weer nie. Die plantjies is gesond en groei steeds.

Wat ‘n wonderlike eksperiment en dit lyk pragtig. Die tuin in die bottel is in perfekte balans en alles gebeur perfek daarin. Ek het nie ‘n probleem met so iets nie. Om die waarheid te sê het ek nou die dag ‘n vetplantjie so in ‘n glaspotjie gesit sommer vir die mooi. Die gedagte wat egter toe al in my kop opgekom het, was, hoekom? Hoekom sal ek dit doen? Watter voordeel het daardie plantjie nou vir die atmosfeer?

Want ja, die plantjie sal seker bly voortbestaan as ek of iemand anders nie die potjie se deksel oplig nie. Maar hy kan nie vermeerder nie. En hy kan sy hoofdoel om plant te wees en die lug te suiwer en tot voordeel van ons ekologie te wees, nie nakom nie.

Dit laat my dink aan die mens in isolasie. Ek glo met my hele hart dat die mens nie bedoel was om in totale isolasie te leef nie. Ons kan hier op ons erf heeltemal onafhanklik raak. Ons kan ons totaal afsluit. Ons kan genoeg tenke onder die huis opsit en genoeg sonpanele en groot genoeg batterye en wat nog alles om totaal onafhanklik van die munisipaliteit te raak. Ons kan ons groentetuin so ontwikkel dat ons nie nodig het om die winkels te besoek nie en as ons nog ‘n paar hoenders hier aanhou, vleis ook hê. Ons kan ons heining hoog genoeg maak sodat niemand hier kan inkom nie en ons kan hier ‘n totaal geslote lewe lei. Totale kluisenaars word. Nooit met enige iemand anders in aanraking kom nie.

Maar is dit wat God van ons verwag? Is dit wat ons lewensdoel is? Om in ‘n perfekte wêreldjie van jou eie te leef, jy en jy alleen? Want dan dra jy nie by tot die mensdoem nie. Jy dra nie by tot die samelewing nie. Jy is eintlik net selfsugtig besig met jou eie lewetjie.

Nou ja, ek is seker ‘n ekstrovert, daarom maak dit nie vir my sin dat ‘n mens jouself so kan afsluit nie. Maar selfs die introverte wat ek ken het soms kontak met ander mense nodig. Hulle dra by tot die gemeenskap. Hulle gee liefde vir ander. Hulle deel hulle gawes met ander.

So, na ‘n lang relaas besef ek net, ons is nie eilandjies nie. Ons is hier geplaas tussen mense in ‘n gebroke wêreld waar dinge beslis nie reg loop nie. Maar ons het mekaar nodig. En soms moet ons uit ons glasbottel kom om ons suurstof, ons gawes wat God vir ons gegee het, tot voordeel van ander en tot voordeel van die hele wêreld te deel.

Toortsie