Gekkedag

Nouja, net gister was dit Nuwejaarsdag en nou is dit al weer gekkedag. April fool’s day. So ‘n belangrike dag dat Google selfs voel dit moet op jou kalender verskyn en dit maak nie saak wát jy probeer doen om dit af te haal nie, dit sit en klou om te bly. Gekkedag. ‘n Dag waar ‘n mens veronderstel is om ‘n gek van ander te maak. Vreemd.

Snaaks, maar gekkedag het my nog nooit opgewonde gemaak nie. Ag, miskien is ek net ‘n suur ou tannie met ‘n lelike frons en ‘n ontevrede gesig … maar juis dán kan ek dit maar sê, ek hou nie van gekkedag nie. Oeps. Daar het ek dit nou regtig gesê.

Ek het vir google gevra waar die dag vandaan kom en hulle gorrel behoorlik. Lyk my nie hulle weet nie en dalk is die weet soos wat ek dit weet, ook verkeerd. Ongelukkig lê daardie weet te diep in my hart geskryf en ek nie sommer anders oortuig sal word nie.

In die laerskool is ek geleer dat gekkedag wys na die kruisiging van Jesus en daar van Hom ‘n gek gemaak is. Daardie verwysing kon ek nie op die internet kry nie. Dit wil vir my voel of dit in een of ander handboek geskryf was, so iemand voor my het gevoel dat dit belangrik genoeg is om vir kinders te leer. En dáárdie feit het diep in my hart kom lê, want toe reeds was ek baie lief vir Hom en het dit ‘n wrang smaak in my mond gelê.

So, ek vier nie gekkedag nie. En ek oordeel nie hulle wat dit wel wil vier nie, vir die rekord.

In my soeke na die oorsprong van hierdie dag, kom ek op hierdie stukkie af. Die skrywer sê dat ons die ‘gekkedinge’ moet gaan doen soos wat die Bybel ons leer: Om goed te doen aan hulle wat dit nie verdien nie. Om juis die uigeworpenes in te trek. Ander te help ten koste van onsself. Die minste te wees. Ek hou hiervan!

En nee, nooit sal ek dink dat daardie wonderlike, onbaatsugtige liefdesdaad wat Jesus vir my en elkeen van ons wat in Hom glo, geklik was nie. Nooit, ooit nie.

Groete

Toortsie

11 thoughts on “Gekkedag

Gesels saam, asseblief!