Chessalleeninlonden het die mooiste foto’s geplaas van mense wat in die oorloggeteisterde Ukraine skaak speel. So hartseer. So kosbaar. So hoopvol. Julle kan gerus by haar gaan loer. In ondergrondse bomskuilings. In parke terwyl die geboue rondom hulle stukkend geskiet is.

Dít is wat nasies laat opstaan. Mense laat opstaan te midde van die grootste krisis. Die vermoë om daar, waar jou wêreld letterlik inmekaar tuimel, tog die vermoë te hê om op iets anders te fokus. Om selfs op iets lekkers te fokus. Iets lekkers te doen.
En nee, dit is nie verkeerd of sonde of onsensitief om dit te doen nie. Dit is hoopvol.
Ek het al soveel keer sulke tipe stories gehoor. Daardie een persoon wat begin sing in die loopgraaf waar almal beangs sit … en nog een begin saamsing … en nog een … Dit verander nie die krisis nie. Dit maak dit nie minder angsvol nie, maar daardie tikkie hoop wat iewers in iemand se hart brand en in nog een se hart aangesteek word en in nog een s’n. Dít is wat mense op die ou end laat deurdruk op plekke waar dit bykans onmoontlik en onmenslik was.
Ons moet altyd vashou aan die klein vlammetjie van hoop wat daar nog in ons brand en juis in sulke tye mag ons nie toelaat dat ander ons vlammetjie dooddruk nie. Dis dán wanneer daardie klein vlammetjie dalk net genoeg is om die hoopvlammetjie by ander wat nie so gelukkig is om dit te hê nie, aan te steek.
Dankie Chess vir hierdie wonderlike bloginskrywing van jou.
Toortsie
Ek sien hierdie prentjie op facebook:
