Soos ‘n standbeeld

Iemand het een keer vir ‘n man wat besig was om ‘n standbeeld van ‘n perd uit ‘n stuk klip te grafeer, gevra hoe kry hy dit reg? Sy antwoord was dat dit maklik is, hy kap net alles weg wat nie perd is nie. Dis hoe ek voel oor hierdie outobiografie gemeng met memoir wat ek geskryf het.

Aanvanklik, tydens NaNoWriMo2019 het ek net geskryf wat in my kop opkom. Rou, soos dit is. Eerlik. Presies hoe ek voel. Call a spade a spade. Sekere goed het ek van dag een af besef dat ek dit nie sal kan publiseer nie, maar dit was deel van my lewe en moes geskryf word. Presies soos dit was.

Toe kom die bytel en vir eers het ek die stukke uitgehaal wat beslis nie daar moet wees nie. Growwe uitkap, maar daar was baie dele wat ek nog daar wou hou. Met die volgende bytel het ek probeer om alle lompheid te verwyder. Natuurlik het daar elke keer weer nuwe stukke bygekom. Aanvanklik het ek die 50 000 woorde geskryf. Nou, na baie gebeitel, is daar omtrent 67 000 woorde! 180 bladsye. Sowaar ‘n hele boek vol.

Met die volgende byteltjie het die woord ‘dan’ my geweldig irriteer en moes dit weg-en reggeskawe word. Taalfoute. Spelfoute. Al die ‘nne se strepies omdraai. Nog ‘n bytel moes bytende woorde uithaal. Kyk dat daar nie name genoem word wat dalk eerder ongenoemd moet deurgaan nie. Dis wat ek ook vir Dora-Marie Jansen van Vuuren, my redigeerdervriendin, gevra het, om te kyk waar iemand dalk benadeel word. Sy het ook nog met byteltjies ingespring en moes behoorlik bontstaan om ‘n ligte verteltrant te behou, maar taakundig nie te veel te oortree nie.

Skaaf, skaaf, skaaf sodat jy hopelik aan die einde ‘n goeie, afgeronde produk in jou hand vashou.

Ek is regtig opgewonde!

Toortsie

Die omslag

Hier is die omslag. Ek het dit nou net van die grafiese ontwerper teruggekry. Ek is mal hieroor. Dankie Joh-Mari van Heerden. Soos elke keer is ek weer eens mal oor jou werk!

Gawie, Gideon, en andere

Gawie is ‘n vriendelike man, en gaaf, soos sy naam aandui. Mense het baie maklik misbruik gemaak van hom, juis omdat hy so ‘n goeie mens is. Die gesegde, alte goed is buurmansgek, kon op Gawie van toepassing wees. Keer op keer moes hy alleen die gelag betaal, terwyl hy baie keer nie eers die skuldige was nie. Een dag het Gawie gesê, genoeg is genoeg. Tot hiertoe en nie verder nie. Hy het besluit om geen gras onder sy voete te laat groei nie en sommer dadelik dit duidelik gestel dat hy nou nie meer die een gaan wees wat almal misbruik nie.

Gideon was egter ‘n ander kalant, met ‘n kort humeur. Hy het gal afgegaan oor enige ding. Hy was nie ‘n ou wat sommer gras onder sy voete laat groei nie, en dinge moes sommer gou gebeur. Joe! As iemand ‘n fout begaan het, sou Gideon behoorlik met sy gal werk. Eintlik moet jy wakker wees in sy geselskap, hy mag hom dalk vir jou vererg en jou sommer van die gras af maak!

Geraldine was weer ‘n ander een, ‘n manipuleerder van formaat. Op die oog af lyk sy goed en gaaf, vriendelik, iemand wat nie ‘n vlieg kwaad sal aandoen nie, maar wees versigtig, voor jy jou kom kry, het sy ‘n gat in jou kop gepraat en doen jy dinge wat jy glad nie van plan was om te doen nie, dinge wat jy onder normale omstandighede nooit sou doen nie. Jy besef daar is ‘n slang in die gras, maar jy kan net nie jou vinger daarop lê nie. Sy dink ook dat geld wat stom is, regmaak wat krom is en sou jy enigsins mor, sal sy jou met ‘n geskenk stilmaak. ‘n Mens mag mos nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie, of hoe? Vir my is dit egter Grieks as iemand so optree, ek verstaan dit glad nie.

Intussen is daar soveel mense wat van genadebrood lewe, wat nie noodwendig keuses het nie en soms maar, uit nood, goed van swak gehalte koop, omdat hulle nie ander kan bekostig nie. Ongelukkig is goedkoop koop mos duur koop, en moet hulle dan die items so gou weer vervang.

Maar wag, alle grappies op ‘n stokkie, hierdie deurmekaar gebabbel was maar net nog ‘n poging om die Afrikaanse idiome neer te pen. Onthou net, mense wat in glashuise woon, mag nie klippe gooi nie. Van mense in glashuise, as kind was die grappie altyd dat People who lives in glass houses, should not undress themselves. Dis nogal iets wat ek moet onthou! 🙂

G-idiome met die hulp van Mieliestronk.

Afrikaans is lekker! Afrikaans is mooi! Kom ons koester ons taal. Kom ons praat ons taal met trots. Ons hartstaal. #Afrikaans

Toortsie

Alle persone genoem is fiktief en sou u die ooreenkoms met iemand raaksien, is dit bloot toevallig.

Die storie van Santjie Verwey

Santjie Verwey mag miskien ‘n mooi naam, amper ‘n sagte naam, wees, maar o, wee!, moenie jou met haar misgis nie, hoor! Sy is ‘n regte ou heethoof en vererg haar vir die geringste dingetjie. Sy wil regtig haar donkie draf, as julle verstaan wat ek bedoel!

Verder dink sy sy dra die broek in die huis, en nie net in die huis nie! Nee! Sy wil die broek dra in die hele dorp. Sy dink dis haar werk om die lakens uit te deel! Sy verbeel haar sy is Burgermeester Susanna Verwey! Die ergste is, sy ís nie eers op die dorpsbestuur nie, wat nog te sê burgemeester! Bid jou dit aan!

Om met haar te werk moet jy behoorlik hare op jou tande hê, sy het net eenvoudig iets te sê oor alles en oor almal, sy weet altyd beter, dink sy is die kat se snorbaard, as jy my vra! Almal moet net heeldag na haar pype dans en as jy nie toegee aan haar eise nie, moet jy weet dat jy nie die einde daarvan gaan hoor nie en dat jy beslis die spit gaan afbyt. Tweede gaan jy kom, dis nou nie altemit nie.

Nou die dag kry sy toe behoorlik vinkkoors. Sy moes net ewe skielik haar hele huis oordoen en almal wat moontlik kan help, se hulp word ingeroep. Dis nuwe gordyne, nuwe beddegoed, nuwe matte! Alles net van de beste, en soos ek reeds genoem het, is sy regtig vol nonsens. Niks gaan by haar skerp oë verby nie. Om die waarheid te sê, ek vermoed sy het die kluts bietjie kwytgeraak, dat sy nie behoorlik geweet het waar haar vierkantswortel sit nie, maar dis nou net tussen ons, hoor! Ek dink sy was sommer lekker deurmekaar.

En net voor jy regtig dink dat ek sit en skinder oor hierdie vrou, wil ek jou gou reghelp. Ek ken nie eers iemand met die naam, Santjie Verwey nie. Ook nie iemand wat só is soos ek hierbo beskryf het nie. Hierdie hele storie is suiwer verbeelding van die Toortsie.

Vandag is Internasionale Moedertaaldag, en Hester het ons uitgedaag om ter viering van Afrikaans, ons geliefde moedertaal, hierdie vier idiome wat in swart gedruk is, iewers te gebruik. Ek hou natuurlik daarvan om in idioom te praat, en beland dan in die kookwater, omdat mense nie meer in idioom praat nie en my verkeerd verstaan. Maar elke diertjie het sy plesiertjie en ek hou van ‘n uitdaging, waarmee Hester natuurlik uitstekend is, naamlik om interessante uitdagings uit te dink.

Groetnis

Toortsie

Wil jy graag lees wat ander bloggers met hierdie uitdaging gedoen het? Volg HIERDIE SKAKEL.

Lê jou eier: As Afrikaans sou uitsterf

Hester se uitdaging hierdie week het betrekking op my eie skrywe van verlede week. Wat gaan ek mis as Afrikaans sou uitsterf? Ek het al so baie oor Afrikaans geskryf, maar ek wil nou skryf oor ietsie waaroor ons almal grom, maar saamdoen. Ek ook! Ek grom ook en doen saam.

Daai ding van die hele saal sit vol Afrikaanssprekendes en EEN Engelssprekendes en dan is ons so ORDENTLIK en doen ALLES IN ENGELS sodat die Engelssprekende kan verstaan, intussen sukkel die res van die gehoor om te verstaan! Het julle dit al ervaar?

Ja, ja, ek verstaan. Ons is so BEVOORREG om meer as een taal te kan praat, daarom is ons NET TE GEWILLIG om elke keer terug te staan en maar die helfte van die praatjie/kursus/gesprek te verloor omdat ons dalk nie vinnig genoeg volg nie. By ‘n kursus moet ek dan in Engels luister, vinnig vertaal en in Afrikaans aantekeninge maak. Of in Engels aantekeninge maak. Of in Minglish.

Hierdie een kan ek nog verduur, omdat ek regtig nie die een persoon die voorreg misgun om ook die kursus by te woon nie. Maar dis sommer nonsens dat die Engelssprekendes sommer net aanvaar dat dit in Engels sal gebeur omdat hulle daar is! Net soos ons Engels moes leer op skool, moes hulle mos Afrikaans leer, of is dit nie meer die geval nie?

Maar daar is vir my iets nog erger: Wanneer ALMAL in die gehoor Afrikaanssprekend is en die spreker ook ‘n Afrikaanssprekende, en die lesing/toespraak/kursus word in ENGELS aangebied. Ja, dit gebeur! En dan is dit nie noodwendig altyd ‘n aanvaarbare Engels nie. HOEKOM DOEN ONS DIT AAN ONSSELF? HOEKOM DOEN ONS DIT AAN ONS TAAL? Hoekom vermoor ons ons taal? Ons doen dit SELF, nie ander mense nie!

Toemaar, ontspan, ek gaan NIE my speelgoed uit die kot gooi wanneer dit die volgende keer weer gebeur nie. Ek sal my gedra, want ek is mos so bevoorreg om Engels ook op ‘n manier te verstaan, so hoekom sal ek nou nie wil hê dat die arme Engelse persoon wat nou nie ons mooie taal kan verstaan nie, nie die verrigtinge kan volg nie?

Ek wou nou die dag in ons kerk opstaan en hande klap vir ons predikant. Hy het begin deur te sê dat hier ‘n Engelssprekende in die gehoor is (en ek dog: hier kom dit!), maar hy sê toe: Sy verstaan dat as hy begin Engels praat, NIEMAND ANDERS HOM SAL VERSTAAN NIE. Sy is baie welkom vandag, maar hy sal voortgaan in Afrikaans. BRAVO!

Sjoe! Positiewe Toorts! Nou was jy darem NEGATIEF!

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).