Jy is seker nie ernstig nie!

“Jy is seker nie ernstig nie!” het iemand vir my gesê toe ek aangekondig het dat ek Banting (Keto) doen. Ja, ek was ernstig en ek het dit ‘aangekondig’ op my blog, want ek het nie, soos ander diëte ‘n ondersteuningsgroep gehad waarby ek een keer per week kon gaan aanklop vir hulp nie. “Ek stel voor dat jy gaan navorsing doen hieroor”, was die antwoord. Gaan doen navorsing.

Die ding van navorsing op Google is dat dit nie saakmaak watter onderwerp jy soek nie, jy beslis iewers iets sal kry wat jou ondersteun. Maar ek is nie ‘n navorser nie. Ek sal ‘n bietjie oplees, maar ernstig navorsing doen? Nope. Nie ek nie.

Gelukkig is daar wel oor baie jare baie navorsing hieroor gedoen, dit was net nie erken deur die sisteem wat deur koolhidraatmagtiges gedryf is nie. Ons almal onthou hoe groot nuus Prof Tim Noakes daardie tyd was toe iemand hom gaan aankla het by die Mediese Raad! Ag, en as hy selfs nou nog waag om iets te sê, haal hy die koerante se hoofopskrifte. Soos oor Covid en LCHF.

Weet julle wat is vir my lekker? As ek die Nutrition Network se webblad oopmaak waar ek die Bantingjuffrou kursus doen en ‘n hele blad vol gesigte van dokters, wetenskaplikes, kenners sien wat my begroet. Almal mense wat weet waarvan hulle praat. Geleerde mense. Dit maak my rustig om te weet dat ek by ‘n organisasie is wat nie dinge sommer net uit hulle duime suig nie. Dat hulle navorsing doen. En dat ek, die ou boervroutjie van die plaas af nie navorsing hoef te doen nie, maar hulle net hoef te volg. Want hulle weet waarvan hulle praat.

As hulle sê dat die LCHF-leefstyl jou sterker maak in die geval van Covid, glo ek hulle. Wel, ek het dit aan my eie bas gevoel. Nee, dit gaan jou nie keer dat jy dit nie kry nie. Dit gaan jou ook nie uit die hospitaal hou nie. Maar julle weet mos dat diabete van die grootste risiko het met Covid? En asma-lyers, terloops. Wel, ek was pre-diabetes sewe jaar gelede, ek is so dankbaar dat ek dit kon verhoed én ek kry asma én ek is al amper by die risiko-ouderdom. Jaja, die Here was goed vir my Januarie.

En as daardie spesialiste sê Banting (Keto/LCHF) is ‘n goeie teenvoeter vir diabetes, wie is ek om te stry? En dan weet ek dat die Bantingleefstyl beslis sal saamwerk met Intermittent Fasting, wat nou die buzzword is.

Nee wat, ek vertrou die span. En ja, ek is ernstig hieroor. Maar, soos altyd, sê ek: Praat net eers met jou dokter voor jy dit begin doen. Want net jy is verantwoordelik vir jou keuse, ek ken nie jou omstandighede nie.

Toortsie

Ná sewe jaar

Vandag is ‘n feesdag, want vandag is dit presies sewe jaar sedert ek die groot besluit geneem het om stysel en suiker uit my dieet te sny. Wat ‘n groot besluit! Wat ‘n drastiese besluit om te neem vir iemand wat kosverslaaf is, suikerverslaaf. Iemand wat die soetste denkbare tjoklit gekoop het, wat mal was oor vleis en brood en niks daarby nie. Vir konfyt. Braaiaartappels. Rys en vleis en aartappels. Boontjiesop. Ertjiesop. Pasta. ‘n Dik sny varsgebakte brood.

Maar ek het die besluit geneem. Oornag. En op ‘n Sondagoggend begin met niks Bantingkos in die huis nie.

In die sewe jaar het ek geleer dat daar lewe is ná stysel. Om die waarheid te sê, wonderlike lewe. Dat daar heerlike kos te eet is selfs al kan jy nie suiker en stysel eet nie. Dat deur LCHF te eet, daar ‘n hele nuwe koswêreld vir jou oopgaan. Dat neute en kaas kos is.

Ek het ook geleer dat as jy ‘n verslawing het, jy dit altyd het. Dat jy dit kan beheer deur gebed en selfdissipline, maar dat hy altyd daar sal wees en dat jy hom nie eers ‘n pinkie kan aanbied nie, dis beter om hom eerder 100% te vermy. Dat hy selfs ná sewe jaar as jy hom sou toelaat, jou weer sal wil oorneem en beheer.

Al volg ek die Bantingleefstyl so te sê 100 persent, sal ek ook weer ‘n slag moet kyk na wat ek eet. Dalk minder suiwel soos joghurt, eerder eiers bak in die oggend. Oppas vir te veel neute in my dieet. Versigtig dat ek nie meer as die aanbevole oranjelysitems per dag gebruik nie. Meer vars groente eet soos in slaai.

Ek is steeds effens oorgewig, maar beslis nie vetsugtig (obese) soos ek was nie. Ek is gelukkig met waar ek tans is.

Toortsie

Smoothies

Ek wil al lankal smoothies maak, maar kom net nie daarby nie. Toe kom ek gister by ons groentemark en koop lekker groot sakke bevrore aarbeie en brame. Smoothietyd!

In my verpulper gooi ek ‘n halwe avo, ‘n piesang, neute, die brame en aarbeie, dubbelroom joghurt en xylitol. Dis tog te lekker, maar daar kort iets.

Vandag doen ek dit weer, maar gooi ‘n knertsie gemmer en sommer pampoensade ook by en chiasade vir versiering. Te lekker.

Dis toe wat ek besef watter groot verantwoordelikheid die kok in die huis het. Sy bepaal wat by almal se monde ingaan. Sy kan ‘n lieflike, ryk, voedsame, gesonde smoothie aanmekaarslaan of sy kan een maak wat presies dieselfde lyk, maar dit kan vol ongesonde, leë kilojoules, suikers wat mense siek maak, wees.

Ongelukkig weet ons nie altyd wat in klaar verpakte mengsels is wat ons eet nie.

Toortsie

Mensig, ek is opgewonde!

So met die geharwar van die einde van die jaar dinge wat moet klaarkom, dis borduur, en brei en jaareinde en kosmaak vir Toortsie 3 en Nanowrimo en en en het die foto’s van Toortsie 3 gekom, maar het ek nog nie regtig tyd gehad om dit behoorlik deur te gaan en mooi te bekyk nie. Mense! Dit is uit ‘n ander wêreld! Dit is al wat ek kan sê.

Ek het vanoggend begin om dit deur te gaan, net om seker te maak daar is ‘n foto van elke gerig. Ek is so bang ons moet dalk op die ou end weer ‘n foto neem … en is ek nou geïnspireer! Sjoe! Nou moet ek aan die werk spring en dit voltooi. Dalk nie in hierdie jaar nie. Beslis nie in hierdie jaar nie, want Kersfees kom, Kersfees kom … maar niemand keer my mos om intussen deur al die foto’s te gaan en hulle te merk, seker te maak dat al die woorde in die boek is en reg is en en en nie … sodat ek dit vroeg in die nuwe jaar vir die proefleser kan stuur en kort daarna vir die een wat die bladuitleg doen en dan vir die drukkers nie … niemand keer my mos nie, né? Dit is mos net ekself … wat dringend ‘n klompie borduurwerk moet klaarkry en ‘n babakombers moet klaarbrei … want ek geniet mos die VLV so baie. 🙂

Kyk net hier:

Is jy nie ook skielik honger nie?

Toortsie

‘n Lang pad

Meer as tien jaar gelede het ek op ‘n dag ‘n blog begin, nadat ek die fliek, Julie, Julia gesien het. Die oorspronklike blog het ek een nag afgevee. Daarná is Toortsie gebore. Ek het oor enige ding geskryf: my geloof, sommer hier en daar ‘n resep gedeel, laf gewees, die opheffingswerk wat ek met die plaaskinders doen, ens. Vóór ek my blog begin het, het ek reeds in my bidboek geskryf. ‘n A4 blad op ‘n keer. Sodat ek kan fokus. Ek glo dat dit daar is wat ek leer skryf het, aan God se voete. Hy het my geleer om my gedagtes neer te skryf.

Toe begin ek Bant. Want ek was moedeloos van wipplank ry tussen vetsugtig en brandmaer. Moedeloos van ‘n kas vol klere waarvan niks pas nie. Toe vra ek God een oggend om my te help en Hy wys vir my van Banting. Dis ook al geskiedenis. Omdat ek nie aan ‘n verslankingsgroep behoort het nie, het ek sommer hier op my blog kom vertel hoe dit gaan, sommer net om my aanspreeklik te hou. In my eie lewe het ek reseppies verander om dit Bantingvriendelik te maak en dit sommer in ‘n swart A4-boek geskryf om dit vir myself bymekaar te hê.

‘n Jaar nadat ek begin Bant het, het ek my eerste resepteboekie vrygestel: Toortsie se Bantingboerekos. Bang, onkundig, waagmoedig het ek dit gedoen. God het my gelei. Hy het die meeste ‘toevallighede’ laat gebeur. Ek moes net die pad stap. Ek het letterlik niks geweet van boeke publiseer nie. Ek was te bang om my poginkie vir ‘n publiseerder te stuur, want ek was te bang vir enige iets wat my sou ontmoedig. Die bloggers het my aangemoedig. Seegogga het raad gegee. My skoondogter het aangebied om die boek se uitleg te doen.

Een dag wat ek die radio aansit op pad terug van Ladismith af, sê die aanbieder: “Goeiemôre. Ons praat vandag met xx oor die skryf van resepteboeke.” Daardie oggend kry ek die heelpad terug ‘n wonderlike lesing wat ek soos ‘n spons opsuig. Toe ek ‘n sekere boek gesoek het, beland ek by Smashwords. Voor ek egter die e-boek wat ek wou hê, kon aflaai, moes ek egter ‘n ander boek aflaai. Daardie boek se naam was Secrets to E book publishing success.

Secrets to E book publishing success – Mark Coker.

Hierdie boek het ek woord vir woord gelees, ingedrink, deurdink, nagevolg tot die letter. Toe ek op my blog terloops noem dat ek ‘n resepteboek wil uitgee, was die bloggers vuur en vlam en ondersteunend, net soos ons hulle mos maar ken. Seegogga sê ek moet ‘n goeie fotograaf kry en ek skrik my boeglam. Fotograaf? Net daar vra ek ‘n oulike vriendin en haar fotograafdogter om my te help met die stilering van die kos. Iemand bel my uit die bloute en daar kry ek hulp met die befondsing van die boek. Om ‘n boek self uit te gee is duuuuuurrrrrrr. Alle kostes is joune.

Ná baie harde werk, nagte se wakkerlê, hare wat letterlik regop gestaan het vir elke ietsie wat gebeur, bangwees, skaamwees, want wie is ék nou om ‘n boek te wil uitgee?, het Toortsie se Bantingboerekos op 16 Desember 2015 die lig gesien. Die Here was so goed vir my! Sy trek al by die sesde druk. Dit het uitstekend verkoop en verkoop steeds. Weekliks stuur ek boeke uit. Sy is nou al naby topverkoperstatus. Ek staan verstom. Ek doen die bemarking, die verspreiding, alles self. Heerlik. Ek geniet dit. Intussen het boek 2, Hier’s die Toortsie Weer! en Toortsie’s Banting Bash! ook die lig gesien en is My Kinderjare met betrekking tot vandag tans by die drukkers. U kan na voorlesings uit my kinderjareboek HIER luister.

Daardie tyd wou ek graag die boek ook as e-boek uitgee, maar hy was te groot om net as e-boek opgelaai te word. Ek was te moeg om regtig te bestudeer hoe om dit te doen en die lewe het gebeur. Aanvanklik wou ek dit by Smashwords uitgee, maar het besluit om eerder Amazon te probeer. Tog het ek nooit regtig tyd gekry om dit behoorlik in te studeer nie. Tot Scrapydo vir my sê dat sy beter by Smashwords regkom. Sy het vir my ‘n wonderlike artikel aangestuur oor selfpublikasie en net daar het die gogga my weer gebyt. Ek het KM Weiland se raad gevolg en dadelik aan die werk gespring om ‘n gratis e-boek te skryf. Daarin is al die Banting soetighede wat in my eerste twee boeke is. Sonder foto’s, want foto’s maak dit onnodig groot. Net die resepte.

Vir dae bestudeer en volg ek die Smashwords Style Guide woord vir woord. Ek maak presies soos wat hy voorstel. ‘n Uitstekende boek. Duidelik geskryf. Regtig aanbevelenswaardig.

Joh-Mari van Heerden het weer eens gesorg vir die voor- en agterblad.

Uiteindelik kon ek by Smashwords ‘publish’ druk. Ná een of twee klein veranderings kry ek toe die boodskap: Congratulations! My e-boek is gepubliseer! Ek het dit reggekry. En vir my is dit mos die groot uitdaging: Om iets reg te kry en te voltooi.

So, dames en here, hier is vir jou ‘n gratis e-boek! Vertel vir jou vriende. Deel dit uit. Maak die lekker soetgoedjies en dink aan Toortsie: https://www.smashwords.com/books/view/1043640

Jy kan dit in enige formaat aflaai by Smashwords.

Die biek is gratis by Smashwords. Die ander webwerwe mag wel ‘n paar rand vra.

Groete

Toortsie

Voorlesings uit My kinderjare met betrekking tot vandag.