Weer eens hello en baie dankie vir ‘n wonderlike voorreg om hier te kan kom praat vandag. Ek voel regtig geëerd!

Dit was nooit in my wildste drome een van die goed wat ek gevisualiseer het dat ek by plekke sal praat nie. Ek bedoel, praat kan ek baie, maar om toesprake te lewer nie. Maar dis ook deel van hierdie verrassende reis waarmee ek besig is.
Hierdie Bantingding het ek nie loop soek nie, dit het oor my pad gekom. En ek is soos ‘n klein dogtertjie wat huppel in ‘n bospaadjie – gelukkig en onspanne. Ek en my ouers het kom piekniek maak en terwyl hulle rus kan ek ‘n bietjie rondkyk en lekker verrassings om elke hoek en draai kry in die wete dat ek veilig is, want hulle is naby. Geen beplande, uitgewerkte pad nie, maar ‘n pad wat ek net móét huppel en dit wat ek sien en wat gebeur, net geniet.
In 2014 was ek moedeloos.

Ek het al geweighless en geweight watchers en ongelooflik maer geword, net om die oomblik wat ek beheer verloor, alles op te tel en met rente.
Toé was ek obese. Vetsugtig. En my gewig het daagliks toegeneem. Ek het alles geëet wat voorkom en het nie opgehou voor ek nie voel of ek bars nie. Al my klere het ongemaklik gesit. Niks het gepas nie. Dit het my behoorlik gewurg.
Toe bid ek dat God my moes help, want ek weet nie meer nie.
En Hy stuur vir my die Saterdagaand vriende wat by ons kom eet, wat daardie week begin Bant het. Ek het hulle daardie aand alles uitgevra en nadat hulle weg is, Tim Noakes se boek gekoop en die Sondagoggend het ek begin Bant op Struisbaai met letterlik niks bantingkos in my huis nie. Daar was ‘n stukkie ouerige botter, twee eiers wat nie meer so vars was nie en swak kwaliteit wors wat iemand in my vrieskas vergeet het.
My hele lewe het verander daarvandaan.
So het die een boek na die ander gekom. Want op daardie stadium was daar nie oulike bantingresepte op die internet nie. Of dit wat daar was, was eintlik onuitvoerbaar of nie lekker nie. Oorsese resepte.Ook nie eintlik hulp en raad nie. Of ek het nie geweet waar om te soek nie. Dit was of ek in ‘n oerwoud was en my pad moes oopsukkel.
Ek het verlede jaar die Banting Coach kursus by Nutrition Network gedoen. Nie omdat ek ‘n coach wil wees nie, maar eintlik net vir die tjap ter wille van my boeke. Sodat ek kan sê dat ek ‘n coach is. Vir kredietwaardigheid.
Ek wou my nie laat bind deur ‘n groep hier op die dorp te begin nie, ek is net te veel weg.
Maar in Januarie vanjaar kry ek eensklaps die idee om ‘n Bantingkompetisie te hou. In die kwessie van ‘n minuut het ek presies geweet wat ek moes doen en hoe dit moes wees. So asof dit in my kop neergesit is. Volledig uitgewerk. Dit sou ‘n whattsappgroep wees, so dit maak nie saak waar ek is of ek direkte kontak met die mense het nie.
Ek het gehoop dat daar 3 sou deelneem. Ek is tog nie ‘n tydskrif of TV-persoonlikheid nie, waarom sal mense by my inskryf? Maar hulle het, en op 1 Februarie vanjaar het 25 mense begin en die leefstyl begin aanleer, mekaar bemoedig, mekaar help, gewig verloor, gesond word.
Ek kyk nie net na die mens se gewig nie, maar is by die volle mens betrokke – liggaam, siel en gees. Mense vertel vir my hulle stories. Ons vat mekaar se hand en trek mekaar op.
Intussen is die kompetisie al lankal verby, maar die groep hou steeds aan. Daar kom amper weekliks mense by en daar is noual omtrent 50 deelnemers. Ons ondersteun mekaar, gee raad, deel resepte uit.
Vandat ek die groep het, het ek geweldig baie geleer en gesien. Behalwe natuurlik die gewig wat die mense verloor, is vir my die grootste geskenk die gesondheid wat hulle herwin. Mense raak gesond van siektes wat ek nie eers geweet het bestaan nie. ‘n Vrou wie se lewe deur pyn beheer is as gevolg van ‘n outo-immuunsiekte, het binne ‘n week nie meer pyn gehad nie. Mense se bloedsuiker is skielik onder beheer, hulle bloeddruk normaliseer. Dis net ongelooflik!
Dit bring my by diabetes. Nutrition Network spesialiseer in diabetes. Die kursusse wat ek by hulle doen, se hooffokus is diabetes.
Want vandat die dieetriglyne in die 1960’s verander het van ‘n hoë vet na ‘n lae vet dieet en meer koolhidrate, het diabetes wêreldwyd met rasse skrede toegeneem.
Diabetes is ‘n krisis en mense kry dit op ‘n al hoe jonger ouderdom. Kinders is oorgewig en word op ‘n vroeër ouderdom siek.
Kyk ‘n bietjie na foto’s van die 1970’s, vroeg 1980’s. Daar was nie eintlik vet mense nie!
Die ding is, ons het regtig nie suiker en stysel in ons dieet nodig nie. Dit is ‘n DRUG, is uiters verslawend en dit maak ons siek. Dis meer verslawend as kokaïn.
Elke keer wat ons koolhidrate inneem, skei ons pankreas insulien af. En as ons koolhidrate eet, word ons baie gouer weer honger. Dan eet ons weer. En dan skei ons pankreas weer insulien af.
Op die ou end raak ons insulienweerstandig, want ons liggame kan nie al die insulien wat ons afskei hanteer nie. So, die selle koes letterlik vir die insulien en neem dan nie die insulien op wat nodig is om die oormaat suiker in ons bloed te verwerk nie.
Ons kry hyperinsulemia – ‘n geval van te veel insulien in ons bloed.
En ons bloedsuiker styg en ons kry diabetes.
En diabetes lei tot hartaanvalle.
Diabetes steel van ons. Dit beïnvloed ons oë. Dit laat ons ledemate verloor.
Insulien stoor ook die oormaat energie in die vorm van vet. En hierdie vetlaag om ons lyf is eintlik ‘n insulientjoepie.
Wanneer ons dan soos met Banting ophou om suiker en stysel te eet, skei ons nie meer die baie insulien af nie. Ons verhoog ons vetinname en eet lekker ryk kosse.
Ons begin om Ketose af te skei. En ketose weet wat om met vet te maak.
Ons raak vetverbranders in plaas van suikerverbranders.
Ons bloedsuiker normaliseer en ons raak maer, energiek, gesond. En minder honger.
Sedert ek met Banting begin het 8 jaar gelede, het my hele lewe verander. Ek is meer energiek as ooit. Ek is gesond. Ek het nie besef hoe siek ek was nie, ek was reeds ‘n diabeet. Ek was insulienweerstandig. Het Metaboliese Sindroom gehad. Ek is aan suiker verslaaf, maar beheer die verslawing. Vandag is ek gesonder as ooit.
Alles danksy ‘n kopskuif rondom kos.
Suiker hijack jou brein.
As jy oorgewig is, vetsugtig, obese, maak dit nie van jou ‘n slegte mens nie. Nee, jy is steeds die wonderlike mens wat God jou gemaak het. Al probleem wat jy het, is dat jy dalk verkeerde koskeuses maak.
Dalk weet jy nie beter nie, want die verkeerde koskeuses word aan jou verkoop deur die media en al wat leef en beef. Dalk het jy net iemand nodig wat jou kan help om die regte koskeuses te maak. Dalk het jy net nodig om by my groep aan te sluit as jy sou wou. Sodat ander jou kan help as jy struikel.
Maar dit is jou lewe, jou keuse. Elke persoon doen dit vir homself en as jy verkies om dit nie te doen nie, is dit heeltemal reg met my. Ook as jy verkies om eerder suiker te eet.
Die groep kos R750 eenmalig en dan kry jy die 3 Toortsies daarmee saam.
Intussen huppel hierdie dogtertjie voort op die onbekende paadjie en is sy opgewonde oor elke verrassing wat God nog op haar pad gaan bring. Soos hierdie verrassing om genooi te word om ‘n groep mense toe te spreek. Ek weet nie wat voorlê nie, maar Hy weet en dít is vir my genoeg. Al wat ek moet doen is om hierdie pad in gehoorsaamheid en vertroue te stap. Doelgerig, om Sy Naam te eer.
Nogmaals dankie vir hierdie geleentheid.
Mag dit met elkeen van julle baie goed gaan.
Toortsie