Vetsugtigheid

Vetsugtigheid het ook amper ‘n vloekwoord geword en ‘n mens moet baie versigtig wees wat jy daaroor sê om tog nie op iemand se tone te trap nie. As ek hier skryf, is my doel ook beslis nie om op enige persoon se tone te trap nie.

‘n Mens word nie gedefinieer deur hoe vet of hoe maer jy is nie. Tog, al wil ons baklei daarteen, speel ons gewig en hoe ons lyk ‘n baie groot rol in hoe ons voel, of ons dit wil erken, of nie.

My ma het haar lewe lank erg gesukkel met haar gewig. Sies tog, vandag is sy net ‘n klein hopie vel en been. Ek weet watter effek dit op haar gemoed gehad het en nie net op hare nie, op ons almal s’n in die huis. Dit was ‘n lewenslange stryd teen die vet. Ek wil nie eers vir julle vertel wát sy fisies moes deurgaan net om netjies te lyk nie, want haar voorkoms was vir haar altyd baie belangrik.

Ek, daarenteen, was op skool hierdie lang, maer, ondergewig graatjie riet. Dít het sy eie reperkussies gehad omdat my ma my dan altyd uit die modeboeke wou aantrek en ek geen sin daarin gehad het nie, ek was ‘n kaalvoet plaaskind met deurmekaar krulhare. Meer rabbedoe as modepop.

Ongelukkig het die vetsugtigheid ook vir my beetgekry en het ek ook al hoe meer verslaaf aan kos geraak en veral verslaaf aan suiker en kon myself later nie meer keer nie. Ek het leefstylsiektes begin ontwikkel. Pre-diabetes, hoë cholesterol, selfs soms hoë bloeddruk. Metaboliese sindroom.

Ek het begin bid dat God my sal help, ek het geen beheer meer oor my etery, my skaal, klere wat sleg sit, ens gehad nie.

Toe kom Prof Tim Noakes en stel weer die Bantingdieet bekend. Hy verkondig: Los die suikers en die stysels, eet meer vet! Ek dink by myself dat dít nou nonsens is, ‘n mens moet net gebalanseerd eet. Ek word net vetter en vetter met my gebalanseerd etery.

Op 27 Julie 2014 neem ek die drastiese stap en slaan oor na Banting en verloor 16-18 kg. Vyf jaar later kyk ek nie een oomblik terug nie. Ek is steeds ‘n kilo of twee oorgewig, maar vetsugtigheid en die klomp leefstylsiektes is uit die weg geruim.

Die wêreld se mense is besig om vetter en vetter te word. As my inligting reg is, is Amerika bo-aan die lys met Suid-Afrika tweede. Mense eet al hoe meer verwerkte kosse, kitskos, kos wat vinnig gaargemaak word, stysel vorm die hoofbestanddeel van hulle dieet en suiker word mildelik bygevoeg.

Hier is ‘n klompie foto’s wat ek op Instagram by Ditch the carbs leen. Dit is hoe vetsugtigheid toeneem in Amerika, en met SA kort op hulle hakke, kon dit maar netsowel SA se kaarte wees:

Ek het nie al die kaarte gewys nie, maar tans vererger dit jaarliks. Besef julle dat in die hele Amerika 25-30 persent van mense vetsugtig is? Let wel, vetsugtig, nie oorgewig nie. In die helfte van Amerika is 30-34% mense vetsugtig. Een uit drie mense! En die state waar meer as 35% van mense vetsugtig is, raak jaarliks meer. Dit is skokkend. Kommerwekkend.

Nee, ons word nie gedefinieer deur ons lywe nie. En elke mens mag kies of hy sy liggaam wil oppas of nie. Maar ons moet mooi dink, wil ons dit régtig aan onsself doen?

Banting werk vir my. Ongelukkig kan ek dit nie waarborg dat dit vir iemand anders sal werk nie, maar ek voel gesonder en lewenslustiger as ooit. Ek kan jou wel probeer help as jy sou wou en jou dokter sê dis reg.

Toortsie

Advertisements

Of ek nog ‘n boek gaan skryf?

‘n Baie algemene vraag toe mense hoor dat ek vir ‘n histerektomie sou gaan en dus vir ses weke op siekverlof sou wees, was of ek dan sommer nog ‘n kookboek gaan skryf. Dan het ek die simpel antwoord gegee dat ek vir minstens vier weke nie sal kan kook nie.

Want sien, om ‘n kookboek uit te gee, moet ‘n mens KOOK. Jy moet staan voor ‘n stoof. Resepte uitdink, uittoets, oor en oor maak totdat hy die toets slaag wat smaak, tekstuur en nog ‘n hele klomp ander dinge aanbetref. En daardie gekookte goed moet geëet word ook, mens kan nie net kook nie. 😊

Net as voorbeeld: Ek is nou al ‘n geruime tyd besig om ‘n spesifieke koek te ontwikkel. Ek het begin met ‘n resep wat ek van die internet afgehaal het. En toe begin die fynskawery. Elke keer verander ek ietsie. Nou, nadat ek hom al vyf keer gebak en opgeëet het, voel hy vir my reg. Hierdie resep gaan nou ‘n rukkie rus totdat ek hom op ‘n stadium weer aanpak. Op hierdie oomblik wil ek nou nie meer daardie soort koek in die oë kyk nie!

Nou ja, ek dink die vraagstellers was sommer net vriendelik en het dit goed bedoel. En ja, ek hét verlede jaar gesê dat ek in hierdie jaar weer ernstig wil werk aan ‘n boek drie. Terloops, ek het in daardie bloginskrywing ook genoem dat ek vanjaar graag die Camino wil gaan stap en ook in Capital Singers wil sing. Nie een van hierdie planne het gerealiseer tot nou toe nie, maar dit maak ook nie saak nie. 😊

Intussen is ek steeds besig om kos te maak op die vreemdste tye van die dag of nag, resepte te ontwikkel en neer te skryf en wie weet, dalk kom daar tog op ‘n stadium ‘n derde boek. Of nie. Net die tyd sal leer.

21:30 op ‘n Donderdagaand

Groete

Toortsie

Is ‘n lae koolhidraat dieet gevaarlik?

O, nee, ek weet glad nie! Ek is mos nie ‘n dokter nie! Hierdie foto het Ditchthecarbs op Instagram gesit en na aanleiding van dit skryf ek hierdie bloginskrywing.

Genadiglik is daardie debatte verby, of Banting volhoubaar is, of dit gesond is, ens. Of dalkies kry ek net nie meer met dit te doen nie. Ek sien ook nie meer vreeslik artikels om die gesondheid daarvan te bewys nie, ek het dit nie meer nodig nie.

Toe ek destyds op my blog aangekondig het dat ek die Bantingleefstyl volg, het iemand vir my gesê: ‘Jy is seker nie ernstig nie.’

Ek het baie dinge aangehoor, dat, as jy Banting doen, jy nie eintlik moet oefen nie, of, dat jy juis baie moet oefen en jy nie die dieet kan volg as jy min oefening kry nie. Banting sou jou na ses maande inhaal, dis ook in my gesig gesê deur ‘n kenner, eerstens dat jou cholesterol jou iewers gaan inhaal, en aan die anderkant, deur dieselfde kenner, met ekstra groot oë, dat as jy Banting begin, jy dit nooit weer sal kan stop nie, want dán gaan jou cholesterol jou probleme gee. Ag, daar was nog doemstories. Party het gesê, probeer dit maar vir ‘n rukkie. ‘n Goedbedoelende het vir my ‘n e-pos gestuur van ‘n tweeling wat die toets gedoen het, een het gebant, die ander een nie. Al verskil aan die einde was dat die Banter ‘n slegte asem gehad het.

Wel, ná vyf jaar van Banting moet ek bieg: Ek het nie na die doemprofete geluister nie. Ouch! Ek was sowaar ernstig toe ek gesê het ek doen dit nou. Ek het sowaar aangehou en dit nie na ‘n rukkie gelos nie. Soms het ek, terwyl ek die leefstyl volg, minder geoefen en ander kere meer. My cholesterol het my sowaar nie na ses maande ingehaal nie. Ag, die metaboliese sindroom wat ek gehad het, het ook saggies die wyk geneem. My bloedsuiker word deesdae nie eers meer getoets nie! Ek kry komplimente vir my vel wat mooi is, my hare groei teen ‘n spoed, ag, daar is te veel om op te noem.

Maar die lekkerste lekker was hierdie week toe die narkotiseur opgewonde vir my gesê het hoe lekker dit is om vir ‘n ‘gesonde’ mens narkose te gee, en weer, toe ek so aan die slaap raak, was die laaste wat ek hoor toe hy dit in die teater herhaal. Ek het sommer met ‘n glimlag weggesweef.

Banting, jou lekker ding!

Of dit gesond is vir jou wat hier lees, weet ek nie, dis iets wat net jy en jou dokter oor kan besluit, maar vir my het dit beslis gewerk, werk dit steeds. Ek stap lag-lag apteek toe, want my voorskrif is aansienlik ligter as wat dit voorheen was.

Toortsie

Is ‘n allergie ‘n allergie?

Wat ‘n vreemde vraag! Ek wonder net soms, as iemand ‘n allergie het, selfs al is sy wetenskaplik getoets en dit bewys is dat die persoon ‘n sekere allergie het, dit die werklike allergie is en of dit dalk ‘n reaksie is op ‘n heel ander iets?

En dít vra die Toortsie wat net mooi niks van hierdie goed af weet nie. As ek dus dom dinge hier sê, vergewe my asseblief.

Ek het byvoorbeeld nie goed gereageer op koffie met melk in nie. Nou ja, ek het nie naar geword as ek dit drink nie, maar ek hét as kind ‘n oorkookprobleempie gehad, wat opgelos was die oomblik toe my pa vir my gesê het ek moet my koffie swart drink en my melk op sy eie. Ek was egter nog nooit lief vir skoon melk nie, alhoewel ek geweldig baie suiwel gebruik in die vorm van room en kaas en joghurt.

Terug by die allergie. Vetterige kos het as kind nie regtig met my geakkordeer nie. Ek was nooit mal oor roomys nie en sou een keer per jaar vir my ‘n draairoomys koop met flake en MIN roomys. Pienk roomys het my laat wollerig voel. Dis nou daardie pienk roomys wat ‘n mens gekry het, so drie kleue saam: wit, bruin en pienk.

Sou my ma beesstert maak, was ek naarderig tot die volgende aand. Varkvleis kon ek per geleentheid eet en daardie geleenthede moes nie kort op mekaar volg nie.

Toe begin ek vyf jaar gelede met die Bantingleefstyl. Oeee, vir drie dae voel ek SLEG. Slegter as sleg. Naar. Opgestop. AAKLIG. Megraine. En daar is die slegvoel oor en het dit nooit weer gebeur nie.

NOU kan ek die bees eet, stert en al, met die vark saam met hom. Ag, en as daar ‘n ou vetjie ook nog aan kan wees, soveel te beter. Droë vleis is oneetbaar! Om die waarheid te sê, ek steel die vet uit my man se bord uit!

Om weer by die oorspronklike argument te begin. ‘n Mens kon dalk dink ek is allergies vir varkvleis. Of dat kos met vet aan my siek maak. (Vetterige kos wat in olie gaargemaak is, is natuurlik in ‘n grillerige klas van sy eie. )

Was my ‘allergie’ dan vet kos, of het my probleem op ‘n ander plek gelê? Ek wonder soms of my liggaam hom nie dalk só doodgewerk het aan die stysel wat hy moes verwerk het, hy het net nie kans gesien vir die vet OOK nog nie? En noudat die stysel en suikers nie meer ter sprake is nie, kan hy na hartelus die vet omsit in bondelsvol energie en goedvoel?

Dalk hét ek al voorheen hieroor geskryf, maar dis wat vanaand in my kop draai.

Toortsie

Beskerm: Toortsie se Bantingmuffins

Hierdie inhoud word deur ‘n wagwoord beskerm. Gee asseblief die wagwoord om die inhoud the besigtig.