Wat ‘n positiewe benadering!

Iets wat nog altyd my belangstelling trek, is verslawing. Dit wat kenners oor verslawing te sê het. Want ek is mos suikerverslaaf. Kosverslaaf. En ek is doodernstig hieroor. Ek het dit jare gelede al besef, lank voor dit ‘n algemene term was. Of eerder, lank voor ek daarvan geweet het.

Suikerverslawing. Alkoholverslawing. Dwelmverslawing.

Nou leer ek in die Banting Coach kursus wat ek by Nutrition Network doen dat daar ook iets soos prosesverslawing is: Verslaaf aan elke liewe nuwe dieet wat uitkom. (Dit het ek al baie in my lewe gesien.) (Terloops, ek dink ook ek is verslaaf aan die adrenalien wat die Goue Vroue avonture my gee en ek is doodernstig hieroor, hoor!)

Bitten Johnsson, ‘n verslawingskenner, is die persoon wat nou die lesing oor suikerverslawing aangebied het. Sjoe! Ek leer baie! Wat ‘n positiewe persoon is sy nie! Die probleem is dat suikerverlawing die hek is wat toegang bied tot ander verslawings. En soveel van ons is suikerverslaaf en ons besef dit nie!

Verslawing is ‘n siekte wat veranderinge in jou brein veroorsaak. Wat ontwikkeling strem. Dis ‘n kroniese siekte. ‘n Primêre siekte. ‘n Progressiewe siekte, wat beteken dat dit oor jare erger raak, selfs al gebruik jy nie die substans nie. Die verslawing kaap jou brein en selfs net een happie/slukkie van daardie middel lei tot die volgende een. (Dit het ek nou gedurende die vakansie ervaar toe iemand vir my ‘n sak sultanas en ‘n sak dadels present gegee het – een happie het gelei tot ‘n volgende en ‘n volgende.) Die probleem is dat ons ons kinders al kleintyd lekker en brood en pasta en pizzas voer en sonder dat ons dit besef help ons hulle breins in ‘n verkeerde rigting ontwikkel. Ek het ook!

Maar die beste nuus van alles is: Dit is behandelbaar! Deur positiewe aksies wat lei tot positiewe denke. Deur die regte goed te begin doen en daarmee aan te hou. Deur dit een dag op ‘n slag te doen. Deur in die oggend te dink wat jy kan doen om by jou eetplan te hou en jou voor te neem om daarby te hou en vanaand aan drie dinge te dink waarvoor jy dankbaar is. Enige drie dinge. Want dit skep positiwiteit.

En nee, as jy totaal afgebreek is deur jou verslawing, as jy totaal oorvet en siek is, is jy nie so sleg nie! Nie ‘n mislukking nie. Jy het net soveel potensiaal tot beterskap. Is dit nie mooi nie?

Toortsie

16 thoughts on “Wat ‘n positiewe benadering!

  1. Vir my is dit baie belangrik om elke aand die dag deur te loop en aan dinge te dink waarvoor ek dankbaar is. Ek het jare lank met drie begin en later seker gemaak dat ek aan vyf dinge dink. Dit is wonderlik hoe moeilik dit was in die begin, maar nou kan ek maklik tot tien tel. Dit was te maklik om die klein dinge te ignoreer in die begin en nou weet ek hoe belangrik hulle is in my lewe. Jy is ook so reg dat ons suikerverslawing ens kan oorwin: ek het oor baie maande sukses met my man gehad en ons voel nou albei beter!

    Liked by 2 people

    1. Mens het dit altyd as jy dit eers het. En vrugte het ook baie suiker. Ek het ongemerk al hoe meer vrugte begin eet en baie gewig opgetel. Nou is dit weer nul vrugte per mond vir my vir ‘n ruk. Daar kom wel appel in my koolslaai. En ek het begin om Rolandale se pasteitjies te eet. Dit moet onmiddelik stop!

      Like

  2. Non GMO, ek raak so opgewonde as ek appel eet en sien raak bruin binne as jy begin eet het. Britten is die een wat saam Dr Andreas Eenfeldt werk, sy is amazing. Baie groot onderwerp verslawing, en ja, ons het almal ons “gif”.

    Like

Gesels saam, asseblief!