En dít vir verslawing

Ek kom nou sommer al goed reg met die Onderbroke Vas, of Intermittent Fasting, soos dit beter bekend is. Ek eet my middagete wanneer manlief by die huis kom en vanaand aandete. Soms sal ek nog lus kry vir iets om te eet, maar dit is eintlik glad nie meer ‘n probleem nie. Ek dink nie meer heeldag aan kos nie en daar is sekere goed wat ek eintlik glad nie meer eet nie, bloot omdat daar nie meer tyd is nie. Soos neute, want dis iets waaraan ek heeldag gepeusel het. Joghurt – deesdae sal ek nog ná ete ‘n skeppie ongegeurde joghurt eet, maar as ek ‘n kwart van die joghurt eet wat ek voorheen geëet het, is dit baie. Ek kry regtig nie meer behoefte aan soetgoed nie en maak nie meer Bantingterte nie, want wanneer moet ek dit eet? Ek kan regtig sê dat ek in die ritme daarvan gekom het.

Gistermiddag nooi my man my om gou saam te ry na vriende toe dan drink ek gou ‘n koppie tee saam met vriendin terwyl hy en vriend ‘n bietjie boer. Toe ek daar stop, vertel vriend vir my van ‘n groep mense wat daar was en noem dat sy vrou ‘n vlakoek gebak het en dat daar nog ‘n stukkie oor is. En toe tref die lus vir vlakoek my soos baie jare laas. Soos beslis meer as sewe jaar gelede voor ek begin bant het. Dit oorheers my hele denke! Ek het so lus, ek kan my amper nie inhou nie! Vriendin vra of ek gaan oortree en ‘n stukkie koek eet en dadelik sê ek ja. Sy sit ‘n massiewe stuk in my bord, waarvan ek die helfte terugsit, net om myne só vinnig op te eet, ‘n mens sou sweer ek het jare laas kos gehad en die helfte wat ek teruggesit het, weer in te skep en net so vinnig te eet. Genade!

Ja, dis hoe verlawing werk. Geen oomblik mag jy dink dat jy jou verslawing finaal oorwin het nie. Nooit nie. Dis juis wanneer jy dink dat jy stewig staan, wat jy behoorlik op jou agterent val. Ek ervaar regtig die laaste tyd dat, terwyl dit eintlik met my hantering van kos beter as ooit gaan, dat my weerstand swakker is wanneer die lokaas voor my neus beland. Iewers het ek my waaksaamheid laat verslap. Ek sal my grensdrade moet nagaan en kyk waar die vyand plek het om sy kloue in te steek.

Toortsie

Wat ‘n positiewe benadering!

Iets wat nog altyd my belangstelling trek, is verslawing. Dit wat kenners oor verslawing te sê het. Want ek is mos suikerverslaaf. Kosverslaaf. En ek is doodernstig hieroor. Ek het dit jare gelede al besef, lank voor dit ‘n algemene term was. Of eerder, lank voor ek daarvan geweet het.

Suikerverslawing. Alkoholverslawing. Dwelmverslawing.

Nou leer ek in die Banting Coach kursus wat ek by Nutrition Network doen dat daar ook iets soos prosesverslawing is: Verslaaf aan elke liewe nuwe dieet wat uitkom. (Dit het ek al baie in my lewe gesien.) (Terloops, ek dink ook ek is verslaaf aan die adrenalien wat die Goue Vroue avonture my gee en ek is doodernstig hieroor, hoor!)

Bitten Johnsson, ‘n verslawingskenner, is die persoon wat nou die lesing oor suikerverslawing aangebied het. Sjoe! Ek leer baie! Wat ‘n positiewe persoon is sy nie! Die probleem is dat suikerverlawing die hek is wat toegang bied tot ander verslawings. En soveel van ons is suikerverslaaf en ons besef dit nie!

Verslawing is ‘n siekte wat veranderinge in jou brein veroorsaak. Wat ontwikkeling strem. Dis ‘n kroniese siekte. ‘n Primêre siekte. ‘n Progressiewe siekte, wat beteken dat dit oor jare erger raak, selfs al gebruik jy nie die substans nie. Die verslawing kaap jou brein en selfs net een happie/slukkie van daardie middel lei tot die volgende een. (Dit het ek nou gedurende die vakansie ervaar toe iemand vir my ‘n sak sultanas en ‘n sak dadels present gegee het – een happie het gelei tot ‘n volgende en ‘n volgende.) Die probleem is dat ons ons kinders al kleintyd lekker en brood en pasta en pizzas voer en sonder dat ons dit besef help ons hulle breins in ‘n verkeerde rigting ontwikkel. Ek het ook!

Maar die beste nuus van alles is: Dit is behandelbaar! Deur positiewe aksies wat lei tot positiewe denke. Deur die regte goed te begin doen en daarmee aan te hou. Deur dit een dag op ‘n slag te doen. Deur in die oggend te dink wat jy kan doen om by jou eetplan te hou en jou voor te neem om daarby te hou en vanaand aan drie dinge te dink waarvoor jy dankbaar is. Enige drie dinge. Want dit skep positiwiteit.

En nee, as jy totaal afgebreek is deur jou verslawing, as jy totaal oorvet en siek is, is jy nie so sleg nie! Nie ‘n mislukking nie. Jy het net soveel potensiaal tot beterskap. Is dit nie mooi nie?

Toortsie

Oordosis suiker

Dis mos geen geheim op hierdie blog dat ek al vir meer as vyf jaar die Bantingleefstyl vol nie en gevolglik geen suiker en stysel inneem nie.

Ek het wel egter die beleid dat as ek by mense kuier, ek eet wat vir my voorgesit word. Is daar genoeg kos om uit te kies, sal ek gewoonlik die stysel en suiker los, maar is stysel en suiker die enigste kos wat aangebied word, maak ek geen bobaai daarvan nie en eet dit.

My liggaan het regtig nou al ná al hierdie jare, gewoond geraak aan hierdie leefstyl. Ek het egter wel ‘n suikerverslawing en sal maar altyd versigtig moet wees om nie weer in die verslawing te verval nie.

‘n Rukkie terug was ek by ‘n lieflike funksie waar die mooiste en wonderlikste kosse voorgesit is. Ek het sommer net daar besluit om die kos wat vir my voorgesit word, te eet. Elke dis het suiker of stysel of albei bevat. Baie suiker.

Ons het die aand geweldig baie geniet en die gasheer en -vrou het uit hul pad gegaan om alles so lekker en mooi as moontlik te maak. Alles was vingerleklekker.

So driekwart deur die aand het my liggaan vir water begin vra. Dis nie te vreemd nie, ek drink baie water. Die nadraai van die suiker oordosis was egter ‘n ander verhaal. Ek het nie besef suiker kan jou ‘n ‘hang over’ gee nie!

By die huis aangekom, was my voete geswel, maar die volgende dag was die gevolge duidelik sigbaar. Ek was naar en het kwaai hoofpyn gehad. Dit het gevoel of ek sweef en of ek net nie heeltemal in beheer is van my liggaam nie. Ek wou nie eet nie, maar het liters water verorber net om my liggaam skoon te spoel. Ek het regtig sleg gevoel. Nadat ek middagete geëet het, het ek begin beter voel.

Vreemd genoeg het ek glad nie daarna gesmag na iets soets soos dit gewoonlik werk nie. Dalk het my liggaam gevoel genoeg is genoeg. Ek wonder, as ek my bloedsuiker sou neem, wat die uitslag sou wees? Dit was regtig ‘n geweldige skok vir my liggaam en ek sal in die toekoms baie mooi dink voor ek weer so iets doen.

Ek wil dit regtig nie aanbeveel nie.

Toortsie

Suikerverslawing

Alkoholisme is’n progressiewe siekte. (Ek hoop ek het nou die regte woord gebruik!) Oor tyd raak dit erger en erger, selfs al drink die persoon glad nie. So sou ‘n persoon vir jare ophou drink, en hy begin weer, is hy baie vinnig weer op die vlak waar hy opgehou het en selfs erger.

Ek weet nog te min van suikerverslawing om so ‘n stelling daaroor te maak, maar ek wonder baie daaroor. Kom ‘n mens ooit heeltemal oor jou suikerverslawing? Raak ‘n mens ooit heeltemal genees van jou kosverslawing? Hierdie laaste twee verslawings wat ek hier noem, is wat ek het (gehad het).

Beide hierdie verslawings van my is onder beheer. Ek Bant immers al twee en ‘n half jaar! Ek smag nie meer heeldag na soetgoed nie en ek eet en eet en stop nie meer alles wat voorkom in my mond nie.

Tog is die tekens van beide steeds daar! Ek kry steeds soms baie lus vir soetgoed en dan maak ek onmiddellik vir my ‘n Bantingvriendelike iets sodat ek nie dalk iewers struikel oor regte suiker nie. Maar as ek dan kyk hoé ek daardie soetding hanteer, kan ek nie help om te wonder oor beide verslawings nie!

Ek twyfel steeds oor xylitol en oor hoé veilig dit regtig is, maar ek is steeds uiters dankbaar vir die kruk om op te steun. Die verslawing is beslis minder, ek eet nie meer elke dag, selfs elke week soetgoed nie, maar dis steeds daar. 

Die kosverslawing is ook aansienlik minder, maar ek is nog nie daar waar ek slegs twee maal per dag eet nie. Baie dae eet ek my drie keer en klaar, maar sekere dae wil ek heeldag peusel.

En dis hiér waar ek dan dankbaar is vir Banting. Dankbaar dat daar kos is wat ek mág eet, dat ek my nie hoef te weerhou net om in ‘n slaggat te trap en weer totaal beheer te verloor nie.

Vrydag het ek die Bantingkaaskoek in Toortsie se Bantingboerekosboek gemaak. Ek en my man het korte mette met hom gemaak. Ek het nie een oomblik skuldig gevoel nie, want alles daarin is goeie kos, toegelate kos, nie ‘n spul leë suikers vol kilojoules nie. Nee, dit bevat vullende bestanddele. Toe die kaaskoek op is, het ek bevredig gevoel en nie een oomblik skuldig nie, want ek het niks verkeerds gedoen nie!

Dankie tog dat daar ‘n manier is om my kos- en eetverslawing te beheer!

Banting werk vir my, maar onthou, voor jy dit begin doen, spreek eers jou dokter. Elke persoon doen dit op eie risiko.

Toortsie

Post of the day: Yellow.  What is more yellow than the cheesecake from Toortsie’s Banting Bash?

madele_resepteboek_photographybylize-117
Banting kaaskoek uit Toortsie se Bantingboerekosboek.

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Is ek te laat vir ‘n nuwejaarswens?

Toortsie by Pinterest