Die stof het gaan lê

Ná ‘n ekstra woeste tien dae van kosmaak teen topspoed, vinnig planne maak, breinselle gebruik wat ek het en nie het nie, het my kop stilgestaan teen Donderdagaand, my oë stokstyf in my kop. Jy kon geen bruikbare reaksie uit my brein verwag nie en elke woord wat uit my mond gekom het, moes jy met meer as ‘n knippie sout neem.

Die stof het gaan lê. Wat is die slaap? ‘n Wondersoete ding, het een of ander baie bekende digter gesê. Sy naam is iewers in my brein se argiewe weggebêre. Diepppp.

Ek het nog altyd geweet die groep vroue en man wat God my gegee het vir ‘n Bybelstudiegroep is uitgesoek met die hand. Vrydagoggend het hul groepleier ‘n ronde nul op ‘n kontrak beteken. Haar kop het nie geraas nie, nee, haar kop was doodstil. Maar húlle is goud werd. Weer eens het ons ‘n wonderlike Bybelstudie gehad. Want sien, niks het eintlik verander nie. Elkeen in ons groepie stap ‘n wonderlike pad met ons Here en elkeen dra elke keer soveel by, ons leer by mekaar. Ek is eintlik net die koördineerder. Almal dra by.

Met die kinders wat die naweek kom kuier het en ‘n rustige atmosfeer van lekker saamwees, het die stof in my kop gaan lê. Daar is nog 12 maklike en vinnige kossies wat gemaak moet word môre. Dan is ons klaar.

Mense! Ek is opgewonde! Die foto’s is fantasties verby! Ons is presies dieselfde span wat die vorige twee boeke ook gedoen het. Ek kan letterlik sien hoe ons al drie gegroei het.

In die afgelope twee maande het ek twee uitmergelende moeghede ervaar. Met die Baviaans Camino was dit liggaamlike moegheid. Hierdie keer was dit kopmoegheid. Dis goed om dit te ervaar.

Ek is reg vir wat voorlê.

Fotograaf: Lize Venter. Stilis: Lizelle du Toit. Kosmaker: Toortsie (Madelé Burger)

Toortsie 3, is dit nie?

Toortsie

‘n Lang pad

Meer as tien jaar gelede het ek op ‘n dag ‘n blog begin, nadat ek die fliek, Julie, Julia gesien het. Die oorspronklike blog het ek een nag afgevee. Daarná is Toortsie gebore. Ek het oor enige ding geskryf: my geloof, sommer hier en daar ‘n resep gedeel, laf gewees, die opheffingswerk wat ek met die plaaskinders doen, ens. Vóór ek my blog begin het, het ek reeds in my bidboek geskryf. ‘n A4 blad op ‘n keer. Sodat ek kan fokus. Ek glo dat dit daar is wat ek leer skryf het, aan God se voete. Hy het my geleer om my gedagtes neer te skryf.

Toe begin ek Bant. Want ek was moedeloos van wipplank ry tussen vetsugtig en brandmaer. Moedeloos van ‘n kas vol klere waarvan niks pas nie. Toe vra ek God een oggend om my te help en Hy wys vir my van Banting. Dis ook al geskiedenis. Omdat ek nie aan ‘n verslankingsgroep behoort het nie, het ek sommer hier op my blog kom vertel hoe dit gaan, sommer net om my aanspreeklik te hou. In my eie lewe het ek reseppies verander om dit Bantingvriendelik te maak en dit sommer in ‘n swart A4-boek geskryf om dit vir myself bymekaar te hê.

‘n Jaar nadat ek begin Bant het, het ek my eerste resepteboekie vrygestel: Toortsie se Bantingboerekos. Bang, onkundig, waagmoedig het ek dit gedoen. God het my gelei. Hy het die meeste ‘toevallighede’ laat gebeur. Ek moes net die pad stap. Ek het letterlik niks geweet van boeke publiseer nie. Ek was te bang om my poginkie vir ‘n publiseerder te stuur, want ek was te bang vir enige iets wat my sou ontmoedig. Die bloggers het my aangemoedig. Seegogga het raad gegee. My skoondogter het aangebied om die boek se uitleg te doen.

Een dag wat ek die radio aansit op pad terug van Ladismith af, sê die aanbieder: “Goeiemôre. Ons praat vandag met xx oor die skryf van resepteboeke.” Daardie oggend kry ek die heelpad terug ‘n wonderlike lesing wat ek soos ‘n spons opsuig. Toe ek ‘n sekere boek gesoek het, beland ek by Smashwords. Voor ek egter die e-boek wat ek wou hê, kon aflaai, moes ek egter ‘n ander boek aflaai. Daardie boek se naam was Secrets to E book publishing success.

Secrets to E book publishing success – Mark Coker.

Hierdie boek het ek woord vir woord gelees, ingedrink, deurdink, nagevolg tot die letter. Toe ek op my blog terloops noem dat ek ‘n resepteboek wil uitgee, was die bloggers vuur en vlam en ondersteunend, net soos ons hulle mos maar ken. Seegogga sê ek moet ‘n goeie fotograaf kry en ek skrik my boeglam. Fotograaf? Net daar vra ek ‘n oulike vriendin en haar fotograafdogter om my te help met die stilering van die kos. Iemand bel my uit die bloute en daar kry ek hulp met die befondsing van die boek. Om ‘n boek self uit te gee is duuuuuurrrrrrr. Alle kostes is joune.

Ná baie harde werk, nagte se wakkerlê, hare wat letterlik regop gestaan het vir elke ietsie wat gebeur, bangwees, skaamwees, want wie is ék nou om ‘n boek te wil uitgee?, het Toortsie se Bantingboerekos op 16 Desember 2015 die lig gesien. Die Here was so goed vir my! Sy trek al by die sesde druk. Dit het uitstekend verkoop en verkoop steeds. Weekliks stuur ek boeke uit. Sy is nou al naby topverkoperstatus. Ek staan verstom. Ek doen die bemarking, die verspreiding, alles self. Heerlik. Ek geniet dit. Intussen het boek 2, Hier’s die Toortsie Weer! en Toortsie’s Banting Bash! ook die lig gesien en is My Kinderjare met betrekking tot vandag tans by die drukkers. U kan na voorlesings uit my kinderjareboek HIER luister.

Daardie tyd wou ek graag die boek ook as e-boek uitgee, maar hy was te groot om net as e-boek opgelaai te word. Ek was te moeg om regtig te bestudeer hoe om dit te doen en die lewe het gebeur. Aanvanklik wou ek dit by Smashwords uitgee, maar het besluit om eerder Amazon te probeer. Tog het ek nooit regtig tyd gekry om dit behoorlik in te studeer nie. Tot Scrapydo vir my sê dat sy beter by Smashwords regkom. Sy het vir my ‘n wonderlike artikel aangestuur oor selfpublikasie en net daar het die gogga my weer gebyt. Ek het KM Weiland se raad gevolg en dadelik aan die werk gespring om ‘n gratis e-boek te skryf. Daarin is al die Banting soetighede wat in my eerste twee boeke is. Sonder foto’s, want foto’s maak dit onnodig groot. Net die resepte.

Vir dae bestudeer en volg ek die Smashwords Style Guide woord vir woord. Ek maak presies soos wat hy voorstel. ‘n Uitstekende boek. Duidelik geskryf. Regtig aanbevelenswaardig.

Joh-Mari van Heerden het weer eens gesorg vir die voor- en agterblad.

Uiteindelik kon ek by Smashwords ‘publish’ druk. Ná een of twee klein veranderings kry ek toe die boodskap: Congratulations! My e-boek is gepubliseer! Ek het dit reggekry. En vir my is dit mos die groot uitdaging: Om iets reg te kry en te voltooi.

So, dames en here, hier is vir jou ‘n gratis e-boek! Vertel vir jou vriende. Deel dit uit. Maak die lekker soetgoedjies en dink aan Toortsie: https://www.smashwords.com/books/view/1043640

Jy kan dit in enige formaat aflaai by Smashwords.

Die biek is gratis by Smashwords. Die ander webwerwe mag wel ‘n paar rand vra.

Groete

Toortsie

Voorlesings uit My kinderjare met betrekking tot vandag.

Wordless Wednesday – Food

Aletta Nowathome

Foto’s deur Lize V Photography

Stilering deur Lizelle du Toit

Kos

Ek is mal oor kos. Oor eet. Kos is vir my lekker. Ek geniet dit om kos te maak. Nie spesiale kos nie, sommer net gewone boerekos. Huiskos. Kos wat maklik is om te maak. Vinnig en maklik en gesond daarby. Baie keer is ek lui, dan braai manlief, want hy hou daarvan. Sommer net tjops en wors of sosaties. Niks vreemde goed soos braaipaai nie. Gewone braaivleis. Want dis vir ons lekker. Want ons hou daarvan. Ons hou van eet. Ons is goed daarmee.

Natuurlik is alles Bantingvriendelik. Lchf. Keto. Paleo. Gesond, ryk en lekker.

Toortsie

Oor grense heen

Die oggend toe ek oppad is na die eetsaal, stap ek verby een van die kelners. Sy het ‘n bak met ‘n vreemde groen vloeistof in. Ek vra haar wat dit is en sy sê dis ‘n Indiese blatjang.

Daardie oggend lyk dinge anders in die eetsaal. Dis nie net die normale ontbyt wat bedien word met pappe, vrugte en joghurt, roereier, worsies en spek en tamatie en komkommer nie. Ek moet sê, die hele tyd wat ons by daardie hotel was, het ek op gereelde basis Indiërs sien beweeg.

Daardie oggend is daar ‘n ander bedrywigheid. Daar word vreemde kosse neergesit by die buffet. In die hoek is ‘n Indiese sjef bedrywig.

Die volgende oomblik kom ‘n paar Indiese gaste die eetsaal binne. In plaas van die gewone kos te neem, versamel hulle by die Indiese sjef. Toe ek klaar geëet is, gaan staan ek by die sjef en vra of ek mag kyk wat hy doen.

‘n Afrikaanssprekende kelner kom tot my hulp en verduidelik wat hy maak. Van rysmeel het hy ‘n deeg gemaak wat hy op die warmplaat smeer soos ‘n pannekoek. Of soos ‘n ‘wrap’, wat word dit in Afrikaans genoem? Dit word gebak. Dan vul hy dit met ‘n vulsel wat bestaan uit aartappels en natuurlik kerrie en nog ‘n paar geheime bestanddele en toegedraai soos ‘n pannekoek of omelet.

Die kelner beveel dadelik aan dat ek een moet eet, met kaas op, sê hy. Nee dankie, ek is reeds so versadig, antwoord ek vriendelik.

Terwyl ek daar staan, kom die vriendelike Indiër na die ander by my verby en groet vriendelik. Die een man begin met my praat, in goeie Engels. Vertel dat die gereg, waarvan ek die naam nie ken nie, tipies is aan die suide van Indië. Hy praat met sy hart. Ek sien die trots en die liefde vir die kos en sy land.

En ek sien die vriendelikheid en aanvaarding oor grense heen. Die opgewondenheid dat ‘n gewone Suid-Afrikaanse vrou belangstel in hulle kos.

En as nagedagte wil ek sê dat ek bly is ek was reeds versadig, want ek en sterk kosse werk nie goed saam nie en hulle sou mos kyk wat my reaksie is. Ná twee happies sou ek nie verder kon eet nie en ek sou mos nie hulle in die gesig wou vat nie. En dan weet ek nie wat hierdie Bantinglyf sou maak met ‘n ryspannekoek, gevul met aartappels nie? Maar dit hoef hulle mos nie te weet nie.

Want ek het opreg belang gestel.

Toortsie