Wat maak jy met jou hande?

‘n Groot deel van enige verslawing, is die gewoontes wat daarmee saamkom. En om daardie verslawing af te leer, behels nie net die ontslae raak van die chemiese afhanklikheid daarvan nie, maar amper ‘n hele nuwe bestaan.

Soos byvoorbeeld, as jy jou alkoholverslawing wil oorkom, beïnvloed dit, behalwe die ‘ophou drink’, ook jou tydbesteding, die vriendekring waarin jy beweeg en vele ander goed. Skielik kan jy nie meer saans sit en drink nie en moet jy nuwe maniere kry om jou konstruktief besig te hou. Jy moet dalk nuwe vriende vind, want jou belangstellings het dalk ook nou verander en jy wil mos nie weer in dieselfde slaggat trap nie.

Destyds toe my man ophou rook het, was sy groot uitdaging: Wat maak hy nou met sy hande? Die hande wat die sigaret heeltyd na sy mond gebring het?

Sonder dat ek dit eers besef het, behels eetverslawing ook die bring van kos of drinkgoed na jou gesig en is dit ‘n lekkerte wat jy moet afleer as jy jou eetverslawing wil oorwin. Ek het nooit daaraan gedink nie! In die kursus wat ek tans doen oor eetverslawing, versugtigheid en diabetes het ek hierdie oulike raad geleer om permanent ‘n nuwe leefstyl aan te leer. Doen dit stap vir stap, nie alles op een slag nie.

1) Kry ‘n doel voor oë. Hoekom wil jy jou leefstyl verander?

2) Sluit alle koolhidrate uit alles wat jy drink. Drink slegs iets wat geen koolhidrate bevat nie.

3) Sny alles uit ‘waarop’ jy kos eet – die brood, die fyn aartappels, die chips, die rys. Eet die eiers, maalvleis, kaas sonder die styselbasis.

4) Moenie goed probeer vervang nie. Moet ook nie die namaaksels na die verbode item vernoem nie. Eerder fyn blomkool as blomkoolrys.

5) Sny alle stysel uit. Vrugte ook, behalve tamaties en avokado’s. Vrugte bevat regtig baie suiker en as jy reeds ‘n suiker- of vetsugtigheidsprobleem het ..,

6) Hou op snack tussen etes. Selfs nie eers koolhidraatvrye snacks nie.

7) Probeer slegs een of twee keer per dag eet. Eet wanneer jy honger is.

8) Vir die gewoonte, die hande … drink elke twintig minute een sluk koffie of tee. Water natuurlik ook!

9) Spandeer tyd met jou God en sorteer dit uit in jou hart wat jou pla.

Toortsie

Wat ‘n positiewe benadering!

Iets wat nog altyd my belangstelling trek, is verslawing. Dit wat kenners oor verslawing te sê het. Want ek is mos suikerverslaaf. Kosverslaaf. En ek is doodernstig hieroor. Ek het dit jare gelede al besef, lank voor dit ‘n algemene term was. Of eerder, lank voor ek daarvan geweet het.

Suikerverslawing. Alkoholverslawing. Dwelmverslawing.

Nou leer ek in die Banting Coach kursus wat ek by Nutrition Network doen dat daar ook iets soos prosesverslawing is: Verslaaf aan elke liewe nuwe dieet wat uitkom. (Dit het ek al baie in my lewe gesien.) (Terloops, ek dink ook ek is verslaaf aan die adrenalien wat die Goue Vroue avonture my gee en ek is doodernstig hieroor, hoor!)

Bitten Johnsson, ‘n verslawingskenner, is die persoon wat nou die lesing oor suikerverslawing aangebied het. Sjoe! Ek leer baie! Wat ‘n positiewe persoon is sy nie! Die probleem is dat suikerverlawing die hek is wat toegang bied tot ander verslawings. En soveel van ons is suikerverslaaf en ons besef dit nie!

Verslawing is ‘n siekte wat veranderinge in jou brein veroorsaak. Wat ontwikkeling strem. Dis ‘n kroniese siekte. ‘n Primêre siekte. ‘n Progressiewe siekte, wat beteken dat dit oor jare erger raak, selfs al gebruik jy nie die substans nie. Die verslawing kaap jou brein en selfs net een happie/slukkie van daardie middel lei tot die volgende een. (Dit het ek nou gedurende die vakansie ervaar toe iemand vir my ‘n sak sultanas en ‘n sak dadels present gegee het – een happie het gelei tot ‘n volgende en ‘n volgende.) Die probleem is dat ons ons kinders al kleintyd lekker en brood en pasta en pizzas voer en sonder dat ons dit besef help ons hulle breins in ‘n verkeerde rigting ontwikkel. Ek het ook!

Maar die beste nuus van alles is: Dit is behandelbaar! Deur positiewe aksies wat lei tot positiewe denke. Deur die regte goed te begin doen en daarmee aan te hou. Deur dit een dag op ‘n slag te doen. Deur in die oggend te dink wat jy kan doen om by jou eetplan te hou en jou voor te neem om daarby te hou en vanaand aan drie dinge te dink waarvoor jy dankbaar is. Enige drie dinge. Want dit skep positiwiteit.

En nee, as jy totaal afgebreek is deur jou verslawing, as jy totaal oorvet en siek is, is jy nie so sleg nie! Nie ‘n mislukking nie. Jy het net soveel potensiaal tot beterskap. Is dit nie mooi nie?

Toortsie