Uit die mond van die suigeling…..

Ek het ‘n suspisie dat kindertjies op die aarde gesit is, om grootmense van ydelheid te bevry. “ Uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor.”  Ek het genoeg waarhede uit kindermondjies gehoor om soos ‘n volstruis my kop in ‘n gat te druk, en nooit weer my medemens in die oë te kyk nie.  Skaars het my spieël vir my gesê, “jy is aanvaarbaar,” of ‘n kindermond weerspreek die spieëlleuen.

Die kindertjies word groot, en behou hulle vryheid van spraak.  Dan gebeur die onvermydelike; hulle bring babatjies na jou toe.  Jou hart smelt in jou binneste, en jy vergewe sommer daar en dan alles wat hulle pappas, en mammas jou selfbeeld aangedoen het.  Jy koer oor die ou mensie, en sê, “sê o-u-m-a.”  Kort voor lank word jou pogings beloon, hy noem jou ouma en nog veel meer; “uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor.”  Jy kyk in die laggende blou ogies, en onthou toe jy met jou ouma se hangende armvelle gespeel het, en ook sonder voorbehoud gepraat het.  Daardie aand in die stilte van jou kamer haal jy die “handgewigte” uit jou kas, en werk jou arms totdat hulle brand.  Wie weet miskien is daar nog iets te redde.

“Ouma het baie kenne,” dieselfde blou ogies lag in joune.  Jy soen die mond wat nounet so ‘n groot waarheid kwytgeraak het, en wonder terselfdertyd of daar oefeninge vir die dilemma is.  Jy gaan staan voor die spieël vir ‘n bietjie inspirasie.  Die spieël sal ‘n groot leuen moet vertel om van die kenne ontslae te raak; maar vandag swyg hy soos die dood.  Jy wonder hoeveel geld jou man in sy bankrekening het; ‘n “face lift” kan seker nie soveel kos nie.

“Kan ek ouma se tuin erf, wanneer ouma doodgaan.”  Dit is ‘n ander mond wat hier praat.  Jy kyk die blondekop wat so lief is om jou tuin nat te spuit, vraend aan.  “Ouma is stokoud, en sal nie meer lank leef nie,” verduidelik sy.  Sy smeer darem ‘n bietjie salf op die wond, “Ek gaan vreeslik huil, en ouma baie mis.”  Jou laaste bietjie hoop spoel by die drein af.  Wat help ‘n “face life,” wanneer jy klaar met een voet in die graf staan.  Jou man se geld is weer veilig.

Jy stap groothuis toe vir ‘n bietjie grootmens geselskap.  “Uit die mond van die suigeling,” kan ‘n bietjie oorweldigend raak.  Twee van jou dogters sit en gesels oor hoe mooi Marlè gelyk het toe sy vroeër die aand na ‘n deftige “doo,” toe is.  Grimering kom onder bespreking.  Jy het nog nooit ‘n hand vir grimering gehad nie, en vra een van jou dogter om jou te wys hoe om jou oë te grimeer.  Sy kyk jou verbaas aan, “met mamma se oë wat sulke velle hang sal niemand eers die grimering sien nie.”  Hoe kon jy vergeet het hulle behoort aan die “uit die mond van die suigeling” geslag!!”

Al vertel die spieël vir my leuens, en kindertjies van klein tot groot die waarheid; gaan sit ek nie in sak en as nie.  Binne my is daar ‘n groter waarheid aan die werk.  “Therefore we do not lose heart.  Even though our outward man is perishing, yet the inward man is being renewed day by day.”

Kameel

8 thoughts on “Uit die mond van die suigeling…..

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s