Die koningin

Ons kyk tans The Crown, elke aand een episode. Sjoe, ek geniet dit! Dit is ‘n reeks oor Koningin Elisabeth die tweede. Ons is tans besig met die tweede seisoen, wat my op ‘n ander manier raak. In hierdie seisoen, lyk dit my, word daar intens na haar huwelik en die geveg tot die oorlewing daarvan gekyk.

Ek leer geweldig baie by die koningin. Deur na hierdie reeks te kyk, kry ek ook geweldige respek vir haar. Ek het altyd so die idee gekry dat sy stug is en dalk ís sy so, maar ek wonder hoeveel van haar stugheid het as gevolg van haar rol gekom. Ek kry haar jammer. Om koningin te wees is mos iets waarna ons opkyk, amper streef, alhoewel dit nie regtig is wat ek begeer nie. Daardie prag en praal is pragtig. Besonders. Uniek. Maar dit vra sy prys. ‘n Enorme prys vir ‘n enorme pos.

Iets wat sy nie kon kies of afwys nie. Iets wat in haar skoot geval het sonder dat sy daarvoor gevra het. ‘n Uiters eensame pos. ‘n Pos wat alles van haar vra, haar volle toewyding, haar lojaliteit, soms selfs haar menslikheid teen haar sin. En waar sy eintlik nie meer ‘n sê het nie, waar die regering die sê het, sy die een is wat die kritiek kry as die besluite wat sy neem nie is soos wat ander daarvan hou nie.

Ek beleef hoe sy gemanipuleer word, en hoor hier, as daar een iets is wat my hare laat regop staan, horings op my kop laat uitkom, is dit mense wat ander mense druk, manipuleer om teen hulle sin iets te doen sodat die manipuleerder bevoordeel word daardeur, net om op die ou end nog die kritiek daarvoor te kry of verder gemanipuleer te word. Sy word deur verskillende mense gedruk sodat húlle daardeur bevoordeel moet word, selfs al is dit teen haar grein. Selfs al het daardie mense al voor die tyd geweet dat dit wat hulle vra, nie reg is nie. (Dit is in die eerste seisoen, totdat sy eienaarskap oor haar koninginskap geneem het.)

Ek beleef haar eensaamheid. Ek sien ook hoe swaar haar man kry as gevolg van sy rol as die koningin se man, maar in my hart dink ek: Hy het dit mos geweet voor hy met haar getrou het. Tog weet ons baie dinge voor die tyd, maar ons weet nie regtig nie. Daarvoor kry ek hom jammer, maar ek is ook kwaad vir hom omdat hy haar geensins ondersteun nie. Soos in glad nie. Hy is totaal afwesig, die heeltyd besig met sy eie dinge, dalk sy eie oorlewingsmeganismes, maar in die proses faal hy een honderd persent in sy rol as haar man. Ek vertrou dat dit sal verander soos die reeks vorder.

Ek leer baie by haar, veral ook in die hantering van my volwasse kinders. Ek is ‘n ‘fixer’, dis in my aard. Ek wil dinge regmaak. Regstel. Ek leer by die koningin om stil te bly. Om betrokke te wees deur te luister, deur selfs raad te gee, maar nie in te meng nie. Sodat hulle hulle eie dinge uitsorteer. Om beskikbaar te wees, maar hulle self hulle eie dinge onder mekaar te laat uitsorteer. My rol as ma het verander. Ek is nie meer die versorger, die opvoeder, die verantwoordelike een nie. Ek is die ouma, die ouer ‘moeder’ en dankie Goue Vroue, ook vir julle raad wat julle op julle blogs gee waardeur ek soveel kan leer. Ek het ‘n nuwe rol. My rol is nou net om my volwasse kinders en my kleinkinders te geniet en lief te hê. Om vir hulle te bid. Terug te staan. Nie meer so stresgedrewe te leef nie. My opvoedingsrol is voltooi. Wat ‘n lekkerte!

Toortsie

18 thoughts on “Die koningin

  1. Ek het dit ook gevolg. Wat die reeks so goed maak is dat mens maar elke gebeurtenis kan gaan Google en sien dit het werklik so gebeur. Jy is reg..sy is seker die eensaamste mens maar haar krag inspireer my geweldig…haar selfbeheersing….

    Liked by 1 person

    1. Soos Frannie uewers op ‘n blog gesê het en ek ernstig ter harte geneem het, ons moet nou ons oumarol vervul en eintlik is dit heerlik sonder al die verantwoordelikhede wat ons maar kan laat gaan. ‘n Wonderlike nuwe rol. ❤️

      Liked by 1 person

  2. Ek het Netflix gekanseleer en by http://www.truthtv.com aangesluit. Dis nes Netflix met die oulikste flieks, series dokkies en kinder programme…als met n positiewe beleid. Ek en die oom kyk nou Signed sealed and delivered….baie oulik
    Daar is nou n 14dae trial periode. Gaan loer gerus. Dis R129 per maand. Ons kyk mos maar min TV en ons albei hou van hierdie kanaal

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!