Die ouers, of die kind?

Ek kan nie anders as 100 persent met hierdie man saam te stem nie, en nou skok ek seker die hele bloggosfeer!

Ja, my kinders is vir my verskriklik belangrik, seker dié belangrikste wesens in my bestaan. Ja, ek moet my kinders versorg en beskerm na die beste van my vermoë. Ja, as die kinders in ‘n sekere rigting belangstel en daar is die fondse en tyd en fasiliteite en ons gesin kan dit akkommodeer, sal ek probeer om dit vir hulle beskikbaar te stel om te ondersoek of probeer of doen.

Maar nooit soveel dat die hele gesin gedurig daaronder moet ly nie.

Ons wil regtig graag die beste vir ons kinders hê, dis reg! Maar ons moet oppas dat ons kinders se wille en grille só prioriteit in ons lewens raak, dat álles wat ons dink en doen nét daarom gaan om ons arme bloedjies te dien. Ons hardloop ons kapot, ons breek ons rûe, ons benadeel onsself só dat ons kinders tog net alles kry wat hulle begeer, alle moontlike blootstelling kry, oorgestimuleer word en in die proses breek ons onsself in 60 stukke, is ons oormoeg, oorsensitief, tot op breekpunt gestres en suig ons huweliksmaat en huwelik aan die agterste speen. Om die waarheid te sê, dit suig nie eers aan ‘n speen nie! Want dit het ‘n nul op die kontrak geword!

Liewe vriende, liewe jongmense met kinders in die huis, die grootste geskenk wat ons ons kinders kan gee, is gelukkige huwelike. Ja, elke huwelik gaan deur sy krisisse. Ja, ook ek en my man het soms so op mekaar geskree dat die kranse antwoord gee. Ja, daar ís tye wat die res van die gesin ter wille van een gesinslid moet opoffer, dit gebeur, maar ons moet oppas dat ons nie ons huwelike en huislike stabiliteit verwaarloos en sodoende dít wat ons die graagste wil hê, om gelukkige kinders te hê, juis van hulle ontneem nie.

Laat jou kind haar eie taak doen, dis goed vir haar. Jy het jou beurt gehad toe jy op skool was, dis nou jou kind se beurt. Laat sy dalk ‘n paar punte minder kry vir haar eie werk, maar laat dit haar eie werk wees. En as sy te lui is om dit behoorlik te doen, laat sy die swak punte aan haar eie bas voel.

Laat haar die buitemuurse bedrywigheid kies wat sy die graagste wil doen, maar sy hoef regtig nie alles te doen wat sy wil nie, sy gaan nog 100 jaar oud word, sy gaan nog baie geleentheid in haar lewe kry om die ander goed óók te ondersoek.

Kinders moet ook leer om soms terug te staan, om keuses te maak, maar die meeste van alles moet hul leer dat jou huwelik vir jou belangrik is. As hul dit nie by jou leer nie, waar moet hulle dit leer?

Ek wéét die druk van buite is kwaai. Jy en jou huweliksmaat is egter verantwoordelik vir jou kinders en op die ou end gaan die keuses wat jy gemaak het, die bepalende faktor wees. Lees asseblief daardie koerantuitknipsel, dit het op Facebook rondgeswerf. Maak ‘n verskil, jy kan. Jy is die ouer in die huis, nie jou kind nie. En onthou, julle was eers getroud, en toe kom die kinders en een dag verlaat die kinders die huis, en dan moet jul steeds mekaar hê en kan ondersteun, jy en jou huweliksmaat.

Groetnis

Toortsie

Advertisements

Seks en die huwelik

Soos die man met die hoed sê, is ons Afrikaanssprekendes nie einlik ingelig oor die seksdeel van die huwelik en die intimiteit daarvan nie. Ons praat nie daaroor nie en skryf ook nie op ons blogs daaroor nie en dit wat ek nou skryf, wou ek al soveel keer skryf, maar ek is mos ‘n Afrikaanssprekende vrou, hoe kan ek?

Maar Toortsie se lig skyn mos orals in, ook in die slaapkamer. Ek luister wat mense sê en hoor baie dinge, soos:

‘Seks is overrated’.

Ek hoor hoe mense verskriklik hard werk en eenvoudig te moeg is saans vir seks. Dan slaap die kinders ook nog die bed vol. Onthou mense, jou huwelik se behoud is belangriker! Die grootste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is ‘n gesonde huwelik. Haal hulle uit jou bed uit!

Ek hoor hoe party jongmense oorboord gaan met seks voor hulle troue, dat die plesier daarvan weg is teen die tyd wat hulle trou, dat dit dan al afgesaag is.
Terselfdertyd hoor ek die teenpool dat dit onder jongmeisies ‘n meer algemene tendens raak dat hulle bang is vir seks.

Ja, seks is nie alles nie. Ja, ons het verskillende liefdestale en almal s’n is nie seks nie.

Terug na die basiese dinge. Seks is deur God ingestel vir die huwelik. Buite die huwelik is dit al die lelike woorde wat mense soms van seks sê, binne die huwelik is dit mooi en rein en skoon en fantasties. Dis daar om geniet te word deur huweliksmaats. Dis die kosbaarste ding wat daar tussen huweliksmaats is. Dis die een ding waarmee ek vir my huweliksmaat sê dat hy die spesiaalste mens is wat ek ken, ek doen met hom wat ek met geen ander persoon sal doen nie omdat ek hom so geweldig liefhet.

Die vieslikste ding wat jy jou huweliksmaat kan aandoen, is om sy/haar seksualiteit te beledig. (Seks is ook al waaraan jy kan dink!) Dis hoe God mans gemaak het, hul natuur vra dit! Soos my liewe oom Christo sê, jy kan so kwaad wees vir jou vrou, maar na ‘n rukkie roep die natuur julle weer bymekaar.

Wanneer seks in ‘n huwelik gesond is, is dit 3 persent belangrik in die huwelik. Dan kom die ander dinge sommer reg. Is seks egter afwesig in die huwelik, dra dit by tot 95 persent van die probleme. Dán is ALLES groter probleme as wat dit sou wees.

Asseblief mense, moenie julle sekslewe verwaarloos nie. Gaan sien ‘n seksioloog as dit nodig is. Ons het nodig om ons huwelike op te pas en die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu wat sy bes doen om huwelike te verwoes.

Pas julle huwelike op. Dis regtig die moeite werd.

A marriage wihout sex is only a substandard marriage.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

32 jaar

Vir die oom wat nou die dag op die radio gepraat het en 65 jaar getroud is, is 32 jaar van getroude lewe ‘n kuikentjie, vir ander is die gedagte aan 32 jaar van getroud wees ‘n onwerklikheid.


Vandag, 32 jaar gelede, het ek met sterre in die oë en met die confetti dogtertjie se blommekransie in my hare, die kerkpaadjie afgestap. Intussen het baie water die see ingeloop, is ons berge en dale oor en skielik is dit 32 jaar later.

Saam het ons wonderlike ervarings gehad, die wêreld deurkruis, groot uitdagings aanvaar en aangepak, krisisse hanteer.

Dit was beslis nie elke dag maanskyn en rose nie, ons kom uit verskillende agtergronde en omstandighede, maar as ek die pad kan oorstap, doen ek dit beslis.

Daar word baie oor die huwelik geskryf, positief én negatief. Kinders beleef hul ouers se huwelike, of gebrek aan huwelike in hulle eie huise en raak bang of opgewonde daaroor. Kinders kry die idee van sprokieshuwelike in storieboeke en word dan ontnugter as hul eie huwelik nié die sprokieshuwelik is wat hul gedink het dit moet wees nie.

Net soos wat ‘n mens jou beste moet gee vir jou beroep om dit suksesvol te maak, moet jy ook jou beste in jou huwelik gee. ‘n Huwelik hou baie vreugde en genot in, maar verwag van jou jou beste.

Seks, kommunikasie, konflikhantering, mekaar dra deur swaarkrytye, liefdevolle aandag en tyd aan mekaar gee, en nog 70 ander dinge speel alles ‘n rol om dit te maak werk, want die huwelik is deel van die lewe. ‘n Huwelik wat werk, bring stabiliteit, dit help om gebalanseerde kinders groot te maak, is die ruggraat van ‘n gesonde samelewing.

Seks word soms oorbeklemtoon, ander kere as niks afgemaak. In ‘n huwelik waar gesonde seks is, speel seks amper geen rol nie, maar in ‘n sekslose huwelik, dra seks by tot 90 persent van die probleme wat daar gebeur. Wanneer die seks gesond en in plek is, kom die kommunikasie en die gelukkige samesyn en al die 70 ander goed outomaties in plek. En as God in jou huwelik is, is hou huwelik ook al halfpad gewen.

Nou ja toe, al wat ek wou sê, is, ek en my ou manlief is reg vir die volgende 32 jaar. Ons sal ons bes doen, oor berge en deur dale, deur die mooi en ook deur die swaarkry. Mag God ons huwelik beskerm soos wat Hy alreeds 32 jaar lank doen. Soms het Hy maar ‘n handvol met ons! 😱

The challenge of this week, is delta, and we have to place a picture of something that shows transition or change. To stay married for 32 years, there have to be love, life and also continuous change, transition, to get stronger in each other and to face the challenges of life.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Rolle omruil?

Ek filosofeer net ‘n bietjie. Ek wonder sommer. Ek dink net. Ek is nie besig om iemand te kritiseer nie, maar jammer ek ís mos maar outyds ook nog. Maar ek mág mos maar dink, vrae vra.

Met díé dat vroue al hoe sterker raak en mans soms terugstaan en die vroue toelaat om sterker te word, met mans wat die vrouens al hoe meer in die huise help en kinders help grootmaak, hoor ek ook al hoe meer dat vrouens die broodwinners word en mans die ‘huismans’, soos ons vroue in die verlede die huisvroue was.

Die vrou werk buitenshuis, die man hou die huis aan die kant, ry die kinders rond, sorg dat daar vanaand kos op die tafel is.

Nou wil ek graag weet, wie van julle doen dit? Hoe standhoudend is dit? Hoe lank doen julle dit al só? Werk dit regtig? Regtig egtig? Op die lange duur? Hou die huwelik dit?

Kyk, ek praat nie van ‘n krisis wat skielik kom en die man sy werk verloor en vir ‘n korttermyn, totdat hy weer werk kry, die huisman word wat omsien na daardie dinge nie. Ek praat van mans wat dit permanent doen.

Is dit steeds moontlik dat die sterk, broodwinner vrou haar man sal eer en hy sy vrou sal liefhê soos dit moet?

Is dit uitvoerbaar? Is dit natuurlik? Is dit normaal? Deesdae gooi ons so álle natuurwette om, en netso skree ons vir die natuur om terug te kom, daarom vra ek, hoe standhoudend is dit. Hou so ‘n huwelik op die lang duur?

Eva is tog die een wat die kinders moes baar en na hulle omsien terwyl Adam in die veld moes spit en in die sweet van sy arbeid sy geld verdien. Eva die versorger, Adam die broodwinner.

Nou raak die Evas sterker en begin die man se rol oorneem en die man moet noodgedwonge die vrou se rol oorneem. Wat is ons besig om aan te vang?

Soos in die begin gesê, die doel is nie om te kritiseer nie, ek vra maar net, wonder maar net.

Ek sê nie vroue mag nie werk nie, ons is mos darem opgelei, ons hande is nie rond nie. Ek vra sommer net oor die omruil van die rolle. Is ons nie besig om ons manne te ontman nie?

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

As ‘n deel van die liggaam swaarkry

Of ons nou praat van die kerk, of die gemeente, of selgroep, of dorp of stad of gemeenskap, noem maar op, saam maak die ‘groep’ ‘n liggaam.

In 1 Kor 12 beskryf Paulus die liggaam met sy baie dele, elkeen van ons ‘n besonderse deeltjie. Elkeen van ons het sy eie gawes en doel. Sommige van die deeltjies of lede van die liggaam is meer prominent as ander, maar die liggaam kan nie optimaal funksioneer as al die dele nie daar is nie.

Ek lees iewers van ‘n persoon wat gebreek het met haar familie. Ek is nie hier om te oordeel nie, ons het elkeen ons redes hoekom ons goed doen. Ek kan net vir en namens myself praat.

In elke familie gaan dit nie aldag goed nie. Soms raak dinge maar erg warm onder die kiewe, ons is immers verskillende mense met verskillende persoonlikhede wat saam ‘n lewe probeer maak.

‘n Mens is geneig om makliker te haak met die kind of ouer wie se persoonlikheid met joune ooreenstem. So het ek en my ma in ons lewe baie vasgesit. Erg vasgesit. Rof vasgesit. Soms, in my jonger dae, het ek ook gevoel om eerder die afstand te handhaaf, ek glo sy het ook so oor my gevoel. Maar bloed is dikker as water en elke keer is ons terug na mekaar, soms met groter sukses as ander tye.

Vandag kyk ek met dankbaarheid terug dat ons elke keer weer probeer het, dat ons nooit ons probleme groter gestel het as ons verhouding nie. Vandag is sy broos, afhanklik en het sy my goedheid nodig en is ek dankbaar om vir haar op ‘n manier te kan help.

1 Kor 14:26: ‘As een lid ly, ly die hele liggaam. ‘

Skeuring in ‘n gesin bring ontroosbare hartseer. Dit bring ‘n pyn wat mens nie kan wegdink, wegwens of wegredeneer nie.

Vanoggend het ons dominee Corney so mooi gesê: ‘Op die ou end maak elkeen van ons ons eie keuses, is ons verantwoordelik vir ons eie keuses en kan ons nie ons ouers die res van ons lewens vir ons eie verkeerde keuses blameer nie. ‘

Mag God ons help om ons gesinne te beskerm. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap