Die omkeer van rolle

Dit is ‘n herhalende proses, die omkeer van rolle. ‘n Proses wat baie spanning en ook skeuring in gesinne kan veroorsaak.

Want die mamma en die pappa is die mamma en die pappa. Wat die leiding neem in die huis. Wat ons kinders grootmaak en opvoed om verantwoordelike volwassenes te word.

En iewers raak ons kinders groot. En raak die verantwoordelike volwassenes, net soos ons gehoop het hulle sal wees.

En dan kan daar botsings kom. Want pappa en mamma moet begin terugstaan en weet dalk nog nie heeltemal hóé nie. En voel dalk gefrustreerd omdat die kinders nie in die ouer-kind verhouding al meer verantwoordelikheid neem nie. Sien die ouers dalk nog nie kans om heeltemal die bal in die kinders se hande te sit nie. Voel hulle dalk bedreig as die kinders sterker na vore kom. Voel hulle selfs of die kinders alles wat hulle doen, kritiseer.

En die kinders voel gefrustreerd. Want hulle raak ouer en voel gereed om leiding te neem, ook in die ouer-kindverhouding. Voel terselfdertyd dat hulle dalk nie hulle ouers genoeg respekteer nie. Voel hulle dalk dat hul ouers hulle nie vertrou nie. Of verstaan nie. Voel hulle of hulle ouers nog nie besef het dat hulle nou ook volwassenes is nie. Of hulle ouers inmeng.

En stadig, maar seker verander die rolle. Kan ouer en kind volwasse vriende raak. Begin ouer al hoe gemakliker terugstaan. Begin kind al hoe meer die leiding neem.

Raak die rolle omgekeer.

Tot op ‘n dag wat die kind die ouer raak en die ouer die kind. Waar die ouer op ‘n kleine hopie in ‘n hospitaalbed lê en die kind oor haar voorkop streel en haar troos.

Toortsie

Die koningin

Ons kyk tans The Crown, elke aand een episode. Sjoe, ek geniet dit! Dit is ‘n reeks oor Koningin Elisabeth die tweede. Ons is tans besig met die tweede seisoen, wat my op ‘n ander manier raak. In hierdie seisoen, lyk dit my, word daar intens na haar huwelik en die geveg tot die oorlewing daarvan gekyk.

Ek leer geweldig baie by die koningin. Deur na hierdie reeks te kyk, kry ek ook geweldige respek vir haar. Ek het altyd so die idee gekry dat sy stug is en dalk ís sy so, maar ek wonder hoeveel van haar stugheid het as gevolg van haar rol gekom. Ek kry haar jammer. Om koningin te wees is mos iets waarna ons opkyk, amper streef, alhoewel dit nie regtig is wat ek begeer nie. Daardie prag en praal is pragtig. Besonders. Uniek. Maar dit vra sy prys. ‘n Enorme prys vir ‘n enorme pos.

Iets wat sy nie kon kies of afwys nie. Iets wat in haar skoot geval het sonder dat sy daarvoor gevra het. ‘n Uiters eensame pos. ‘n Pos wat alles van haar vra, haar volle toewyding, haar lojaliteit, soms selfs haar menslikheid teen haar sin. En waar sy eintlik nie meer ‘n sê het nie, waar die regering die sê het, sy die een is wat die kritiek kry as die besluite wat sy neem nie is soos wat ander daarvan hou nie.

Ek beleef hoe sy gemanipuleer word, en hoor hier, as daar een iets is wat my hare laat regop staan, horings op my kop laat uitkom, is dit mense wat ander mense druk, manipuleer om teen hulle sin iets te doen sodat die manipuleerder bevoordeel word daardeur, net om op die ou end nog die kritiek daarvoor te kry of verder gemanipuleer te word. Sy word deur verskillende mense gedruk sodat húlle daardeur bevoordeel moet word, selfs al is dit teen haar grein. Selfs al het daardie mense al voor die tyd geweet dat dit wat hulle vra, nie reg is nie. (Dit is in die eerste seisoen, totdat sy eienaarskap oor haar koninginskap geneem het.)

Ek beleef haar eensaamheid. Ek sien ook hoe swaar haar man kry as gevolg van sy rol as die koningin se man, maar in my hart dink ek: Hy het dit mos geweet voor hy met haar getrou het. Tog weet ons baie dinge voor die tyd, maar ons weet nie regtig nie. Daarvoor kry ek hom jammer, maar ek is ook kwaad vir hom omdat hy haar geensins ondersteun nie. Soos in glad nie. Hy is totaal afwesig, die heeltyd besig met sy eie dinge, dalk sy eie oorlewingsmeganismes, maar in die proses faal hy een honderd persent in sy rol as haar man. Ek vertrou dat dit sal verander soos die reeks vorder.

Ek leer baie by haar, veral ook in die hantering van my volwasse kinders. Ek is ‘n ‘fixer’, dis in my aard. Ek wil dinge regmaak. Regstel. Ek leer by die koningin om stil te bly. Om betrokke te wees deur te luister, deur selfs raad te gee, maar nie in te meng nie. Sodat hulle hulle eie dinge uitsorteer. Om beskikbaar te wees, maar hulle self hulle eie dinge onder mekaar te laat uitsorteer. My rol as ma het verander. Ek is nie meer die versorger, die opvoeder, die verantwoordelike een nie. Ek is die ouma, die ouer ‘moeder’ en dankie Goue Vroue, ook vir julle raad wat julle op julle blogs gee waardeur ek soveel kan leer. Ek het ‘n nuwe rol. My rol is nou net om my volwasse kinders en my kleinkinders te geniet en lief te hê. Om vir hulle te bid. Terug te staan. Nie meer so stresgedrewe te leef nie. My opvoedingsrol is voltooi. Wat ‘n lekkerte!

Toortsie

Pa’s en dogters

Elke verhouding in die gesin het sy eie plek en belangrikheid, en iemand het een keer gesê dat God heel eerste vir Adam en Eva geskep het, ‘n gesin, en nié ‘n Raad van Direkteure nie.

Omdat die verhouding tussen die pa en sy dogter nou ter sprake was by die Google soekenjin, is dít waaroor ek wil skryf.

Pa’s julle is nie net die voorsieners wat moet sorg dat daar geld in die huis is nie, julle het ‘n baie prominente doel in die huis. Julle is die hoof van die huis, die vaders in die huis, en as julle daardie rol met liefde vervul en julle vaderskap in liefde uitoefen, sonder om iemand soos ‘n vloerlap te laat voel, baat elke persoon in die huis daarby. Jy inkluis.

Pa, jy is die een wat jou dogter leer hoe ‘n man eendag teenoor haar sal moet optree. Jy leer haar wat liefde en respek is en as jy liefdevol en respekvol teenoor die vrouens in jou huis optree, leer sy weer hoe om in liefde te reageer. Daardeur leer sy om vir jou te eer en respekteer en lief te hê soos ‘n dogter haar pa moet liefhê, maar ook later ‘n vrou haar man moet respekteer.

As jy jou rol as pa uitoefen, soos wat God dit wil hê, as daar ‘n goeie en gesonde verhouding tussen julle is, baan jy die weg dat sy dalk eendag haar man ook sal respekteer en liefhê en dien.

Maar pa, as jy jou dogter op een of ander manier misbruik, verloor sy haar respek vir alle mans. As jy as pa nie gesonde verhoudings handhaaf nie, veroorsaak jy dat sy ook in haar volwasse lewe mans nie kan vertrou nie.

As jy ‘n afwesige pa is, veroorsaak jy dalk so ‘n honger na ‘n vaderfiguur, dat sy op ‘n té vroeë ouderdom uitreik na ander mans op ‘n verkeerde manier.

En pa, weet ook dat jou dogter een dag ‘n geliefde huis toe gaan bring. Ja, dis moeilik, jy wil jou kind beskerm. Ook dít is die normale verloop van die lewe en as jy dit gaan toelaat en haar goeie keuse van man gaan goedkeur, as jy haar laat gaan, help dit haar in haar eie huwelik. Moenie dat sy skuldig voel omdat sy jou verlaat het nie. Moenie dat sy voel sy moet kies tussen jou en hom nie. Sy is mos regtig lief vir jou!

Beskerm jou dogter, maar waak teen oorbeskerming. Gee haar soms ook die geleentheid om haar vlerkies te sprei.

Pa’s, die grootste geskenk wat jy jou dogter kan gee, is, om haar mamma baie lief te hê.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

As ‘n deel van die liggaam swaarkry

Of ons nou praat van die kerk, of die gemeente, of selgroep, of dorp of stad of gemeenskap, noem maar op, saam maak die ‘groep’ ‘n liggaam.

In 1 Kor 12 beskryf Paulus die liggaam met sy baie dele, elkeen van ons ‘n besonderse deeltjie. Elkeen van ons het sy eie gawes en doel. Sommige van die deeltjies of lede van die liggaam is meer prominent as ander, maar die liggaam kan nie optimaal funksioneer as al die dele nie daar is nie.

Ek lees iewers van ‘n persoon wat gebreek het met haar familie. Ek is nie hier om te oordeel nie, ons het elkeen ons redes hoekom ons goed doen. Ek kan net vir en namens myself praat.

In elke familie gaan dit nie aldag goed nie. Soms raak dinge maar erg warm onder die kiewe, ons is immers verskillende mense met verskillende persoonlikhede wat saam ‘n lewe probeer maak.

‘n Mens is geneig om makliker te haak met die kind of ouer wie se persoonlikheid met joune ooreenstem. So het ek en my ma in ons lewe baie vasgesit. Erg vasgesit. Rof vasgesit. Soms, in my jonger dae, het ek ook gevoel om eerder die afstand te handhaaf, ek glo sy het ook so oor my gevoel. Maar bloed is dikker as water en elke keer is ons terug na mekaar, soms met groter sukses as ander tye.

Vandag kyk ek met dankbaarheid terug dat ons elke keer weer probeer het, dat ons nooit ons probleme groter gestel het as ons verhouding nie. Vandag is sy broos, afhanklik en het sy my goedheid nodig en is ek dankbaar om vir haar op ‘n manier te kan help.

1 Kor 14:26: ‘As een lid ly, ly die hele liggaam. ‘

Skeuring in ‘n gesin bring ontroosbare hartseer. Dit bring ‘n pyn wat mens nie kan wegdink, wegwens of wegredeneer nie.

Vanoggend het ons dominee Corney so mooi gesê: ‘Op die ou end maak elkeen van ons ons eie keuses, is ons verantwoordelik vir ons eie keuses en kan ons nie ons ouers die res van ons lewens vir ons eie verkeerde keuses blameer nie. ‘

Mag God ons help om ons gesinne te beskerm. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

Grense in die volwasse, uitgebreide gesin

Ek is steeds besig met die boek, Boundaries, en sal seker nog ‘n hele ruk besig wees. Elke woord word oordink.

Hoe werk grense tussen ouers en volwasse kinders?

Dis nie net die ouer wat moet terugstaan nie, ook die jongmens wat trou moet besef dat daar nuwe grense is, dat julle as nuwe paartjie julle eie “huisie” gaan begin bou. ‘n Te sterk afhanklikheid/aanhanklikheid met die ouers kan selfs die nuwe verhouding skaad.

Die boek noem ook die probleem waar ‘n nuut getroude man tweede viool speel teenoor sy vrou se pa. Ja, daar ís ‘n besonderse band tussen ‘n pa en sy dogter, maar dit kan soms gevaarlik wees as dit nie reg hanteer word nie.

‘n Regtig groot gevaar is waar volwasse kinders steeds uit hul ouers se sakke leef en nie daarvan los kan kom nie. Ek praat nie van studente nie, maar van jong volwassenes wat al werk, of veronderstel is om te werk. Ja, ek besef werk is skaars, maar ons moet oppas om nie ons kinders se ontwikkeling te strem deur hul afhanklik van ons te hou nie. Netso, jongmens, moet jy keer dat jou ouers hierdeur ‘n tipe houvas op jou kry. Doen jou eie ding, selfs al moet jy met minder klaarkom, en hou die verhouding met jou ouers gesond.

Dan die ding van kinders wat al jare werk, lankal uit die nes geskop moes wees, maar steeds te lekker in ma se hotel bly… die gevaar van verlengde adolessensie is daar… dit kan selfs jou kind se verhouding met ander jongmense kniehalter.

Hy spreek nog baie probleempies aan, alledaagse dingetjies, goed wat dalk op die oog af nie so erg lyk nie…

Ons verhouding met ons volwasse kinders is belangrik, uiters belangrik. Juis daarom moet ons sorg dat ons gesonde grense daar stel, dat ons hul gun om die volwassenes te wees wat hul is, dat ons nie hul huwelike deur ons optrede vertroebel nie. Die belangrikste nóg, ons moet ook HUL grense respekteer, hulle is nou ook volwassenes, wie dinge dalk op ‘n effens ander manier doen as ons. Kom ons gun hul hul lewe, maar hou ons huise en harte wawyd oop, sodat ons liefdevol vir hulle raad kan gee AS HUL DAAROM VRA.

Groetnis
Toortsie

Skakels na die BOEKBESPREKINGS wat ek doen.

Toortsie se faceboekblad.