Wanneer is ‘n goeie tyd om te spaar?

Nou! Altyd nou! Wanneer jy ‘n ietsie het om te spaar. Of bulfase? O nee, nou is nie ‘n goeie tyd nie, die rand is in sy peetjie, die aandele val, of die aandele is nou te duur, ‘n mens koop nie nou aandele nie, of ek het nie eers geld om uit te kom in die maand nie, wat nog te sê spaar? Hoe moet ek gespaar kry?

Ja, die ekonomiese tye is sleg. Mense kry finansieel swaar. Vir party is dit seker regtig onmoontlik om nog te spaar ook. Tog sê Die rykste man in Babilon dat daar net een manier is om meer geld in jou beursie te kry, behalwe natuurlik nog harder werk, om, as jy tien goue munte inkry, jy een van daardie munte eenkant sit en nie uitgee nie. En dat jy dit elke keer moet doen. Dan gaan die geld in jou beursie meer raak.

Soos ‘n wyse ou plaaswerker een keer, baie jare gelede vir my gesê het dat ‘n mens nie jou lammerooie moet slag nie. Dis seker een van die beste geldraad wat ek in my lewe gekry het en dit van ‘n persoon wat nie eers kon lees en skryf nie. Moenie jou lammerooie slag nie. Vir hierdie boervrou het dit sin gemaak. Jou lammerooie los jy uit sodat hulle vir jou nog meer lammers kan gee.

Ek glo aan die bietjie-afknyp-wanneer-jy-kan-ding. Selfs in tye wanneer dit finansieel met jou baie moeilik gaan. As dit moontlik is. Dis dalk daardie één bederfie wat jy so verskriklik nodig het, wat jy opgee en daardie geldjie eenkant sit. Soos die rykste man in Babilon sê, is dit ook die raad wat ekonome nog altyd gee, dat jy, van die dag af wat jy begin geld verdien, minstens 10% moet wegsit. Lammerooie. Wat jy nooit slag nie. Waaraan jy nooit raak nie. Ook nie aan die lammers wat gebore raak uit daardie ooie nie.

As dit maar klein bedraggies is, kry vir jou ‘n spaarrekening. Of ‘n geldmarkrekening as jy kan. Maar as jy enigsins in aandele kan belê, doen dit. Daar is baie oulike fondse beskikbaar waar jy ‘n kleinerige bedraggie per maand kan wegsit. Of, groter enkelbedrae wanneer jy kan. En as jy kan, dink ernstig daaraan om ‘n bietjie geld in die buiteland ook te sit.

Hoekom glo ek nou is die beste tyd? Nie nou, 04/08/2020 nie, maar die nou. Wanneer jy die geld het. Ongeag of die rand swak is of die aandele te duur. Want, it’s not about timing the market, but time IN the market. Jy kan die groot slag met aandele slegs slaan as jy aandele het. Ja, jy kan groot verloor met aandele, maar as jy dit daar los, sal dit deur die slegte tye kom en sal hulle vir jou beloon. As jy die temperament het om daarmee saam te leef.

Knyp af. Kom in die gewoonte. Spaar nou. En vergeet van daardie geld. Moenie dat dit jou pla nie. Los dit uit. Jy gaan bly wees. En onthou om gereeld nog by te sit sodat dit groei en groei. Vir oudag.

Toortsie

Jou hart

Terwyl ek en manlief vanmiddag in die berg loop, dit begin al half skemer raak en ons loop in die bergpaadjie styf teen die dorp, kom die volgende woorde in my kop op:

Laat jou hart nie ontsteld raak nie. Glo in God, glo ook in my. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. Ek gaan om vir julle plek te berei.

(Johannes 14)

Ek sê niks daarvan nie, vergeet ook sommer, want ek moet so mooi kyk dat ek nie val nie.

Vanaand, toe hy sy bybeldagboek en Bybel oopmaak om te lees, lees hy presies dieselfde woorde. Toevallig né? Sal sommige sê.

Ek haal aan uit die boek, Maak ‘n kopskuif, deur Dr Caroline Leaf:

Wanneer jy oor ‘n probleem tob, kan dit in ‘n realiteit verander en jou vrede steel; wanneer jy oor die oplossing dink, kan dit ook in ‘n realiteit verander wat vir jou vrede bring.

Mooi, né?

Toortsie

Skryf

As ‘n mens ‘n voltydse skrywer is, glo ek dat jy gedissiplineerd skryf. Dat jy tyd maak vir skryf. Dat jy jou skryfwerk respekteer en wanneer die muse daar is, dit los waarmee jy besig is en gaan skryf. Dat jou skryf eerste kom. Glo ek.

As jy egter ‘n wannabee skrywer is, is dit egter ‘n ander storie. Jou muse kom die meeste van die tyd wanneer jy met iets anders besig is wat jy net op daardie oomblik nie kan los nie en wanneer die tydjie kom om te skryf, dit al weer lankal weg is. Soos wanneer jy in die veld stap en niks by jou het om te skryf nie. Of lekker kuier tussen jou vriende. Of stiltetyd hou. Of kosmaak. Of borduur. Skryf suig aan die agterspeen.

So het ek mos deelgeneem aan NaNoWriMo2019, gereageer wanneer die muse kom, geskryf soos ek moes, vir die meeste van die kere altans. Ek het op my rekenaar geskryf, geskribbel op ‘n stuk papier wat rondlê, met my een vinger op my selfoon getik, as ons op pad was, in die dokter se wagkamer, in die bed, oral. Dan het ek dit vinnig deurgelees en effens geredigeer. Al wat ek nog moet doen is om dit gou vinnig deur te lees en te laat proeflees en drukkers toe en whalla, dan is dit klaar. Maklik né?

Maar nou is ek mos nie ‘n regte skrywer nie. ‘n Voltydse skrywer nie. ‘n Professionele skrywer nie. En die lewe gebeur. En as jy in November só baie tyd aan jou skryfwerk gegee het, het ander goed dalk agtergebly wat ook aandag nodig het. Of jy is net eenvoudig besig met iets anders. Of met niksdoen. En al wanneer jy ‘n bietjie tyd kry vir die redigeerwerk, is die halfuur wat jy saans ander boeke sou lees. So, jy kom ook nie by ander boeke uit nie. En Toortsie se kop binne-in is soos ‘n gekoekte bol wol.

Intussen het baie tyd verloop en het die boek ‘n bietjie gelê en rus. Nuwe gedagtes en onthoue wakker geraak. Daar word bygeskryf, oorgeskryf, uitgevee. Glad nie ‘n vinnige besigheid nie.

Stadig, maar seker … Dit voel tóg of daar lig is in die tonnel.

Toortsie

Die pad terug huis toe

Die Pad Terug Huis toe – deur Lynn Austin. Leserskommentaar soos deur my man vertel:

Die storie het my uit die begin uit gebind. Die feit dat die storie soms in die hede en soms in die verlede, vyftig jaar gelede, gebeur, het gemaak dat jy jou konsentrasie moet behou.

Dis ‘n mooi verhaal van geloofsvertroue wat uitgebeeld word. Glo in God. Ten spyte van al hulle swaarkry het hulle hulle geloof behou. Daar was ‘n vreeslike klomp rampe wat hulle deurgemaak het. Sy het jou gebind tot op die end.

Die boek is vertaal uit Engels. Waves of Mercy. Die vertaling is goed gedoen en die boek het gemaklik gelees.

Vir nog boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.

Toortsie

Die beste jy

As daar een ding is waaroor ek ernstig voel, is dat ‘n mens die beste jy moet wees. Die dag wat ek dít ontdek het, was een van die beste dae van my lewe. Die dag toe ek besluit het om myself te wees en op te hou probeer om te wees soos wat ander wil hê ek moet wees.

Ek en my man doen tans die boek, Maak ‘n Kopskuif Elke Dag deur Dr Caroline Leaf. Vanaand, op dag 162, skryf sy oor hierdie belangrike onderwerp. Sy sê: ‘Om afgunstig te wees en ander na te boots, sal breinskade veroorsaak en ‘n negatiewe impak op jou gesondheid hê. Jy maak ‘n wonderlike jy, maar ‘n armsalige iemand anders.’

Hoe waar is dit! Om die hele tyd iemand anders te probeer naboots, is uitputtend. Net sodra jy dit regkry om so te wees, verander die persoon of persone wat jy navolg en moet jy wéér aanpas. Later voel jy die grootste mislukking, want jy maak dit net nie. Jy skiet altyd te kort!

Maar wanneer jy jou uniekheid begin aanvaar, dit vier, dit uitleef, begin jy ontwikkel in die beste jy wat jy kan wees. Natuurlik moet jy dit nie uitleef ten koste van iemand anders nie. Doen moeite om jou sterk punte te ontwikkel, dis juis dít wat jou jy maak. Ons almal is verskillend gemaak sodat ons mekaar kan aanvul, mekaar kan ondersteun, by mekaar kan leer. Mekaar kan dien.

Dis juis daarom dat God ons uniek gemaak het. Soos Hy in Sy Woord skryf, is die hele liggaam mos nie net oog of oor nie, maar juis ‘n verskeidenheid wat saam ‘n groot verskil kan maak.

Waag dit. Wees jouself. Wees selfs jou komieklike self. Of jou stil self. Of jou uitbundige self. Of watter self jy ookal is.

En gun die ander om ook hulleself te wees.

Toortsie