Hoekom doen ek sekere dinge?

Hoekom doen ek sekere dinge? Nie omdat ek nie weet wat om met my tyd aan te vang nie. Of omdat ek oulik is. Of watter rede ookal nie.

Ek kyk na wat ek eet omdat ek vetsugtig (obese) was. Omdat my gesondheid daaronder gely het. Omdat ek gesien het hoe die skaal soos met ‘n hysbak net op en op gaan en ek niks kon doen om dit te keer nie. Omdat ek nie die selfbeheersing gehad het om weer eens by ‘n Weigh Less of Weight Watchers aan te sluit, vinnig ‘n klomp gewig te verloor en dit te behou nie. Omdat my suikervlakke gevaarlik hoog was en ek aan Metaboliese Sindroom gely het.

Hoekom skryf ek daaroor? Want ek is ‘n prater. ‘n Uitsaaier. Want deur daaroor te skryf en dit met die wêreld te deel, ek myself aanspreeklik hou, maar hopelik ook baie ander daardeur help.

Hoekom publiseer ek resepteboeke? Nie om geld daaruit te maak nie. Om die waarheid te sê, sodat ek self uit ‘n mooi en goed getoetsde resepteboek kan werk wat presies vir my dieet werk. En weer eens, sodat dit ook vir ander tot hulp kan wees.

Hoekom doen ek rugoefeninge? Beslis nie omdat ek graag wil nie, maar omdat, as ek dit nie doen nie, selfs pynpille later nie meer help nie. Rugpyn dwing my om my rug te oefen en my sterker te maak, eerder as om pynpille te drink, want as ek my rug oefen, hoef ek daardie dag nie pille te drink nie.

Hoekom lees ek my Bybel en bid ek? Spandeer ek tyd met God? Want ek kan nie anders nie. Hy is my Rots, my Anker, die Een by wie ek skuil. Die Een wat my kalmeer in rowwe tye. Die Een wat my vreugde deel, by wie ek krag kry.

Hoekom gaan stap ek graag? Natuurlik vir die oefeningwaarde daarvan, maar om in die natuur te kom is so goed vir enige persoon en stap is goeie oefening. Vroeërjare is daar neergesien op stap, ‘n mens moes eerder draf. Vir sommige mense, soos ek, is stap beter. En dis lekker. En jy voel so goed daarná. Tydens ‘n stapsessie orden ek my gedagtes, as so iets enigsins moontlik is. Kry ek nuwe idees. Perspektief.

Hoekom spaar ek? Want, in daardie uiters moeilike beginjare het ek besef dat dit die énigste manier is om my finansiële omstandighede beter te maak. Kon ek van die spaargeld gebruik om myself te verbeter op verskeie vlakke om my omstandighede te verbeter deur ‘n beter inkomste te genereer binne my milieu.

Die ding is – ‘n mens kan nie jou omstandighede verander as jy alles op dieselfde manier bly doen nie. Iewers moet ‘n mens waag buite jou gemaksone, dinge anders begin doen, selfs al is jy ál een.

Toortsie

Dit wat jy glo

Self-belief. Dit wat jy in jou hart glo. Vanoggend was my leermeester Prof Tim Noakes in die ‘Essential Coaching Skills’-afdeling van die Banting Coach-kursus wat ek by Nutrition Network doen. Wat ‘n ongelooflike lesing oor iets waaroor ek ook opgewonde is. Daai ding van wat jy in jou hart glo. Want dit wat jy glo bepaal op die ou end of jy ‘n sukses gaan maak, of nie.

Ek het al daarmee te doen gekry in Bedryfsielkunde op Universiteit. Oor motivering, maar tóé het ek nog nie genoeg opgelet nie. Tog het daar klein saadjies op my braakland geval. En in my HOD-jaar het ek ook geleer van kinders motiveer deur positiewe denke. Of dalk is dit maar net wat nog altyd vir my trek: Positiwiteit. As deel van Amway se International Dreambuilders Assosiation het ek ook juis dít geleer: Jy doen wat jy glo. Dit staan immers ook in die Bybel.

Want ons onderbewussyn glo wat ons sê en dink. As ek dink dat ek iets nie gaan regkry nie, kan ek dit maar by voorbaat op my maag skryf. Maar as ek glo dat ek dit kan doen, sal ek kan. Soms het ek ‘n bietjie aanmoediging van iemand anders nodig in tye wanneer ek wil moed opgee. En as iemand anders in my glo, selfs net een persoon, versterk dit my wil om sukses te behaal.

By Amway het ons geleer om dit wat ons droom, neer te skryf. Of ‘n foto van dit wat ons wil behaal of bereik teen ons yskas op te plak. Sodat ons gereeld daaraan herinner word.

Deesdae het my doelwitte verander. Ek is dalk nie meer so suksesgedrewe soos wat ek in my jonger jare was nie. Of dalk lyk my doelwitte eerder anders? Meet ek sukses anders. Wil ek heeltemal ander dinge bereik en nie meer sulke hoë hoogtes nie. Wil ek ander mense eerder inspireer. Meer tyd saam met God deurbring. Die lewe ervaar. Maar dit is waar ek nou is en steeds beteken dit nie dat ek ‘nie doelwitte het nie’, my doel in die lewe het dalk net verander.

Ek wil steeds nie ‘n voltydse Banting Coach raak nie. Ook nie ‘n voltydse TPM-fasiliteerder nie. Of ‘n voltydse kosskrywer nie. Maar ek wil voltyds leef. Vir mense wat God oor my pad stuur wat my hulp benodig, na die beste van my vermoë help. Mense aanmoedig om hulle beste self te raak. Om in hulleself te glo. Om in God te glo.

Toortsie

Ek kan die kursus met ‘n oop gemoed aanbeveel.

Hoë ideale

Angus Buchan se video van vanoggend is die inspirasie tot hierdie bloginskrywing vandag. Hy sê ons moet ons visie behou. En jy moet jou hande uit die moue steek om daarby uit te kom.

Daar is vir my niks so moois soos ‘n jongmens met hoë ideale nie. Iets waarna hulle streef.

Die probleem is dat dit vir die meerderheid mense nie teerpad is om hulle hoë ideale te bereik nie. Eintlik is dit vir geen mens wat die hoë sporte in die lewe bereik, teerpad nie. Dit is ‘n pad van val en opstaan. Van weer probeer. Van foute maak en leer deur jou foute. Van dinge doen waarvan jy nie noodwendig hou nie. Van goed doen wat amper benede jou is omdat jy dalk voel jy al verder gevorder het as dít wat nou vir jou gevra word om te doen. Dis om gewillig te wees om simpel goed te doen wat niemand anders bereid is om te doen nie. Dit is om wanneer almal dalk lekker oor ‘n naweek sit en bier drink en lawwe praatjies maak, agter jou rekenaar te wees en te studeer. Of wanneer almal lekker vir ‘n daguitstappie gaan, die dag te benut om agterstallige werk in te haal. Dit is om, nie net jou CV vir ‘n agent te gee en agteroor te sit en wag totdat daar eendag iets opdaag nie, maar om self te gaan, aan moontlike werkgewers se deure te klop en jou CV self af te gee of self duisende e-posse uit te stuur in die hoop dat iemand jou raaksien. Dit is om snedige kommentare van jou skouers te laat afrol wanneer jy met jou doel voor oë soms moet werk terwyl ander kuier.

Soos Angus sê: As jy in jou oog het om ‘n Sprinbok rugbyspeler te word, moet jy wegkom van die TV af en begin oefen. Moet jy die tjips en die Coke los!

Gary Player het geantwoord toe iemand vir hom gesê het dat hy darem gelukkig is om so goed te doen met sy gholf, dat, vreemd, hoe meer hy oefen, hoe gelukkiger is hy.

Deesdae hoor ek ook hoe ‘gelukkig’ en ‘talentvol’ en ek is en ja, ek ís gelukkig en dankbaar en God se genade is ongelooflik groot vir my … maar dit gebeur dat ek op ‘n Sondagaand tienuur woel in my kombuis. Ek word soms uitgesluit omdat ek nie kan saamkuier nie. Ek moes al baie neerhalende oopmerkings verduur. Ek sal simpel werke doen wat niemand anders bereid is om te doen nie. Ek maak baie flops. Want ek probeer enige ding waarvan die meerderheid nie suksesvol was nie. En ek het nooit ophou studeer nie.

Wat ek wil sê is, dis dalk nie die boot wat jy hoop wat verbykom terwyl jy aan die verdrink is nie, maar dalk is dit ‘n stok wat die Here vir jou stuur om mee te dryf tot jy by ‘n veilige plek uitkom.

Toortsie

Hoe nou verder?

En nou, noudat daar ‘n mate van kalmte gekom het in Natal en Gauteng en die rampokkers (wat ‘n mooi woord, ek het al heel daarvan vergeet, toe sien ek dat my neef dit op sy Facebook gebruik) ‘n bietjie laaglê, wat nou? Ons almal besef dat hier ‘n verandering moet kom, maar hoe? Ek weet ook nie. Regtig nie. Maar ek kan net my klein verskilletjie maak soos wat ek dink dit prakties gedoen kan word en as elkeen van ons sy klein verskilletjie maak soos wat hy dink in sy kop, maak dit dalk ‘n groot verskil.

Die groot klem bly maar op die groot verskil tussen rykes en armes. En dadelik kom die gedagte in my kop: Ons betaal mos belasting, is dit dan nie juis een van die maniere wat die mense wat meer verdien die armes help nie? Maar soos ons baie goed weet word die belasting nie oordeelkundig spandeer nie, ons weet van korrupsie, swak leierskap, ens en ek wil regtig nie my blog met ‘n gesprek hieroor besoedel nie. Nee, ek wil eerder hê dat ons prakties gaan dink: Hoe kan ek en jy help?

Die Bybel leer ons dat ons ons tiende moet gee. ‘Gee aan die keiser wat die keiser toekom (belasting) en gee aan God wat God toekom.’ God vra vir ons ons tiende van ons geld. Hy vra ook dat ons ons tyd tot Sy eer moet gebruik. Dit is nie die een of die ander nie.

In ‘n tyd wat ek dit regtig nie kon bekostig nie, in ‘n tyd wat ek letterlik elke sent ‘n paar keer moes omdraai, het God my baie duidelik gewys dat ek my tiende moes betaal. Ek het geantwoord: ‘Ek wil, Here, maar hoe? Ek kom dan nou nie eers uit met my geld nie, net vir basiese behoeftes?’ Hy het my daarop gewys dat ek aan die begin van die maand, die eerste geld wat ek uitgee, as tiende moet gee. Dit het my lewe verander. Nee, ek was nie skielik skatryk nie, maar ek kon koop dit wat ons nodig gehad het.

Nou ja, almal behoort nie aan ‘n kerk nie. Almal glo nie in God nie. As jy nie wil nie, hoef jy nie die tiende vir ‘n kerk te gee nie. Jy kan en mag self besluit waar jy dit wil aanwend. Wil jy dit aan ‘n organisasie soos die ACVV gee wat goeie werk doen? Of wat van geld vir ‘n sopkombuis in jou area? Dalk wil jy self die geld gebruik en leë joghurt- en fetakaasbakkies vol sopbestanddele maak en dit uitdeel. Of wat daarvan om ‘n kind ‘n beter toekoms te gee deur sy skoolgeld te betaal by ‘n beter skool waar hy beter onderrig kan kry? Dalk ‘n oumens se verblyf in ‘n ouetehuis finansier? Dalk het jy ‘n buitekamer wat jy nie meer nut voor het nie en kan jy dalk blyplek en kos vir iemand verskaf. Miskien kan jy hulp aanbied by ‘n sopkombuis? Wat van ekstra klasse gratis aan kinders aanbied – wiskunde, rekeningkunde, Afrikaans, Engels? Of iemand finansier om ‘n kursus oor die internet te doen en sodoende vir hom ‘n beter toekoms te bied? Iemand help om ‘n motor- of lorrielisensie te kry? Koop komberse en deel dit uit by die taxi-staanplekke.

Daar is soveel maniere. As ons wil goed doen aan ander, hoef ons glad nie ver te soek nie. Die nood is groot hier in ons land, dit weet ons almal.

Annabelle skryf:

Waar daar liefde en deernis is…. daar is die Heer… sing ons Sondae. So oorwin die goed die kwaad. Was hierdie ‘n kantelpunt? Hoeveel kanse kry ‘n nasie om homself aan die veters op te tel? Is daar enige ander land waar ek so deel van sy mense, sy verliese en sy oorwinnings sal voel? Wat is hierdie land anders as ‘n roeping? Ek rus in die arms van Hom wat al die antwoorde het. Ons is onrustig gerus en aktief hoopvol. Wees ons genadig, skenk aan ons U vrede. Thuma mina, stuur my.

Ons moet vandag begin. Nie môre nie. Vandag. Daar is nie meer tyd vir terugsit of uitstel of die verantwoordelikheid op iemand anders se skouers sit nie. Dis my en jou taak. Vandag nog.

Toortsie

Die koningin

Ons kyk tans The Crown, elke aand een episode. Sjoe, ek geniet dit! Dit is ‘n reeks oor Koningin Elisabeth die tweede. Ons is tans besig met die tweede seisoen, wat my op ‘n ander manier raak. In hierdie seisoen, lyk dit my, word daar intens na haar huwelik en die geveg tot die oorlewing daarvan gekyk.

Ek leer geweldig baie by die koningin. Deur na hierdie reeks te kyk, kry ek ook geweldige respek vir haar. Ek het altyd so die idee gekry dat sy stug is en dalk ís sy so, maar ek wonder hoeveel van haar stugheid het as gevolg van haar rol gekom. Ek kry haar jammer. Om koningin te wees is mos iets waarna ons opkyk, amper streef, alhoewel dit nie regtig is wat ek begeer nie. Daardie prag en praal is pragtig. Besonders. Uniek. Maar dit vra sy prys. ‘n Enorme prys vir ‘n enorme pos.

Iets wat sy nie kon kies of afwys nie. Iets wat in haar skoot geval het sonder dat sy daarvoor gevra het. ‘n Uiters eensame pos. ‘n Pos wat alles van haar vra, haar volle toewyding, haar lojaliteit, soms selfs haar menslikheid teen haar sin. En waar sy eintlik nie meer ‘n sê het nie, waar die regering die sê het, sy die een is wat die kritiek kry as die besluite wat sy neem nie is soos wat ander daarvan hou nie.

Ek beleef hoe sy gemanipuleer word, en hoor hier, as daar een iets is wat my hare laat regop staan, horings op my kop laat uitkom, is dit mense wat ander mense druk, manipuleer om teen hulle sin iets te doen sodat die manipuleerder bevoordeel word daardeur, net om op die ou end nog die kritiek daarvoor te kry of verder gemanipuleer te word. Sy word deur verskillende mense gedruk sodat húlle daardeur bevoordeel moet word, selfs al is dit teen haar grein. Selfs al het daardie mense al voor die tyd geweet dat dit wat hulle vra, nie reg is nie. (Dit is in die eerste seisoen, totdat sy eienaarskap oor haar koninginskap geneem het.)

Ek beleef haar eensaamheid. Ek sien ook hoe swaar haar man kry as gevolg van sy rol as die koningin se man, maar in my hart dink ek: Hy het dit mos geweet voor hy met haar getrou het. Tog weet ons baie dinge voor die tyd, maar ons weet nie regtig nie. Daarvoor kry ek hom jammer, maar ek is ook kwaad vir hom omdat hy haar geensins ondersteun nie. Soos in glad nie. Hy is totaal afwesig, die heeltyd besig met sy eie dinge, dalk sy eie oorlewingsmeganismes, maar in die proses faal hy een honderd persent in sy rol as haar man. Ek vertrou dat dit sal verander soos die reeks vorder.

Ek leer baie by haar, veral ook in die hantering van my volwasse kinders. Ek is ‘n ‘fixer’, dis in my aard. Ek wil dinge regmaak. Regstel. Ek leer by die koningin om stil te bly. Om betrokke te wees deur te luister, deur selfs raad te gee, maar nie in te meng nie. Sodat hulle hulle eie dinge uitsorteer. Om beskikbaar te wees, maar hulle self hulle eie dinge onder mekaar te laat uitsorteer. My rol as ma het verander. Ek is nie meer die versorger, die opvoeder, die verantwoordelike een nie. Ek is die ouma, die ouer ‘moeder’ en dankie Goue Vroue, ook vir julle raad wat julle op julle blogs gee waardeur ek soveel kan leer. Ek het ‘n nuwe rol. My rol is nou net om my volwasse kinders en my kleinkinders te geniet en lief te hê. Om vir hulle te bid. Terug te staan. Nie meer so stresgedrewe te leef nie. My opvoedingsrol is voltooi. Wat ‘n lekkerte!

Toortsie