Sand en wind

Die beplanning was so:

Maandagaand maak ons pot. Skaappot. Met baie groente in. Want ons is voltallig en ons hou almal van pot.

Dinsdagaand hou ons Kersete. Want ons is voltallig. Ons gaan op Kersdag weer ‘n Kersete hou vir ons lotjie wat bymekaar is, maar Dinsdagaand doen ons dit met al die nodige klappers en kersversierings en krone en geskenke en baie en lekker kos.

Woensdag gaan van ons kinders verder en sal ek ‘n slag huisskoonmaak, ‘n mens moet dit mos darem soms doen. Maar hoe bedoel mevrou dan nou? Van watter Woensdag het mevrou gepraat? Ou Kareltjie, die selfloperstofsuiertjie het wel hier en daar ‘n bietjie probeer suig, maar ook hy is op vakansie, sien ek.

Donderdag stap ons van Waenhuiskrans af tot by Struisbaai. Onthou, dit is die beplanning, nè, net beplanning.

Vrydag hou ons Kersfees. Soos in behoorlik. Gaan kerk toe soos ons altyd doen, maar nou met die Covid wat hier so hand-uit ruk, is dit skielik ‘n vraagteken. Eet krismiskos, wat ek mos al voor die vakansie gekook het.

Die uitvoering van die planne lyk toe heeltemal anders.

Blykbaar hét ek op ‘n stadium gesê dat ons Maandagaand Kersete gaan hou. Maar as ‘n mens op vakansie is, verander planne mos soms so ‘n bietjie. So Maandagaand, terwyl ons pot maak, soos beplan, en dit al amper etenstyd is, stel een voor: Hoekom maak ons dit nie sommer ons Kersete nie? Net daar word die tafel versier, kerse aangesteek, die presente uitgedeel, ons vertel die Kersverhaal in egte Towerinstyl: Een begin die storie vertel en almal las by.

Dinsdag hou ons toe nie meer Kersete soos beplan nie, dit is mos alreeds gedoen. Woensdag doen ek toe heeldag lone en kom nie by huisskoonmaak uit nie. Om die waarheid te sê, ek het nou nog nie daarby uitgekom nie. Donderdag gaan stap ons toe nie, want die weervoorspelling het sleg gelyk.

Plaas dat ons maar Donderdag gaan stap het! Vir Kersdag is die lieflikste stapweer voorspel: Bewolk heeldag.

So, vanoggend gaan stap ons toe. Skoonseun gaan laai vir my, my man en my dogter op Waenhuiskrans af. Opgewonde begin ons stap. Dis mos plat area, hoe moeilik kan dit tog wees? Veral ná die Baviaans Camino met sy verskriklike oppe en awwe en reën en koue daarby.

Wel, met laagwater wat reeds twee uur vóór ons begin stap het in gedagte, is dit toe die hele tyd ‘n gestoei met die gety wat besig is om in te kom. Ons stap in los sand, in die skuinste. Ons beur vorentoe met voete wat in die sand wegsak. Asof dit nie genoeg is nie, begin die suid-weste wind waai, al hoe sterker. Gelukkig het skoonseun ons op die plaat kom haal, anders sou dit maar goed gelol het. Die drie bloginskrywings wat deur my brein gehardloop het, het weggewaai in die wind. Weet julle hoe smaak gekookte eier met sand?

Ons het dit gedoen! Volgende keer sal ons net die getye beter bekyk.

Maar wat ek eintlik wou sê, is Geseënde Kersfees. Mag jy God se liefde en vrede ervaar.

Toortsie

17 thoughts on “Sand en wind

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s