‘n Wolstorie

Ons VLV-voorsitter het haar skoonma se spinwiel gekry met laasgenoemde se dood. Sy wou nog altyd iets daarmee doen. Iets opbouend. Iets vir die gemeenskap. Want Bredasdorp is dan hier in die hartjie van die wolwêreld, hoekom dit nie gebruik nie?

Annette kontak toe vir Henk van Nampo Kaap om te hoor hoe ons VLV betrokke kan raak by Nampo. Die VLV is immers ‘n landbouvereniging. Hulle keur goedgunstiglik goed dat die VLV ‘n stalletjie mag hê waar ons die VLV mag bekendstel en ook produkte mag bemark. Maar daar is iets meer: Ons wil produkte van die Overberg bemark.

Intussen is daar verlede jaar ‘n spinkursus gereël en die eerste dames word opgelei om te spin, met die doel om mettertyd nog lede van die gemeenskap op te lei en dat dit ‘n werkskeppingsprojek, maar meer nog, ‘n entrepeneursprojeks sou word.

Vanjaar is nóg lede van die gemeenskap opgelei. Hulle het twee spinwiele en bedags spin hulle wol. Dis natuurlik ‘n hele proses. Die rou skaapwol word eers in water met Sunlight Liquid gewas. Dit lê net in die diep water en word saggies gedruk sodat dit nie koek nie. Wanneer die wol droog is, word dit gekam. In die volgende foto’s is die skoongewaste wol sigbaar in die plastieksak op die vloer.

Die gekamde wol word in worsies gerol en dan gespin.

Die wol word dan gegraad volgens woldikte, soos vierdraadwol of dubbelbreidraad, ens. Dan word dit in balletjies opgedraai.

Hulle het tans twee spinwiele waarop die belangstellendes oefen. Dis ‘n entrepeneursprojek met die bedoeling dat die spinners vir hulleself sal werk en betaal word vir die wol wat hulle spin. Twee spinwiele is ‘n bietjie min omdat daar meer spinners is wat belangstel en hulle dus moet beurte maak. As jy dalk ‘n spinwiel het wat iewers staan en stof vergaar, dink ‘n bietjie daaroor of jy dit nie dalk vir die projek wil skenk nie? En as jy dalk iewers ‘n bietjie rou skaapwol kan afstaan vir hierdie projek, sal dit wonderlik wees.

Intussen is ons as VLV trots op ons voorsitster en haar span wat besig is om hier ‘n projek te ontwikkel wat nog ‘n groot verskil aan baie mense se lewens gaan maak. Ons is ook dankbaar vir Nampo Kaap wat die lokaal beskikbaar stel waar die spinners kan werk.

En hier is ons eerste bolletjies wol, netjies gespin met sy eie etiket op wat môre by die VLV-konferensie vertoon gaan word. Bredasdorp VLV, ons is TROTS op julle!

Toortsie

11 thoughts on “‘n Wolstorie

  1. Dat doet me terugdenken aan de tijd toen ik nog kind was.
    Niet allen hadden we al ons voedsel uit de boerderij, maar ook de wol van de schapen waar mijn moeder (en ook de kinderen) tijdens de winteravonden truien en sokken breiden voor de volgende winter.
    Een harde maar een aangename tijd.
    Vriendelijke Groet uit België
    Theo

    Like

Gesels saam, asseblief!