Sjoe! Het ons reën gehad! En hael! Haelkorrels so groot soos golfballe. Dit was die eerste keer in my lewe wat ek so iets beleef het, want ons hier in die Kaap is mos gewoond aan ‘n baie fyn hael as dit die slag gebeur. Hael wat nie skade maak nie. Hierdie hael was anders. Hierdie reën was anders.
Hierdie keer het ek die reën as dorpenaar beleef, want ek was nie op die plaas nie. Dit is snaaks hoe anders jou perspektief is. Of hoe anders my perspektief is. Ek het die opwinding van die reën beleef soos ‘n plaaskind, dit mos maar kan doen. Ek was opgewonde as ek foto’s van baie reën sien, maar dit was asof ek nie werklik die omvang daarvan besef het nie. Of ek nie heeltemal in voeling is met wat op die plase aangaan nie. Totdat my man vir my gesê het dat hier groot skade in die distrik is. Dat die lande kwaai verspoel is. Dat die mense lande wat reeds gesaai is, sal moet oorsaai.
Want sien, as ons op die plaas is, ervaar jy die reën. Jy ry die modderpaaie om te gaan kyk waar dit oral gereën het. Jy val vas. Is vol modder. Trap die huis vol modder. Drink oor en weer koffie by die ander boere. Beleef mekaar se blywees, ook mekaar se skade.
Soveel keer sê mense dat die skade gering is met die genade van die reën, wat waar is. Maar soms is die skade baie groter. Soms is die skade net te groot en kan die boer of die besigheidsman of die huiseienaar die skade net nie hanteer nie. Soms ruk sulke skade jou vir jare terug.
As boerkind en boervrou weet ek hoe afhanklik jy van die natuur is. Hoe die natuur jou beïnvloed. Hoe depressief aanhoudende droogte jou maak. Ons ken droogte. As jy in Afrika boer, ken jy droogte. Op ons Klein Karoogrond wat besproeïngsgrond was, kon ons nou vir meer as vyf jaar NIKS doen nie. Soos in niks. Dit was erger as woestyn. Vyf jaar lank. Twee jaar voor dit het ons ‘n massiewe vloed gehad en net mooi toe die vloedskade herstel is en ons weer kon begin boer, kom die droogte. Nou het die water gekom. Uiteindelik. Prys die Here! Loof Hom! Ons is so verskriklik dankbaar. Natuurlik kom sulke water ná so ‘n droogte nie sonder skade nie, maar ons loof Hom dat dit nie weer ‘n vloed was wat alles wegvat voor jou nie. Sulke natuurrampe sit ‘n mens geweldig terug vir jare daarna.
Ons het ook brande beleef in ons lewe. Ook wind wat alles verslind wat hy in die hande kan kry. As hy dit regkry om net iewers ‘n hoekie van ‘n dakplaat gelig te kan kry, is dit verby.
Gelukkig bestaan die lewe nie net uit rampe nie. Uit vuur, wind, hael, reënstorms, vloede nie, swak produkpryse, hoë onkoste, diefstal nie. Gelukkig is daar ook baie Goed in die lewe. Skyn die son deur die donker wolke en sien ons die goue sonstrale deurskyn. Sien ons God se goeie Hand wat ons vashou. En kan ons juis ná so ‘n terugslag getuig dat ons God saam met ons ook hierdeur is.
Ek is opreg jammer vir elke persoon wat skade gely het deur die reën en bid dat julle genade sal ontvang. Maar ek loof en prys my Here vir die reën want daarsonder kan ons nie lewe nie.
Toortsie
Like this:
Like Loading...