Waar kan ‘n mens braai?

Ons is bevoorreg om vir ‘n paar dae by Mosselbaai te kuier. My man het ewe ‘n pakkie skaapvleis en wors ingepak om iewers lekker te braai.

Ons geniet die see, kyk hoe die hoogwater inkom en sy pad loop om die poeletjies vol te maak. ‘n Waaghalsige kom rustig verby op die nuwe zipline wat hier oor die see gebou is. Ons liefde vir stap stuur ons op verskillende stappaadjies. Ons stap vanaf die Punt af met sommer ver in ‘n veldpaadjie naby die see.

Vandag besluit ons om die Wolwedansdam staproete te gaan doen en dan sommer daar te braai, ons hét mos vleis. Eers gaan soek ons dit by die Wolwedansdam self, maar volgens die nuwe bestuurder daar, is daar nie meer staproetes op hulle grond nie. Om die dam te beskerm, wat ek kan verstaan. Die Wolwedansdam voorsien Groot Brakrivier van water, ‘n mens wil nie enige mense sommer net daar toelaat nie. Hy het wel gehoor dat mense praat van ‘n staproete by die rivier.

Ons stop by ‘n oulike leerplek wat die mooiste leerhandsakke en boeksakke maak. Die versoeking was sommer baie groot om vir my ‘n sak te koop. Dié vriendelike man sê dat die staproete sommer net daar begin. En ons kan op hulle gronde braai.

Wát ‘n lekkerte was hierdie staproete nie! Ons stap vir sowat drie kilometer al langs die rivier, soms deur ruie bosse, dan weer oor groot rivierklippe, tot by die damwal en weer die langpad terug.

Terug by die leerplek besluit ons om nie die aanbod tot braaiplek te aanvaar nie, daar is nie regtig braaigeriewe nie. Hoe dom kan ‘n mens wees, want ons kon nêrens anders ‘n plekkie kry om te braai nie. Nie by Groot Brakrivier, Klein Brakrivier, Tergniet, Hartenbos of Mosselbaai nie. By die ATKV sou ons kon braai as ons ons eie braaidrom gehad het. By Santosstrand kan ‘n mens blykaar ook braai, maar ook daar is nie braaigeriewe nie. Al gevolgtrekking waarby ons kon kom, was dat ‘n mens seker van daardie klein draagbare braaidrommetjies moes hê. Ons het wel vleis, wors, hout en ‘n rooster gehad, maar nie ‘n braaidrom nie!

Die uiteinde van die saak? Ons het gaan seekos eet en die vleis en die wors vir iemand gegee wat ‘n braaiplekkie het.

Toortsie

5 thoughts on “Waar kan ‘n mens braai?

Gesels saam, asseblief!