Skryf-Safari: Skryf die storie klaar

Lekkervurig se storie:

Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien….

Toortsie skryf verder:

“Wat de dinges gaan hier aan? Moos, wat gaan hier aan? Saar?”, vra Braam besorg.

“Braam, ek het haar hier kom kry, jy sal moet help. “

“Saar, wat is dit dan? Waarheen is jy dan op pad met jou kerkklere en hoë hakke op hierdie warm dag in die ou klipperige stofpad? En kyk hoe lyk jou knieë en arms. En glasstukke wat die wëreld vol lê. Ai, my liefie, wat is dit dan? Wat het dan vandag skeefgeloop?”

Saar bly net daar op ‘n hopie sit, met ‘n traan- en stofbevlekte gesig en bloedstrepe op die knieë en arms. “Braam, ek kon net nie meer nie. Alles het vir my te veel geraak. Hierdie droogte, die spanning, dinge raak net erger en daar is geen uitkoms nie. Nou is die huis se water ook nog op. Ek kan nie meer nie. Ek is regtig moedeloos. “

“Ai, my skat, ek weet dit is vir jou swaar. Dis vir ons almal swaar, maar ek glo die uitkoms is nie meer ver nie. Dis juis wat tannie Malie ook vandag vir my wou sê. Ag, ek weet sy praat baie en soms deurmekaar, maar mens kan regtig soms luister as sy met ‘n mens praat. Vandag het sy ‘n dringendheid in haar stem gehad toe sy met my gepraat het, ek voel ek moet haar goo. Sy sê sy het van ons gedroom en sy moes dit net vir my sê: ‘Ons moet vasbyt, die winde van verandering gaan binnekort begin waai. Die uitkoms is hier. Ons moet net nog ‘n rukkie uithou.’ Sal jy asseblief by my bly, ek sal nie dit regkry sonder jou aan my sy nie. Ek het jou regtig lief en wil die toekoms saam met jou loop. “

“Ja, Braam, ek sal bly. Ek is jammer as ek jou ontstel het. Moos het my reeds kalmeer en ek besef dat almal swaar kry en waarheen sal ek tog gaan? Sal dit regtig iewers anders beter wees en dit sonder jou?”

Tant Malie was reg. Kort daarna het die winde van verandering begin waai. Die reën het gekom, die boerdery het sy kop opgetel en nie te lank daarná nie, moes Saar die babakamer regmaak waarna sy so gesmag het.

Kom tyd, kom raad, kom liefde, kom verstaan.

Dit was net betyds.

Groetnis

Toortsie

..…………………………………………

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements

25 thoughts on “Skryf-Safari: Skryf die storie klaar

        1. Soms kom daar uitkoms, maar ons sienndit dalk nie raak nie omdat ons so fokus op die uitkoms wat ons op hoop. Voorbeekd in hierdie storie: ‘n Vrag voer uit die Hoëveld; ‘n donkiekar op die regte oomblik; ‘n sagte hart wat jou pyn raaksien en jou ophelp; ‘n bemoedigende woord van tannie Malie; ‘n ou plaaswerker wat swaarkry verstaan; ‘n man wat jou liefhet en verstaan.

          Liked by 2 people

    1. Onthou, droogte en swaarkry en klipperige paaie en die lewe op die plaas ken ek deur en deur. Ek weet ook dat dit mense laat moet verloor, maar ek ken ook die vasbyt en boere wat mekaar deurtrek en ophelp. Hierdie storie van Lekkervurig voel uiters bekend. 😁❤️

      Liked by 2 people

    2. Ons het al baie vragte voer vir mense gestuur en net so kon ons in swaarkrytye gaan strooi baal by ander boere en kon ons vragte nartjies gratis gaan haal by mense om ons koeie te voer. Dis realiteit. Dis die wonderlike realiteit wat my laat bly glo in ons land se mense en wat vir my wonderlik is, is dat stedelinge en dorpenaars ook deesdae begin help om voer vir swaarkryboere te befonds. Dit maak die hart warm. ❤️

      Like

    1. Dankie Una….. wat die boekskryf betref sal die tyd leer. Eintlik het ek ‘n veetjie nodig om haar towerstaffie te swaai 😊

      Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s