Sal die ware Toortsie opstaan?

Ons InLinkz skakel vir hierdie uitdaging is https://fresh.inlinkz.com/p/e3dfca20e90c4ae09d7312695a15b7f3

Blykbaar is ons nie meer te ver van die oomblik wat ons sal sien wat almal se ware kleure is nie. Ek bedoel, haarkleur. 😁

Ek het my pa se grys gene geërf en was nog op skool toe ek al my eerste gryshare uitgepluk het. Darem net so een-een. In my laat twintigerjare het die gryshare al sommer ernstig begin kop uitsteek. Vroeg in my dertigerjare was ek dus al verplig om my hare te begin kleur.

My eerste waagstuk was toe ‘n haarkapster helder kleure op my kuif gespuit het. Ek was mal daaroor. Dit was egter van korte duur.

Op ‘n stadium het ek by ‘n haarkapster uitgekom wat ‘n meesterskwalifikasie in haarkleur gehad het. Ons het net gekliek, tot die stille ontsteltenis van my gesin. Niemand het durf waag om iets te sê nie, maar almal het wel met ‘n knop op die maag gewag vir my om terug te keer van die salon af.

Esther het gewaag om interessante kleure in my kuif te sit. Soos in rooi. Bloedrooi. Net ‘n veertjie, het ek altyd gesê. Subtiel. Enige kleure van die reënboog.

Een keer het sy redelik waaghalsig geraak met my kop. In die salon het dit reg gelyk, maar toe die son daarop skyn, trek ek kleinkoppie. My hele kop was redelik rooi. 😳 Toe tref die realiteit my: My oom word daardie Vrydag begrawe. Ek kan nie met so ‘n kop begrafnis toe gaan nie! Op pad terug huis toe koop ek ‘n boksie donkerbruin haarkleursel en by die huis aangekom, kleur ek my kop oor. Dit was fataal!

Toe ek hoor my man kom by die huis aan, roep ek van ver af: ‘Hier is ‘n groot #%^*+!’ Wat ‘n gemors! My hele kop was oranje! 😳 Hare wil nie twee keer op een dag sulke ernstige chemiese behandeling hê nie.

Ek het al met ‘n kop wat blou skyn in die son, daar uitgeloop. Dit was nogal ‘n bietjie erg, maar ek sien mos nie my eie hare nie! My seun sê ewe versigtig dat my hare blou is, waarop ek geantwoord het dat dit wel so is. Dis muf. Dat ‘n mens se hare so raak as jy die mens min gebruik.

Soms, as ek baie moeg was aan die einde van die jaar en my gryshare baie dof en grys, het ons weer ‘n slag gewaag met ‘n cerise pienk veertjie of so iets. Die laaste strooi was egter een keer wat ek gevra het vir ‘n behoorlike pienk kuif. That was too much. Ek het die grense te ver getoets. 😳 Ek moes inderhaas na iemand ry om dit uit te haal, dit was ‘n Saterdagmiddag en die oorspronklike haarkapster was nie beskikbaar nie. Toe alles heeltemal klaar was, het ons geskree soos ons lag!

Deesdae sit ek net soms my ou, natuurlike swart strepies in om die grys net ‘n bietjie minder te maak. Ek wonder darem of ‘n ou pienk kuifie nie tog weer die ding sal doen nie? Dit doen wondere aan die gees! Ek mis my kleur-partner in crime!

🤣

Esther, waar’s jy!?

Toortsie.

Afhandel’mode’

Ek is in afhandel ‘mode‘. Ag, ek is te gejaagd om nou te dink wat die Afrikaans vir ‘mode’ is. Want ek is besig om my jaar af te handel. Alles moet hierdie week klaar kom.

Scrapy daag ons uit om oor ons omgewing te skryf. Afhangende van waar ek is, het ek verskillende omgewings om oor te skryf. Dus het ek gedink om oor my onmiddellike omgewing in hierdie week te skryf.

Soos reeds gesê, is ek besig om goed af te handel, want as alles goed gaan, is hierdie week my laaste week van administratiewe werk doen vir hierdie jaar. Alles moet klaar kom.

Maar, tipies hierdie tyd van die jaar, is dit mos ook partytjietyd en het ons Dinsdagaand gaan uiteet om my broer se sestigste verjaarsdag te vier. Sy eintlike partytjie lê nog voor. Ek kry ook kuiergaste die naweek, so môre moet ek nog gou-gou die laaste kamer regkry.

Dan alles by die huis klaarkry, my hare laat knip, sodat ons hopelik een of ander tyd see toe kan gaan. Alles afhandel.

Want volgende week kom my kleinkinders DV by my kuier. En dan wil ek niks anders doen as om al my aandag aan hulle te gee nie. 🙂 Ek is so opgewonde, my kop werk sommer oortyd.

Sommer so met die klaarkry en die absolute fokus om dinge gedoen te kry, wil ek sommer skryf oor aandagafleibaarheid. Ek het aandagafleibaarheid en is so uiters dankbaar dat dit nie gediagnoseer was toe ek op skool was nie. Ja, dit het beslis my prestasie beïnvloed, maar ek het tog deur skool gekom, al was dit soms moeilik om te leer.

Hierdie baie insiggewende artikel het baie dinge vir my verklaar. Hierdie persoon het met ADHD mense self gewerk en tot interessante dinge ontdek, party van die goed wat ek as volwassene in myself al ontdek het.

Eerstens, dat die ADHD brein (regs) totaal anders lyk en funksioneer as die ‘normale’ brein (links). Dit mag vir baie mense ‘n verskrikking wees, maar die waarheid is dat dit glad nie so hoef te wees nie. Die ADHD persoon hanteer sy emosies en aandag en fokus net heeltemal anders as die persoon wat dit nie het nie.

Die waarheid is dat AANDAGAFLEIBAARHEID ‘n FOUTIEWE TERM is. Daar is soveel positiewe dinge aan die sogenaamde ‘aandagafleibaarheid’, dat, vir hulle wat dit het, dit nie regtig ‘n probleem is as dit reg hanteer word nie. ADHD is NIE ‘n beskadigde of defektiewe senuweesisteem nie.

Volgens hierdie artikel het die meeste ADHD-persone ‘n baie hoë IK, selfs al presteer hulle nie so goed op skool nie. ADHD volwassenes is ook nie noodwendig sigbaar hiperaktief nie, terwyl hulle intern, binne hulle lyf, hiperaktief is.

Dis ook nie dat hulle nie kan aandag gee nie. Die probleem is dat hulle té veel aandag gee aan alles. Terselfdertyd gaan daar in ‘n ADHD-kop gewoonlik vier of vyf dinge aan. Terwyl hy besig is om op hierdie ding te fokus, vra ‘n klomp ander goed ook sy aandag.

Wanneer hulle egter onder druk is, fokus hulle uitsonderlik en kry take geweldig vinnig en goed gedoen. Ongelukkig is daardie fokus nie ‘n knoppie wat jy kan druk nie en weet jy nooit wanneer die fokus jou sal verlaat nie.

Om in fokus te kom, help as die persoon hou van wat hy doen en daarin geïnteresseerd is. Die belangstelling hou egter nooit vir baie lank nie. Iemand anders kan hom nie in ‘n fokusfase in druk of oortuig nie. Die ADHD persoon werk die beste wanneer hy besef dat daar nou nie meer uitsteltyd is nie. ADHD mense is meesteruitstellers, tot groot frustrasie van die mense om hulle.

ADHD-persone kry swaar in ‘n gewone skoolsisteem. Hulle vertoon ook ongeorganiseerd. ADHD mense voel ook maklik minderwaardig, nie goed genoeg nie, juis omdat hulle so anders funksioneer.

Wanneer ‘n ADHD-persoon ja sê vir ‘n taak, weet hulle dat hulle dit kan doen.

Ek is dankbaar dat my omstandighede, my onmiddellike omgewing, my gesinsopset my toelaat om my eie ding op my eie tyd te doen, self te kan besluit wat ek wanneer doen en dat ek juis deur dit te doen, baie uitgerig kry. Sonder dat my gesin besef het dat ek ADHD is, het hulle die vaardigheid ontwikkel om my te help fokus. Soms moet iemand vir my sê, kom ons doen gou eers dit of dat, of dat die tyd uitloop. Vir my hou my ADHD geen bedreiging nie en ek dink my gesin leef heel gemaklik daarmee saam.

Toortsie

Hoofstuk 16 – Nog geheime onthul

Lees hier wat vooraf gebeur het: https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313

Stil en verstom sit die Towerinne onder laslapkomberse in die geheime grot en oordink die gebeure van die afgelope tyd. Daar het soveel dinge gebeur en steeds het hulle nie al die antwoorde nie. Hulle eet tiramisu en het elkeen ‘n glasie Frangelico in die hand. Hier en daar spreek een ‘n gedagte uit.

VirgoC en Perdebytjie sit en kyk deur die goed in die trommeltjie. Dan sit Perdebytjie skielik kiertsregop met ‘n ou, vergeelde stuk papier in die hand. ‘Julle, luister net hier!’

Sy begin lees:

Die laaste wil en testament van Joseph Lee Angelwood, gebore 16 Maart 1823 in Londen, Engeland.

Aan my vrou, Sophia Ann Angelwood, gebore Elliot, die huis met inhoud in Londen, asook Ł2 000. Sophia, jy was nooit vir my ‘n vrou of ‘n ma vir ons kinders nie en dit is my wens dat jy Eden onmiddellik sal verlaat en terugkeer na Londen, waar jy altyd wou wees. Die huis in Londen is ten volle toegerus en jy mag slegs jou klere saamneem. Alle juwele moet in Eden agtergelaat word.

Aan my stiefbroer- en suster, Leonard en Isabelle Angelwood elkeen Ł500. Ek verwag ook dat julle onmiddellik Eden sal verlaat. Julle het lank genoeg op ons goedheid staatgemaak terwyl julle eintlik geen reg hier gehad het nie al het julle so opgetree omdat my moeder met julle vader getrou het ná my vader se dood. Isabelle, jou onplesierige geaardheid was onuithoudbaar en jou buite-egtelike verhouding met Karel, Charlotte se broer was afgryslik.

Aan me Berdine Barber Ł200 vir die ontferming oor en versorging van die buite-egtelike dogter van my stiefsuster, Isabelle Angelwood.

Aan ons butler, mnr Hardy en ons kok, mev Marks, elkeen Ł500. Baie dankie vir jare se onbaatsugtige diens. Dit is my wens dat u u dienste sal voortsit sodat my kinders versorg sal wees.

Aan mej Charlotte Hardy, die biologiese moeder van my kinders, die reg om lewenslank in Eden te bly, asook Ł5 000 kontant. Ek gun vir jou ‘n goeie lewe saam met jou kinders tot jou dood.

Dit is my wens dat my kinders, Klara Louise Angelwood en Thomas William Angelwood by hulle biologiese ma in Eden sal bly en versorg word tot op die ouderdom van 21 jaar.

Aan my dogter, Klara Louise Angelwood , die huis en inhoud van Eden. Sy het altyd ‘n goeie verhouding met haar biologiese moeder, Charlotte Hardy, gehad en dit is my wens dat Klara vir Charlotte sal huisves vir solank Charlotte dit mag benodig. Al die juwele wat my vrou, Sophia Ann Angelwood in hierdie huis gebruik het, gaan ook aan Klara.

Aan my seun, Thomas William Angelwood, die huis en inhoud daarvan in Strandstraat, Durban. Wanneer Thomas die ouderdom 21 jaar bereik het, mag hy die huis in Durban permanent bewoon. Tot dan moet die huis steeds vir mej Hardy en die kinders as strandhuis dien.

Die restant van die boedel word gelykop verdeel tussen my twee kinders, Klara en Thomas, soos hierbo genoem.

Geteken: JL Angelwood. 20 Mei 1864.

 

‘’n Baie vermoënde man’, sê Hester. ‘Huise in Eden, Durban en Londen!’

‘Omtrent ‘n interessante boedel’, antwoord Vuurvliegie. ‘Ai, jai jai’

‘Hier is baie mense kwaadgemaak,’ antwoord Scrapy.

‘G’n wonder hier is soveel vermoorde mense nie!’ , sé Seegogga.

‘So, Leonard en Issabelle was nie Joseph se eie broer en suster nie, dís nou interessant’, sê Christa, ‘sou die pa’s broers wees?’

‘Neefs’, antwoord Frannie, ‘ek het nog nie eers kans gehad om te vertel wat die argief opgelewer het nie. Joseph se ma het ná die dood van sy pa, met sy neef getrou. Die neef was ‘n wewenaar en het die twee kinders gehad.’

‘Isabelle het haar aanstellerig gehou en het ‘n moeilike geaardheid gehad. Isabelle en Leonard sou beslis nie van hierdie wending gehou het nie. Ek wonder of hulle geweet het van die testament?’ vra Trommeltjies.

‘Berdine Barber, dis nou nóg ‘n nuwe naam. Isabelle en Karel Hardy se buite-egtelike kind’, sê Woordnoot. ‘Interessant.’

‘Dit klink darem baie na Broodina Barber. Sou hulle nie familie wees nie?’, wonder Bondelsgedagtes.

‘So, Klara erf die huis, maar Charlotte mag lewenslank saam met haar daar aanbly,’ sê Toortsie.

‘Uiteindelik sou die ma verenig wees met haar kinders,’ antwoord Kameel.

‘Mense, hier is steeds nog baie onopgeloste vrae,’ sê Una. ‘Wat is die storie van die armband?’

‘En wie het dan die prente in die tonnel geteken? Was dit Klara, of was die haar boetie?,’ vra Positief.

‘Ek kan verstaan dat die Angelwood broer en suster kwaad sou wees, maar hoekom is Leonard dan ook vermoor?’, vra Perdebytjie.

‘Ek wonder of sommige van die moorde gedoen is sonder dat die testament ter sprake was en die ander later?’, antwoord Virgo.

‘Interessant dat Joseph Isabelle se buite-egtelike verhouding as afgryslik beskryf terwyl hy self agter die deur gestaan het’, sê Kameel.

‘Wat ek steeds nie kan verstaan nie, was hoekom mnr Hardy so nors was?’, vra Toortsie.

Tannie Frannie sal verder vertel.

 

Misterie in die biblioteek – Hoofstuk 8

Die Towerinne is mos na ‘n ou herehuis daar naby Rebusfontein om die ou, vervalle biblioteek te gaan restoureer, maar hulle maak lankal nie meer biblioteek skoon nie. Nee, soos wat enige een wat die Towerinne ken, sou verwag, het dit ontaard in heeltemal iets anders. Die Towerinne is besig om ‘n groot misterie uit te rafel! En, voorspelbaar soos sy is, het Broodina ook al weer haar opwagting kom maak en is sy al weer hard besig om onder die radar moeilikheid te maak.

Bang staan die Towerinne in die kelder rond. Stukke geraamte lê oral rond. “Mense, ons moet begin beweeg, sommer nou-nou kom Broodina en die polisie ook nog hier aan”, sê Vuurvliegie.Scrapydo, neem jy en Una die juwele wat julle gevind het en gaan versteek dit asseblief in die tuin. Ek dink dis nodig dat Una ‘n bietjie vars lug kry en dis net makliker as twee van julle weet waar dit versteek is. Julle moet gou speel, voor Broodina en haar gevolg hier opdaag.” Kameel vra dadelik of sy ook kan saamgaan, die noutevrees vang haar kwaai.

Voor jy kan sê ‘mes’, is die drie daar weg.

“Julle wil nie hoor as ek vertel van my ouma nie”, sê Toortsie. “Julle moet nou luister, dis regtig belangrik.”

“Ja, Toortsie, vertel vir ons,” sê Trommeltjies.

“Ek kan ook maar nou nie meer lekker onthou nie, onthou, my ouma is al oorlede toe ek nog in die laerskool was. Sy het vertel van tannie Kokkie wat met ‘n Engelsman getroud is en toe as kok by mense gewerk het. Ek kan nie name so lekker onthou nie, maar toe Lekkervurig vertel van Joseph Angelwood, toe lui daar ‘n klokkie.”

“Wat vertel jy ons nou?” vra Perdebytjie baie belangstellend.

“Dis regtig nou baie deurmekaar en die goed maak nie sin nie, maar sy het vertel hoe sy haar maar ontferm het oor die dogter van die huis, haar ma het haar blykbaar maar geïgnoreer en baie swak behandel. Die kinders was glo aangeneem, dink ek.”

“Ja, dit klop met ons storie”, sê Woordnoot, “dink julle dit kan hierdie Mev Marks wees van wie Toortsie praat? Toortsie, nou moet jy mooi dink, is daar nóg iets wat jou ouma vertel het?”

“Julle moet onthou, ouma Ellie was self ‘n dogtertjie toe sy hierdie tannie Kokkie geken het. Tannie Kokkie was al stokoud en het deurmekaar gepraat. Sy het blykbaar oor en oor iets gesê van twee fonteine en van ‘n portret. Verder kan ek nie veel onthou nie.”

“Portret? Twee fonteine?”, vra Positief, “mense ons moet soek. Lig ‘n bietjie met die koplampe dat ons kyk of hier nie iewers so ‘n portret is nie.”

“Wraggies! Julle, kom kyk!” Christa staan opgewonde met haar kopliggie en wys na ‘n skildery wat op die vloer lê. Dit het van die muur afgeval, die raam gekraak en die glas stukkend. Dis ‘n landskap, maar daar is duidelik twee fonteine.

Dadelik is die Towerinne almal by en bekyk die skildery van nader. Nee, daar is niks vreemds aan nie. Bondelsgedagtes En Seegogga ken natuurlik skilderye en bekyk dit baie mooi. Dan draai hulle dit om en sowaar, hier staan dit geskryf!

Soek dagboek. Onsigbare ink. Spat nat.

Verlig dat hulle uit die muwwe kelder kan kom, gaan die Towerinne soos een man biblioteek toe. Tannie Frannie begin die boek natspat, lees so vinnig soos sy kan en vertel hier en daar wat sy lees. “Dit lyk my Charlotte en Joseph se verhouding het aangehou nadat Klara gebore is. Thomas is ook hulle kind, wat die Angelwoods toe aangeneem het. Die Hardy’s was eers vermoënde mense, maar het hul grond verloor, wat Mnr Hardy gedwing het om ‘n Butler by die Angelwoods te word. Haar pa het haar nooit vergewe dat sy hul gesin so in die skande gesteek het met die swangerskappe nie. En dan lyk dit my of Mnr Hardy en Isabelle kop in een mus was en te doen gehad het met Charlotte se wegstekery in die kelder.”

“Sulke duiwels!”, sê VirgoC kwaad. “Haar eie pa! Hy moes ‘n sielsieke man gewees het, kwaad vir almal omdat hy sy grond verloor het, toe moes arme Charlotte sommer boet vir al die sondes wat sy gedoen het en nie gedoen het nie! Ek verwurg hom sommer as ek hom net in die hande kan kry!”

Net toe kom Kameel, Scrapy en Una van buite af in. “Sjoe! Ons was nou net betyds om die juwele te versteek. Broodina en haar gevolg is in aantog, Hoor net hoe loei die sirenes. Ons moet ons nou net dom hou. Steek vinnig weg wat waardevol is, laat hulle maar die geraamte vind, ek dink nie hulle sal die res ontrafel kry nie. Ons is onskuldig, ons maak mos maar net huis skoon.”

Nou wonder ek:

  1. As dit wel Klara is wat Charlotte se dagboek weggesteek het, het sy dalk tog die waarheid uitgevind?
  2. Sou Klara en Charlotte soms mekaar gesien het?
  3. Was Leonard ook dalk op ‘n manier kop in een mus met sy suster en Mnr Hardy? Ek dink Leonard en Isabelle was jaloers op Joseph omdat hy die familieskatte geërf het.
  4. Ek wonder steeds wat het gebeur dat hulle die huis net so agtergelaat het.

Christa, sal jy asb die raaisel verder ontrafel?

Toortsie

Stel jy belang om hierdie hele storie te lees? Kliek HIER om al die hoofstukke te lees: https://fresh.inlinkz.com/p/3f26291088494dc99c7aa4554a66a313

Suiwer verbeelding van Toortsie, en die hele lot Towerinne daarmee saam.

Die langtafel by Rebusfontein

Kyk, as julle my wil opgewonde maak, moet julle net sê dat ons gaan eet! Ek is mos mal oor eet, goed daarmee, dis in my gene, ek kom uit ‘n familie van goeie eters. Ons hou daarvan en ons hou van die gesellige samesyn.

Nou het die Lekkervurige Vuurvliegie ons genooi vir ‘n langtafelete in die magiese Rebusfontein, waar ons Towerinne in ons verbeelding tog te lekker saamkuier. Haar opdrag? Ons mag twee mense saambring: Een wat jy bewoner en een wat jy verpes. Ek dink eintlik sy wil hê dit moet beroemdes wees, maar ai, ek is nie so goed met die beroemdes nie. Ek sal eerder twee mense uit my persoonlike wêreld saambring. Beroemdes wat ek kon nooi, sou dalk Jane of Arc wees, wat ek seker tien jaar gelede na ‘n Vrouedagete genooi het, of Johan Strauss II, die komponis. Die berugte een sou iemand met ‘n rooi pajamapakkie wees, maar ek wil regtig nie my blog op enige manier besoedel nie.

My keuse van gaste is dus my pa, wat al in 1999 oorlede is. Hy was so ‘n wonderlike mens, ‘n allemans vriend. Sag en dierbaar. Dit sal vir my lekker wees om sommer net ‘n slag langs hom aan ‘n tafel te kan sit.

Aan die ander kant is my Broodina, ek noem haar sommer Broodjie. Sy is eintlik ook ‘n liewe mens, al maak sy my soms verskriklik kwaad, al stem ek nie altyd saam met wat sy doen nie. My pa het goed met haar reggekom toe hy nog gelewe het en ek weet dat ons drie eintlik ‘n goeie aand kan hê, daar is net sekere terreine wat ons nie moet betree nie.

Watter kos sal ek bring?

My pa was nie een wat vol nonsens met kos was nie. Hy sou ‘n snytjie ou brood met gouestroop smeer en dit in die oond laat smelt en tog te lekker eet. Hy sou ook byvoorbeeld half drie in die huis instap met ‘n oom saam met hom en sy bord kos vir die oom aanbied terwyl hy ‘n snytjie brood eet. Hy was lief vir gewone boerekos, maar het ook iets spesiaals geniet. Ter wille van die spesiale geleentheid sal ek beesstert bring na die tafel, ek weet dat hy baie lief was daarvoor. Daarby sal ek boontjies roerbraai met spek, uie en knoffel en fetakaasblokkies daarby gooi.

Broodjie, weet ek, is baie lief vir appeltert. Ongelukkig het ek nie ‘n Bantingappeltertresep nie, maar ter wille van die geleentheid sal ek dan maar ‘n gewone appeltert bak. Ek sal ‘n bietjie dink hoe ek die suikerinhoud kan verminder. Dalk maak ek dit met ‘n amandelkors en gebruik eerder Xyilitol as suiker. Of ek dit heeltemal Bantingvriendelik sal kry, betwyfel ek, daar moet te veel appels inkom. Tog glo ek dat ek ‘n stukkie daarvan sal kan geniet.

Nou moet ek nog net my uitrusting regkry! Joe! Ek is opgewonde. Ek wonder wie en wat die ander Towerinne almal na die langtafel gaan bring? Dit gaan weer ‘n feesgeleentheid soos min wees.

Lees hier om te sien wat die Towerinne alles doen: https://fresh.inlinkz.com/p/f3a95533873d4e39950509a1af369d8a

Sien jou daar!

Toortsie

Suiwer verbeelding van Toortsie