Kameel : Betyds

 

Lê-jou-eier: Safari-skryfuitdaging

4d908c7917e761c124c3cb5b821fe671Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien, klim vinnig uit die lorrie, buk by Saar en vra besorgd wat het gebeur. Met ‘n vuil hand vee Saar oor haar nat wange, en probeer glimlag. “Dis sommer niks Braam… my kop het vir ‘n oomblik uitgehaak… maar ek is nou weer reg.” ‘n Frons verskyn tussen Braam se wenkbroue, “Jy het jou kerkklere aan… waarheen was jy oppad.” Iets in sy stem stuur ‘n koue rilling langs Saar se ruggraat af. “Ek, ek…” stamel sy maar kom niks verder nie. Braam se oë rus op die tas wat eenkant lê. Sy liggaam verstyf merkbaar. Met saamgeklemde kakebeen, kyk hy na Saar. Sy oë is staalgrys en sy stem yskoud toe hy praat. “Jy wou soos ‘n sleg hond wegloop.” Stadig kom hy regop; hy lyk meteens jare ouer. “Vat jou tas, en loop…. ek wil jou nooit weer sien nie,” en met die woorde draai hy om, klim in die lorrie, en ry weg. 

Saar bly verwese in die pad sit. Moos staan nader; daar is trane in sy klein ogies, “Moos het altyd gewonner wanneer gaan hy breek, nou het Moos met sy eie oë gesien die sweer het gebars. Kom dan help Moos jou op die donkiekar, en vat jou daar na sy pa toe.” Gedweë laat Saar haar soos ‘n kleindogtertjie deur die getroue ou Moos lei. Sy sit langs hom op die harde houtbankie, en kyk verdwaas na haar en Braam se gesigte deur die stukkende glas. Warm trane begin opnuut oor haar wange loop. “Dis soos hulle lewe wat nou aan skerwe lê” dink sy hartseer. Die donkiekar skommel voort, dan praat Moos asof met homself. “Al hierdie jarre hy het vir hom sterk gehou. Daardie dag toe hy agter sy ma aangehardloop het, en die tas by haar wou vat sodat sy nie kan weggaan nie, het Moos geweet die kjênd het baie seer gekry; hy het daar by die stofpad gestaan en haar agterna gekyk. Daarna wou hy nooit weer daaroor praat nie, net begin fluit as Moos met hom wou praat.” Saar staar grootoog na Moos. “Sy ma Moos… ek dog dan sy is dood.” Moos is stil, dit lyk asof hy haar nie gehoor het nie so verdiep is hy in sy eie gedagtes. Dan praat hy. “Vir hom was sy van daardie dag af dood….. maar Moos het geweet, daardie seer lê baie diep, en hy gaan ‘n sweer maak…. maar eendag, eendag gaan die sweer bars, en hy en ander gaan seerkry” 

Saar kreun kliphard en laat sak haar gesig in haar hande. “Wat het ek gedoen Moos…. nou verstaan ek hoekom hy so kwaad was.” Die donkiekar kom voor ‘n draadhek tot stilstand. In die skadu van groot bome staan die wit plaashuis. Behalwe vir die werfhonde wat naderdraf lyk alles doods en verlate. “Hoekom het sy nog nooit voorheen opgemerk hoe hartseer die huis lyk nie?” Voordat Moos afklim draai hy na Saar toe. “Jy is nou hartseer Saar, maar dis goed daardie sweer het gebars…. nou kan die Jirre hom skoonmaak en salf opsit. Wanneer Braam gesond is, sal die Jirre hom terugstuur na jou toe.” ‘n Vlammetjie van hoop flikker meteens in Saar se binneste. “Jy dink so Moos?” vra sy hoopvol. Moos gee haar ‘n tandlose glimlag. “Moos weet so. Moos vra nog al hierdie jarre vir die Jirre om Braam gesond te maak…. en vandag het Moos gesien hoe die Jirre begin werk.”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements

31 thoughts on “Kameel : Betyds

    1. Nounet joune gelees en dieselfde gedink. Dit is ons lewe…. wat ons ken, en verstaan. Ook terapie nê 😊 Ek glimlag as ek dink hoe my eie lewe in die chaos van Toweropstal uitgekom het…. en die Here tot daar vir my dinge uit my lewe uitgewys het, en wie Hy deur dit alles is.

      Liked by 3 people

      1. Nee hel. ons was besig met ‘n server cleanup gisteraand, toe bom die hele ding net uit. Ons moes vir Afrihost wag om ons weer op lyn te kry, maar ons het besluit om hooky te speel en het nou so pas teruggekom van Oribi Gorge af. Wie wil nou worry oor ‘n afgestorwe server as jy kan gaan rondloop?

        Liked by 1 person

        1. Hoe lekker, net vanmiddag sit en fotos sorteer van ons kuier in Shelly Beach. Toe ek Lake Eland s’n doen wens ek so ons kan weer daar gaan rondloop. Mooi wêreld!!!

          Liked by 1 person

        1. Partykeer ys ek om te dink waardeur ek alles gekom het…. en waar ek my oral bevind het. Dan weet ek dat ek weet God se beskermende Hand was oor my en Hy het gelei al was ek so steeks soos ‘n donkie.

          Like

  1. Lank terug het ‘n bestuurder van my (nie waar ek nou werk nie) gevra hy wil met my praat en aan my erken dat hy ‘n verhouding het met een van my kollegas in my span. Haar man het haar geslaan en hy het met haar begin praat toe sy een oggend nie kon werk. One thing led to another.

    Hy was ook getroud en het die verhouding probeer regverdig aangesien hy beleef het dat sy vrou hom emosioneel jare voor dit verwerp het. Hy was egter ‘n kind van die Here en ek het vir hom gese (sonder veroordeling gelei deur die Heilige Gees en die eerste keer dat ek dit vir iemand sê) dat die Here nie kant kies nie, Hy neem beheer.

    Ons afdeling is kort daarna ontbind en hy en sy vrou het op ‘n ander plek gaan oorbegin na berading. Ek weet egter nie wat die uiteinde daarvan was nie, maar die buite-egtelike verhouding is beeindig.

    Waar die Here werk kan dinge uitwerk en die Here werk met Saar en Braam soos hy destyds met Sara en Abraham gewerk het.

    Gaan nou vir Lekkervurig was of die name doelbewus of toevallig is, want as dit doelbewus is, is haar storie net soveel meer briljant.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s