Trudie gaan ruimte toe

Mooi man! Hier is ek nou! Op die planeet van die liefde. Venus! Wat meer kon ek vra? Dis mos wat ek wou hê. Hoeveel aande in my lewe het ek sit en staar na die sterre, het ek saans gesit en wag dat Venus moet verskyn? Selfs as kind al het ek saans op my fiets sit en sterre tel. Was ek verlief op hierdie planeet. Hoe romanties! Men are from Mars, Women are from Venus. Venus, die vroueplaneet. Die aandster.

Wie sou ooit kon dink dat ek die voorreg sou hê om Venus te kon besoek? Dat hierdie geleentheid oor my pad sou kom om hier te kom woon, watwou dit net besoek? Nie eers in my wildste drome het ek dit voorsien nie! Toe ek hiervan hoor kon ek nie gou genoeg my hand opsteek nie. Asseblief, kies my! Ek wil gaan! Ek wou juis ’n bietjie asemskep van Tinus. Die liewe, dierbare Tinus wat my so oorlaai met sy liefde. Amper versmoor met sy liefde. 

En hier is ek nou op Venus, geklee in ’n ruimtepak wat my van kop tot tone bedek. Om my te beskerm teen die hitte. Ja, hitte, kan jy glo! Ek het altyd gedink Venus is ‘n koel planeet, dis dan die verste van die son af? Toe nie! Tipies die rigtinglose ek, is Venus toe die tweede naaste planeet aan die son! En warm. Vrek warm. Onuithoudbaar warm. So warm dat dit eintlik vreemd is dat ek nog nie gesmelt het nie. Gelukkig is my ruimtepak van ’n besonderse stof gemaak wat die hitte in ’n mate kan weerstaan. Vir ’n rukkie. 

Die eerste paar minute het ek opgewonde rondom my gekyk om die plek te verken. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar alles behalwe dit wat ek hier sien! Hoekom het ek aan water en bome en gras gedink terwyl hier net rotse en vulkane is en as ek nie versigtig is nie, beland ek nog onder ’n aktiewe een se lawa! 

Hoekom sal Venus die vroueplaneet wees? Hier is dan net mooi niks vrouliks nie? Iewers het iemand verseker iets gemis! Dit is nie eers mooi nie. Dit is glad nie mooi nie. Vroulike planete is mos veronderstel om mooi te wees.

Ek verlang na Tinus. Daar het ek dit nou gesê, dertig minute nadat die ruimteskip my hier afgelaai en verdwyn het. Ja, ek verlang na hom. My Tinus. Maar nou is dit te laat. Spyt kom altyd te laat. Ek het mos my keuse gemaak. Om hier te kom woon. Vir altyd. 

Tinus. Ek kan nou nog die hartseer op sy gesig sien toe ek hom die dag vertel het dat ek op Venus gaan kom woon. Die geboë skouers sedertdien. Die amper verslaentheid. Hy kon dit nie verstaan dat ek so ’n besluit kon neem nie. Wat van hom? Wat van ons? Ons wat al begin uitgaan het kort nadat ons skool verlaat het? Ons, wat saam oor ’n toekoms gedroom het? Hoe kon ek hom sommer net los en dit vir so ’n lawwe idee? Wat wou ek daardeur bereik? 

Ek het hom lief en nou kan ek niks daaraan doen nie. Hier sit ek nou, vasgevang op Venus en kan nooit weer terugkeer aarde toe nie. Hier gaan ek vergaan van die hitte. Van noutevrees in die ruimtepak. Van eensaamheid. En ek kan vir niemand kwalik neem nie, want dit was my keuse. Net myne, niemand anders s’n nie. 

Dis toe wat ek die vreemde dreuning hoor. Kan dit wees? ’n Ruimtetuig? Een wat op Venus kom land? Twee ruimtetuie op dieselfde dag? Sowaar! Ja, dit is sowaar ’n ruimtetuig. Dit is net een stofwolk soos hy land. Ek staan asof versteen en staar daarna. Die deur gaan oop. Daar klim iemand uit. Versigtig sit hy sy voete neer op die vreemde planeet en begin hy na my kant toe stap. Dis … Tinus! Dis my Tinus! So vinnig as wat my voete my kan dra hardloop ek na hom toe.  

Toe word ek wakker. Deurmekaar probeer ek agterkom waar ek is. Ek voel met my hande en vind die bekende lyf langs my. Ek is in my eie bed in ons eie huis op ons eie Moeder Aarde. Langs my lê Tinus vas aan die slaap. Ek hoor sy diep, rustige asemhaling wat my nog altyd kalm gemaak het. Tinus, my man al vir amper veertig jaar. My standvastigheid. My sekerheid. In my droom het hy my kom haal, kom red op Venus, net soos wat hy my al soveel keer gered het van een of ander lawwe idee. Ek kan en wil op geen ander plek wees as net hier by hom nie.

………………..

Ink kortverhaal – ‘En toe’-projek

Die nuwe intrekker

Karin kyk ongemaklik rond. Haar hande is in mekaar geklem. Sy skuif effens rond op haar stoel terwyl Matrone die nuwe intrekker bekendstel.
“Dames en here, ontmoet vir mevrou Annelie Basson, ons nuwe intrekker. Sy is ’n vrou van vele talente en wil graag aktief betrokke wees hier in ons aftree-oord. Betrek haar gerus en laat haar tuisvoel …”
Komien tik liggies aan Elsabé se arm. Met haar oë sein sy iets en beduie onopsigtelik na Karin. Sy, Karin, sit kiertsregop in haar stoel. Dit lyk asof sy ’n besemstok ingesluk het. Haar gesig lyk soos ’n onweerswolk. Hier kom beslis moeilikheid.
Elsabé lig haar wenkbroue en glimlag effens. Ja, hier kom voorwaar moeilikheid. Soos altyd. Hoe voorspelbaar! Hulle ken al hulle mense. Nou kan sy net terugsit en ontspan en die konsert geniet. Want konsert gaan hier vandag beslis gehou word – dít kan ’n mens op ’n afstand sien.
Die volgende oomblik vlieg Karin op. “Verskoon my, asseblief,” kom dit afgemete deur stywe lippe. Sy hou haar handsak in die een hand vas en met ’n duidelike ontevredenheid mik sy na die deur. Haar liggaamstaal verklap baie.
Matrone, steeds besig om Annelie se goeie eienskappe en talente te besing, kyk gesteurd op. “Karin, is daar iets verkeerd?”
“Nee, Matrone, dis níks.”
“Gee net kans, dit sal nou-nou nie meer net niks wees nie”, fluister Komien.
“Sjuut, jy!” fluister Elsabé terug, dik van die lag.
So in die uitloop, sê Karin: “Ek ken jou, Mevrou Annelie Basson. Of moet ek eerder sê, Annelie de Kock? Ek weet wie en wat jy is. Die paar manne hier rond sal beslis nie omgee dat jy hier is nie.” Sy maak die deur harder toe as wat nodig is.
“Wat gaan tog nou weer aan?” vra Matrone ietwat moedeloos.
“Het ek iets verkeerds gedoen? Die manne? Wat bedoel sy?”, wonder Annelie.
“Dit klink my sy ken jou, Annelie. Ken jy háár dalk?”, vra Matrone.
“Ja, sy lyk ietwat bekend, maar ek is nie seker van waar ek haar ken nie.”
“Annelie. Mevrou Basson. Ek is jammer dat dit nou moes gebeur op jou eerste dag by ons in die oord. Ek wil so graag hê dat al ons inwoners hier gelukkig sal wees. Ek sal by Karin gaan hoor wat aangaan,” probeer Matrone die situasie red terwyl sy opstaan en vir Karin volg.
In die sitkamer heers daar vir ’n oomblik stilte, dan praat almal gelyk.
“Genade! Wat het vandag weer in ou Karin gevaar?”, frons Komien.
“Ag, ons ken haar mos maar so! Altyd ’n ‘Drama Queen’”, reageer Elsabé geïrriteerd.
“Behoorlik, ja! As sy een van ’n tweeling was, kon ons dink sy is ’n kween!”, antwoord Komien.
“Haai nee! Waar val jy nou uit met ’n kween?”, lag Elsabé geskok.
“En onse Karin het gewoonlik die kat aan die stert beet, dit weet ons mos almal,” sê Komien.
“Ja, maar ons is tog so lief vir haar, sy sorg altyd vir ’n bietjie pret,” paai Elsabé.
“En hoe! Sonder haar sou dit maar vervelig wees in hierdie oord. Soos die dag met die koeksisters,” onthou Komien.
“Wag, wat het nou weer daardie dag gebeur?”, vra Elsabé.
“Man, sy het mos vir Carli Koeksister behoorlik beetgehad oor hoe ’n mens kwansuis koeksisters vleg. Carli, van alle mense, wat in haar lewe derduisende koeksisters gebak het!”, vertel Komien.
“O ja! Ek onthou nou! En op die ou end het sy erken dat sy net een keer in haar lewe koeksisters help bak het toe sy by haar ouma gekuier het. Sy was tien jaar oud,” voeg Elsabé by.
“Ou Annelie, as ek jou kan raad gee, dink ek nie jy moet jou te veel aan Karin steur nie. Dalk voel sy effens jaloers omdat die aandag nie vandag op háár gefokus is nie,” paai Komien.
“Dalk,” sê Annelie, maar so tussen die lyne deur het sy darem lelike aantygings gemaak.”
Dan kom Matrone en ’n duidelik onwillige Karin by die deur ingestap.
“Annelie,” sê Matrone, “dit lyk my hier is iets wat Karin graag onder jou aandag wil bring. Dis iets waarmee sy al vir jare worstel.”
“Onthou jy Laerskool Postmansburg?”, vra Karin kortaf.
“Ja, ek was vir ’n kort rukkie daar in die skool. Is dít vanwaar ons mekaar ken?”, vra Annelie.
“Ja, moenie maak asof jy nie onthou nie”, antwoord Karin beskuldigend.
“Wat moet ek onthou? Wat het gebeur?”, vra Annelie, fronsend.
“Dan lieg jy ook nog! Asof jy nie kan onthou nie,” beskuldig Karin.
“Weet jy, Karin, ons was net vir ses maande by Postmansburg. My pa het by die bank gewerk en is baie keer verplaas. Ek kan onmoontlik nie almal en al die stories onthou nie. Ons is elke keer na ’n nuwe dorp en dan moes ek nuwe maats maak. Ek is jammer, maar ek weet regtig nie waarvan jy praat nie. As jy kan sê wat ek verkeerd gedoen het, sal ek dit graag wil regmaak,” antwoord Annelie, nou ook ietwat kortaf.
“Regmaak? Wil jy regmaak? Dis nóú heeltemal te laat!”, krys Karin.
Karin kyk na die ander en wys met haar hand na Annelie.
“Goed. Dan sal ek maar vir jou én die ander hier vertel wat jy so gemaklik vergeet het. Sy … sy het my kêrel afgevry in standerd vier!”
“Wat? Waarvan praat jy? Jou kêrel afgevry? Waar kom jy daaraan? Ek het geen kêrel van niemand afgevry nie. Veral nie in die laerskool nie! Ek het my eerste kêrel eers op universiteit gehad en het met hom getrou ook. Daar was nie tyd vir kêrels nie. Ek moes musiek oefen en telkens aanpas in ’n nuwe skool. Karin? Dra jy sowaar nog jou hele lewe hieraan en dit is nie eers waar nie?”
Vinnig en bloedrooi in die gesig maak Karen haar weer eens uit die voete.
“Oeps,” sê Koemien.
“Skaamkwaad … dit sal ’n rukkie neem om te verwerk,” bevestig Elsabé kopskuddend. “Annelie, ek dink jy kan dit maar afskud van jou skouers af.”
“Ja wat, intussen het ons ’n lekker sappige storie om aan te herkou,” antwoord Komien laggend.
“Onse Karin,” sê Elsabé goedig. “Dis mos maar hoe ons haar ken.”
“Liewe Annelie, welkom by Huis Sonbesie. Jy gaan sommer nog lekker bly hier,” sê Komien. “En weet jy wat? Ek voorspel dat jy en Karin ook nog goeie maats sal raak sodra sy hierdie wolhaarstorie verwerk het.”
“Ja, baie welkom, en soos Matrone tereg gesê het, is ons soos ’n familie. En net soos in enige familie kan ons soms lekker onder mekaar stry, maar dis gewoonlik gou oor. Ons lag saam, ons huil saam, ons skinder saam, maar ons is lief vir mekaar. En tog te gereeld is hier drama op drama wat ons lewe interessant maak,” sê Elsabé.

………………………………………………….

Kortverhaal vir die Ink-uitdaging vir Januarie.

Opdrag: Om die jaar behoorlik af te skop, en aangesien almal behoorlik uitgerus is, gaan ons hierdie maand die term “drama” ondersoek. Wat kan ‘n nuwe jaar inlei anders as ‘n bietjie drama?

Verhaalskrywers:
1. Skryf ‘n komiese verhaal oor die drama van ‘n nuwe aankomeling by ‘n aftree-oord.

Vir al die Ink Uitdagings vir Januarie, kyk HIER.

(https://ink.org.za/januarie-2022-drama-projek/)

Una het dit begin …

En Woordnoot het aangegaan … en hier gaan ons al weer op ‘n nuwe avontuur!

Woordnoot het met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Ek, sommer voor in die koor, storm behoorlik die kasteel se trappies op, deur die imposante voordeur en gaan staan botstil in die voorportaal. Dis asemrowend verby. Die binneversiering is met smaak gedoen. Geen koste is ontsien nie. Maar die opdrag is dat ons elkeen die kamer moet vind wat ons sleutels oopsluit en vir minstens agt ure daar vertoef sodat ons kan kom vertel hoe dit lyk en wat daar gebeur.

Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:

Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871

…………………………..

Ek kyk rond – waar sal ek die vertrek vind wat my sleutel oopsluit? Ek hoop nie dit is in een of ander donker gangetjie nie, die gedagte daaraan laat my sommer ‘n krieweling teen my ruggraat voel. Maar voor ek by die trappe opgaan wil ek darem net eers hier ‘n bietjie rondloer. Ek wil mos self alles sien, sê nou nie een van ons Goue Vroue het die sleutels van hierdie vertrekke nie?

Ek draai die eerste deur se knop, maar die deur is gesluit. Die sleutel wil nie eers ingaan nie! Maar by die volgende deur glip die sleutel in. Vol afwagting draai ek die deurknop en die deur swaai oop.

Ek hoor ‘n simfonie-orkes klassieke dansmusiek speel en stap in. Weer eens stol ek in my spore. Hier is ‘n koninklike bal in volle swang! Manne en vroue, nee, prinse en prinsesse, adellikes is besig om hier voor my te dans soos ek maar nog net in die Artscape in operettes gesien het of in boeke van gelees het! Grasieus. Perfek! Die musiek is om jouself totaal in te verloor. En die klere! Die dames se balrokke is die een mooier as die ander, hul dra egte edelgesteentes om hulle nekke en arms, robyne, saffiere, pêrels, diamante … Die mans het almal aandpakke aan, so mooi. En elkeen ken hul danspassies foutloos en weet presies wat om te maak en hoe om elke voet perfek neer te sit.

Egte kristalkandelare soos ek in my wildste drome nie sou kon voorstel nie, hang van die hoë plafonne wat met die hand geskilder is in die mooiste skilderye. Ook die mure is behang met die mooiste skilderye in die lieflikste, swaar rame. Die banke waar die gaste sit, is van die lieflikste donker hout gemaak en gestoffeer in dieprooi en goue tapisseriemateriaal.

Op ‘n effense verhogie sit die koning en koningin op die mooiste stoele met hoë rug- en armleunings met goud versier.

Kelners beweeg geruisloos en amper onsigbaar tussen die gaste deur om hulle te bedien met drankies of wat hulle ookal nodig mag hê. Alles in die fynste goue eetgerei en kristal. Ek staan in verwondering om alles in te neem.

Skielik raak ek benoud. Sê nou hulle sien my! Ek pas mos glad nie hier in nie! Ek kom nou natgesweet uit die warm Suid-Afrika en het glad nie die regte klere aan nie! My hare is nie gedoen nie! Ek staan uit soos ‘n seer oog! Ek hoort met hierdie klere nie eers in die kombuis nie! Wat gaan hulle maak as hulle my sien?

Skielik kyk een van die dansers op en sien my. Hulle stop hul dans onmiddellik. Ander paartjies dans teen hulle vas en kyk ook vir my. Die musiek stop. Aarde, sluk my in! Ek wil weghardloop, maar kan nie.

Dan kyk ek af … en sien … dat … ek … ook ‘n balrok aanhet! Die mooiste, lieflikste vlootblou rok van die mooiste sy. Die lyfie is met silwer sequince versier. Ek het silwer hoë hakke aan en ‘n tiara met egte diamante op my kop. Diamant oorbelletjies. ‘n Lieflike diamanthangertjie om my nek en bypassende armband om my pols. My hare is so mooi gedoen soos wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. En ek ruik die lieflikste parfuumgeur, net genoeg om nie oorweldigend te wees nie. Ek vryf my lippe op mekaar en besef dat ek lipstiffie aanhet, dus sekerlik ook grimering. Ek staan verstom. Wat is hier aan die gebeur? Hoe het dit gebeur?

Die volgende oomblik staan die koning voor my en sê: ‘Welkom, Toortsie. Het julle Goue Vroue gearriveer?’ Toe draai hy om na sy gaste en sê: ‘Dames en here, ontmoet vir Toortsie uit Suid Afrika. Sy is een van ‘n groep dames, die Goue Vroue, wat hierheen gekom het en elkeen haar eie uitgesoekte taak gaan kry. Laat voel haar asseblief welkom. Toortsie stam uit die boerenasie van Suid-Afrika en sy en haar man het die edele taak, nes hulle voorouers reeds geslagte lank doen, voortgesit en dit hulle lewensroeping geag om voedsel te produseer, iets waarsonder geen land kan klaarkom nie. Boere in murg en been. Toortsie, ek het vir jou die balsaal se sleutel uitgekies oor jou liefde vir musiek en dans en jou stille begeerte om nog altyd ballroom dancing te beoefen. Sal jy asseblief die eerste dans met my dans?’

My moed val tot in my skoene. Ek met die koning dans? Regte egte klassieke danse? Ek kan miskien sokkiejol – two step en boerewals, dalk ‘n bietjie twist, maar hier in ‘n regte balsaal? Die dansbaan is skielik leeg en almal staan terug om die volle baan vir my en die koning beskikbaar te stel. Die musiek begin speel. Dit vul my wese. Ek en die koning staan teenoor mekaar, buig … en toe weet my voete presies wat die volgende passie is … want ‘n mens se gene het ‘n geheue.

Dit was ‘n lieflike aand.

Toortsie.

Trommeltjies is volgende.

Die Kern – ‘n Bankroof

Die Goue Vroue pak ‘n splinternuwe uitdaging aan. Dis nou, so tussendeur hulle avonture op Rebusfontein en dan is daar boonop die maandkalender waar elkeen foto’s met ‘n storie skryf.Maar hierdie, HIERDIE IS DIE ONTKNOPING VAN ELKEEN SE DIEPSTE HARTSGEHEIME.

Diep in die hart van hierdie geel bladsye vesonke lê die geheim opgesluit.

Nie eens onsigbare ink of kodifisering verbloem die geheimenisse nie. Elke vrou het haar ontblote geheim versigtig uit hierdie boek verwyder…uitgesny!

Met net mooi genoeg provokasie sal elke vrou dalk, ja dalk tóg! een vir een hulle bladsye terugskryf sodat die leser kan agterkom HOE en WAT en HOEKOM elkeen in haar eie reg geluk gevind het.

Het jy ook ‘n geheim wat jy wil uitskryf? ‘n Ware geheim of ‘n fiktiewe een? Wil jy ook graag deelneem aan hierdie uitdaging? Skryf jou storie op jou blog en haak dit aan by hierdie skakel, waar al die ander se geheime ook gebêre word.

https://fresh.inlinkz.com/p/567e0dbec3284abbacab09e8d73f276e

…………………………………………………………………….

Ek sit op die meent saam met die ander Goue Vroue en luister na almal se stories, hoe hulle hulle uitgeskeurde bladsye terugskryf, hoe hulle lewens heel geword het. Sit sommer en dagdroom so tussenin, toe Seegogga vir my die boek in my hand sit. Dit is my beurt om te skryf! Sal ek skryf van die traumas wat ek in my lewe deurgegaan het wat my lewe amper uitmekaar geruk het en hoe ek heel geword het met God se genade, die Goue Vroue en ander maters se ondersteuning, deur fanaties te hekel en te brei en te borduur en resepteboek te skryf, klavier en kitaar te speel, my hart by my klavier uit te huil, in die berg saam met my man te stap, te skryf in my bidboek?

Maar toe dink ek, nee! Ek moet vir julle hierdie storie vertel!

Ek begin vertel:

“Ek weet wie die bank beroof het. Ek ken die skuldiges! Ek weet dit al al die jare! Ek praat van die groot bankroof wat in Johannesburg gebeur het in 1970. Dit was groot nuus. ‘n Groot skok vir die hele land, selfs vir die wêreld. Niemand het geweet hoe die bankrowers dit reggekry het nie, hoe hulle so slim was en letterlik al die sekuriteit wat daar was, gefnuik het nie. En die ergste van alles, in al die jare is hulle nog nooit opgespoor nie. Die bankrowers het eenvoudig alle spore agter hulle uitgevee.

En ek loop my hele lewe lank nog met die geheim in my hart rond.

En om dit hier te skryf, stel my lewe in gevaar.

Julle het geen idee watter vrees en angs ek my lewe lank in my hart dra nie, wegsteek nie. Want niemand moet dit agterkom nie. Niemand mag dit weet nie. Die mense dink dat ek maar hierdie lawwe, loskop, mal vrou is, maar hulle weet nie watter groot geheim ek agter dit wegsteek nie. Ek praat partykeer sommer aspris lawwe dinge, net sodat mense moet dink dat dit maar weer een van my lawwe stories is, dat ek in my eie wêreld is wat ek vir myself geskep het. Sodat hulle nooit sal uitvind nie. Want hulle mág nie uitvind nie. Want van daardie mense leef vandag nog en ek ken hulle!”

Die Goue Vroue sit oorgehaal en luister.

Christa: “Toortsie, is jy ernstig? Vertel meer?”

Toortsie: “Ek was maar net agt jaar oud, ‘n ou kleine krulkopdogtertjie. Ons het gekamp op Struisbaai, met ons karavaan. Die grootmense het gekuier van tent tot tent, stories vertel, gelag, nonsens gepraat. Ons kinders mag gesien word, maar nie gehoor word nie. Ons het gespeel. Wegkruipertjie tussen die karavane. Toktokkie. Krieket.

Soms het ons sommer net gedwaal.

En dis tóé, met ‘n dwalery, wat ek dit hoor. ‘n Klomp ooms het ‘n bankroof beplan! Stukkie vir stukkie. Hoe hulle gaan maak. Wie wat gaan doen. Die rewolwers. Die voertuie. Die voorryers, die agterryers. Hoe hulle gaan kommunikeer. Hoe hulle gaan wegkom van die bank af. Selfs waar hulle die geld gaan wegsteek. Wat hulle met die geld gaan maak. Hoe hulle hulle onskuldig gaan hou. Hulle alibi. Álles is in detail beplan.

Ek het net doodstil staan en luister. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Eintlik het ek dit nie verstaan nie, want wat weet ‘n ou agjarige dogtertjie nou van banke en bankroof af? Ek het gedink dat die ooms maar net ‘n doppie te veel gedrink het, of iets.

Toe kyk een van die ooms op en sien my. Hy het my diep in die oë gekyk, stadig opgestaan en na my toe gestap. Hy het sy hand so agterom my nek gevat en my hard gedruk. Dit was seer. En hy het vir my saggies, so tussen sy tande deur gesê:

A S J Y V I R E N I G E I E M A N D H I E R V A N S Ê , M A A K E K J O U D O O D , V I R J O U E N J O U B R O E R S E N J O U P A E N J O U M A .

Trommeltjies: “Nooit!”

Toortsie: “Ek was só verskriklik bang! Dit is groot ooms! En ek wil nie doodgaan nie! En ek wil nie hê my ouers en my broers moet doodgemaak word nie!”

San: “En toe, Toortsie?”

Toortsie: “Ek het sommer see toe gestap en daar agter die sandduin gaan sit. Ek was so naar dat ek opgegooi het. Vir drie dae aanmekaar. My ma kon nie verstaan hoekom my maag so omgedolwe was nie, ons het tog niks vreemds geëet nie. Sy het gedink dat dit dalk van die son was.”

Una: “Ons arme, arme Toortsie!”

Toortsie: “Eers het daar niks gebeur nie, daar het ‘n lang tyd verby gegaan en ek het begin ontspan, maar toe kom die nuus: Daar is ‘n bank beroof in Johannesburg. Ek was van voor af siek. En bang.

Maar ek kon nie praat nie.

En niemand het gedink dat ek, ‘n agjarige dogtertjie sou weet wie dit gedoen het nie.

Maar ek hét geweet.

En stilgebly.

Tot vandag nog.”

Sonell: “So, Toortsie, jy sê jy weet wie dit was? En dat die mense nog leef?”

Toortsie: “Ja, ek het nie almal geken nie. Die meeste van daardie ooms is al dood, die een is nog in die ouetehuis. Hy moet nou omtrent by die neëntig wees.”

Frannie: “Toortsie, dink jy regtig dat hy nou nog sal onthou dat jy iets geweet het, veral dat jy ná al die jare nog nooit iets gesê het daarvan nie?”

Toortsie: “Raai, Frannie, noudat jy dit noem, ek is nou nie eers heeltemal seker of hy nog wel leef nie, ek het hom baie lank laas daar gesien. “

Positief: “Toortsie, dan dink ek nie jy hoef meer bekommerd te wees dat hulle jou iets kan aandoen nie. Maar noudat jy daarvan praat, kan jy onthou waar hulle gesê het dat hulle dit gaan wegsteek?”

Woordnoot: “Ja, Positief, NOU praat jy reg! Toortsie, waar was dit?”

Toortsie: “O aarde! Julle weet mos dat ek nie name kan onthou nie! Ek dink dit was iewers in die Karoo. ‘n Piepklein dorpie waar een van die ooms ‘n familielid gehad het met ‘n plaas. ‘n Plek waaraan niemand sou dink nie. Wag! Dis Riet … uhm … uhm … Rietvlei? Rietdam? Watter riet sal dit wees? Ek onthou dat die een oom gesê het dat hulle net moet onthou: By Rietfontein se leidam waar die reier staan en droom …”

Appeltjie: “Ek weet nie of ons daardie rietfontein uitgesnuffel sal kry nie. Hoeveel Rietfonteine is daar in ons land? En ís dit nou Rietfontein? Ons weet almal van Toortsie en name.”

Aalsie skud net instemmend haar kop. Ja, ons weet, ons weet.

Sonell: “Toemaar, Toortsie, ek dink jy kan nou maar ontspan. Dit lyk vir my die ooms wat jou lewe bedreig het, lewe nie meer nie of kan in elk geval nie meer onthou nie en om vir daai oom in die ouetehuis te loop vra, gaan ook nie eintlik help nie.”

Toortsie: “Regtig, Sonell? Dan is hierdie bladsy mos nou heel. Teruggeskryf. En kan ek die boek vir iemand anders aangee.”

Seegogga: “Ai, Toortsie, ek is regtig bly oor jou heel bladsy en alles, en soos jy sien is dit die moeite werd om oor die dinge te praat. Maar ek is darem so effens teleurgesteld dat jy nie die naam van die plek kan onthou nie. En soos ek jou ken, is die plek se naam nie eers iets met ‘n Riet te doen nie.”

Virgo: “Toortsie! Party mense kan ‘n mens mooi aantrek, maar nêrens heen neem nie. ‘n Hele bank se geld! Wat kon ons nie alles daarmee doen nie? Maar ek is baie bly dat jy nog leef om vir ons die storie te kan vertel. Dat daai ooms jou nie iets aangedoen het nie.”

Verlig dat hierdie nare storie uiteindelik lug gekry het en Toortsie verlig is dat sy ontslae is van die groot las wat sy al die jare moes dra, dat haar stukkende bladsy in die boek teruggeskryf is, sit sy terug in haar stoel en wonder vir wie sy die boek volgende kan gee?

…………………………………..

Ns. Suiwer verbeelding van die Toortsie. Niks hiervan is waar nie.

Blommetjie

Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.

Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.

As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

“Kameel, kom in! Kameel, kom in!”

“Toortsie, wat gaan nou met jou aan? Hoekom bly jy sê, ‘Kameel kom in?’ Waar moet Kameel inkom?”, vra Una.

Christa, wat mos ook op ‘n plaas grootgeword het, snap dadelik wat aan die gang is. Dis tweerigtingradiotaal! “Hoekom roep jy vir Kameel, Toortsie?”

“Want sy beter Rebusfontein toe kom en kom kyk na haar goed. Haar huisie het haar liefdevolle sorg nodig. Kyk nou net hoe lyk haar Bommetjiekoei, te pragtig geverf en jy kan maar net raai wie se werk dít sal wees. En toe sy weg is, het sy my gevra om na een of ander ander diertjie van haar te kyk. Tot vandag toe weet ek steeds nie watter diertjie dit is nie. Ek kan ook nie sy naam onthou nie. Hoe moet ek weet vir wie ek moet roep? Hier is in elk geval so baie diere, ek kan nie byhou nie. Nie dat dit my pla nie, ek sê maar net. Dis honde en katte en donkies en koeie en feetjies en dan was hier ‘n uil op ‘n stadium, dink ek, maar hy is weg. Die diere kom en gaan nes hulle wil en ek kan nie bybly nie. Dit is hoekom ek ‘n donkie het. Santie. Want donkies hoef nie heeldag opgepiep te word nie, hulle wei sommer self.”

“Toortsie, moenie bekommerd wees nie”, antwoord Una. “Iemand sal na hom kyk, ek is seker, maar ek mis ook vir Kameel. Het jy nou al reggekom met die Guacamole?”

“Watse goed?”

“Guacamole. Die avosmeer wat jy wil maak?”

“O, die Guacamole. Nee. Ek het dit gemaak, maar sommer weggegooi. Nee. Dit gaan ek nie vir julle gee om te eet nie. Regtig nie. Smaak ontbreek. Tekstuur ontbreek. Gelukkig het ek tog baie avokado’s saamgebring. Dit kort room en … ag, ek sal nog dink. Dit kort lyf. Ek sal ‘n heel ander avosmeer maak. Iets wat lekker is. Iets wat ‘n naam het wat ‘n mens kan uitspreek. Wat boeremense ook kan eet. Lekker en ryk.”

“Ag nee, Toortsie, het jy dit regtig weggegooi? Gaucamole is héérlik! Ek wou jou nog kom help het daarmee”, sê Trommeltjies “Ek is net so lief vir Gaucamole”, sê Woordnoot.

San, ons Omgee Goue Vrou, sien vir Aalsie raak. Wat is jou naam? Hoekom lyk jy so entoesiasties?

“Jong, hier op Rebusfontein gebeur altyd iets! Jy moet altyd gereed wees vir ‘n verrassing! Ek kan nie WAG om te sien wat, ag, ons weet tog wie, met Blommetjie aangevang het nie!”

“Wie is Blommetjie?” vra San

“Blommetjie is Kameel se koei. Seegogga het haar blykbaar geverf.” Antwoord Positief. “En soos ons nou al almal weet, sal dit nie sommer net ‘n groengeverfde koei wees nie, dit sal ‘n kunswerk wees. Iets uit ‘n ander wêreld.”

“Ja”, sê Sunell, “Verwag die pers binnekort hier, San.”

“Die pers?” vra San.

“Ja, die pers, want al wat TV en koerant en Facebook en Instagram en en en -verslaggewer is, sal nou weer wil kom foto’s en video’s neem van Blommetjie, die bont koei”, antwoord Sunell.

“Dis presies net so”, antwoord Frannie. “Die Goue Vroue bly maar net in die nuus. Sjoe!, ons het destyds pret gehad toe die Barnum Sirkus van ons gehoor het.”

“Die Barnum Sirkus?” vra San.

“Ja! Ons was almal deel van die sirkus, maar Una was eintlik die hoofkarakter.” sê Scrapydo. “Ons sou seker nog lank getoer het saam met hulle, maar toe het die tent mos ontplof.”

“Ontplof?” vra San

“Ontplof, ja. Jy weet, ‘n mens trek mos altyd ‘n vuurhoutjie as daar ‘n vreemde klankie is …”

“Ja, ‘n vuurhoutjie werk die heel beste,” antwoord Virgo. “Dis die veiligste om te doen. Maar wie sou nou dink dat ‘n olifant …”

“Jy bedoel, ‘n olifant? En toe het die tent ontplof?” vra Appeltjie geskok. Sy was daai tyd ook nog nie een van die Goue Vroue nie.

Die volgende oomblik sien ons vir Blommetjie, kleurvol en vrolik en ons staan in verwondering. Só mooi! En Seegogga met ‘n verfkol hier en daar, staan in afwagting. “Wat sê julle? Hoe lyk Blommetjie?”

“Oeeeee, wat sal Kameel hiervan sê?” vra Una saggies.