Wildsvleis en Roerbraai vir Banting

Hoe dom kan ‘n Toorts nou wees!? Vleis is mos die ideale kos as jy Banting doen!

Maar wat is die lekkerste vorm van wildsvleis? Wildsvleis afgekook met rys en appeljellie? Springbokfillet op die kole gebraai? Wat van ‘n springbokboud in die pot gaargemaak? Biltong? Wildspastei?

Ek kook ‘n hele pot koedoebene af met die gedagte om pastei te maak… oe oeeee… nie baie Banting vriendelik nie… 😦  Terloops, noudat ek aan Banting-vriendelik dink, die mosterdsous wat saam met beestong kom, het suiker en meel in.  Ek het al gewonder, sal ‘n mens ‘n mosterdsous kan maak met room? Wie weet?

Terug by die koedoebene.

Romerige koedoevleis 20150511_124108[1] Kook die koedoebene in genoeg water af, baie baie stadig kook, met sout en peper en Worcestersous, koljander… ag enige geurmiddels waarvan jy sal hou. ‘n Bietjie asyn ook.

Kook dit stadig totdat die vleis van die bene af val. Onthou, the closer to the bone, the sweeter the meat. 🙂 (Of so iets, my skoonma het dit altyd gesê.)

Sny een pakkie bacon in stukkies en braai. Gooi by die wildsvleis. Regte varkvet wat stadig uitgebraai is natuurlik ‘ n WENNER!

Haal die bene uit en sny die vleis fyn. Gooi ‘n bietjie blatjang by en ‘n blikkie room. As dit ‘n groot pot vleis is, sommer twee blikkies room! Die room mag maar duidelik sigbaar wees. (My dogter fluister vir die meisie wat haar help, dié het seker gefrons oor die room, “My ma doen Banting, sy gooi room oor Alles. Letterlik Alles.)

Al wat ek weet, nog nooit het wildsvleis vir my só lekker gesmaak nie. Bedien met groente.

…………………………………………………………………

Ek staan in die ry by Checkers om te betaal, toe staan die dame van die apteek agter my met beesvleisrepies, ‘n pak roerbraaigroente en ‘n pakkie Sweet&Sour sous. Sy vertel vinnig vir my hoe sy die roerbraai gaan maak. Weer eens is die ou probleem daar: Dis juis die sous wat die roerbraai so lekker maak!!?

Hier is die Toortsie weergawe van die roerbraai. (Dit was gemaak vir twee persone, maar op die ou end het vier volwassenes en twee klein kindertjies daaraan geëet. Niemand was oorvreet nie, gehoor!)

Romerige Beesroerbraai (binne 10 minute kos)

Braai 1 of twee uie in botter Braai sommer saam met die ui die beesvleisrepies, soveel soos benodig. Moenie dit te gaar maak nie.

Gooi ook die pak bevrore roerbraaigroente van jou keuse by en roerbraai dit vinnig.

Geur soos jy dit verkies met sout, peper, dalk Aromat (ek weet mens moenie!), ens. Gooi ‘n blikkie room oor.
Geniet! Groete Toortsie

Banting resepte op Pinterest

Ons faceboekblad, waar ons interessante bloginskrywings plak.

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad

Bestel Toortsie se Bantingboerekosboek HIER

12718121_1537873029840317_5777716569469283944_n

11 thoughts on “Wildsvleis en Roerbraai vir Banting

  1. Al die gepraat van room laat my mond water. Ons klomp vrek oor room, maar met die jongste saam wat laktose intolerant is en met refluks spook is die bederf nou iets wat min hier gebeur. Wel in elk geval nie sonder dat ons agterna spyt is oor die vergryp nie. Sug, nou sal ek maar vir eers moet lees van ander se heerlike idees met room. Die resepte klink heerlik.

    Like

  2. As ek so lees besef ek my arme man mis baie uit….. maak nie meer soveel moeite met kos nie 🙂 Dink ek moet hom bietjie vir jou stuur dat hy room kan eet…. hy sal ook graag room oor alles wil gooi. Ek sal dit vir hom doen maar weet hy sal nooit sy stysel los nie. Dus…. roomloos vir hom!!!!!

    Like

    1. Die groot geheim is, en dis nou regtig moeiteloos, hou GENOEG blikkies room byderhand. Vars room is seker beter, maar vir my op die plaas werk die blikkies, of die “long life” houertjies. Koop sommer 7 op ‘n slag!

      Liked by 1 person

    1. Ek weet nie. Ek dink mens moet vinnig werk en dit maar nie te gaar maak nie. Amper net skrikmaak. O ek is nie ‘n kenner nie. Amper als gelyk braai en as dit gaar is is dit reg. Dadelik eet.

      Liked by 1 person

  3. Die kosmaak hier by my het bietjie verbeter noudat ek n loseerder het en ek 3 aande aandete moet verskaf. Ek werk maar uit n kookboek (in Afrikaans) As ek sommige kruie of bestanddele wil gebruik volgens resep moet ek eers die engelse naam opsoek. Vat my maklik n week om voor te berei, ha ha. Gelukkig begin ek dit nou geniet om te te doen. Nou eet ek self ook beter!

    Like

Gesels saam, asseblief!