Toorts se Toeka Tokkel oor Ouers vra

Ek weet nie of Ouers Vra nog ‘n algemene gebruik is nie, maar hier onder ons boerenasie gebeur dit nog. Ag, die kinders sal in elk geval trou of saambly, of ons nou daarvan hou of nie.

Tog dink ek dis ‘n baie goeie gewoonte om ouers te vra en ek wil dit ernstig vir die jongmense aanbeveel.  Hoekom? Want jy trou (hopelik) vir ‘n leeftyd. Dis immers waarvoor huwelike gemaak is… tot die dood ons skei. Jy trou ook met die familie, of jy dit wil erken of nie. Jy beplan tog nie om die res van jou lewe in afsondering te bly nie? As jy die goedkeuring en ondersteuning van jou ouers het, maak dit alles soveel makliker.

Toe ons getrou het, was die ouers vra niks opwindends nie. Ons was eers by sy ouers, en sommer aan die etenstafel het my man vir hulle gesê dat ons beplan om te trou. Hy hoef seker nie vir hulle te gevra het nie, maar uit respek was dit die regte ding om te doen. Ek dink dit was meer ‘n “in kennis stel”.

Ons was by die see vir die nuwe jaar en een aand ná ete het my man toe ook vir my ouers gevra of ons kan trou. Ons het darem op daardie stadium al amper 4 jaar uitgegaan! Almal het dit eintlik verwag dat dit enige oomblik kan gebeur. My ma het dadelik ja gesê, en wou sommer net daar vir Uwe Koethe bel om ‘n ring te bestel. Kan jy dit oorvertel! Ons het haar kalmeer en gesê dinge is uitgesorteer, dankie. My pa het nie geantwoord nie, ek dink nie hy het die geleentheid gehad nie.

Intussen het ons lewens aangegaan en hier by Maart rond besluit ons toe op ‘n troudatum en ons het ons ouers laat weet. Een dag, uit die bloute, lui die foon. Dit was my pa. Hy wil net sê dis reg, ons kan maar trou. Hy het nog nooit ja gesê nie, maar sy antwoord is ja. Dit was ongeveer April!

Ons seuns het albei vir ons kom sê wat hulle planne is en plegtig gaan ouers vra, elkeen op sy eie manier.

My ma het op die ouderdom van 76 weer besluit om te trou. Een aand het hulle gebel om te sê hulle kom die volgende dag na ons toe. Toe kom vra hulle “ouers”. Hulle het vir elkeen van die kinders gaan toestemming vra! Hoe mooi is dit nie?

Groete

Toorts

In opdrag van Scrapydo

8 thoughts on “Toorts se Toeka Tokkel oor Ouers vra

  1. Dis nou pragtig om die kinders te ken in so n groot besluit. Ek sal ook beslis my seun gaan vra as dit so sou wees. Dis vir my ook n pragtige manier om respek te wys vir ouers. Dankie vir jou bydrae dis besonders mooi

    Liked by 1 person

    1. Aanvanklik het die tweetjies so weggeloop met hangskouertjies. Ons het ja gesê maar ons was nie vreugdevol nie. Twee vriendinne het, toe ek vir hulle vertel van die troue, gesê hoe goed dit is. Dadelik het ek vir elkeen ‘n sms gestuur en gesê dat ek baie bly is oor die troue en dat ek dit 100% ondersteun, iets waaroor ek nooit spyt sal wees nie.

      Like

    2. Ek was ook baie dankbaar dat hulle die huwelik verkies het, terwyl die kleinkinders op daardie stadium op trou-stadium begin staan het. Daardeur het hulle gewys dat ons familie die huwelik hoog ag.

      Like

  2. Sjoe, sjoe ek hoop nie ek hoef ooit by my kinders toestemming te gaan vra nie 😯 My skoonseuns sal my al my dae gee. Dit was mooi van jou ma om julle in haar besluit te ken.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!