Dominee

Daar tussen die mielielande vertel ‘n vriendin op ‘n dag vir my dat sy dié Sondag tydens die diens, uit een van die susterskerke gestap het omdat die senior predikant tydens sy preek, op ‘n neerhalende wyse van die horrelende borrelende Baptiste gepraat het.  Soos in die dae van my rebelsheid staan die wilde perd dadelik op sy agterpote, en skop verwoed teen my ribbekas.  Maar dan gaan lê hy weer, en ek gaan aan met my besige lewe.

Die stil kind se koms maak dit nodig dat ons ‘n groter huis moet kry.  Ons trek in ‘n vierslaapkamer huis in, en een van die verwers vertel my dat die huis aan ons linkerkant ‘n pastorie is.  Dit is gou duidelik dat dit dieselfde predikant is waarvan my vriendin gepraat het.  ‘n Paar dae later sien ek Marlé, en Kenneth met ‘n ouerige man oor die heining gesels.  Toe hulle later inkom vertel hulle dat die dominee hulle geroep het om te hoor in watter kerk ons is.  Weer voel ek daardie bekende skop in my binneste.

Een oggend vroetel ek in die tuin; toe ek later my hande wil was, vind ek uit dat daar nie water is nie.  Ek wik, en weeg ‘n oomblik en stap dan pastorie toe.  Ek lui die klokkie.  Dieselfde man wat ek by die heining gesien het maak die deur oop; lank en waardig staan hy daar.  “Goeiemore dominee, “ek is kameel, en bly hier langsaan.”  Ek lig my modderhande op “ons het nie water nie, wou net uitvind of dit oral afgesny is, en of net ons die probleem het.”  “Ek sal gou gaan kyk,” sê hy, en verdwyn in die huis.  Hulle het water.  Ek draai om, en wou net wegstap toe ek iemand in die kombuis hoor werfskaf.  “Is u vrou hier, ek sal haar graag wil ontmoet.”  Ek weet nie wie is meer verbaas, ek of hy, oor die onverwagte versoek nie.

Die vrou wat ‘n rukkie later deur toe kom is kort, mooi versorg, en baie vriendelik.  “Was gou jou hande daar by die buitekraan, dan kom jy in vir ‘n koppie tee.”  Die huis binne getuig van duur en goeie smaak.  Oral staan die pragtigste kerse rond.  Kameel is net kameel, en ek vertel haar hoe mooi alles vir my is.  Sy lag ‘n moederlike lag, en sê sy sal my leer kerse maak as ek belangstel.  Dominee kom in, gaan sit op ‘n leunstoel, en neem die tee wat sy vrou hom aanbied.  “In watter kerk is julle?” vra hy.  Ek kyk hom vierkant in die oë.  “Dominee, ek praat nie kerk nie.  Ek is ‘n wedergebore, bloedgewaste kind van God, en dit behoort vir u genoeg te wees.  Praat met my oor Jesus, en ek sal vir ure met u oor Hom gesels…..maar kerk dié praat ek nie.”

Vir ‘n oomblik is alles doodstil, dan praat sy vrou asof daar geen onderbreking was nie.  So tussen ons gesels deur staan dominee op, en loop stilweg by die vertrek uit.  Die ouer vrou wat my ma kon wees, gesels asof ek ‘n hartskind van haar is.  Ek het dit nie toe geweet nie, maar sy sou tot met hulle aftrede ‘n paar jaar later, ‘n engel op my pad wees.  Dit is by haar waar ek my hart gaan uithuil het toe my familie my veroordeel het omdat ek Chanté ingeneem het.  Sy het my geleer dat gehoorsaamheid aan God belangriker as enigiets anders is.  Sy het Jesus se gesig vir my kom wys.

Net so stil soos hy verdwyn het, kom sit dominee weer by ons.  Hierdie keer is dit hy wat my vierkant in die oë kyk.  “Ek het gaan dink oor wat jy gesê het, en jy is reg.  Wat maak dit saak aan watter kerk iemand behoort.  Die belangrikste vraag is, is jy ‘n wedergebore kind van God.”  Ons glimlag vir mekaar.  In die jare wat kom sou ons baie oor Jesus gesels.

Een aand lui ons voordeur klokkie; Ken maak oop, en daar staan dominee en een van sy ouderlinge.  Hy glimlag breed.  “Ons is op huisbesoek.  Ek sê vir die broer hier, ek wil jou gaan voorstel aan twee kinders van God.  Hulle is nie in ons kerk nie, maar watwou, ons gaan drink by hulle tee, en gesels lekker oor die Here.”  Wat ‘n heerlike huisbesoek was dit nie!!!

‘n Nuwe pastorie is gebou, en net voordat hulle sou intrek begin my engel aanhou ons moet in die ou pastorie intrek.  “Kameel,” sê sy vir my, “ek sal so bly wees as ek weet dit is jy wat my bidkamer (‘n stoep wat met glas toegemaak is) gebruik.”  So word die ou pastorie ons huis vir die volgende vyftien jaar.

Ek sal altyd met groot deernis aan hierdie twee mense terugdink.

31 thoughts on “Dominee

        1. Die BESTE een om oor te kekkel is jyself, dink ek. Dit doen ‘n mens die maklikste, jy ken jouself die beste,en uit jou eie ondervinding kan jyself ook leer, en baie ander! 🙂 Nee wat, vertel! Ons is nie so vol nonsens hier nie. (net soms 😉 )

          Like

  1. Weet jy, ek dink dit was ‘n onskuldige vraag. Natuurlik maak dit nie saak in watter kerk ons is nie, maar dis ‘n vraag soos: Wat doen jy vir ‘n lewe? Watter werk doen jy? Waar werk jy? Is jy getroud? Alles vrae wat in die verlede nie ‘n krisis was nie, vrae wat regtig net vrae is en wat maak dat mense onnodig op hulle perdjies spring. Vrae om die gesels aan die gang te kry.
    vir my in die platteland is dit geen vreemde vraag nie. Is jy in die NG kerk? of in die….? Want as jy in ons kerk is, wil ons jou betrek in ons kerk se bedrywighede. As jy in ‘n ander kerk is, stel jy dalk nie soveel belang om in ons kerk se bedrywighede deel te neem nie.

    Like

    1. Toorts liewe Toorts wat reguit op die waarheid sê

      Ek is self skuldig daaraan dat ek sommer self besluit hoekom jy nou eintlik vir my iets vra in plaas van dat jy dalk net ‘n aanknopingspunt vind.

      Dankie – ek het hierdie woorde nodig gehad vandag.

      Like

    2. Toorts vanaf die oomblik van my bekering het ek my vasgeloop in mense o.a ‘n baie bekende NG Predikant wat my reguit vertel het ek gaan hel toe as ek my groot laat doop. Deur al hierdie veroordelende vingers heen, het ek geleer om net na Jesus te kyk, want tot in ons eie kerk is ek vertel ek is te liberaal.
      Dit mag ‘n onskuldige vraag gewees het, maar het ek hom geantwoord “Baptiste,” wetend dat hy veroordelend teenoor die kerk staan, sou die gesprek miskien ‘n heel ander wending aangeneem het. Deur hom na Jesus te verwys is daar ‘n platvorm geskep waar ons vrylik met mekaar sonder onnodige haakplekke kon praat.

      Like

  2. Flippet Kameel – dankie vir hierdie !!! Ons is besig met ‘n ongelooflike omwenteling wat die denkwyse rondom kerk en kategese en diesmeer. Dit is so hartseer om te sien hoe mense vasklou aan die dogma en die bottomline van die hele proses mis.

    Like

    1. Vlooi as jy eers daardie vryheid ondervind, kyk jy nie weer om nie. Ek het ‘n interkerklike bybelstudie gelei, en dit was wonderlik om die Here saam te aanbid…. maak nie saak of die een klein, en die ander groot gedoop is ens nie. Een voor God!!!

      Like

  3. Kameel dikwels word God se koninkryk gereduseer tot die kerk, terwyl sy koninkryk baie groter is. Ek het self familie wat baie seergekry het in die kerk en my hart bloei vir hulle. Ek herinner my aan ‘n kollega vriend se woorde “Moenie dink omdat mense stupid goed oor God kwytraak, God is stupid nie.”

    Like

    1. Laat U koninkryk kom….. dit is waar my passie lê…. die uitbreiding van hierdie wonderlike koninkryk van God, wat soveel groter is as ‘n spesifieke kerk.

      Like

  4. So ‘n ongelooflike mooi en waar storie. Ek wens net meer mense wil so daaroor dink. Dit is nie waar jy tot God bid nie, dit is nie saam met wie jy God aanbid nie….dit gaan oor die feit dat jy God aanbid.

    Like

    1. Dit is soos ek ook glo Demoerin. Begin kerk praat en kort voor lank is daar haakplekke. Aanbid God as een, en daar is eenheid, broederskap, en liefde.

      Like

  5. nou hiervan hou ek nou baie … dankie vir die deel ..!!

    en ja – my pa ken ook vir die onse willie oom … mmm …

    ek en my man gaan ook nie meer na die kerk met die bakstene toe nie … maar vir Liewe Jesus het ons lief ja … en Hy vir ons … 😉

    Like

Gesels saam, asseblief!