Ek en my eie worstelinge

As daar iets is waarvoor ek regtig dankbaar is, is dit TPM (Transformation Prayer Ministry) wat God oor my pad gebring het. Ek is dankbaar vir die wonderlike verandering wat dit in ander mense se lewens bring, maar ook dat ek dit op myself kan toepas en dit dan totale veranderinge in my eie hart bring.

In die afgelope tyd het ek ‘n paar keer by kruispaaie te staan gekom. Wat moet ek maak? Terwyl ek totaal onseker staan en dink wat ek moet doen, ‘tag’ iemand my op FB, ‘Follow the Shephard, not the flock.’ Net daar gaan doen ek TPM op myself waar God vir my direkte antwoorde gee. Prysenswaardig.

Nog ‘n keer word ek na die TPM-tafel geroep. Ek voel so onseker, my lewe lank praat ek op verkeerde tye, en hou mense nie daarvan nie, word ek dan van lelike goed beskuldig. Dit maak my onseker, steel my borrelende persoonlikheid, laat my onttrek van mense uit vrees dat ek sê wat iemand nie WIL hoor nie.

God wys my deur TPM dat daardie gevoel spruit uit my kinderdae, toe ek as kind hardop gevra het wat al die volwassenes agter hulle hande gefluistervra het. 😱

Ek moes geweet het om stil te bly!

Ek is DOM!

God wys my dat ek nie dom is nie, maar gedoen het waarvoor ek geroep is: Om die waarheid te praat. As dit nie moes uitkom nie, moes die grootmense mos stilgebly het!

Dis vir God kosbaar dat ek die waarheid praat en dis juis waarvoor ek geroep is omdat mense nie meer die waarheid praat nie en ook nie daarvan hou as iemand die waarheid praat nie. En dis okay, want ek moet God gehoorsaam, nie mense nie.

Skielik voel ek nie meer dom nie, want ek is eerlik en gehoorsaam en praat die waarheid soos wat God my geroep het om te doen.

Op ander vrae wat ek ook gehad het oor moeilike dinge wat God van my verwag om te doen, het Hy ook geantwoord, dat Hy my kan vertrou daarmee, daarom moet ek dit doen, al is dit vir my moeilik.

Ek voel verlig en vry om weer my borrelende self te mag wees, want dán is mense gemaklik rondom my, wat hulle nie is as ek gespanne is en elke woord eers tien maal moet tel nie.

God het vir ons ons persoonlikhede gegee en ons moet dit lééf, dis al wat Hy van ons verwag.

Toortsie

TPM Riversdal en Bredasdorp

Kameel – Sing met ‘n padda in die keel

Ken is weg Suidkus toe om vir ons seun en sy familie te gaan kuier. Dus is ek vir ‘n week of wat alleen in die Voëlnes. Vanoggend doen ek soos gewoonlik my stiltyd maar met een groot verskil… ek kan weer hardop met die Here praat. Ek vertel Hom ek dink Hy is Awesome en wat nog meer, en lag toe ek vir Hom sê die Skrif sê vanoggend “Sing a new song to the Lord,” maar ek weet werklik nie of Hy dit wil hoor nie.

My stem was nog nooit goed nie, dit het die sangonderwyseres in standerd vyf my goed laat verstaan; maar dit het my nie gekeer om daar tussen die mielielande, vir ‘n uur in die bad te lê, en uit volle bors vir die Here te sing nie. Maar met die ouderdom saam klink dit al meer asof ek ‘n padda ingesluk het.

Nou goed, sê ek vir die Here, ek gaan nie ‘n nuwe lied vir Hom sing nie maar Hy weet hoe lief ek Hom het, en gaan vir Hom een van my gunsteling liedjies sing, en heel krakerig val ek weg met

“I love You Lord

And I lift my voice

To worship You

Oh, my soul rejoice,

Take joy my King

In what You hear

Let it be a sweet, sweet

Sound in Your ear.”

By nou sou my kinders al lankal hulle ore toegedruk het. (Hulle sê my singery in die oggende wanneer ek hulle wakker gemaak het was ‘n straf.) Ek sê toe maar vir die Here dit was nou nie baie goed nie, maar ek hoop Hy het dit geniet.

Net toe kom hierdie whattsapp van ‘n vriendin deur. 😀😀😀😀

IMG-20180415-WA0002

Geniet julle dag!!!

 

‘n Onwillige Gas

My kleindogter se troudag breek sonskynhelder aan. Ek is bly vir haar maar my gemoed is swaar; ek wil nie vandag by diè troue wees nie. Ek het ‘n geldige rede gehad om die uitnodiging van die hand te wys – reëlings vir ‘n drie weke kuier by ons seun aan die Suidkus was reeds getref – maar ek het soos die Engelse sê, ‘n “gut feeling” gehad dat ek by die troue teenwoordig moet wees. Hoe nader die troudag gekom het, hoe meer het ek daarna opgesien, en hoe meer dikwels het ek met Jesus daaroor gepraat.

“Jy lyk mooi,” sê Ken vir my oppad troue toe. Komende van hom is dit ‘n groot kompliment; hy is nie een wat heeldag loop en mooipraatjies maak nie. Maar tot dit laat nie my hart rustiger klop nie. “Gaan hierdie troue ‘n herhaling van Timothy s’n wees?” wonder ek. Timothy, my liefdeskind wat ek vir vyf jaar grootgemaak het. Ek, die biologiese ma wat op sy troue sonder woorde duidelik gewys was waar ek hoort. En vandag trou sy dogter. By die troulokaal aangekom neem ek myself voor om so vêr moontlik op die agtergrond te bly.

Ons stap met ‘n kronkelpaadjie deur die veld; hier en daar hang ‘n bottel met ‘n wit blom in, maar ek verlustig my nie aan die mooi soos ek andersins sou nie. Voor ‘n klipkerkie staan ‘n klompie mans in aandpakke, maar ek het net oë vir Timothy wat lyk asof hy uit ‘n modetydskrif gestap het. My hart swel van trots oor die aantreklike seun van my. Ons lag oor die bier wat hy in sy hand vashou. “My senuwees is klaar,” sê hy, en aan sy stem kan jy die hartseer van ‘n pa hoor wat sy enigste dogter aan ‘n ander man moet afgee. Met die wegstap sê hy vir my, “Ma gaan sit asseblief voor in die kerk, nie agter nie.”

Ons gaan sit vier rye van voor in die kerkie met sy hoë openinge waardeur die lig pragtig skyn. ‘n Ruk later kom Timothy se grootmaakma, en haar kinders ingestap en gaan sit regsvoor. Sy staan op toe sy ons sien, en kom groet. Dit is ‘n mooi gebaar van ‘n vrou wie my deur die jare nie besonders goedgesind was nie. Die minute tik verby; die kerk vul met mense, en dan begin die troumars speel. ‘n Vinnige blik na die bruid sê vir my wat ek reeds vermoed het; haar swart hare hang lank en los, en ‘n trourok laat haar nie mooier lyk as wat sy altyd is nie. Kort voor haar troue het sy haar oupa – wat êrens op ‘n Griekse eiland bly – probeer opspoor. Ek kon haar nie meer inligting gee as wat ek jare tevore vir Timothy gegee het nie. Sy was teleurgesteld, en ek het haar met diè woorde probeer troos, “If you want to know what he looked like when he was young look in the mirror…. you are his split image.” Dit is egter op Timothy wat my oë vasgenael bly. Die emosie op sy gesig maak my hart week; die trane wat hy so hard probeer terughou vind weerklank in my eie hart.

Ek het nie geweet wat om van ‘n Mormoontroue te verwag nie, maar alles verloop normaal. Die man wat hulle trou was blykbaar ‘n ou vriend van die bruidegom se pa gewees. Aangesien ek nie weet hoe hulle aangespreek word nie, noem ek hom van hier af “die prediker.” Na die roosblare gestrooi, en gelukwensings mildelik uitgedeel is word die bruidspaar weggeraap om fotos te gaan neem. Weereens stap ons met ‘n kronkelpaadjie dieper die veld in, en kom by ‘n gebou uit wat soos ‘n kasteel lyk. Onder die groot bome in die tuin is daar tafels en bankies waar mense reeds lekker sit en gesels. Ken gaan haal vir ons “punch,” en ons gaan sit by ‘n leë tafel.

Nie lank nie of Timothy se grootmaakma kom sit by ons. “Daar is ‘n rede hoekom ek jou vandag in die kerk gegroet het,” sê sy, “ek wil vrede maak.” My hart hou nie “grudges” teen haar nie, maar heel duidelik het sy nie vrede in haar hart teenoor my nie. “Jy het mos vir Timothy en Amile afgeteken” praat sy verder. Ek skud my kop, “Nee, ek het hulle nooit afgeteken nie, Andrè het alles met ‘n spul leuens verdraai, en met hulle gevlug.” “Ek was vertel jy het hulle afgeteken,” Is dit werklik nodig om die hartseer van die verlede oop te grawe? wonder ek, maar besef dat sy dinge op haar hart het wat pla. Sy wys na ‘n operasiemerk op haar nek, en sê dat dit te danke is aan Marlè wat op vyfjarige ouderdom van haar weggeneem is. Ons gesels daaroor maar vind dit onmoontlik om ons pad tussen die leuens deur na die waarheid te vind. Sy gesels verder oor meer persoonlike sake tussen haar en Andrè, en voordat sy opstaan om te loop vra sy my een guns; sal ek asseblief vir Marlè vra om haar te kontak. Dis ‘n redelike versoek, maar een wat my laat verstar. Vir negentien jaar noual praat ek en Marlè glad nie oor haar verlede nie. Sy het die deur op haar pa en broers toegemaak, en nie eers toe Andrè dood is, het ek die moed gehad om haar daarvan te vertel nie. Ek probeer dit aan Timothy se grootmaakma verduidelik, maar sy vat nie “nee” vir ‘n antwoord nie, en ek gee haar my woord dat ek vir Marlè sal vra.

Die prediker kom sit by my en Ken, en kort voor lank gesels ons land en sand. Hy lag heerlik toe ek hom vertel dat ek vir God gesê het ek is nie ‘n baksteen nie, en vir jare diè spesifieke gedeelte uit die Skrif vermy het. Tussen die gesels deur gaan haal Ken vir ons – vanaf ‘n pragtig gedekte tafel – die heerlikste sjokolademoes koek. Eers later sou ons uitvind dat dit die troukoek was waaraan ons so heerlik gesmul het. Gelukkig was ons nie die enigste sondebokke nie!!!

Die bruidspaar keer van hul fotosessie af terug, en die familie word nader geroep vir die neem van fotos teen ‘n ruwe ou klipmuur. Ek bly op die bankie sit. Timothy wink ons nader, maar ek skud my kop. Hy vat egter nie “nee” vir ‘n antwoord nie, en verhef sy stem. Gedweë staan ek en Ken op en gaan staan voor die kamera. Met ‘n liggaam so styf gespan soos ‘n snaar, staan ek langs Timothy en glimlag stram vir die kamera. Uiteiendelik is dit verby, en kan die fees begin. Die gaste stap die kasteel binne en neem hulle plekke by kersverligte tafels in. Ons sit aan dieselfde tafel as Timothy se grootmaakma en haar kinders. Die dame aan my regterkant is die bruidegom se tannie; ‘n jolige, plat op die aarde vrou, met wie ek sommer dadelik kliek.

Die onthaal verloop vlot. Ons luister na – gelukkig nie te lang “speaches” nie – drink heildronke, en eet. Of beter gestel, die ander eet en ek kyk toe. Timothy bring die bruidegom se ma na ons tafel toe, en stel haar aan my voor. Sy is ‘n pragtige blondekop vrou, sprankelend en vol lewe. Sy begin dadelik Timothy se aantreklikheid en deugte besing, en sê sy is so jammer hy is getroud want sy sou hom baie vinnig opgeraap het. “I would not have given you permission,” ontsnap die woorde my mond. Timothy gooi sy kop agteroor en lag hartlik voordat hy my ‘n stywe druk gee en sê, “No, she would not have given her permission.”

Heelwat later kom Timothy met die prediker na ons toe aangestap. “Let me introduce you to my mother,” sê hy, maar voordat hy tot die daad kan oorgaan val die prediker hom in die rede. “We have already met,” en voeg by, “You have a very special lady for a mother.” “Oh, that I know,” sê Timothy. Die woorde pof my nie op nie, inteendeel dit maak my nederig voel. Ek besef dat ‘n Hoër Hand hier aan die werk is.

Die vloer word geopen, en by die derde dans besluit ek en Ken om huistoe te gaan. Ons wil die volgende oggend vroeg Suidkus toe ry, en nog niks is gepak nie. “Bly, dan gaan haal ek die kar,” sê Ken en nadat hy gegroet het, verdwyn hy by die deur uit. Ek stap so onopsigtelik as moontlik na waar Timothy op die dansbaan met ‘n klein dogtertjie dans. Toe hy hoor dat Ken die kar gaan haal het sê hy dit is onnodig, hy sal saam met my tot bo by die parkeerterrein stap. Toe ons die dofverligte tuin betreë vat Timothy my hand. ‘n Behaaglike gevoel van behoort trek deur my. Al waarvan ek bewus is, is sy warm hand om myne en sy wonderlike teenwoordigheid hier dig langs my. Die musiek verdof in die agtergrond, die nag vou om ons en vir ‘n paar kosbare minute is dit net ek en my seun op hierdie aarde. Met die grondpad onder ons voete, en ons stemme wat in die naglug opklink belewe ek ‘n stukkie hemel op aarde. Te gou is dit verby en kom ons by die parkeerterrein aan. Ons groet, en toe die motor wegtrek swewe ek nog in die lug rond. Ja, my kleindogter het getrou en alles het goed afgeloop, maar hierdie troue was meer as dit; God was ongetwyfeld aan die werk in lewens hier vandag. En ek, die onwillige gas gaan diep dankbaar en uit haar sokkies uit geseënd huistoe.

Drukkies en Soentjies

‘n Paar oggende gelede kom Jay haar sitkamer binne en dié prentjie begroet haar. Negejarige Josh se opgestopte leeu en teddie – die een se oor en die ander se been is oopgeskeur – lê netjies toegemaak onder ‘n kombers, met ‘n nota daarby. Die nota lees:
“Maak ons reg asb! ñ
Rewards
:  10 drukies
:  10 soene vir
mom
Natuurlik het Jay se hart gesmelt van liefde. Josh weet hoe lief sy ma vir drukkies en soentjies is, en moet die knapie nie weggooi nie; hy geniet dit net so. Hy kon as “Rewards” gesê het hy sal van nou af sy kamer netjieser hou, of nie droom wanneer hy moet oplet nie, of sy groente sonder ‘n gekerm eet. Maar nee, hy ken sy ma se hart.
Dit het my laat dink aan ons verhouding met God. Hy wil hê ons moet met vrymoedigheid die stukkende dinge in ons lewe na Hom toe bring en Hom vra om dit heel te maak. Hy verwag nie van ons “Rewards” deur werke waar ons belowe om ons bybel meer dikwels te lees, of beter lewens te lei nie. Nee, as ons sy hart ken sal ons weet Hy vra ons drukkies en soentjies; vrywillig en met oorgawe gegee.

Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas

Vir vyf aande het hierdie ouma vir haar ses, en driejarige kleindogters eers ‘n bybel en dan ‘n kinderstorie, voor slaaptyd gelees. Ai, net jammer dit was Jakkals en Wofstories. Ek het nog altyd ‘n kanniedood aan jakkals en sy skelmstreke.

Die laaste aand sê die driejarige krulkop sy gaan nou bid voordat sy vir my nagsê. Ons maak ons oë toe en sy begin; “Dankie liewe Jesus vir hierdie lekker daggie. Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas. Aaaaamen.” “Jy het te kort gebid…. wag dan help ek jou,” laat haar donkeroog sussie van haar hoor, en skuif tot voor haar, neem haar hande in hare en begin. “Dankie liewe Jesus vir hierdie daggie.” Gehoorsaam herhaal die krulkop die woorde. Die donkeroog gaan aan. “Laat dit asseblief op die plaas reën.” “Laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas,” en dan vervolg sy ewe verergd “Ek kan bid!!!” Sy begin weer, “Dankie liewe Jesus vir hierdie daggie, laat dit asseblief reën op die plaaaaaaas.” “Dankie vir my mamma en pappa,” sê die donkeroog vinnig, en die krulkop herhaal die woorde. “Dankie vir my sussie,” sê ousus. “Dankie vir Vilani,” By hierdie tyd is my oë wawyd oop en ek verlustig my aan die twee, en ek glo die Here geniet dit net so. “Dankie vir my oumas en oupas,” gedweë herhaal die stemmetjie dit. “Dankie vir my ooms en tannies.” Die woorde word herhaal. “Dankie vir my niggies en nefies.” Weet nie of die krulkop so dankbaar is oor haar nefies en niggies nie – hulle vind haar ‘n pyn en maak nie ‘n geheim daarvan nie – maar sy sê die woorde. “Dankie dat Jesus ons lief het.” “Dankie dat Jesus ons lief het.” “Amen” sluit die donkeroog die gebed af, maar so maklik laat die kleintjie haar nie flous nie – het sy dan nie van die begin af gesê sy gaan bid nie? Dus begin weer van voor af.

“Dankie liewe Jesus vir hierdie lekker daggie,”

Laat dit asseblief reën op die plaaaaaas.

Dankie vir my mamma en pappa.

Dankie vir Vilani.

Dankie vir my oumas en oupas.

Dankie vir my ooms en tannies.

Dankie vir my niggies en nefies.

Dankie dat Jesus ons lief het.

Aaaaaaaamen”

Hoe geseënd kan ‘n mens nie wees nie!!!!!

“Dankie Jesus.”