Kameel – Vriend of vyand

Lê-jou-eier: Sulke vriende het ek nie nodig nie

grouchyBy verre die moeilikste onderwerp nog. Van Donderdag af werk my kop oortyd om woorde te kry om neer te pen. Ag goeiste, klink dit nie net te dramaties nie… maar die woorde laat my innerlik lag… so hulle bly.

Ek het deur my lewe geblaai, en geblaai, en geblaai en hier en daar op iemand afgekom wat my hare so ‘n bietjie laat rys het, maar niks om oor huistoe te skryf nie. Die meerderheid mense wat my pad gekruis het, het my lewe verryk. Daar was die rowwe diamante, maar ook die blink gepolieerdes met wie ek nie uit eie keuse sou meng nie. Tog het elkeen ‘n onmisbare rol in my lewe gespeel.

Een so ‘n blink diamant was Linda, ‘n mooi blonde vrou wat net eendag by my deur kom klop, en gevra het of Kenneth nie by haar seuntjie – toe in graad 1 – kan kom speel nie. Dit was gou duidelik in watter kringe sy beweeg, maar sy het haar huis, en hart vir my oopgemaak. Die dag toe ek snot en trane sit en huil oor die Star Seaside kinders, was dit sy wat ‘n boks tissues tussen ons neergesit, en saam met my gehuil het. Na al hierdie jare hou ons nogsteeds kontak, en kuier so af en toe saam.

Marie was ‘n rowwe diamant, maar ek glimlag as ek aan haar dink. Dit is sy wat my vertel het die hotel waarin ek en Ken, en sy en haar pasgetroude man gebly het, was meer bordeel as hotel. Dit was die waarheid…. die res van haar stories moes met ‘n knippie sout gevat word. Ons het ‘n viermanskap gevorm teen die “evil” buite ons slaapkamers, en ‘n paar jaar vriende gebly. “Mariedruppels,” is tot vandag toe wat ek en Ken daardie groot reëndruppels noem wat so hier en daar val. Dit is as gevolg van Marie se storie oor die een enkele waterdruppel wat van ‘n brug afgeval, en hulle voorste motorruit papnat gespat het. Ons het heelwat avonture saam beleef, en sy was daar toe ek deur ‘n baie moeilike stadium in my lewe gegaan het.

Deslyn was sterkwil, besitlik, en dominerend. Die dag toe sy by my inhaak en my “haar meisie” noem, het sy eintlik “claim” op my gelê. Ons vriendskap sou in tienerjare begin, en met haar dood op 48 jarige ouderdom eindig. Ander dink ek het my deur haar laat oorheers, maar ek het nie. Ons geaardhede het perfek by mekaar gepas. Sy was definitief ‘n slegte invloed op my lewe in my tienerjare, maar ons vriendskap was sterk, en haar liefde vir my onvoorwaardelik.

Sally is ‘n seerkry, komplekse, en bitter mens. Of sy jou gaan groet of ignoreer het afgehang van die bui waarin sy haar diè dag bevind het. Die meeste van haar vriendskappe het met ‘n papwiel geëindig. Nietemin het ons vriendskap – terwyl dit geduur het – vir baie lag gesorg. Ek glimlag nogsteeds wanneer ek daaraan dink hoe sy in die kerk oor haar skouer vir my geloer het wanneer iemand my gunsteling lied “I love you Lord,” aangevra het.

Gwen was wetties, en kwaai. Sy was ouer as die res van ons vroue in die kerk, en almal het ligvoets om haar getrap, en uit haar pad probeer bly. Ken het hom egter nie laat afskrik nie, en haar “The old duck” genoem. Die ys was gebreek, en ons het huisvriende geword. Sy was ‘n staatmaker, en die dag toe ek siek in die bed lê, en ons kry kennisgewing dat ons daardie dag uit die huis, na die pastorie langsaan toe moet trek, was dit sy en ‘n ander vriendin wat kom help pak, en trek het.

Mev. Cruywagen was die hoofleraar van die N.G kerk se vrou. ‘n Mens gaan klop seker nie met modderhande aan ‘n onbekende dominee se voordeur, en vra of hulle water het nie. Wel ek het, en vra toe boonop dat ek sy vrou wil ontmoet. Dat daar ‘n pragtige ma dogter verhouding tussen my en die ouer vrou ontstaan het, is ‘n wonderwerk; veral as jy die gesprek tussen my en haar man – kort na ons ontmoeting- in ag neem.

Almal van ons het maar ons geite, so verdraagsaamheid is ‘n groot bate!!! Daar is wel mense met wie ek nie sal meng nie… die uit en uit goddeloses. En dit is juis daar waar ek my lig moet laat skyn.

Tooooooooooorts help!!!!

 

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

24 Responses to Kameel – Vriend of vyand

  1. Vriende veryk ‘n mens se lewe geweldig ne. Baie mooi beskryf

    Liked by 1 person

  2. Dis nou sulke lekker vriendskapsvertellings. Wys jou net, as jy die regte geestesingesteldheid het (soos ‘n kameel), kan jy vriende van alle soorte en uit alle kringe van die samelewing aanvaar. Ek het sommer die vorige blog ook gaan lees.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Miskien het ‘n kameel maar net ‘n dik vel 😊 Ai die liewe statige dominee wat ek so lief gekry het. Ek was maar vurig in my jong dae…. sal vandag seker tweekeer dink voordat ek praat.

      Liked by 1 person

  3. Ag ‘n mens self ‘n goeie bedagsame vriendin is, is jou vriende dit gewoonlik ook … ek dink jy is ‘n gawe vriendin

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie Tina 😊 Ek hou van vrede dus baklei ek nie links en regs nie. Ek konfronteer ook maklik as ek voel daar haak iets…. maar nie op ‘n lelike manier nie. As jy vinnig ‘n ding uitsorteer is daar nie plek vir die groei van onkruid nie.

      Liked by 1 person

  4. Toortsie sê:

    Hoekom moet Toorts help? Sy kan haarself nie eers behoorlik help nie! 😁 So ‘n positiewe skrywe!

    Liked by 1 person

  5. Ons dominee maan ons altyd om “met sagte oë” na ons medemens te kyk. Hier stel jy nou so ‘n goeie voorbeeld!

    Liked by 2 people

  6. travel460 sê:

    Kameel, my vriendinne is vir my kosbaar, so hierdie skrywe van jou beteken baie. Ek wil nie een verloor nie, want hulle help om my lewe ryker te maak. Pragtig geskryf; ek weet jy is ń vriendin wat elkeen se lewe sal verryk.

    Like

  7. Liewe Kameel om jou te ken is n vreugde en jou as vriendin te hê is n voorreg. Dit is maar moeilik om altyd die sagte oog na die dwarstrekkers/ uitbuiters te gooi. Jy het beslis weer n mooi stuk hier geskryf.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie scrapy. Gister is my tienjarige kleinseun se hart seer. Toe ek uiteindelik hoor wat het hom so hartseer gemaak was dit oor hy raasgekry het by ‘n juffrou omdat hy sy humeur verloor het met ‘n meisie wat hom die hele tyd verpes. Weet nie hoeveel ingesink het nie maar ek kon met hom oor mense en hulle gedragspatrone praat. Almal op hierdie planeet sou kwaad of hartseer rondgeloop het, het mense se gedrag ons gemoed bepaal.
      Dit is net na half agt in die oggend, en die hitte druk klaar. Mooi dag vir jou!!!

      Like

      • Dis so goed jou kleinseun praat met jou. Daardie verpestelike boelies se nekke kan ek sommer omdra. As hul net wil besef hoe seer sulkekinder kry en hul weet nie hoekom nie. Die boeies het groter probleme as die wat geboelie word. Dit gee hul steeds nie die reg om ander seer te maak nie. Sterkte vir jul hittige dae. Hier het dit na n heerlike week oorgegaan in winter. Die natuur is beslis omgkrap. Dis ons mense wat die weer so boelie.

        Liked by 1 person

  8. So mooi geskryf Kameel! Jy moet ‘n besondere vriendin wees!

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dankie Aletta. Ek is lief vir mense en dit maak dit seker makliker. ‘n Vriendin van my het eenkeer gesê “We run to you with all our stories….hurts and pain…. and nothing seems to shock you.” Ek is so aanmekaar geweef deur God.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s