Suurlemoenmeringuetert

Iemand vra vandag vir my ‘n resep vir ‘n suurlemoenmeringuetert. Ek gee graag twee resepte. Die eerste een is die resep wat ek sommer vir die huis maak.  Die tweede resep is asemrowend lekker, maar baie oordadig. Dit maak jy as jy die dag regtig wil uithang… (Die tweede een is my dogter se gunsteling)

Suurlemoen-meringuetert (vir huishoudelike gebruik – resep was agterop ‘n kondensmelkblik in die 80’er jare)

1 blik kondensmelk

125 ml suurlemoensap

Gerasperde skil van 1 suurlemoen

2 eiers, geskei

25 ml suiker

Tertdop (gekrummelde beskuitjies met ‘n bietjie gesmelte margarien)

Meng kondensmelk, suurlemoensap, skil, eiergele saam. Sit in tertdop.

Bedek met meringue: Klits eierwitte, gooi suiker bietjies-bietjies by.

Bak 10 minute by 180ºC of tot goudbruin. Verkoel voor bediening.

 

Suurlemoenmeringuetert (Deur Atel Koch – Kuier gesellig)

Dit is baie belangrik om nie te veel margarien vir die kors te gebruik nie – dit word gou pap en te klam.

KORS

1 pakkie Marie beskuitjies (200g)

5 ml fyngerasperde suurlemoenskil

100-125 g (of ml) margarien, gesmelt

VULSEL

2 blikke volroomkondensmelk

4 ekstragroot eiers by kamertemperatuur, geskei

180-250ml vars suurlemoensap

5 ml fyngerasperde suurlemoenskil (opsioneel)

knippie kremetart

125 ml strooisuiker

5 ml mielieblom

Kors: Meng beskuitjiekrummels, skil en gesmelte margarien en druk vas in ‘n 22 cm oondbak. Bak 10 minute in ‘n voorverhitte oond by 180ºC. Verwyder uit oond.

Vulsel: Meng kondensmelk en eiergele. Voeg suurlemoensap by, maar proe en voeg na smaak by. Voeg skil by, indien gebruik. Skep vulsel in kors en bak 10 minute. Verwyder uit oond.

Klop eierwitte tot skuimerig met ‘n elektriese klitser, voeg kremetart by en klop tot sagte punte vorm. Klop suiker geleidelik by en klop tot eierwitpunte styf is. Sif mielieblom oor eierwit en vou liggies in. Skep oor vulsel. Bak tot ligbruin bo-op. Skakel oond af en laat tert in oond afkoel.

Wenk: Wanneer suurlemoene vryelik beskikbaar is, druk sap uit en vries in gerieflike hoeveelhede. (sê Atel)

Atel gee ook hierdie wenke:

Hoe om suurlemoenmeringuetert ‘n treffer te maak:

Om welslae met die meringue te verseker, moet dit liefs nie op ‘n reënerige of te warm dag berei word nie – die lug is dan te vogtig en die meringue sal waterig word.

Gebruik eiers by kamertemperatuur. Eierwitte direk uit die koelkas sal nooit dieselfde volume geklopte eierwit lewer as dié wat by kamertemperatuur is nie.

Klop eierwitte tot skuimerig, voeg dan kremetart by en klop verder. Kremetart stabiliseer die eierwit en help om die vorm te behou.

Dit is belangrik dat suiker geleidelik by die eierwit gevoeg word terwyl jy klop, sodat dit deeglik kan oplos en ‘n groot volume verseker.

Wanneer die geklopte eierwit punte vorm wat hul vorm behou, is dit gereed om gebak te word.

Die bak waarin eierwit geklop word, moet sonder enige vetdeeltjies wees – omdat eiergeel vet bevat, moet jy mooi konsentreer en nie die eiergeel in die eierwit laat beland wanneer jy die eiers skei nie!

Lekker eet!

 

17 thoughts on “Suurlemoenmeringuetert

        1. Son, jy moet jouself een dag bederf en van 4 tot half 5 vir die blaasorkes gaan luister by die gradeplegtighede hierdie week. Dis nog tot Don aan die gang. Glip uit as die akademici inkom! Loer vir ‘n krullebol met ‘n fluit.

          Like

  1. Weë die wat ander laat struikel 😆 Net gister sien ek op Fb ‘n foto van plaatkoekies, en jou gesig daarby. Toe my kleindogter dus gistermiddag kom vra of ons vandag plaatkoekies kan bak, sê ek natuurlik “ja,” want ek sien nogsteeds daardie prentjie van plaatkoekies…met jou gisig daarby. Nou vandag DIT…. na gemmertert, is hierdie my gunsteling….. en raai wie se gesig is daarby.

    Like

    1. Maar ek het nie plaatkoekies op fb gesit nie? Hoe was my gesig dan daarby?
      Nou verstaan jy seker hoekom ek ‘n bietjie cholestrol, ‘n bietjie suiker, ‘n bietjie dit, ‘n bietjie dat het… 🙂

      Like

  2. Hierdie suurlemoentert klink baie lekker Ek is ook baie lief om te bak en brou. Het jy dalk n cremora
    tert resep vir my. Ek is n gebore plaas meisie jou skrywe laat ,my baie terug dink..
    Gaan die tert probeer en dit vir my man maak.

    Groete
    Sienie Olivier

    Like

    1. Hello Sienie. Lag ek vir myself! Ek lees en lees jou kommentaar, en jy skryf jy is ‘n plaasmeisie. Maar ek het dan altyd gedink Werner is ‘n man?? My somme werk nie lekker nie! Tot ek jou naam onderaan sien.
      Ek het ‘n resep, wil hom net gou weer uittoets, want ek het dit jare laas gemaak. Sal dit binnekort plaas. Cremoratert
      My resep is baie eenvoudig, maar kyk solank hier by RSG – blykbaar verskriklik lekker: http://www.rsg.co.za/resepte_kuik.asp?id=1603
      en ook hier: http://www.rsg.co.za/resepte_kuik.asp?id=1553 Ek dink myne lyk soos die tweede een.
      Groete

      Like

      1. Ek wil net hierdie spulletjie regstel.Ek lewer kommentaar onder my naam en van(Werner Olivier),gewoonlik op Attie se Koffietafel Blog en Sienie is my vrou.Ek wys toe vir haar die suurlemoenmeringuetert,en sy hou toe van die resep en kry toe die gedagte van die cremoratert.Sy is nie ‘n blog skrywer nie..Die e/pos adres is op haar naam as Gesina Olivier(Sienie).Toortsie dankie vir die 2 skakels.Sienie sal dit probeer.Ons twee het ook gelag oor die misverstand.
        Groetnis.

        Like

        1. Nee, nee nee!! Daar was nie ‘n misverstand nie. Ek vertel net wat in my gedagtes was terwyl ek dit gelees het, maar toe ek haar naam onderaan sien, het ek dadelik 2 en 2 bymekaar gesit. RSG se webblad is fantasties vir resepte. http://www.rsg.co.za dan kliek jy op resepte, en dan vra jy net wat jy wil, soos Cremoratert, of spinasie, of wat ook al. Dit was ‘n groot plesier.

          Like

    2. Liewe Sienie
      Ek het toe die cremoratert gaan maak, en dis HEERLIK!
      Cremoratert
      1 pakkie tennisbeskuitjies
      250 ml cremora
      125 ml kookwater
      1 blik koue kondensmelk
      125 ml suurlemoensap
      gerasperde suurlemoensap.
      Voer tertbak uit met beskuitjies. Maak cremora met die kookwater aan. Laat dit afkoel. Voeg kondensmelk by en klits goed. voeg suurlemoensap en skil by en meng goed. Gooi mengsel versigtig in tertbord. En as jy dan nog wil kan jy ‘n mooi bolaag maak van bv appelkosies en die sap, dikgemaak met vla. Of aarbeie of enige ding.
      Hierdie resep het ek uit die boekie, Resepte van die Suidpunt van Afrika, gehaal. Annelien Els het die resep ingestuur.
      Groete

      Like

  3. Mens onderskat die rol van mariebeskuitjies. Ek het nog nie die gelyke hier in die noorde gevind nie, ander koekies het net nie daai mariebeskuitjie-iets nie. Dink ek moet laat saambring. En ek sal verseker jou dogter s’n maak – hoe meer dekadent hoe beter! As ek gesond wil eet, eet ek ‘n appel.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s