Na ‘n “gesprek” met Hester oor my dae as fotograaf in ‘n studio, plaas ek ‘n vorige bloginskrywing om julle ‘n kykie agter daardie toe gordyne te gee.
Die vrouestem oor die telefoon is half huiwerig, “Ek wil ‘n afspraak maak om een aand in die week fotos te kom neem.” “Dit is in die haak,” antwoord ek, “sê net wanneer en hoe laat,” en met die woorde kry ek ‘n pen en my afspraakboekie gereed. Daar is aarseling aan die anderkant van die lyn, en dan kom die stem in ‘n fluistering, “dit is vir my man, ek wil…… ‘n….. jy weet, kalerige fotos hê.” Net daar stop ek alles, vir ‘n sekond of twee is daar doodse stilte op die lyn, dan sê ek, “As jy pornografiese fotos bedoel, is ek nie die regte fotograaf vir jou nie”. “O, nee!” korrigeer sy vinnig, “nie pornografies nie, net….. wel, kalerig.” Ons maak ‘n afspraak vir dieselfde aand, en die res van die middag maak ek vir my prentjies van die wulpse vrou.
Ek is nie bang vir die menslike liggaam voor my kamera nie. Op daardie stadium het ek fotos vir ‘n agentskap geneem, en meisies het voor my lens die onskuld van die kind tot die slinksheid van ‘n Delila uitgebeeld. Toe die deurklokkie lui stap ek om te gaan antwoord. Twee jong vroue staan voor my; die een wat die fotos wil laat neem stel haarself en haar vriendin voor; ek wys hulle deur studio toe, en laat glad nie blyk hoe stomgeslaan ek is nie. Die jong vrou hier by my is pole verwyder van die prentjie in my kop. Sy is ‘n “plain Jane,” groot gebeend, met blou oë, en haar blonde hare is in ‘n stywe poniestert vasgemaak. Sonder grimering lyk sy vaal en daar is nie ‘n greintjie sensualiteit aan haar nie. Inteendeel sy is baie skaam, en ongemaklik waar sy nou voor my staan.
“Kom sit en vertel my wat jy in gedagte het,” sê ek gerusstellend. Sy is nie lank getroud nie, en wil graag vir haar man ‘n vergroting van haar laat maak waar sy wel…. ‘n bietjie “cleavage,” wys. Sy gee my toestemming om my eie inisiatief te gebruik. Ek glimlag breed (van verligting… en om haar meer op haar gemak te stel,) en sê vol selfvertroue, “Geen probleem nie, ons gaan vir jou man ‘n mooie, mooie foto neem, “cleavage,” en al.” Ek bevind my nou op bekende terrein; in my element spring ek aan die werk; “Eers gaan ek jou grimeer, sonder grimering gaan die ligte jou heeltemal uitwas,” en hiermee trek ek die kwas en verf nader. Op die doek hier voor my begin ek skilder, en sien hoe haar gesig ontspan, en kort-kort breek daar ‘n effense glimlag deur. “So ja, nou vir jou hare;” ek trek die rekkie uit haar hare, “ons laat jou hare loshang, en…“ al geselsende kam ek my vingers deur die blonde massa, “maak dit effens deurmekaar, vir die regte effek.” “Daars hy, kyk hoe pragtig lyk jy nou,” en wys na die spieël teen die een muur. Sy bewonder haarself vir ‘n paar oomblikke, haar oë blink, en daar is ‘n breë glimlag om haar mond. “Nou vir die klere,” sê ek, “jy kan agter daardie skerm uittrek…. net jou boklere, maar hou jou bra aan, ek sal daarmee deel wanneer ek jou drapeer.”
Daar is ‘n prentjie in my kop; alles swart en in die middel van hierdie swart ‘n halflyf foto van ‘n blonde vrou in sagte wit drapeersel. ‘n Sagte maar tog sensuele foto vir die man van haar drome. Sy maak haar verskyning, en ek laat haar op die mat by ‘n lae tafeltjie hurk. Dit is toe ek die deurskynende materiaal om haar begin vou dat ek besef daar is niks waarmee ons ‘n “cleavage,” kan vorm nie…. niks. “Ek is maar plat,” sê sy toe sy sien waar my oë rus. Ek gaan nie met haar stry nie, dus glimlag ek vol vertroue, “Ons kyk wat ons kan doen met dit wat jy het.” “Druk jou bo-arms styf teen jou lyf en bring hulle dan vorentoe;” gewoonlik werk die metode vir die nie so goed bedeeldes. Nogsteeds niks, nie eers ‘n beduidenis van ‘n “cleavage,” nie.
In die skemer studio met net die sagte studioligte aan, is alle skaam weg. Vanwaar haar vriendin sit begin sy lag; eers probeer die blondekop haar lag inhou, maar dan bars sy ook uit van die lag. Ek sien al hoe die mascara traanspore oor haar wange trek, maar hulle lag is so aansteeklik dat ek nie my “pose” kan hou nie, en begin saamlag. “Trek uit daardie bra dat ek kan sien wat daaronder aangaan,” sê ek in die lag. Sy maak so, en ek skud my kop terwyl ek kopkrap. “Ek gaan nog een ding probeer en sowaar ek het nog nooit ensiklopedieë vir dit gebruik nie,” en met die begin ek die lywige boeke onder die swart lap op die tafeltjie voor haar pak. Ek drapeer haar in wit; “nou goed, staan vir my op jou knieë, dan buk jy oor die tafel totdat die ensiklopedieë onder jou borste rus, sak dan bietjie af sodat dit kan opdruk wat daar is, en terselftertyd druk jy jou bo-arms teen jou lyf en dan vorentoe.” Gehoorsaam doen sy dit; drie paar oë staar net na een plek, wagtend op die takboklammers , soos die tweeling van ‘n ribbok wat tussen die lelies wei, waaroor Salomo so in vervoering geraak het. Niks, ons kyk verniet…. want daar is niks.
My model val agteroor en gedrapeer in wit lê sy op die mat en rol soos sy lag. Haar vriendin krul in haar stoel, en ek sak net daar op die grond neer, lam van die lag; Die trane rol oor ons wange; drie vroue lag oor dit wat ‘n suster-eva so graag aan haar man wil gee, maar nie het om te gee nie. Miskien lag ons ook met trane oor ons eie tekorte wat ons minderwaardig laat voel in ons vrouwees. Toe ons uiteindelik tot bedaring kom, kyk ek na die blonde vrou wat op die vloer saam met my sit; haar gesig is sprankelend, haar oë skitter soos diamante. As hierdie blondekop se man weet wat goed is vir hom sal hy die lag in haar wakker maak, dink ek. Salomo het oor meer as net die takboklammers, en borste wat soos torings staan geskryf; hy het die “Sulammitiese” vrou besing en op ‘n stadium gesê “draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my onrustig.”
“Kom” sê ek vir haar, “met jou oë gaan jy vir jou man ‘n liefdeslied sing.” Ek knap haar op en hang ‘n swart fluweelstola om haar skouers… die fokus moet op haar oë wees. Sy neem haar posisie in, “Ek gaan jou deur die hele proses praat,” sê ek van agter die kamera. Deur die lens hou ek haar dop; die vrou hier voor my is soos klei in my hande, “Frame for frame I molded her into the image I had in mind,” en terselftertyd hoop ek haar man sal haar teen hom vashou soos die seëlring op sy bors.
Like this:
Like Loading...