Ek kry interessante navrae en geniet elkeen van hulle. Gereeld vra iemand vir my in hoe ‘n lang (of kort) tyd ek die gewig verloor het wat ek met Banting verloor het. Dit voel soms vir my asof dit vir die mense ‘n aanduiding is of hulle ‘reg’ verloor.
Nee, mense! Daar is GEEN ooreenkoms tussen twee mense se gewigsverlies nie. Ons almal verskil. Ook wat Banting aanbetref.
Ons liggame reageer almal verskillend op dit wat ons inneem, en, terloops, ek kry soveel keer ‘lesings’ hieroor van goedbedoelde mense wat net vir my wil laat besef dat ons almal verskil. Ek weet ons almal verskil.
As ek dit reg verstaan, is Banting nie in die eerste plek ‘n gewigsverliesprogram nie, maar ‘n gesondheidsprogram. Baie mense doen dit om gewig te verloor, met goeie resultate, maar ander het weer nie dieselfde resultate nie, dit hang van persoon tot persoon af.
Wanneer ons ons eetplan so drasties verander soos met Banting, gebeur daar baie dinge in ons liggaam. Ons metabolisme verander totaal, veral as ons voorheen ‘n koolhidraatryke laevet dieet gevolg het. Ons liggame begin om ander hormone af te skei. Dit moet aanpas by die nuwe eetplan.
Sommige mense tel selfs gewig op in die begin.
Dit is ook nie ‘n uiters maerword dieet nie. Ek het met Weigh Less en Weight Watchers baie maerder geword as wat ek met Banting geword het. Die verskil is, met Banting kon ek nou al vir 4 jaar en 9 maande daarmee volhou, wat ek nie met die ander eetplanne kon doen nie. (Ek het 18 kg verloor.)
My gewig het nie soos ‘n glyplank die heeltyd afgekom nie. Inteendeel, ek was met Banting al maerder as wat ek tans is. Daar is maar altyd ‘n twee kilogram speling wat my gewig op- en afgaan. My gewig stabiliseer altyd op ‘n sekere plek. Verlede jaar, egter, het ek skielik ‘n paar kilogramme opgetel wat veroorsaak het dat my klere nie so gemaklik gesit het nie, ek dra nou al vir jare dieselfde nommer.
Ek vermoed dat die gewigstoename te wyte was aan ‘n reeks kortisooninspuitings wat ek gekry het. Dit was of ek pofferig was. Ewe skielik, uit die bloute, verloor ek daardie ekstra kilogramme amper oornag en nou het ek weer ‘n kortisooninspuiting gekry, en my gewig het dieselfde gebly. Vreemd.
Ek het nie die antwoorde nie. Al wat ek weet en waarvoor ek dankbaar is, is dat ek volgehou het met my eetplan soos altyd. Ek het niks verander nie en steur my nie daaraan as ek ‘n kilogram of wat optel nie, iewers verloor ek dit weer.
Vir my gaan dit nie net oor die gewig wat ek verloor het en af hou nie, dit gaan daaroor dat my cholesterol en bloedsuiker heeltemal onder beheer is, dat ek voorheen Metaboliese Sindroom gehad het, wat nou nie meer die geval is nie.
Vir my werk Banting, soos ek al hoeveel keer gesê het. Ek kan egter nie waarborg of dit vir jou ook sal werk nie, maar as jy totaal oorgewig is, vetsugtig, ‘morbidly obese’, aan suiker verslaaf is, alles wat jy sien in jou mond wil druk, aan kos verslaaf is, mag Banting dalk net vir jou ook die antwoord wees. En soos ek altyd sê, praat net eers met jou huisdokter hieroor as jy oorweeg om dit te volg.
Groete
Toortsie
Like this:
Like Loading...