Eksperiment #4

Ek eksperimenteer met die sonoond en kom vertel nie elke keer nie. Wanneer ek wel kom vertel is dit omdat dit so lekker is om te vertel wat ek alles aanvang. En nie soseer om sonoonde te verkoop nie, ek kry nie kommissie nie! Dit gaan daaroor dat ek my eie Toortsieresepte toets in die sonoond en wil sien dat dit werk. Sodat ek kan sê: Toortsie se resepte werk in die sonoond, sien.

Ek het natuurlik die neiging om te veel goed gelyk te wil gaarmaak. Ook om nie die vleise altyd vooraf te ontdooi nie. Dit speel natuurlik alles ‘n rol in die sukses van jou kos.

Verlede Maandag het ek ‘n halwe skaapboud ingesit wat alreeds ontdooi was. Ek het die dag baie rondgehardloop, dus kan ek nie sê hoe lank nie. Dit was omtrent tien vm wat ek die boud ingesit het. Die oond se temperatuur het so tot by 120 grade C gestyg. Dit is natuurlik uiters belangrik dat jy ‘n swart pot of kastrol gebruik en dat die son direk op die pot se deksel skyn.

Die boud was lieflik! Ek het later die dag, omtrent so by 2 nm, ‘n klomp skaapvet in blokkies gesny en dit in ‘n oondplaat met ‘n oondplaat onderstebo bo-op gesit. Dit het onder die boud gestaan. (Ek dink die boud was so 3 nm reg. Teen 4 nm het hier ‘n donker wolk gekom en toe is die oond yskoud. Tog het die vet al heerlik uitgebraai, maar ek moes dit nog ‘n rukkie in die oond sit.

Gisteraand het ek 2 kg frikkadelle gemaak en vanoggend kwart oor 9 op pad kerk toe in die oondjie gedruk. Een namiddag het ek die heerlikste frikkadelle uit my oondjie gehaal en toe die kors van ‘n gebakte kaaskoek ingesit. Toe ons half 2 klaar geëet was, het die kors mooi gebak. Teen 2 nm het ek die kaaskoekvulsel ingegooi en dit bak nou. Die eindresultaat sal ons maar sien, want in die namiddag is dit altyd of die oondjie se temperatuur effens daal.

Nee wat, ek geniet my sonoond! En ja, Toortsie se resepte werk sowaar daarin. ‘n Mens moet maar net meer tyd toelaat as met ‘n gewone oond.

Toortsie

6 thoughts on “Eksperiment #4

  1. Dis die ding daai … jy moet tyd he! En ai, ons is dan tog soms so gejaagd … my ouma het gese, kos moet stadig en met liefde voorberei word, dan is enige kos lekker (dalk nie heeltemal waar nie, maar baie naby glo ek). Ek’s bly jou Toortsie resepte werk so lekker in die sonoond 😁.

    Liked by 1 person

  2. ‘n Sonoond is ‘n lekker ding wanneer daar tyd is. Ek wonder dikwels hoe ons voorouers deur al hulle dag take gekom het sonder elektrisiteit en lopende water en gevegte tussen in.Dit klink darem of jy die sonoond bemeester.

    Like

Gesels saam, asseblief!