Die dierbare wurmpies

Opgewonde roep my man my nou die dag, ek moet kom kyk! Hulle het die komposkis onder oopgemaak om van die kompos uit te skep. Ons komposkis kom nou al ‘n jaar en ‘n half aan. Aanvanklik het dit baie stadig gekomposteer. Ons het intussen geleer dat ons dit soms moet natmaak, dit help beslis. Hulle kon ‘n hele klompie kompos onder uitskep, tot takke wat nog nie genoeg gekomposteer het nie, hulle gestop het. Hierdie kompos is oral in die tuin by die boompies en groente gegooi.

Maar die rede vir die blydskap? Erdwurms natuurlik! Ek hét mos een keer geskryf oor erdwurms en dat dit ‘n hele ruk geneem het voor hier erdwurms begin werk het op ons erf. Kameel het nog verduidelik dat dit is omdat ons so ver van die dorp af gewoon het voorheen en die arme erdwurmpies nog al die pad moes boor van die plaas af tot hier by ons. Dit was ‘n blye oomblik toe ons die erdwurms ontdek het, want erdwurms maak grond beter. Maak selfs goeie grond beter. Hulle bring suurstof na die grond. Hulle bring lewe in grond. Hulle help dat die groente wat ons uit ons groentetuin pluk selfs nóg gesonder is. Hulle help dat ek wat die groente eet, ook gesonder is en voel.

Ek het ook al terloops van ons komposkis geskryf en daar het soveel oulike en insiggewende reaksie daaruit gekom. Ander bloggers het sommer van hulle komposhope ook vertel.

Op ‘n stadium het ons erdwurms uit die tuin gehaal en daar by die komposkis ingegooi. En dís wat my manlief so opgewonde gehad het. Daardie erdwurms wérk in daardie kis, hoor en hulle teel aan en raak meer. So kan julle dink, daardie kompos wat ons nou oral in die tuin gegooi het, het sommer baie erdwurms ook nog in. Ai, jai jai, dit gaan ‘n mooi besigheid word!

Die komposfabriek
Lieflike regte kompos

Toortsie

22 thoughts on “Die dierbare wurmpies

  1. Hier noem hul so n house n “wurm plaas”. Hul het hul eie plaas wat hul in die kis bewerk. Dan het die houer gaatjies in waar die wurm piepie in opgehang word. Dit word sommer in plastiese bottles afgetap en aan mense uitgedeel om by hul plante te gooi. Baie goeie bemesting.

    Like

    1. Ja ek weet van wurmplase. 😁 Ek het een oorweeg, maar ek dink ‘n mens moet die erdwurmtee daagliks aftap en met ons gependel is dit vir my moeilik. Ek twyfel of ons komposkis as wirmplaas sal kwalifiseer. Maar hy doen sy ding, hoor. 🥂

      Like

  2. Jy moet die kompos met ń graaf of ding van bo af hard na onder stammp, myne bly ook bo as ek onder kompos uithaal. Daarna stamp ek dit net weer af. Dit vergemaklik nogal die uithaal proses, omdat diy half bo vassteek. Ek het nou ń musipale komposter ook, hy werk net so goed..

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!