Net ‘n ou wurmpie

Van die dag wat hulle hier begin bou het, het my man begin om ‘n groentetuin aan te lê. Te mooi. Hy het grond ingery en baie mis aangery van die plaas af. Ons gooi ook al die kombuisafval en die groenteblare terug in die tuin om kompos te word. Al probleem? Hier is nie erdwurms nie. Ons verstaan dit glad nie.

Nou ja, as ‘n mens mooi dink, wat sou die erdwurms hier in die berg gesoek het? Dalk het hulle sommer by voorbaat gevlug met die gevroetel met die bouery. Dalk is hier nie tuine met erdwurms in die nabye omgewing nie.

Die erdwurms kom herhaaldelik in ons gesprekke ter sprake. Ek stel voor dat hy by ons vorige erf ‘n emmertjie grond gaan haal, dáár het ons boerderypraktyke die erdwurms behoorlik laat aanteel. Of, dalk moet ons ‘n sak grond van die plaas se tuin af bring, daar behoort erdwurms te wees.

Gisteraand kom die blye tyding: Hier is nou erdwurms. Baie van hulle. Manlief het op ‘n hele klompie plekke gespit en oral is daar nou nuwe, jong erdwurmpies. Waar hulle skielik vandaankom, sal net hulle weet, maar ons is meer as in ons skik.

Erdwurms bring lewe. Dit bring suurstof na die grond, hulle verwerk reeds goeie grond na nog beter grond. Erdwurms gee nie om dat ons gryswater in die tuin gebruik nie, om die waarheid te sê, ek dink hulle hou dalk daarvan!

Toortsie

10 thoughts on “Net ‘n ou wurmpie

    1. Sies tog, arme goetertjies. Manlief sê dus sulke dunnetjies. Hul het seker nou maar eers uitgebroei. Dit moes ‘n paar mammas wees wat aldie pad getonnel het tot daar en toe eiertjies gelê het. Wat ‘n lang en moeilike pad!

      Liked by 3 people

  1. Dis inderdaad goeie nuus. Ons maak kompos van kombuisafval en bokashi vir ons tuintjie en dit krioel van die erdwurms. Hulle is ook almal sulke lang slanke wurms met soepel lyfies. Ons blare leef mos onder ‘n hok met ogiesdraad, so die hadedas kan hulle nie beetkry nie. Het jy al gesien hoe haal ‘n hadeda ‘n erdwurm uit die grond? Dis ‘n hartseer saak.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!