As daar nou een iets is wat my al die afgelope tyd verwar het, is dit maskers. Moet ons nou maskers dra, of moet ons nie? Aanvanklik het hulle op die radio gesê dat, as jy nie siek is nie, jy dit NIE moet dra nie. Dra ‘n masker SLEGS as jy siek is. Daarom het ek tot nou toe nog nie ‘n masker gedra nie en is al aangepraat deur my gemaskerde vriende.
Intussen het ons president weer gepraat en is maskers nou verpligtend as jy in openbare plekke kom. Mense wat ek ken wat maskers maak, werk dag en nag om in die verskriklike groot vraag na maskers te kan voorsien, dit is soos ‘n ontploffing.
Skielik, Vrydag besluit ek, dan moet ek ook inspring en begin maskers maak. Dít nadat ek daardie selfde oggend ‘n lysie van goed wat ek nog in hierdie jaar wil/moet doen, gemaak het en besef dat 2020 heeltemal te kort is vir wat op daardie lysie staan.
In ons huis lê so ‘n wit handdoekstofmaskertjie wat my man iewers gekry het. Wie dit almal al gedra het, weet ek nie. Met dit op spring ek toe half ses namiddig in my kar en ry na Checkers en Spar om rek te gaan soek. Lap het ek baie, maar nie die regte rek nie. Genadiglik kry ek nêrens rek nie en verdwyn die verantwoordelikheidsaanval net daar.
Intussen krap ek in my kas en ontwerp my eie Toortsie masker.

Mensig! Dis warm! Hierdie masker sal verseker dat ek sommer glad nie in ‘n winkel kom nie, nie tot die grendeltyd verby is nie, en dit mag nog lank neem.
Vanoggend kom ek op ‘n baie insiggewende artikel af wat Salomé Delport op Rooi Rose se webblad geskryf het oor maskers. Ek wil elke persoon aanraai om dit te gaan lees. Behoorlik te gaan lees. Want wat ek nóú weet, is dat ek maskers heeltemal verkeerd opgeneem het, dat ek daardie wit maskertjie wat wie weet wie almal aangehad het, behoorlik sal moet gaan ontsmet, dat ek myself so siek sou maak met hierdie Toortsiemasker van my omdat die buitekant nie altyd buite sou wees nie, dat ‘n mens ‘n masker elke keer as jy dit aangehad het, moet ontsmet, dat daar ‘n baie spesifieke manier is wat jy dit moet afhaal sodat jy nie die siekte versprei nie.
Nee, hierdie Toortsiemasker van my gaan nie werk nie. Ek sal sowaar vandag my naaimasjien moet uithaal en ‘n paar maskers vir my en my man moet maak.
Intussen kan jy by DM vir jou maskers bestel by 082 760 2197 en kyk vir Martjiesews op Facebook en Instagram.
Wees veilig. Kry maar die regte masker. Moenie die Toortsiemasker probeer nie, dis onwys.
Groete
Toortsie
Dit is ñ vrek warm ding om te dra. Arme Hester moet in haar hospitaalbed met ń masker op lê, kan jy dink.
LikeLiked by 1 person
Ek wil nie eers daaraan dink nie!
LikeLike
Toortsie, so het ek ook agter gekom ń masker is nie net ń masker nie!
LikeLiked by 1 person
En van 1 Mei af moet almal masker… Ek dra al n maand elke dag een.
LikeLiked by 1 person
Ek moet nog myne maak.
LikeLike
Daar is patrone sonder rek op internet
LikeLiked by 2 people
Ek sal moet loop soek!
LikeLiked by 1 person
Sou daarvan gehou het om jou stylvolle ligrooi masker te dra!
LikeLiked by 2 people
Frannie weet van mooi woorde. 😁
LikeLiked by 1 person
Ek het nou al n paar keer die lapmaskertjie wat Marilize met groot sorg vir my gemaak het gaan uitprobeer by die winkels wanneer ek noodgedownge een maal n week ons kosvoorraad moes aanvul. En dit irriteer my grensloos dat die ding veroorsaak dat ek my eie bril die heeltyd toewasem. En nou is ek bang iemand sien my en dink ek het koors…
LikeLiked by 2 people
Dis so ‘n simpel besigheid.
LikeLike
Ons gaan almal ontmasker word.
Terloops, winkels mag nie rekkies verkoop nie. Gister ontdek.
LikeLiked by 1 person
Hoekom nie?
LikeLike
Agter die oor het algar ‘n rekkie,
Want ieder het ‘n doilie op die bekkie,
Op jou elmboog hoes, nies of hik,
Was jou tekkies met jik,
Lat niemand van korona moet vrekkie
LikeLiked by 1 person
Aits! 👏🏻👏🏻
LikeLike
😊
LikeLike
Ek sien my vrou is ook besig om maskers te maak. Ek mag lekker van die huis af werk en vir my was dit nog nie nodig om dorp toe te gaan nie.
LikeLiked by 1 person
Ek en die maskers kom nie reg nie. Die rek wat ek het, is te breed. Dit kompeteer met my bril se ore. As ek die masker ophet, voel dit of my verstand gaan stilstaan. Ek het nou ‘n buff by my man gekry, dis mos wat die fietsryers dra, dit gaan vir my werk.
LikeLike