Opstel: Blom waar jy geplant is

Hoor hier, die mense skryf opstelle in Suid-Afrika! Dit gaan rof! En hoe weet ek dit? My blog se statistieke vertel dit vir my. Vir my blogmaats, die kuierbloggers, vra ek geduld met hierdie ‘opstel’-bloginskrywings, maar ek wil ook mos mense help en ek hoop ek kry dit hiermee reg.

Skryf ‘n opstel: Blom waar jy geplant is.

Wat ‘n lekker positiewe onderwerp, want ek glo dat elke persoon kan blom waar hulle geplant is. Party mense wil dit aan rykdom toeskryf, dat jy makliker kan blom as jy geld het, as wanneer jy nie het nie, maar die lewe het al vir my bewys dat dit juis húlle is met die min, wat so ongelooflik blom.

Wat dink jy hiervan? Hoe dink jy? Dink jy ‘n mens kan makliker blom as jy meer fondse tot jou beskikking het, of dink jy dat dit ‘n persoonlikheidsding is, dat sekere mense meer blom? Onthou om neer te skryf wat jy dink, want dit gaan deel word van jou opstel.

O ja, soms is ‘n mens se omstandighede uiters moeilik en verg dit verskriklik baie om te blom in daardie omstandighede, maar tog kry mense dit reg, net soos ‘n vetplant in die barste woestyn sy kleurvolle blom dra.

‘n Vriendin het een keer gesê dat jy jou eie lewe moet inkleur, dit stem ooreen met blom waar jy geplant is. Hoe kan jy blom waar jy geplant is? Ek gaan nou ‘n paar voorbeelde gee waaraan ek kan dink, maar ek is seker dat as jy begin dink, jy aan sommer nog baie ander kan dink wat direk op jou omstandighede van toepassing is. Skryf hulle almal neer.

My voorbeelde:

Glimlag. ‘n Glimlag verlig jou eie, en ook almal se lewens om jou.

Groet mense, selfs al ken jy hulle nie. Nee man, jy hoef nie almal te soen en te druk of ‘n handdruk te gee nie, groet hulle met ‘n vriendelike hello.

Dien. Help iemand. Maak iemand se las ligter. Gaan doen inkopies vir ‘n ou persoon. Help iemand by ‘n trap af. Dra ‘n oumens se swaar sak. Was iemand se kar. Kyk waar hulp nodig is en bied hulp aan, sonder om ‘n fooitjie te verwag. Was die skottelgoed. Help jou ma stryk. Gryp sommer die besem en vee uit. Maak self jou bed op. Gaan stap met iemand se honde. Help ‘n ou oom om sy bome te snoei. Was iemand se ruite. Pak jou kamer netjies. Help met ‘n blye hart.

Toon waardering. Wys vir mense dat jy waardeer wat jy vir hulle doen. Sê dankie. Soek die mooi rondom jou en sê dit. Gee vir mense opregte komplimente, doen dit doelbewus.

Is jou omstandighede moeilik? Dink dan ‘n bietjie pro-aktief. Wat is daar in jou omstandighede wat jy kan verbeter? Wat is daar waaraan jy iets kan doen? Selfs al is jy al een wat iets doen en die ander om jou niks doen nie? Dalk kan jy julle erf ‘n bietjie netjies maak. Dalk kan jy net probeer om minder negatief te wees, selfs al het jy alle rede om negatief te wees. Dalk kan jy vir jou moeilike ouer of suster of broer iets goeds doen, iets wat jy weet hulle graag gedoen wil hê, sonder om iets terug te verwag.

Ek het nou ‘n hele klompie idees gegee. Jy is welkom om in die kommentare nóg idees te skryf. En sou jy hierdie gebruik in ‘n opstel of mondeling, onthou om toortsie.com as jou bron aan te toon. Jy kan ook by die kommentare noem as jy dit kon gebruik. En blogmaats, julle kan dit as bloguitdaging gebruik en skryf hoe júlle blom waar julle geplant is.

Vir nog opstel- of mondelingonderwerpe, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

9 thoughts on “Opstel: Blom waar jy geplant is

  1. Dis my standerd nege juffrou wat my opstelle gemerk het se opmerkings en hulp wat my lus gemaak het vir skryf. Ek sal seker altyd onthou hoe bly ek was die dag toe sy vir my geskryf het -” jy kan in ‘n puik skrywer ontwikkel”. Ek het haar notas opgeslurp en toegepas en met elke opstel my bes gegee…

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!