Weef ‘n kussing

Een van die VLV se leefstyluitdagings vir hierdie jaar is: Weef ‘n kussing wat Covid voorstel.

Nee, ek weef glad nie, maar in my gesprek met ‘n weefster kom die vraag op: Hoe stel jy covid voor in ‘n weefstuk?

My eerste gedagte is natuurlik chaos. Weef ‘n kussing wat chaos voorstel. In al die kleure van die reënboog en nog meer. Met geen orde nie. Deurmekaar. Met stukke ander wol tussenin. Woes.

Hoe meer ek egter daaroor nadink, besef ek dat covid nie noodwendig vir almal chaos beteken nie.

Vir iemand kan dit dalk ‘inkeer’ beteken. Terugkeer na God. Rustigheid. Kalmte. Dalk kan ‘n kruis op die kussing hier werk.

Of wat van ‘n sagte, blou kussing. Wat rustigheid beteken. ‘n Tyd van rus en kalmte. ‘n Tyd van herstel. Weg uit die rotteresies.

‘n Swart, donker kussing met spatsels rooi kan dalk soveel besighede wat nie die mas kon opkom in hierdie tyd nie, voorstel.

‘n Kussing in donker, gedempte kleure kan verlies voorstel. Want soveel mense het verlies ervaar. Eensaamheid.

Of vrees. Vrees vir die toekoms. Vrees vir die onbekende. Covid word so op vrees gebou en lewendig gehou. Watter kleur sou vrees voorspel?

Vir baie was Covid ook die tyd van nuwe begin. Nuwe Nuut. Hoe sal jy so ‘n kussing weef?

Of herstel in verhoudings? Hoe sal so ‘n kussing lyk?

As jy nou terugdink aan die afgelope 2 jaar – hoe sal jy Covid beskryf? Of uitbeeld in ‘n kussing? Ek het een keer geskryf oor my ‘coronasjaal’. Hier is my uitdaging: Beeld Covid uit in woorde. Skryf ‘n opstel daaroor. Of ‘n blog. Onthou om hierdie blog te ‘tag’.

Toortsie

Skryf ‘n opstel: Wat maak jou anders as jou maats?

Sjoe! Dit is ‘n lekker onderwerp! ‘n Uitdagende een, eintlik, want vir ons as mens is dit een van die grootste hartewens, en dit is om in te pas in die groep. Die waarheid is egter dat God elkeen van ons uniek gemaak het, juis om nie soos al die ander te wees nie, maar uniek. Spesiaal. En ja, ‘n mens kan steeds inpas in ‘n groep terwyl jy jouself is en nie jou siel prysgee om in te pas in die groep en presies soos al die ander te wees nie.

Dis daarom dat ek opgewonde is oor hierdie onderwerp.

Om jou opstel te begin, gaan maak ‘n lysie op ‘n stuk papier van die dinge wat jy weet jou spesiaal maak. Jou talente en vaardighede wat jy weet niemand anders het nie, of dalk het daar van die ander ook hierdie spesifieke talente, maar wat is jou besonderse sterk punte? Is jy syfervaardig? Of meer taalvaardig? Of albei? Is jy beter in sport?

Blink jy in een of ander sport uit? Of al blink jy nie uit nie, is daar ‘n sekere sport waarvan jy hou om te doen? En dan, as jy dit dalk nie doen nie, is daar ‘n sekere sport wat jy graag op televisie kyk? Of daaroor oplees? Iets waarvan niemand anders hou nie? Of dalk hou jy glad nie van sport nie?

Is daar ‘n geheime belangstelling wat jy het wat jy amper vir niemand anders wil vertel nie omdat jy bang is dat hulle vir jou sal lag? Bv sterrekunde? Of Motorresies? Stampkarre? Rolbal? Waarvan hou jy baie?

Is jy lief vir musiek luister? Of hou jy daarvan om dit self te maak? Bespeel jy een of ander instrument en sou jy dit graag wou doen? Watter instrument?

Watter kos geniet jy? Is daar dalk ‘n kossoort waarvan jy hou, maar dis nie die gewone kos waarvan tieners hou nie? Soos afval? Of hoenderlewers? Of selfs rou wors?

Is jy lief daarvoor om tussen mense te wees of verkies jy eerder om alleen by die huis te wees? Is jy lief vir lees en sal jy vir ure met ‘n boek sit? Watter tipe boek verkies jy? Nie, watter tipe boek kies jy odat dit die ‘in’ ding is om te kies nie, watter tipe boek hou JY van?

Is jy ‘n gelowige? Glo jy in Jesus Christus? Of in wie glo jy? Glo jy dalk glad nie?

Watter besonderse karaktereienskappe het jy wat jou spesiaal maak. Of net anders as jou portuurgroep laat voel?

Vra ook vir jou ouers, jou broers en susters, jou tannie, jou vriende – wat is daar wat jou anders maak as ander kinders? As hulle aan jou dink, wat is die eerste gedagte wat in hulle koppe opkom?

Wanneer jy klaar hierdie opwindende lys gemaak het en nou alreeds heeltemal anders oor jouself dink, ek hoop dat jy opgewonde voel oor jouself omdat jy baie meer is as wat jy ooit sou droom, begin skryf. Skryf oor elkeen van die dinge wat jy neergeskryf het op jou lys. Moenie net skryf: Ek is lief vir musiek nie. Brei uit. Soos wat ek die vrae hierbo gevra het. Vertel meer. Gee redes hoekom jy van iets hou of juis nie hou nie. Vertel hoekom dit jou opgewonde maak. So maak jy by elkeen van die punte en voor jy jou kom kry, het jy heeltemal te veel woorde geskryf!

Skryf dit self. Moenie dat iemand anders jou opstel skryf nie. Niemand kan jouself beter weergee as net jy nie. Skryf dit asof jy dit vir jou beste vriend vertel. Of vir jou ouma. Iemand wat vir jou lief is. En moenie skaam wees nie. Geniet dit net!

En wanneer jy heeltemal klaar is, lees jou opstel deur, sit terug, dink daaroor en sê vir God dankie vir die besonderse mens wat Hy gemaak het. En daarna, glimlag vir ‘n oombik en dink by jouself: Ek is uniek. Wat ‘n voorreg!

Toortsie

Vir nog opstelonderwerpe of mondelinghulp, kyk gerus HIER.

Skryf ‘n opstel: Dinge wat my irriteer

Hartlik geluk aan die onderwyser wat hierdie onderwerp uitgedink het, want ek dink enige tiener sal baie hieroor te sê hê, soos, dat die onderwerp irriterend is! Ek skryf nou so gereeld ‘opstelhulp’ omdat die opstelonderwerpe so gereeld besoek word. Ek kan ‘n duidelik sien wanneer dit skoolvakansie is en wanneer nie. Tog wonder ek soms of dit wat ek hier gee enigsins is wat die soekers na soek, of hulle nie klaarverpakte opstelle soek wat net so oorgeskryf kan word nie. Ongelukkig kan ek dit nie gee nie. Ek probeer idees gee van wát om te skryf, vrae vra wat hopelik idees in die skrywer se kop sal bring, ek probeer om self skryf te stimuleer. As dit vir een of twee persone wel tot huop is, is ek baie bly.

Skryf oor dinge wat my irriteer. Nou is jou kans! Skryf jou hart uit. Begin deur op ‘n los stukkie papier ‘n lysie te maak van wat jou alles irriteer. Jou ouers? Julle omstandighede? Die woonbuurt waar julle bly? Jou broer? Jou suster? Jou broer se vriende? Die kar waarmee julle ry? Maats wat jou spot? Jou suster se klavieroefenry? Haar gegiggel? Toortsie wat probeer help, maar glad nie help nie? Komaan, wat irriteer jou? Die onderwyser wat aanmekaar probeer snaaks wees, terwyl jy nie dink sy grappies is snaaks nie?

Sodra jy nou ‘n bietjie begin dink het wat en wie jou irriteer, dink ‘n bietjie verder. Hoekom is dit vir jou so ‘n irritasie? Wat presies doen die persoon wat jou irriteer. Hoekom irriteer dit vir jou?

Nou begin jy skryf. Moenie net ‘n lys gee van wat jou irriteer nie, met die hoekom daarmee saam nie. Maak dit jou eie en skryf dit asof jy dit vir jou beste vriend vertel. Gee dit karakter deur jou emosies te wys in jou opstel. Maak dit persoonlik.

DAn kan jy dalk ook dink aan wat jy kan doen sodat dit jou minder irriteer. Kan jy dit dalk ignoreer? Kan jy dit uitsorteer met die persoon deur mooi met hom te praat? Kan jy jou dalk onttrek uit die situasie, of kan jy dalk ‘n byrae maak om dit meer uithoudbaar te maak?

Lekker skryf

Toortsie

Vir nog opstelhulp kan jy hier kliek. Ook vir mondelinge of toesprake oor dieselfde onderwerpe. Onthou om toortsie.com as bron aan te gee as julle hierdie inligting gebruik.

Blogmaats, as julle lus het om ook hieroor te skryf, maak so en onthou om hierdie bloginskrywing te tag.

Skryf ‘n opstel oor besoedeling

Die nuwe kwartaal het begin en die kinders skryf opstelle dat dit klap. Dit kan ek aan my blogbesoeke sien.

Skryf ‘n opstel oor besoedeling. Ek vra vir jou vrae en jy skryf dan die gedagtes neer wat in jou kop opkom oor die onderwerp. Dit voeg jy bymekaar tot ‘n opstel.

Ek dink as jy oor so ‘n onderwerp skryf, jy ‘n duidelike standpunt moet inneem. Gaan jy sommer net oor besoedeling in die algemeen praat, die verskillende soorte besoedeling wat daar is? Geraasbesoedeling, lugbesoedeling, waterbesoedeling, grondbesoedeling en nog. Of gaan jy een spesifieke soort besoedeling uitlug?

Hoe voel jy oor besoedeling? Dink jy dit is ‘n werklike probleem, of dink jy die mense oorreageer?

Van watter tipe besoedeling is jy in jou omgewing bewus? Wat veroorsaak die besoedeling, hoe gebeur dit? Wat is die gevolge van besoedeling? Wat, dink jy, gaan die uiteinde daarvan wees? Hoe gaan dit die aarde, maar ook die mensdom beïnvloed?

Is daar iets wat ons as mens kan doen om besoedeling te beperk? Is daar iets wat die regering kan afdwing? Die meeste van alles, is daar iets wat jy, as tiener, kan doen om besoedeling teen te werk? Wat kan julle in julle huis doen om besoedeling te beperk? Is daar dinge wat julle as gesin reeds doen en watter volgende stap kan julle doen om besoedeling selfs meer te beperk in julle onmiddellike omgewing? Dink jy dit sal help as een mens ‘n verskil maak? Kán een mens ‘n verskil maak? Is daar projekte waarby julle as skool betrokke kan raak?

As slothoofstuk kan jy weer jou standpunt herhaal waarmee jy begin het, dat besoedeling wel ‘n probleem is en wat gaan ons daaromtrent doen?

Terwyl daar in Julie ‘n wêreldwye aksie is om plastiek te beveg, kyk bietjie wat ek geskryf het wat ek reeds doen en ook wat ek nou besig is om te implementeer om selfs meer te doen om besoedeling te beveg.

Vir nog opstelhulp kan jy hier kliek. Ook vir mondelinge of toesprake oor dieselfde onderwerpe. Onthou om toortsie.com as bron aan te gee as julle hierdie inligting gebruik.

Blogmaats, as julle lus het om ook hieroor te skryf, maak so en onthou om hierdie bloginskrywing te tag.

Lekker skryf!

Toortsie

Wanneer jy daardie mondeling doen

‘n Mamma kontak my oor ‘n toespraak wat haar kind moet maak. Nes die meeste van kinders, nes ek ook was, is die kind in ‘n toestand daaroor. Dis maklik om te babbel met jou beste vriende, maar om op te staan en te gaan praat voor die klas, is nie ‘n grap nie. My skoolmondelinge het baie keer in so ‘n gelag ontaard, ek kon amper nie praat nie.

Oor jare het ek hierdie wenke geleer, en ek hoop dit help ook vir ‘n kind of twee wanneer sy ‘n toespraak moet maak of mondeling moet praat.

Dis makliker gesê as gedaan, maar sy moet ontspan. (Dit is selfs vir my op die ouderdom van 56 steeds moeilik. Dit is menslik om gespanne te wees.)

Eerstens is dit belangrik dat jy goed voorbereid is. Weet wat jy wil sê. Skryf jou eie mondeling, sodat dit wat jy wil sê, uit jou hart uit kom, dan onthou jy dit makliker. As jy jou eie mondeling praat, hoef jy dit amper nie eers uit jou kop te leer nie, omdat die woorde jou eie is en sou jy ‘n ander woord gebruik, sal dit nie saakmaak nie.

Skryf jou mondeling en oefen, oefen, oefen dit. Oefen dit hardop voor ‘n spieël. Vertel vir die persoon in die spieël dit wat jy wil vertel. Praat jou hart uit. Wees oortuigend. Glo in wat jy wil sê. Glimlag.

Die dag van die mondeling? Die mondelingperiode?

Haal diep asem. Haal rustig asem. Weet dat jy dit mos goed voorberei het.

Dan, terwyl jy nog sit, moet jy net rustig wees. Wanneer hulle jou naam noem, moet jy met vrymoedigheid opstaan en vorentoe stap. (Oefen dit ook by die huis.) Onthou, die toespraak begin van die oomblik af wat hulle jou naam noem, terwyl jy nog in die stoel sit.

Dan gaan staan jy rustig daar voor. Kyk vir die ander. Glimlag. Haal diep asem.

Wanneer jy gereed voel, begin jy jou storie. Jy praat klaar, sê dankie (of nie), stap statig terug en gaan sit. En eers DAN stop die toespraak. Dan blaas jy al die asem wat opgebou het uit, kyk vir jou beste maat en glimlag verlig.

Oefen ook die ‘optrede’ by die huis, van die sit in die stoel, die opstaan, die gaan staan daar voor, die praat, die glimlag, die terugstap en die kom sit in jou stoel. Oefen dit, dit gee vir jou selfvertroue.

Sterkte, jy kan dit doen!

Toortsie

Vir nog mondeling/opstelhulp, kliek HIER.