Weef ‘n kussing

Een van die VLV se leefstyluitdagings vir hierdie jaar is: Weef ‘n kussing wat Covid voorstel.

Nee, ek weef glad nie, maar in my gesprek met ‘n weefster kom die vraag op: Hoe stel jy covid voor in ‘n weefstuk?

My eerste gedagte is natuurlik chaos. Weef ‘n kussing wat chaos voorstel. In al die kleure van die reënboog en nog meer. Met geen orde nie. Deurmekaar. Met stukke ander wol tussenin. Woes.

Hoe meer ek egter daaroor nadink, besef ek dat covid nie noodwendig vir almal chaos beteken nie.

Vir iemand kan dit dalk ‘inkeer’ beteken. Terugkeer na God. Rustigheid. Kalmte. Dalk kan ‘n kruis op die kussing hier werk.

Of wat van ‘n sagte, blou kussing. Wat rustigheid beteken. ‘n Tyd van rus en kalmte. ‘n Tyd van herstel. Weg uit die rotteresies.

‘n Swart, donker kussing met spatsels rooi kan dalk soveel besighede wat nie die mas kon opkom in hierdie tyd nie, voorstel.

‘n Kussing in donker, gedempte kleure kan verlies voorstel. Want soveel mense het verlies ervaar. Eensaamheid.

Of vrees. Vrees vir die toekoms. Vrees vir die onbekende. Covid word so op vrees gebou en lewendig gehou. Watter kleur sou vrees voorspel?

Vir baie was Covid ook die tyd van nuwe begin. Nuwe Nuut. Hoe sal jy so ‘n kussing weef?

Of herstel in verhoudings? Hoe sal so ‘n kussing lyk?

As jy nou terugdink aan die afgelope 2 jaar – hoe sal jy Covid beskryf? Of uitbeeld in ‘n kussing? Ek het een keer geskryf oor my ‘coronasjaal’. Hier is my uitdaging: Beeld Covid uit in woorde. Skryf ‘n opstel daaroor. Of ‘n blog. Onthou om hierdie blog te ‘tag’.

Toortsie

Skryf ‘n opstel: Wat maak jou anders as jou maats?

Sjoe! Dit is ‘n lekker onderwerp! ‘n Uitdagende een, eintlik, want vir ons as mens is dit een van die grootste hartewens, en dit is om in te pas in die groep. Die waarheid is egter dat God elkeen van ons uniek gemaak het, juis om nie soos al die ander te wees nie, maar uniek. Spesiaal. En ja, ‘n mens kan steeds inpas in ‘n groep terwyl jy jouself is en nie jou siel prysgee om in te pas in die groep en presies soos al die ander te wees nie.

Dis daarom dat ek opgewonde is oor hierdie onderwerp.

Om jou opstel te begin, gaan maak ‘n lysie op ‘n stuk papier van die dinge wat jy weet jou spesiaal maak. Jou talente en vaardighede wat jy weet niemand anders het nie, of dalk het daar van die ander ook hierdie spesifieke talente, maar wat is jou besonderse sterk punte? Is jy syfervaardig? Of meer taalvaardig? Of albei? Is jy beter in sport?

Blink jy in een of ander sport uit? Of al blink jy nie uit nie, is daar ‘n sekere sport waarvan jy hou om te doen? En dan, as jy dit dalk nie doen nie, is daar ‘n sekere sport wat jy graag op televisie kyk? Of daaroor oplees? Iets waarvan niemand anders hou nie? Of dalk hou jy glad nie van sport nie?

Is daar ‘n geheime belangstelling wat jy het wat jy amper vir niemand anders wil vertel nie omdat jy bang is dat hulle vir jou sal lag? Bv sterrekunde? Of Motorresies? Stampkarre? Rolbal? Waarvan hou jy baie?

Is jy lief vir musiek luister? Of hou jy daarvan om dit self te maak? Bespeel jy een of ander instrument en sou jy dit graag wou doen? Watter instrument?

Watter kos geniet jy? Is daar dalk ‘n kossoort waarvan jy hou, maar dis nie die gewone kos waarvan tieners hou nie? Soos afval? Of hoenderlewers? Of selfs rou wors?

Is jy lief daarvoor om tussen mense te wees of verkies jy eerder om alleen by die huis te wees? Is jy lief vir lees en sal jy vir ure met ‘n boek sit? Watter tipe boek verkies jy? Nie, watter tipe boek kies jy odat dit die ‘in’ ding is om te kies nie, watter tipe boek hou JY van?

Is jy ‘n gelowige? Glo jy in Jesus Christus? Of in wie glo jy? Glo jy dalk glad nie?

Watter besonderse karaktereienskappe het jy wat jou spesiaal maak. Of net anders as jou portuurgroep laat voel?

Vra ook vir jou ouers, jou broers en susters, jou tannie, jou vriende – wat is daar wat jou anders maak as ander kinders? As hulle aan jou dink, wat is die eerste gedagte wat in hulle koppe opkom?

Wanneer jy klaar hierdie opwindende lys gemaak het en nou alreeds heeltemal anders oor jouself dink, ek hoop dat jy opgewonde voel oor jouself omdat jy baie meer is as wat jy ooit sou droom, begin skryf. Skryf oor elkeen van die dinge wat jy neergeskryf het op jou lys. Moenie net skryf: Ek is lief vir musiek nie. Brei uit. Soos wat ek die vrae hierbo gevra het. Vertel meer. Gee redes hoekom jy van iets hou of juis nie hou nie. Vertel hoekom dit jou opgewonde maak. So maak jy by elkeen van die punte en voor jy jou kom kry, het jy heeltemal te veel woorde geskryf!

Skryf dit self. Moenie dat iemand anders jou opstel skryf nie. Niemand kan jouself beter weergee as net jy nie. Skryf dit asof jy dit vir jou beste vriend vertel. Of vir jou ouma. Iemand wat vir jou lief is. En moenie skaam wees nie. Geniet dit net!

En wanneer jy heeltemal klaar is, lees jou opstel deur, sit terug, dink daaroor en sê vir God dankie vir die besonderse mens wat Hy gemaak het. En daarna, glimlag vir ‘n oombik en dink by jouself: Ek is uniek. Wat ‘n voorreg!

Toortsie

Vir nog opstelonderwerpe of mondelinghulp, kyk gerus HIER.

Skryf ‘n opstel: Covid 19

Skryf ‘n opstel oor die pandemie.

Hierdie onderwerp kan jy op verskillende maniere benader. Ek vra vrae om jou gedagtes te stimuleer en jy formuleer die antwoorde in jou kop en skryf dit neer. Nie soos in antwoorde nie, maar maak jou antwoorde dit waaroor jy skryf. Maak dit jou eie. Onthou, behalwe as jy regtige feite noem, wat korrek moet wees, jou belewing van die virus joune is. Uniek. Niemand kan dit van jou wegneem nie en jy kan daar eerlik skryf hoe jy daaroor voel.

  1. 1.) Jy kan net ‘n reguit feite-opstel skryf waarin jy dít wat jy oor die virus beskryf. Waar is die eerste pasiënte wat hierdie virus onder lede het, aangeteken, nl die dorpie Wuhan in China, in Desember 2019.
  2. Jy kan ook noem dat dit baie vinnig wêreldwyd versprei het. Dit word van persoon tot persoon oorgedra en dat mense wat van een land na ‘n ander gereis het, dit versprei het na meer lande.
  3. Ook dat daar nou al verskillende variante van die virus is. Dat verskillende mense verskillend daarop reageer.
  4. Die inperking en hoe dit die land en die ekonomie wêreldwyd raak.
  5. Hongersnood en soveel mense sonder inkomste.
  6. 2) Ek wil jou aanraai om dalk eerder juis dít te skryf wat niemand anders gaan skryf nie. Skryf oor hoe die virus vir jóú beïnvloed het.
  7. Is daar enige van jou familielede wat siek geword het? Is daar selfs sterftes onder mense wat jy ken?
  8. Hoe het die inperking jou skoolbywoning geraak? Kon jy gemaklik aanpas by die nuwe reëlings, of was dit vir jou super-ontwrigtend? Wat is vir jou sleg van die hele ding?
  9. Kon jou ouers van die huis af werk? Kon hulle enigsins werk?
  10. Het julle gesin dalk by een of ander diensorganisasie betrokke geraak, soos byvoorbeeld ‘n sopkombuis? Het jy help kos uitdeel en hoe het dit jou geraak? Jou menswees geraak?
  11. Is jy bang? Waarvoor is jy bang? Dat jy doodgaan? Siek word? Dat julle as gesin dit tans nie maak nie en is jy bang dat julle nie kos in die huis sal hê nie? Beskryf jou vrese.
  12. Hoe voel jy oor die virus? Voel jy daar word genoeg gedoen om die verspreiding daarvan te keer? Of voel jy dit is sommer niks en dat die owerhede oorreageer?
  13. Wat doen jy en julle gesin om te verhoed dat julle siek word?
  14. Is daar iets spesiaals wat jy of julle gesin in hierdie tyd gedoen het om die inperking te vergemaklik? Het julle iets nuuts aangepak? Selfs ‘n nuwe manier om die alledaagse dinge te doen, aangeleer?
  15. Was die inperking en dit wat daarmee gepaard gaan, vir julle selfs goed? Het dit gelei tot nuwe geleenthede? Vertel daarvan?

Alhoewel jy nie my ervaring net so mag oorskryf nie, kan jy dalk as agtergrond lees hoe ek, Toortsie die virus ervaar het:

  1. a) So het ek dit opgedoen
  2. b) Die sleg van die siekte, hoe ek dit ervaar het. (Jy moenie so lelik praat nie, hoor!)
  3. c) Wat vir my gewerk het om die siekte te beveg.

Die heel belangrikste van alles bly:
Jy moet jou opstel SELF skryf. Jou EIE opstel. Dit maak nie saak as daar foute in is nie, dit is hoe jy leer om dit te doen. En geniet dit. Wees trots op dit wat jy skryf en doen.

Groete

Toortsie

Vir nog opstel- en mondelinghulp, kliek HIER.

Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was

Wat ‘n interessante onderwerp stuur Google vir my: ‘Toespraak oor die dag toe ek baie kwaad was.’ Ek dink dit is ‘n onderwerp waaroor elke persoon lekker kan skryf, want almal van ons raak een of ander tyd kwaad. Ons almal hanteer die kwaad net nie altyd dieselfde nie.

Ek gaan egter nie vir jou die toespraak skryf nie. Dalk maak dit jou nóg kwater! Wat ek gaan doen, is om jou te probeer help en lei om jou eie toespraak te skryf. Ek gaan vir jou vrae vra en jy kan dit antwoord. Skryf alles neer wat in jou gedagtes opkom na aanleiding van die vrae wat ek vra, selfs al dwaal jou gedagtes effens, want dit lei jou dalk tot ‘n volgende punt. Wanneer jy klaar is, sif jy jou gedagtes, orden dit en skryf jou toespraak.

Wil jy ‘n ernstige toespraak maak, of gaan jy dit dalk ‘n ligter toespraak maak omdat die situasie eintlik lagwekkend is?

Is jy ‘n persoon wat maklik kwaad word? Indien ja, hoekom word jy so maklik kwaad? Kry jy dit reg om jou emosies te beheer as jy so kwaad word? Wat doen jy om jou emosies te beheer? Hoe gee jy uiting aan jou emosies?

Indien jou antwoord op bogenoemde vraag ‘nee’ is en jy nie so maklik kwaad raak nie, wat doen jy om kwaadword te verhoed? Hoe hanteer jy jou emosies? Wat doen jy as jy wel die slag kwaad word?

Jou toespraak gaan oor ‘n dag wat jy regtig kwaad was. Dink aan so ‘n geleentheid. Wat het daardie dag gebeur? Gaan jy ‘n ware storie skryf of gaan jy iets anders uitdink? Indien jy ‘n regte storie wil skryf, sal ek jou aanraai om eers goed daaroor te dink of jy ‘n storie wil vertel wat iemand in jou gehoor direk gaan raak. Of ‘n storie waaroor jy baie sensitief is, dink mooi of jy nie jouself blootstel nie? Jy wil tog nie ‘n skinderstorie of groter ontploffing met jou toespraak veroorsaak nie, of hoe?

Hoe gaan jy die storie vertel? Gaan dit jou weer van vooraf kwaad maak? As dit iets baie persoonliks is, wil ek jou aanraai om iets anders te kies.

Jou storie. Wat het daardie dag gebeur? Vertel die storie so goed as moontlik, maar moenie name noem indien dit nie regtig nodig is nie. Probeer ook om nie rassisties, seksisties of afbrekend op enige manier te wees nie.

Dink ‘n bietjie: Hoekom het dit jou so kwaad gemaak? Is jy te ná gekom? Was dit onregverdig? Was dit onnodig? Het dit jou herinner aan ‘n ander keer wat jy ook kwaad geword het? Is dit die eerste keer wat jy so iets oorkom?

Hoe het jy uiting gegee aan jou woede? Het jy net stilgebly, omgedraai en weggeloop? Of het jy ‘n kabaal opgeskop? Het jy lelik gepraat, geskree? Gehuil?

Kon jy ná die tyd jou saak stel of was dit ‘n verlore saak? Toe jy weer die feite oordink, het dit toe anders gelyk? Was dit dalk ‘n misverstand? Of selfs dalk ‘n grap? ‘n Poets? Was jou kwaadwees geregverdig? Of onnodig?

Het die persoon vir jou om verskoning gevra ná die tyd? Of het jy dalk vir hom om verskoning gevra omdat jy oorreageer het?

Hoe voel jy nou oor die situasie? Skaam? Beter? Of lag jy selfs daaroor?

Dink jy jy sal weer so kwaad word of gaan jy in die toekoms probeer om jou emosies beter te beheer? Indien jy dit beter wil beheer, wat dink jy kan jy doen om dit reg te kry?

Ek hoop dit kon jou help.

Toortsie

Uitdaging aan die blogmaats: Skryf ‘n blog hieroor. Dit kan ernstig wees of lagwekkend.

Vir nog opstelonderwerpe kan HIER gekliek word.

Skryf ‘n opstel: Dinge wat my irriteer

Hartlik geluk aan die onderwyser wat hierdie onderwerp uitgedink het, want ek dink enige tiener sal baie hieroor te sê hê, soos, dat die onderwerp irriterend is! Ek skryf nou so gereeld ‘opstelhulp’ omdat die opstelonderwerpe so gereeld besoek word. Ek kan ‘n duidelik sien wanneer dit skoolvakansie is en wanneer nie. Tog wonder ek soms of dit wat ek hier gee enigsins is wat die soekers na soek, of hulle nie klaarverpakte opstelle soek wat net so oorgeskryf kan word nie. Ongelukkig kan ek dit nie gee nie. Ek probeer idees gee van wát om te skryf, vrae vra wat hopelik idees in die skrywer se kop sal bring, ek probeer om self skryf te stimuleer. As dit vir een of twee persone wel tot huop is, is ek baie bly.

Skryf oor dinge wat my irriteer. Nou is jou kans! Skryf jou hart uit. Begin deur op ‘n los stukkie papier ‘n lysie te maak van wat jou alles irriteer. Jou ouers? Julle omstandighede? Die woonbuurt waar julle bly? Jou broer? Jou suster? Jou broer se vriende? Die kar waarmee julle ry? Maats wat jou spot? Jou suster se klavieroefenry? Haar gegiggel? Toortsie wat probeer help, maar glad nie help nie? Komaan, wat irriteer jou? Die onderwyser wat aanmekaar probeer snaaks wees, terwyl jy nie dink sy grappies is snaaks nie?

Sodra jy nou ‘n bietjie begin dink het wat en wie jou irriteer, dink ‘n bietjie verder. Hoekom is dit vir jou so ‘n irritasie? Wat presies doen die persoon wat jou irriteer. Hoekom irriteer dit vir jou?

Nou begin jy skryf. Moenie net ‘n lys gee van wat jou irriteer nie, met die hoekom daarmee saam nie. Maak dit jou eie en skryf dit asof jy dit vir jou beste vriend vertel. Gee dit karakter deur jou emosies te wys in jou opstel. Maak dit persoonlik.

DAn kan jy dalk ook dink aan wat jy kan doen sodat dit jou minder irriteer. Kan jy dit dalk ignoreer? Kan jy dit uitsorteer met die persoon deur mooi met hom te praat? Kan jy jou dalk onttrek uit die situasie, of kan jy dalk ‘n byrae maak om dit meer uithoudbaar te maak?

Lekker skryf

Toortsie

Vir nog opstelhulp kan jy hier kliek. Ook vir mondelinge of toesprake oor dieselfde onderwerpe. Onthou om toortsie.com as bron aan te gee as julle hierdie inligting gebruik.

Blogmaats, as julle lus het om ook hieroor te skryf, maak so en onthou om hierdie bloginskrywing te tag.