Skryfsafari: Hoekom blog ek

Eintlik het ek gevoel dat my vorige skryfsel oor die blogger wat in die moeilikheid is, uitstekend gedemonstreer het hoe ons in blogland ons ding doen, vir mekaar opkom, storm waar dit nodig is, maar ek sien hier is van die manne wat voel ons is van die punt af, en dat ons nie hou by die onderwerp nie. En wat wel baie waar is, is dat ons mos vroue is en baie goed gelyk kan doen: Vir Una red én die onderwerp van die week hanteer. 🙂 Soos tannie Frannie heeltemal tereg genoem het.

Net vir die rekord: In opdrag van Tannie Frannie is die onderwerp van die week: Hoekom blog ek?

Want dis vir my lekker. Ek is mal daaroor. Hier in blogland kry ek kans om al die ekke te wees wat ek wil wees: Die lawwe ek, die ernstige ek, die Christen ek; die denker ek, die Banter ek, die preutse ek, ag man, enige ek wat op ‘n betrokke oomblik te voorskyn kom, en daar is baie van hulle!

Hier in blogland het ek geleer dat daar mense is wat oor sekere goed net soos ek voel, en baie keer is dit goed waaroor ek dalk in die verlede nie durf waag het om my mond oop te maak nie, omdat ek gedink het ek is die enigste een wat so dink.

Terselfdertyd het ek in blogland geleer dat hier soveel meer opinies is as net my eie, dat mense verskil in geloof, waardes, manier van doen, wat nog alles, maar dat ons mekaar die ruimte gun om te wees wie ons wil wees.

Soms sal iemand openlik met my verskil, maar in die meeste van gevalle verskil ons met respek en dit is baie lekker.

In blogland speel ons saam, is ons saam ernstig, saam laf, soek ons saam na denkbeeldige goud en, vir die lawwigheid daarvan, doen ons speel-speel dinge wat ons in die regte lewe nooit eers aan sal dink nie!

Ek het min groei in myself ervaar soos wat ek dit ervaar het vandat ek begin blog het. Ek het geleer om my gedagtes te verwoord, maar ook om te staan vir dit waarin ek glo. Ek geniet die kommentare en saamgesels van ander bloggers baie en ek geniet dit ook baie om húlle stories te lees.

Toe ek begin blog het, was ek baie betrokke by die verskillende bloggers en het hulle stories probeer onthou. Intussen het ek minder betrokke geraak en lees sommer hier en daar en overal, maar sekere blogs sal ek baie moeilik oorslaan. Soms is daar ‘n blog wat ek graag wil lees, maar die tyd ontbreek eenvoudig.

Maar hoekom ek blog? Omdat ek nie anders kan nie!

Toortsie

…………………………..

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

17 thoughts on “Skryfsafari: Hoekom blog ek

  1. Ek dink onse Toortsie het die mede-bloggers se motiverings kollektief verwoord. Ek sal, wanneer ek dapper genoeg is om uit my warm bed te klim, vir julle vertel van ‘n ekstra punt of twee wat ek kan byvoeg 😘

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!