Dis jare gelede wat ons op ‘n John Deere toer was na Amerika en Duitskand. Wonderlik! Die borge het ons behoorlik bederf.
Ons was sowat 50 boere en boervrouens bymekaar en het elke moontlike John Deere fabriek besoek -die trekkerfabriek, stroperfabriek, enjins. Ook elke liewe John Deere winkel, die indrukwekkende hoofkantoor, tot die partestore in Duitsland. Ongelooflik! Ek het dit geweldig baie geniet.
Wat my opgeval het, is die ordentlikheid, die erkentlikheid van die mense wat in die fabrieke werk. Wanneer ons verby hulle stap, of in die groter fabrieke ry, stop hulle ‘n sekonde of twee om vir ons te kyk en te groet. Ook die presiesheid.
Wel, soms het ons moeg geword ook en was al plek vir ‘n middagslapie ‘n trekker se rim. Soos die foto vertel.
In die eerste deel van Die Kern was die Goue Vroue uitgedaag om hulle hartsgeheime terug te skryf. Om dit wat hulle letterlik uit hulle lewe geskryf het, terug te skryf. Dit kan HIER gelees word. Sommige van ons het ons ware stories kom vertel. Diep stories. Hartseer stories. Ander het fiktief geskryf rondom Rebusfontein.
Elke persoon het ‘n storie. Almal van ons het al goeie én swaar tye beleef. Al hoe meer bundels met verskillende mense se ware stories sien die lig. Dalk het jy ook ‘n behoefte om jou storie te vertel, selfs al is jy nie een van die Goue Vroue nie. Daarom, as jy lus voel om ook jou storie te skryf, die bladsy wat jy uit jou boek geskeur het, terug te skryf, wil ek jou nooi om dit te doen. Skryf dit op jou blog of op facebook, verwys na die Inlinkz skakel waar die ander persone ook hulle stories geskryf het en heg jou storie daar aan by die Inlinkz sodat ons daarvan kan weet. Kom heg die skakel ook by die kommentare aan van hierdie bloginskrywing, of ‘tag’ hierdie bloginskrywing asseblief.
Dit is die deel een.
Met ‘Hekel en word heel’, wat nou al ‘n tweede bundel uitgegee het, kom my deel twee van Die Kern Uitdaging. In hierdie deel van die uitdaging hoef jy nie so in diepte van jou krisis te vertel nie, behalwe natuurlik as jy wil. Die doel van hierdie uitdaging is: Hoe het kreatiwiteit jou gehelp om heel te word? Watter kreatiewe dinge het jy gedoen? Hoe het jy dit gedoen? Vertel vir ons asseblief. Wys selfs foto’s as jy het. Stories van hoop sodat ons vir ander wat deur moeilike tye gaan, ook hoop kan bring.
Hierdie uitdaging is vir enige persoon wat wil deelneem.
Die Goue Vroue pak ‘n splinternuwe uitdaging aan. Dis nou, so tussendeur hulle avonture op Rebusfontein en dan is daar boonop die maandkalender waar elkeen foto’s met ‘n storie skryf.Maar hierdie, HIERDIE IS DIE ONTKNOPING VAN ELKEEN SE DIEPSTE HARTSGEHEIME.
Diep in die hart van hierdie geel bladsye vesonke lê die geheim opgesluit.
Nie eens onsigbare ink of kodifisering verbloem die geheimenisse nie. Elke vrou het haar ontblote geheim versigtig uit hierdie boek verwyder…uitgesny!
Met net mooi genoeg provokasie sal elke vrou dalk, ja dalk tóg! een vir een hulle bladsye terugskryf sodat die leser kan agterkom HOE en WAT en HOEKOM elkeen in haar eie reg geluk gevind het.
Het jy ook ‘n geheim wat jy wil uitskryf? ‘n Ware geheim of ‘n fiktiewe een? Wil jy ook graag deelneem aan hierdie uitdaging? Skryf jou storie op jou blog en haak dit aan by hierdie skakel, waar al die ander se geheime ook gebêre word.
Ek sit op die meent saam met die ander Goue Vroue en luister na almal se stories, hoe hulle hulle uitgeskeurde bladsye terugskryf, hoe hulle lewens heel geword het. Sit sommer en dagdroom so tussenin, toe Seegogga vir my die boek in my hand sit. Dit is my beurt om te skryf! Sal ek skryf van die traumas wat ek in my lewe deurgegaan het wat my lewe amper uitmekaar geruk het en hoe ek heel geword het met God se genade, die Goue Vroue en ander maters se ondersteuning, deur fanaties te hekel en te brei en te borduur en resepteboek te skryf, klavier en kitaar te speel, my hart by my klavier uit te huil, in die berg saam met my man te stap, te skryf in my bidboek?
Maar toe dink ek, nee! Ek moet vir julle hierdie storie vertel!
Ek begin vertel:
“Ek weet wie die bank beroof het. Ek ken die skuldiges! Ek weet dit al al die jare! Ek praat van die groot bankroof wat in Johannesburg gebeur het in 1970. Dit was groot nuus. ‘n Groot skok vir die hele land, selfs vir die wêreld. Niemand het geweet hoe die bankrowers dit reggekry het nie, hoe hulle so slim was en letterlik al die sekuriteit wat daar was, gefnuik het nie. En die ergste van alles, in al die jare is hulle nog nooit opgespoor nie. Die bankrowers het eenvoudig alle spore agter hulle uitgevee.
En ek loop my hele lewe lank nog met die geheim in my hart rond.
En om dit hier te skryf, stel my lewe in gevaar.
Julle het geen idee watter vrees en angs ek my lewe lank in my hart dra nie, wegsteek nie. Want niemand moet dit agterkom nie. Niemand mag dit weet nie. Die mense dink dat ek maar hierdie lawwe, loskop, mal vrou is, maar hulle weet nie watter groot geheim ek agter dit wegsteek nie. Ek praat partykeer sommer aspris lawwe dinge, net sodat mense moet dink dat dit maar weer een van my lawwe stories is, dat ek in my eie wêreld is wat ek vir myself geskep het. Sodat hulle nooit sal uitvind nie. Want hulle mág nie uitvind nie. Want van daardie mense leef vandag nog en ek ken hulle!”
Toortsie: “Ek was maar net agt jaar oud, ‘n ou kleine krulkopdogtertjie. Ons het gekamp op Struisbaai, met ons karavaan. Die grootmense het gekuier van tent tot tent, stories vertel, gelag, nonsens gepraat. Ons kinders mag gesien word, maar nie gehoor word nie. Ons het gespeel. Wegkruipertjie tussen die karavane. Toktokkie. Krieket.
Soms het ons sommer net gedwaal.
En dis tóé, met ‘n dwalery, wat ek dit hoor. ‘n Klomp ooms het ‘n bankroof beplan! Stukkie vir stukkie. Hoe hulle gaan maak. Wie wat gaan doen. Die rewolwers. Die voertuie. Die voorryers, die agterryers. Hoe hulle gaan kommunikeer. Hoe hulle gaan wegkom van die bank af. Selfs waar hulle die geld gaan wegsteek. Wat hulle met die geld gaan maak. Hoe hulle hulle onskuldig gaan hou. Hulle alibi. Álles is in detail beplan.
Ek het net doodstil staan en luister. Ek kon nie glo wat ek hoor nie. Eintlik het ek dit nie verstaan nie, want wat weet ‘n ou agjarige dogtertjie nou van banke en bankroof af? Ek het gedink dat die ooms maar net ‘n doppie te veel gedrink het, of iets.
Toe kyk een van die ooms op en sien my. Hy het my diep in die oë gekyk, stadig opgestaan en na my toe gestap. Hy het sy hand so agterom my nek gevat en my hard gedruk. Dit was seer. En hy het vir my saggies, so tussen sy tande deur gesê:
A S J Y V I R E N I G E I E M A N D H I E R V A N S Ê , M A A K E K J O U D O O D , V I R J O U E N J O U B R O E R S E N J O U P A E N J O U M A .
Toortsie: “Ek was só verskriklik bang! Dit is groot ooms! En ek wil nie doodgaan nie! En ek wil nie hê my ouers en my broers moet doodgemaak word nie!”
Toortsie: “Ek het sommer see toe gestap en daar agter die sandduin gaan sit. Ek was so naar dat ek opgegooi het. Vir drie dae aanmekaar. My ma kon nie verstaan hoekom my maag so omgedolwe was nie, ons het tog niks vreemds geëet nie. Sy het gedink dat dit dalk van die son was.”
Toortsie: “Eers het daar niks gebeur nie, daar het ‘n lang tyd verby gegaan en ek het begin ontspan, maar toe kom die nuus: Daar is ‘n bank beroof in Johannesburg. Ek was van voor af siek. En bang.
Maar ek kon nie praat nie.
En niemand het gedink dat ek, ‘n agjarige dogtertjie sou weet wie dit gedoen het nie.
Maar ek hét geweet.
En stilgebly.
Tot vandag nog.”
Sonell: “So, Toortsie, jy sê jy weet wie dit was? En dat die mense nog leef?”
Toortsie: “Ja, ek het nie almal geken nie. Die meeste van daardie ooms is al dood, die een is nog in die ouetehuis. Hy moet nou omtrent by die neëntig wees.”
Frannie: “Toortsie, dink jy regtig dat hy nou nog sal onthou dat jy iets geweet het, veral dat jy ná al die jare nog nooit iets gesê het daarvan nie?”
Toortsie: “Raai, Frannie, noudat jy dit noem, ek is nou nie eers heeltemal seker of hy nog wel leef nie, ek het hom baie lank laas daar gesien. “
Positief: “Toortsie, dan dink ek nie jy hoef meer bekommerd te wees dat hulle jou iets kan aandoen nie. Maar noudat jy daarvan praat, kan jy onthou waar hulle gesê het dat hulle dit gaan wegsteek?”
Woordnoot: “Ja, Positief, NOU praat jy reg! Toortsie, waar was dit?”
Toortsie: “O aarde! Julle weet mos dat ek nie name kan onthou nie! Ek dink dit was iewers in die Karoo. ‘n Piepklein dorpie waar een van die ooms ‘n familielid gehad het met ‘n plaas. ‘n Plek waaraan niemand sou dink nie. Wag! Dis Riet … uhm … uhm … Rietvlei? Rietdam? Watter riet sal dit wees? Ek onthou dat die een oom gesê het dat hulle net moet onthou: By Rietfontein se leidam waar die reier staan en droom …”
Appeltjie: “Ek weet nie of ons daardie rietfontein uitgesnuffel sal kry nie. Hoeveel Rietfonteine is daar in ons land? En ís dit nou Rietfontein? Ons weet almal van Toortsie en name.”
Aalsie skud net instemmend haar kop. Ja, ons weet, ons weet.
Sonell: “Toemaar, Toortsie, ek dink jy kan nou maar ontspan. Dit lyk vir my die ooms wat jou lewe bedreig het, lewe nie meer nie of kan in elk geval nie meer onthou nie en om vir daai oom in die ouetehuis te loop vra, gaan ook nie eintlik help nie.”
Toortsie: “Regtig, Sonell? Dan is hierdie bladsy mos nou heel. Teruggeskryf. En kan ek die boek vir iemand anders aangee.”
Seegogga: “Ai, Toortsie, ek is regtig bly oor jou heel bladsy en alles, en soos jy sien is dit die moeite werd om oor die dinge te praat. Maar ek is darem so effens teleurgesteld dat jy nie die naam van die plek kan onthou nie. En soos ek jou ken, is die plek se naam nie eers iets met ‘n Riet te doen nie.”
Virgo: “Toortsie! Party mense kan ‘n mens mooi aantrek, maar nêrens heen neem nie. ‘n Hele bank se geld! Wat kon ons nie alles daarmee doen nie? Maar ek is baie bly dat jy nog leef om vir ons die storie te kan vertel. Dat daai ooms jou nie iets aangedoen het nie.”
Verlig dat hierdie nare storie uiteindelik lug gekry het en Toortsie verlig is dat sy ontslae is van die groot las wat sy al die jare moes dra, dat haar stukkende bladsy in die boek teruggeskryf is, sit sy terug in haar stoel en wonder vir wie sy die boek volgende kan gee?
…………………………………..
Ns. Suiwer verbeelding van die Toortsie. Niks hiervan is waar nie.
Ek skryf hierdie in opdrag van Scrapydo, maar dit lyk my dit was eintlik ook Appeltjie se idee. Wat is op/teen jou yskas?
Ek het eintlik vergeet van hierdie plakker teen my yskas, want deesdae is dit die sy wat teen die kas staan. Nou die dag toe ek die yskas uittrek om agter dit skoon te maak, ontdek ek weer die plakker en het dit baie herinneringe in my hart oopgekrap.
In 2015 het ek my eerste Toortsieboek geskyf. Ek was bang. Angstig. Verskrik. Want ek het nie geweet waarin ek my begewe nie. Ek moes heeltemal in vreemde waters swem en ek kan nie eers behoorlik hondjieswem nie!
Maar God het vir my die pad uitgelê en ek moes dit net loop. Treetjie vir treetjie. Dit is Hy wat die regte mense oor my pad gestuur het op die regte tyd. Hy het selfs vir RSG gestuur om ‘n onderhoud met iemand te doen oor, luister net, as jy ‘n resepteboek wil uitgee, wat belangrik is! Dit, toe ek vir die hele uur stokalleen agter my kar se stuur was en elke woord kon indrink. Hy het, toe ek ‘n ander boek by Smashwords wou koop, my nie toegelaat om die boek af te laai voor ek nie ‘n ander gratis e-boek aflaai nie. Dáárdie e-boek het vir my stap vir stap vertel wat ek moet doen. Hy het ‘n fotograaf en stilis oor my pad gestuur en iemand wat die bladuitleg wil doen. Wanneer ek angsbevange getwyfel het wat ek moet doen, het daar op my rekenaar ‘n boodskap van aanmoediging gelê van iemand wat ek glad nie ken nie met presies die woorde wat ek op daardie oomblik nodig gehad het. Hy het mense gestuur wat vir my die regte raad gegee het, sonder dat ek daarvoor vra, net omdat ek dit op daardie presiese oomblik nodig gehad het. Hy het vir my deure oopgemaak wat oop moes wees, en deure toegesluit wat beslis nou, by nadenke, toe moes wees. Of deure eers op ‘n later stadium oopgemaak omdat die betrokke deur vir my sou lei na onsekerheid, maar toe dit oop kom, kon ek met sekerheid in my hart optree. So kan ek aangaan.
Toe daardie boek uiteindelik op 16 Desember uitkom, net betyds vir die Struisbaai Kersmark, kon ek net van Sy genade betuig. Ek het my diensbeurt gedoen en sien toe die plakker lê: “Great Things never came from Comfort Zones.”
Ja, met hierdie Toortsie een en almal daarná het ek totaal buite my gemaksone beweeg. Heeltemal. Die gemaksone was nie eens in sig nie! Hierdie woorde was só op my van toepassing. Vandag kan ek net nog meer getuig: As ek gemaklik in my gemaksone sou bly sit en nie gewaag het nie, ai, dan sou ek darem groot gemis het! Groot verloor het, veral aan die onwikkeling van my eie persoonlikheid. Dit sou eintlik tragies wees.
Die probleem is net, ‘n mens kan verslaaf raak daaraan om buite jou gemaksone te beweeg. Jy kan verslaaf raak aan uitdagings. En dan te veel uitdagings te wil aanpak, sommer net omdat jy kan en wil waag … maar dit is ook reg, niemand het mos gesê jy moet AL die uitdagings oorkom nie. Ek voel, al kry ek slegs een van die 100 uitdagings reg, sou ek dit nie reggekry het as ek nie gewaag het nie. Ek kan ook getuig dat dit nie gaan oor die hoeveelheid mislukkings wat jy gemaak het nie, maar dat jy daaruit geleer het en gegroei het.
Ja, vir jy het dit beslis gewerk om buite die gemaksone te beweeg, veel meer as wat ek sou kon droom of dink.
Toortsie
Terloops, om destyds ‘n blog te begin, was ook ‘n stap ver buite my gemaksone.
Ek het ‘n wonderlike tyd agter die rug met al my kinders en kleinkinders wat soms saam, maar soms afwisselend by ons gekuier het. Dit het veroorsaak dat ek nie by bloglees uitkom nie, net so hier en daar ietsie gelees. Soms het ek net ‘n opskrif gelees so in die verbygaan, maar dit tel mos nie as gelees nie. Toe ek egter Scrapy se wasdaguitdaging sien van sintuie, het ek, soos soveel ander wasdae, gedink dat ek daaroor sal wil skryf. Ek kom net nie noodwendig altyd by die skryf uit nie en voor ek my kom kry, is die volgende wasdaguitdaging hier. Toe ek nou in my leser soek na die betrokke bloguitdaging, sien ek hoeveel fantastiese bloginskrywings daar is wat ek ook nog so graag wou lees. Dalk moet ek ‘n dag nét blogs lees en op datum kom!
Dit is mos algemeen bekend dat ons vyf sintuie het, maar dat vroue ‘n sesde sintuig het. My man noem tog te graag dat ek ‘n uiters fyn sesde sintuig het. Ek kan sy stories beaam, maar ek het ‘n ander verklaring daarvoor as dat dit ‘n sesde sintuig is.
Op ‘n stadium was ek die bestuurder van ons vervoerbesigheid. Intussen het ek ‘n helper gekry, Dawie, en het hy stelselmatig die bestuur oorgeneem en ek het meer die rekeninge hanteer. Een dag, toe ek van die dorp af by die deur inkom, hoor ek hy praat met iemand op die foon. Ek het nie geweet met wie nie, ook nie waaroor nie. Die woorde, “Los daardie man”, het uit my binneste geborrel. Plaas dat ons maar geluister het daardie keer!
Baie jare gelede het my man belanggestel in ‘n plaas. Ek was onseker daaroor. Eintlik het ons klaar besluit om nie te koop nie. Middagetetyd kom hy, soos gewoonlik, by die voordeur in. Ek staan by die stoof en vra vir hom, ek het net ‘n vreemde gevoel gekry: “Waar was jy nou?” “By X”, antwoord hy. “Waar was jy en X?”, vra ek. “By Y.” “Waar was jy, X en Y?” “Ons het gaan kyk na die plaas.” “Koop dit, antwoord ek.” Ons het vir twintig jaar op daardie geliefde plaas gewoon.
Toe ons nog op Frederickskraal gewoon het, 50 km grondpad van die dorp af, wou ek voor donker by die huis kom. Ek wou eintlik altyd voor donker by die huis kom. My pa groet en sê dat as ek voor ‘n sekere punt ‘n pap wiel kry, ek moet probeer om tot by ‘n boer te kom en dan kan hulle hom, my pa bel en hy sal kom help. Anderkant daardie spesifieke punt moet ek eerder probeer om my man in die hande te kry om te kom help. Dit was voor selfone. Ek noem aan hom dat ek nie beplan om daardie dag ‘n pap wiel te kry nie, maar as dit sou gebeur, moet dit teen die bult by Ouplaas wees, dan kan ek tot by oom Jan kom en dan is my man nie te ver om te kom help nie. Dit het presies net so gebeur!
Of die keer, baie jare gelede wat ek by die dokter was en iemand bel. Toe hy die foon neersit, sê ek uit die bloute iets van die dokters met hulle skelmpies. Min het ek geweet hoe raak ek geskiet het en dit sonder om te dink!
My gesin weet al dat hulle nie moet probeer om my te flous nie. Hulle kry dit dalk vir die oomblik reg, maar nie regtig nie. Ek is al daarvan beskuldig dat ek stof opjaag, wat seker waar is. Ek moes ook al baie in my lewe leer om eerder my mond te hou, moeilik, maar wel, want ek kan nie my wil op almal afdwing nie.
Wat my verduideliking vir hierdie sesde sintuig is? Sy naam is die Heilige Gees. Dis Hy wat my waarsku.