Iets kleins wat groot geword het

Nou die dag vra hulle op RSG, waaraan kan jy dink wat jy gedoen het wat klein en onbenullig begin het en groot geword het?

Meer as twaalf jaar gelede het ek bang en onseker my eerste bloginskrywing gedoen op Madele Oor Leef. Die man met die hoed het my vrees raakgelees en geskryf: “Welkom, ons byt nie!” Wel, daardie blog het nie oorleef nie, maar ‘n paar dae na Madele Oor Leef se skielike afvee van die web af, is Toortsie gebore. Danksy daardie bang skrywes van daardie tyd het Toortsie gemaklik begin raak met ‘n skrywery. Voor blogs het ek net in my bidboek geskryf. En werkstukke vir my kursusse. Intussen het Toortsie haar vlerke al hoe wyer gestrek en selfs aan skryfkompetisies deelgeneem en verbasend goed gedoen. Daar is van haar kortverhale en selfs gedigte toegelaat in publikasies.

In Julie 2014 het die vetsugtige, moedelose Toortsie gebid en vir God hulp gevra. Sy het nie meer raad geweet nie. Sy het elke verslankingsdieet onder die son getroef (of het hulle vir haar getroef?) Dit wou nie meer werk nie. Sy kon net eenvoudig nie meer by enige van daardie eetplanne bly nie. Sy het gehoor van Banting, maar ja, ‘n mens moet GEBALANSEERD eet, so sy kan dit nie doen nie. Om die waarheid te sê eet sy konstant gebalanseerd te veel! (Intussen het sy agter gekom dat sy regtig baie gebalanseerd eet, geen mens het stysel of suiker nodig om ‘gebalanseerd’ te eet nie!)

Op my eie het ek daardie dag, 27 Julie 2014 met Banting begin. Alleen die onttrekkingsimptome trotseer. Al plek waar ek kon deel van my ervaring was op hierdie einste blog … Ek het nie geweet waar om hulp of resepte te soek nie, behalwe in Tim Noakes se rooi boek nie. Ek moes die lyste bestudeer van wat ek mag eet en wat nie. Ek moes die eie kos wat ek eet, onder oë neem en kyk wat ek steeds kan eet en waaraan ek moes skaaf. Ek het resepteboeke gefynkam vir resepte waaraan ek kan verander sodat dit Bantingvriendelik kon raak. Sodat ek darem nie élke dag van my lewe net van eiers, vleis en mengelslaai hoef te leef nie.

Vandag, 3 resepteboeke later wat steeds al drie baie goed verkoop (terloops, boek 1 is nou amper by die 3 000-merk!), is ek steeds op die Bantingpad. Ek het omtrent 16 kg verloor wat ek behou en nie heeldag op en af wipplank ry nie. My klere pas vir jare en sit gemaklik. Ek het al heelwat kursusse gedoen by Nutrition Network in hierdie verband, veral met die oog op diabetes. My Whattsapp Bantinggroep wat ook so met verloop van tyd begin het, is lewendig en die mense help en ondersteun mekaar. Nuwe mense leer die leefstyl aan met my en ander groeplede se hulp.

Ja, daardie kleine stappies wat ek amper 13 jaar terug geneem het met my blog en 8 jaar gelede met Banting, het my grootste verwagtinge oortref. As mens het ek ontwikkel. Ek voel of ek ander tot hulp en nut kan wees. Al wat ek kan doen is om in dankbaarheid en verwondering My God te loof en te eer, want sonder Sy hulp, Sy beskerming, Sy leiding en raad, sou albei hierdie klein beginnetjies net soos mis voor die son verdwyn het. Daardie tyd al.

Toortsie

Skryf

Trisa Hugo het hierdie by die Lekkerleesboekklub geskryf.

Trisa Hugo, Maankind, het bogenoemde by die Lekkerleesboekklub op Facebook geskryf waarop die volgende kommentaar gelewer is deur Ben le Roux:

‘Soms, in die soeke na perfeksie, gaan dit soos met ‘n skrywer in een van Camus se boeke. Hy het nie verder as die eerste sin gekom nie.
Dag vir dag het hy dit verander net om die volgende dag, ontevrede daarmee, dit te weer te verander.’

Skryf is ‘n werkwoord. Ek is mal oor skryf, wie sou dit ooit kon voorspel? Dis ‘n manier waarop ek van die baie woorde wat in my kop maal, kan ontslae raak. Dis ‘n manier van kommunikeer. Dis lekker.

Maar ek kan net skryf as die woorde daar is om te skryf. Ek kan nie woorde uitdink nie. Die woorde moet self kom. Die woorde besluit self of hulle geskryf wil word of nie. En dan is dit ook so dat wanneer ek die minste tyd het vir skryf, die besigste ooit is, die skryfwoorde kom soos ‘n rivier wat oorstroom en dan kan ek net vir hulle so in die verbygaan kyk hoe hulle in die see in loop, totaal verlore. Want ek kan nie agterná dit wil loop skryf nie, dan werk dit nie.

Ek vertel vir iemand van NaNoWriMo wat in November is. Gits! Dis oor minder as TWEE weke! 😳🙈🙊 Dat ‘n mens dan 50 000 woorde moet skryf in die maand van November. Dit beteken 1667 woorde per dag. Waarop sy antwoord, ‘dis verskriklik! En dan moet alles nog sin maak ook!’ Waarop ek antwoord, ‘nie nodig vir sin maak nie. Dit is net rofwerk. Jy dien dit nie in nie, gee net daagliks verslag van die aantal woorde wat jy geskryf het. Die sin maak en orden kom later.’

En dít dink ek is die grootste struikelblok waarom soveel mense wat graag wil skryf, dit nie doen nie, soos Ben le Roux gesê het. Ons moet in die eerste plek net skryf wat op ons harte lê. Al is daar foute in. Selfs al maak dit nie sin nie. Skryf net. Ons kan ná die tyd redigeer.

Ek voel dat Trisa se woorde vir elkeen wat iewers woorde neerpen, waar is. Op ‘n brief, e-pos, blog, boek, waar ook al. Dankie vir die mooi woorde, Trisa. Dit is ook vir jou waar.

Lekker skryf. Geniet dit net.

Toortsie

Dis eg

Vandag bly die gedagte sommer in my kop hoe lief ek vir blogging is, vir die bloggers, vir die stories wat ons skryf, vir ons lawwigheid.

Ek is lief vir die Towerinne, die oues én die nuwes, al is hulle eintlik virtuele vriende. Ek is lief vir elkeen van hulle. Want hulle het my vriendinne geword. Myne. Want hulle is regtig. Eg. Hulle lewe regtig. En as ek eers eenmaal lief geword het vir iemand, raak ek nie sommer maklik onlief vir daardie persoon nie. Hulle is my mense. Myne.

Ons deel vir mekaar ons grootste blydskap en ons grootste hartseer. Ons kry selfs die enkele misverstand ook tussen ons, want ons is regte mense. Eerlike mense. Opreg. Elkeen van ons.

Ek geniet ons lawwe stories wat ons skryf waarin onsself die karakters is. Alhoewel dit fiktiewe verhale is wat ons skryf, leef ons ons daarin. Word dit deel van ons. Raak dit ons eie storie. Beleef ons dit. Want dit is óns storie. Ons ware storie in ‘n virtuele wêreld. Ons maak dit ons eie. Dit kan nie sommer net gereduseer word tot ‘net ‘n storie’ nie, want dit is dit nie. Dit is óns storie. In ‘n virtuele wêreld wat ons vir onsself suksesvol geskep het in ‘n virtuele tyd.

Ons, wat nie in ‘n virtuele wêreld grootgeword het nie, ons wat eintlik meestal ouer vroue is, kon dit regkry om so ‘n plek van ontvlugting te skep. ‘n Plek waar ons sommer net vergeet van al die slegte dinge wat om ons gebeur. ‘n Plek waarheen ons ontvlug as die lewe te moeilik raak. As dinge te veel druk. As ons nie altyd dinge wat om ons gebeur verstaan nie.

Ons kon dit regkry om die aaklige Covidjaar beter te maak, draagbaarder te maak, selfs lekker te maak. Terwyl ander mense moedeloos en verstrik geraak het tussen maskers, vasgegrendel op watter manier ookal, het ons onsself geniet, pret gehad, gespeel. Skoon vergeet van Covid en wat daarmee saamgaan.

Ek eer elke Towerin wat hieraan deelneem en deelgeneem het. Ek eer elkeen wat saamgespeel het en dit lekker gemaak het. Ek eer elkeen wat gehelp het om hierdie storie en ons gunstelingplekkie Rebusfontein te skep en ontwikkel het. Ek eer julle, my blogmaats.

En ek eer my Here wat ook hierdie pad van blogging vir my oopgemaak het en die plesier wat ek daardeur kon kry en ek glo, nog gaan kry in die toekoms ook.

Toortsie

Ek lees my kinderjare voor op SoundCloud. Soek vir Toortsie.

https://toortsie.com/2020/09/12/voorlesings-uit-my-kinderjareboek/

Konsep, skeduleer, publiseer

Ek het gedink ek het die antwoord, maar by verdere ondersoek was ek toe glad nie so slim soos ek dink nie. Hoekom gebeur dit dat ‘n storie nie wys op die leser nie? Mag dit dalk wees dat die leser nie noodwendig alles wys nie? Ek vermoed so. Ek het ook al agtergekom dat die selfoon app ook nie al die kommentare wys en as ek later op die rekenaar kyk, vind ek kommentare wat ek nooit raakgesien het nie.

Wat ek wel al agtergekom het en gedink het dat dít die antwoord is:

Wanneer ek ‘n bloginskrywing as ‘n konsep stoor (save as draft), onthou die rekenaar daardie datum en tyd as die tyd vir publikasie. Wanneer ek dit dan wel dalk baie later publiseer en ‘publish now’ kies, word dit gepubliseer op die oorspronklike tyd wat dit die eerste keer as konsep gestoor is. Dit bring mee dat die bloginskrywing dan nie noodwendig as ‘n nuwe een verskyn nie.

Om dit te verhoed stel ek voor dat jy, net voor jy publiseer nou druk, die datum en tyd van die bloginskrywing fisies gaan verander na die huidige tyd. Jy doen dit by ‘post settings’ en dan ‘publish on’. Die foto hieronder is van een wat reeds gepubliseer is.

Sou jy ‘n bloginskrywing wil skeduleer om in die toekoms gepubliseer te word, gebruik jy presies dieselfde funksie, maar vul die datum en tyd in wanneer dit moet verskyn.

Terloops, vandag het my blog die 600 000 klieke perk verbygegaan. Dis sommer net vir interessantheid.

Toortsie

Ek en NaNoWriMo2019

Elke mens het iets anders wat vir hom ‘n uitdaging is. Wat vir die een persoon soos soetkoek is, is vir die ander persoon iets verskrikliks.

Soos NaNoWrimo. Vir die een persoon is dit om jaarliks die tyd te maak en die boek te skryf waarvoor hy die heeljaar nie tyd het nie. Dis dalk al sy tiende NaNoWriMo. Dalk is hy ‘n topverkoperskrywer en het hy ‘n doel met NaNoWriMo wat ek nie eers in my wildste drome aan kan dink nie.

Vir my is dit ‘n uitdaging net om deel te neem. Dis heeltemal buite my gemaksone. Ek vergelyk my ook glad nie met skrywers van naam nie en dit is vir my heeltemal goed genoeg.

Op skool was ek ongemaklik oor die opstelle wat ek geskryf het. Eerstens het ek regtig te min lewenservaring gehad om goed te kan skryf. Ek het nie geweet waaroor om te skryf nie. Ek wou die onderwyser tevrede stel en het meer gekonsentreer op die feite, op dit wat ek dink in die opstel behoort te wees. My ma sou vra wat die onderwerp was en dan, voordat sy myne gelees het, gesê het dat ek dit of dat moes skryf, wat ek nie gedoen het nie, my opstel was reeds ingehandig. Die stemmetjie in my kop sou dan sê dat ek weer eens verkeerd geskryf het.

Om dus ongeveer tien jaar gelede ‘n blog te begin skryf, was vir my ‘n massiewe waagstuk. Ek was bang. Onseker. Wat gaan die mense sê? Wat gaan hulle van my dink? Oor jare het ek dit oorkom en het dit vir my maklik geraak om 400 woorde te skryf. Oor iets waarin ek glo. My eie opinie. Of ander daarvan hou of nie.

Ek het ook aan bloguitdagings begin deelneem en begin waag om oor onderwerpe te skryf waar ek nie so gemaklik is nie. Ek het ook gewaag om my verbeelding te begin gebruik, iets wat ek beslis nie op skool gedoen het nie. Wat verbeelding aanbetref, is daar nog baie kans vir verbetering en my volgende waagstuk sal kortverhale wees. Sommer net om te sien of ek dit regkry. Sommer net om te sien of ek my verbeelding beter kan inspan. Sommer net om te sien of ek 2500 woorde kan skryf. Sommer net om te ontwikkel.

By NaNoWriMo2019 is die uitdaging vir my, Toortsie, om daagliks te skryf, om daagliks meer as 1800 woorde te skryf. Ek probeer om nie te vervelig te wes nie. Nee, ek gebruik glad nie my verbeelding nie en probeer om my verlede so goed as moontlik te dokumenteer. Ek doen dit vir myself. Die rede hoekom ek dit wel op my blog sit, is omdat daar mense is wat so dierbaar is en gevra het om dit te lees.

Ek geniet NaNoWriMo en begin alreeds dink hoe ek verder kan waag in 2020. Dalk ‘n bietjie meer voorberei? Dalk ‘n bietjie oplees voor die tyd? Wie weet? Weer eens doen ek dit vir my eie ontwikkeling.

Want, sou ek nie in daardie jare begin waag het om te blog nie, dan sou ek nie vandag aan NaNoWriMo deelgeneem het, of aan bloguitdagings, of deel van die Towerinne se boeke nie. Sou ek nie begin blog het destyds nie, sou ek nie twee boeke suksesvol uitgegee het nie.

Wat ‘n mens my skryfsels noem, weet ek nie, ek gee ook nie om nie. Al wat ek weet, is dat ek oor jare in my menswees gegroei het danksy hierdie skrywery. Baie selfsugtig, ja, maar ek kon natuurlik myself met verkeerde dinge ook besig gehou het!

Alaya Dawn Johnson, een van die aanmoedigers by NaNoWriMo, skryf:

Respect your bravery for even starting.

Yes, Alaya Dawn Johanson, I do. I do respect the bravery I had for even starting.

Mooi dag

Toortsie

My NaNoWriMo2019 woordtelling staan op 35 947. Volgende uitdaging: 40 000.