Lê jou eier: Jy leef net een maal

Hartlik geluk, Hester, daar doen jy dit weer! Hierdie keer daag sy ons uit om wild te gaan met ons drome.

Nou ja, Hester, hierdie Toortsie het ‘n kop vol lawwe idees, 80 persent daarvan om natuurlik nooit uit te voer nie, maar niemand het mos gesê mens mag nie planne hê nie! Wie weet, net dalkies gebeur sommige van hulle!

Terwyl ek nou wild mág gaan, hier is ‘n paar van dié wat dalk net by planne sal bly. Die planne wat al verjaar het, was om die Comrades te stap, let wel, die B Mus en die vleuelklavier.

Ag, dalk was die rooi helikopter ook net ‘n lawwe idee! Hoe kan ek vir julle vertel watter genot die gesigsuitdrukkings en reaksies was as ek vir mense van my rooi helikopter vertel het, dat ek hom self sou ry en dat sy landingsplek sommer op my huis se dák sou wees. Almal in die dorp sou weet wanneer die lawwe vrou by die huis was, of nie! Ek hét natuurlik op Ursula gereken om dit te help bestuur, maar intussen het sy mos verkas! Ek hoor haar wel soms by die voorsang in die kerk, so, sy leef darem nog. Dalk is dit net mooi die rooi helikopter wat haar sal terugbring! 😁

Van my pienk driewiel het ek nog nie te veel vertel nie. Die plan was om die eerste dag sommer met hom te ry en by almal wat hulle vir my sou skaam, te gaan dagsê. Dan kan hulle hulle nou maar skaam en klaarkry! Maar, waar ek my huis teen die berg wil bou, sien ek nie kans vir ‘n driewieltrappery nie.

Wat van ‘n jaar se ‘Rondom-die-wêreld’ trippie? Ek wonder of daar nog so ‘n vliegkaartjie beskikbaar is? Ek dink dit was so dat jy slegs in een rigting mag vlieg, nie heen-en-weer nie en 6 vlugte kon doen. Dan het jy ‘n jaar kans gehad om jou roete te voltooi. Dís nou wilde droom, né! In daardie jaar kon ek mos dan in die Ooste loop draai het, dalk Rusland besoek, sommer die Camino stap, kyk hoe lyk Suid-Amerika en wat nog alles! Ek kon selfs vir Una loop hello sê in Bali ook! Nou ja, Hester hét gesé ons mag wild droom! En drome is mos gratis, of hoe?

Hoe klink ‘n jaar se uitreik in Egipte? Iets soos Sondagskool hou vir die kinders? Ek dink nie ek sou die toets slaag om as Engelse onderwyseres daar op te tree nie! Of ek kan dalk ‘n jaar opheffingswerk in Kenia loop doen. Dan sal die preutse tannies seker sê, wat is dan fout in ons eie dorp, kan jy dit nie hier ook doen nie?

Nou ja, klaar gedroom! Nou is dit julle beurt.

Terloops, ek sien dat ons kerk se tema in 2018 ‘Een lewe, leef!!’ is. Doen dit! Leef dit voluit, maar tog met verantwoordelikheid.

Geleen by ons kerkalmanak.

Groetnis

Toortsie

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=751225

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

18 thoughts on “Lê jou eier: Jy leef net een maal

  1. Ek wou op ‘n stadium sendingwerk in Japan doen as ‘n voltydse sendeling maar dit het verjaar. Ek het ook op ‘n stadium gedink jy is of ‘n sendeling of ‘n elendeling! Maar daardie gedagte het (gelukkig) ook verjaar. Sonder Christus is ons wel almal elendelinge, Op stadium in my Bybel geskryf: vertel vir ander of verander. En natuurlik gedroom dat ek eendag skrywer sou word (maar ek skryf mos nou). Baie drome het verjaar omdat ek na my beperkinge kyk.

    Liked by 1 person

    1. Party drome verjaar omdat nuwes hulle plek ingeneem het. Ek sal nie meer vir ‘n jaar in Egipte gaan sendingwerk doen nie, God roep my om in my dorp Transformasie Bebedsbedoening te fasiliteer.

      Like

  2. Jy is n dromer so na my hart. Net nie te mal oor die hardlopery nie. Ek het self ook al gedink om in Korea te gaan skoolhou. Gelukkig het dit nie so uitgewerk nie. Het ook aansoek gedoen om lugwaardin te word maar was te maer gewees! Ha ha, nou kan ek nie help om te smile nie.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar op rondomtaliedraai Kanselleer antwoord