Die Argus roep!

Kyk, ek is nou só reg vir die Argus soos kan kom! Ek kan nou al mooi reguit ry. Gisteraand wou fietsie weer steeks begin en sommer links neuk, maar ek het mooi onthou wat manlief gesê het: ‘Draai die wiel!’ en raai, toe het hy sy nukke net daar gelos en ek kon die reguit stuk straat agter ons huis ry – op en af en op en af en …

Die grootste uitdaging was die spoedhobbels wat my behoorlik geskud het as ek hulle nie reg vang nie, maar verder ry ek al amper soos ‘n wintie! Sit glad al ratte oor en begin ontspan op my fietsie. En begin selfs al rondkyk. Man! Ek moes hom jare gelede al gekoop het. Bulte is maar net ‘n probleem. Ek dink nie hierdie cruiser-fiets is gemaak vir té steil oppe en awwe nie. So ek is tans redelik beperk tot die stukkie straat …

Maar die Argus roep! Iemand stel voor dat ek die mandjie vol Toortsieboeke laai en dit daar verkoop. Wat ‘n oulike plan! Of bossies blomme. Of wat van ‘n opkikkertjie of twee?

Sjoe! Laat ek loop oefen!

Toortsie

Fietsry is nie vir sissies nie.

Of is dit vir sussies? Ook nie!

Ek het fiets gery skool toe. Dit was maar ‘n spanningsvolle besigheid en ek het nooit baie gemaklik daarop gevoel nie. Ek besef nou dat my maag elke dag op ‘n knop getrek. Vermoedelik het my ouers s’n ook! Net ‘n gewone fiets. Sonder ratte. Eintlik het ek my blou driewieletjie wat ek kleintyd gery het, die meeste geniet.

My laaste fietsrypoging was op universiteit in 1981 wat ek gewaag het om iemand se fiets te leen en op ‘n besige Saterdagoggend Stellenbosch se nou strate in te vaar. My broer het my in baie duidelike terme gewaarsku dat ek dit eerder nie weer moet doen nie. Sien, hy was bang dat hy my moes graf toe dra. Hy hét seker geweet waarvan hy praat.

Jare later, toe ek hoor van die Argus, sê ek: “Ek sal die Argus ry as ek heel laaste mag wegtrek en dít met ‘n driewiel.”

Daarvandaan krap ‘n driewiel aan my. Dink hoe lekker sal dit wees as ek eendag afgetree sit by die see en elke dag my vis en tjips en ander kruidenierswaretjies met my driewiel kan gaan koop?

Eintlik het ek maar die idee laat vaar om ‘n pienk driewiel te koop, saam met die idee van ‘n rooi helikopter. Tot verlede week wat die gogga skielik ernstig byt. Ek bel ‘n fietswinkel en ja, hulle het een wat hulle sommer die volgende dag kom aflewer. Ewe die padfietsbande afgehaal en dikwielbande opgesit, net reg vir die plaas. Want op die dorp gaan ek nie ry nie, hulle sal mos myle ver sien dat ek nie weet wat ek doen nie!

Manlief moedig my aan om ‘n stukkie te gaan ry, hy ry saam met sy fiets. Net op die gelykpad agter ons huis. Ag toggie! Solank ek reguit ry werk dit. Die oomblik as ek draai, beland ek in die sloot of op die sypaadjie. ‘Draai die wiel!’ roep manlief en ‘moet net nie by die afdraend af ry nie!’ Die huis was ver toe ek terugdraai.

Wel, ek het die huis gehaal met my rooi driewiel. Met baie gesukkel. En nog meer gelag. En die afstand wat ek afgelê het was beslis minder as ‘n kilometer.

Nee, nee, ek gaan nie die Argus ry nie. Is jy laf? Ek wil nie my fiets onder sulke spanning sit nie! Eerder piekniekkos in die mandjie sit en lui-lekker op die plaas rondry. Iewers sal ek mos leer om die fiets in die pad te hou en te draai, of hoe? Ek moet net nie skandes maak en afval nie!

Toortsie

Daar kry ons toe ‘n papwiel

Natuurlik niks vreemds in ons wêreld nie. Teen Remhoogte se bult. Jy kan self dink waar Remhoogte sy naam gekry het, nè. Teen daardie selfde bult lê baaaaie van my stap- en drafspoortjies uit my jongdae. Vasbytspoortjies. Diepasemhaalspoortjies. Uithouspoortjies.

Manlief pak gou vinnig die bagasie uit om by die domkrag uit te kom en ruil die wiel om. Ek sit in die bakkie en trek hekelwerkies uit. Toe gebeur dit. Bakkie loop van die domkrag af. Plaas dat ek uitspring trek ek die reeds uitgetrekte dhandbriek en klou aan hom. Bakkie stop. Prys die Heer! Waar sou julle my en die bakkie onder in die kloof opgetel het? My handbriekgrypery het blykbaar nie die ding gedoen nie, maar dat die as op die spaarwiel geval het.

Twee keer het dierbare manne gestop om hulp aan te bied. Ons woon mos in ‘n liewe distrik, dan nie?

Die papwiel laat my dink aan ‘n pragtige jonge dame in ‘n spierwitte rok op pad na ‘n netjiese funksie wat ook ‘n papwiel gekry het. Nee, daardie keer het daar sowaar niemand verby gery nie. Rok moes skoon bly, jy weet.

Iemand anders kuier een keer in die buiteland. Moeg, met armsvol aankope, sien sy haar mense wat haar kom optel, aankom. Kar stop by stopstraat, sy spring in. Net om te sien dat dit nie háár mense is nie. Gryp weer haar pakkies en vlie uit die kar. By die huis aangekom, sou sy sien dat sy nie net haar eie pakkies gegryp het nie, maar ook ‘n pakkie met ‘n lieflike aandrok in! 😳 Sy het dit gaan rapporteer by die polisie, ook by die plaaslike radiostasie waar ‘n wou-hom-amper-breek-soos-hy-lag omroeper dit uitgesaai het. Of die rok ooit by die eienaar uitgekom het, weet nugter, maar dat die hele land verseker gelê het soos hulle lag, betwyfel ek nie. Suid-Afrikaners is woes!

En terloops, Ursula is beslis terug. Sy het my seker jammer gekry toe sy hoor ek is siek en daar is soveel wat ek moet doen. Ai toggie!

Toortsie

Na die maan

Nie soos in iets is na die maan, bedoelende dis verby nie? Dit ook, maar na die maan. Una, ons blogmaatjie, mede Goue Vrou, is nou al vir ‘n geruime tyd ‘n maansitter. Ja, glo dit as jy wil, en as jy nie wil nie, moenie, of, glo dit maar steeds. Want dit is waar. Sy het ‘n sitplekkie op die maan! Sy klim op en af met ‘n touleer, soos die behoefte kom en gaan. Ek voel baie gemaklik daaroor, want sy hou oor ons almal ‘n ogie wanneer sy daar is.

Maar nee, die Goue Vroue issie so nie. Hulle glo aan een vir almal en almal vir een. Kort voor lank vra een van die Goue Vroue of sy maar ook mag kom sit daarbo. Natuurlik!, sê Una, ek skuif ‘n bietjie op. ‘n Ander een sê sy gaan dit dalk ook nog wil doen. ‘n Ander een fluister dat sy ook al daar sit.

Ek waarsku vir Una dat dit nie meer lank is voor almal van ons daar bo sit nie. En ek kan nie belowe dat ons sal stilbly nie. Waar het jy nou al in jou lewe ‘n spul vroumense bymekaar gesien wat stilbly? Soos in doodstil? Nee, antwoord sy, die ding is, ons sal moet stilsit! Want sê nou die maan tip? En hoe op dees aarde kry ons die maan weer terug in posisie? Nou vra ek jou dit ook? Dertien vroue, elkeen met die maan gepla, wat stilsit en stilbly?

Een vir een klim die Goue Vroue op met die touleer. Jy moet hulle sien! Appeltjie klim mooi ordentlik op. Netjies. Soos ‘n beheersde vrou dit behoort te doen. Trommeltjies is minder versigtig, ek en sy is mos darem al die Baviaansberg oor en het reeds elkeen ‘n erfie of twee daar, sommer styf teen mekaar! Vir Aalsie moes julle aanskou! Sy is mos die entoesiastiese Goue Vrou! Met entoesiasme het sy daardie touleer aangedurf en voor jy kan sê, ‘mes’, was sy al bo en het sy haar sit gekry. Scrapydo het mos kontakte met Elon Musk en sy het sommer daar uit New Zeeland, woerts met een van sy vinnige masjiene gaan land op die maan. Geen probleem vir háár nie! Tannie Frannie, grasieuse dame wat sy is, het sommer gou-gou onse Blitz gekry, vir VirgoC en WoordNoot gaan oppik en maklik die maan bereik. Sonell en Christa was baie waaghalsig en het ‘n lugballon gekry om hulle op die maan te besorg. Positief en Seegogga het ons groot vlieënde tent gebruik.

Al wat oorgebly het was ek! Ja, ek! Ek met die BAIE entoesiasme, nog ‘n groter mond, wat lyk of ek die wêreld se mannemoed het, vreeslik waaghalsig op die koop toe. Die waarheid is egter ‘n ander storie. Ek is bang. Vrek bang. Meer grootmond as grootmoed. En niemand het gedink om my met ‘n Elon Musk masjien op te tel, of Blitz te stuur, die VVVTT te navigeer tot by my of my op te pik met die lugballon nie. Want nee, dis nie hulle skuld nie, ék gaan mos sommer woerts warts met die touleer opklim. Ek bedoel, hoe moeilik kan dit nou eintlik wees? Una doen dit asof dit die kleinste ou dingetjie in die wêreld is, hoekom sal ek nie kan nie.

So, indien julle wonder waar ek is, ek staan steeds op die heel onderste sportjie van die touleer. Ek kom nie reg nie! Soos ek nou probeer opklim met hom, vou hy al weg. My lyf hang hierdie kant, my voete gaan net al hoe verder. Ek is nou al stokflou gesukkel en ek kom nie ‘n tree verder nie. En weet julle wat nog? Met die lot daar bo op die maan, wat glad nie stilbly of stilsit nie, skud die maan en natuurlik die touleer ook. Ek moet net klou vir al wat ek het! Want ek is aan die onderpunt van die tou. ‘n Effense beweginkie van die maan, is soos ‘n orkaan daar waar ek is! Una se man het nou al kom help om die maan te probeer vashou, maar dit werk ook nie.

“Hellooooooooo! Julle! Hellooooooo! Kom julle agter Toortsie is nog nie op die maan nie? Help. Heeeeeeelllllllllpppppp! Iemand! Hoooooooorrrrrrrr julle myyyyyy? Ek wil nie agterbly nie!!!!!!!”

Klink my my maantoeganery is wraggies na die maan! All dressed up and nowhere to go?

Tsk.

Toortsie

Naskrif. Nie alles my eie storie nie. Baie geleen by Una en ander Goue Vroue. Dit gebeur wanneer die Goue Vroue aan die kekkel raak. 🙂

Die arme rooi

Ek hoor nou die dag op die radio dat as jy vir ‘n werksonderhoud gaan, jy tog nie rooi moet aantrek nie, want jy wil nie aggressief voorkom of onnodig aggressie veroorsaak nie. Genade! Asof jy nou ‘n bul in ‘n bulgeveg benader met ‘n rooi doek. Maar dalk is dit juis dit! ‘n Werksonderhoud kan seker soos ‘n bulgeveg voel en dan is die rooi seker gevaarlik, maar rooi is dan juis die kleur wat my moed gee as ek bang voel.

Ook moet ‘n mens nie eintlik rooi in ‘n slaapkamer gebruik nie, eerder ‘n ligte blou. Want rooi sal nou kwansuis maak dat jy nie so rustig slaap soos jy behoort te slaap nie. Al wat ek weet, vir baie jare het ek rooi beddegoed en rooi gordyne in my slaapkamer gehad. Dit was my beste slaapjare ooit.

In die ou dae was daar mos ‘n storie aan rooi skoene. . Nou wonder ek wat hulle oor my te sê sal hê as julle in my skoenelaai loer? Nou ja, dit is plat hakke met ‘n strikkie op die tone. Nogal lekker skoene, moet ek sê, maar ek verlang steeds na daardie pragtige paar rooi skoene wat ek gehad het met die blom op die tone. So jammer die skoenwinkel hou hulle nie meer aan nie.

Maar van rooi doeke en bulle en wilde diere gepraat. Ek dink nie ons moet ‘n rooi doek gebruik wanneer ons ons seekoeitjie en olifantjie gaan haal nie, dit kan hulle dalk net ontstel. Ek en Seegogga wil mos so iets organiseer vir ons dorp. ‘n Seekoeitjie in ons dorpsdam en ‘n olifant in die bloekombos langs die dam. Maar tannie Frannie is ‘n bietjie ontsteld hieroor, ek verstaan nie hoekom nie? Sy is bekommerd oor ons planne, sê sy. Wat sy nie weet nie, is dat ons mense ken wat mense ken wat mense ken, jy weet. Dit behoort glad nie moeilik te wees nie. Una kon dan al ‘n seekoei organiseer vir Hartebeespoortdam, hoekom kan ons nie ook nie?

Toortsie