Wat is die kodewoord?

Groentesop! Ja! Die kodewoord is ‘groentesop’.

Toe ek begin Bant het meer as drie jaar gelede, was sop vir my ‘n uitdaging. Ons boeremense in die Overberg maak mos styselsoppe. Ertjiesop of boontjiesop met aartappels en ui en vleis in. Nou moet die stysel uit. Dit was ‘n uitdaging op sy beste.

Intussen het ek al baie soppe leer kook en ontwikkel totdat dit Bantingstatus bereik en regtig, na drie jaar van Banting raak dit al makliker om ‘n resep om te werk tot Bantingstatus.

Die groentesopstorie het ontstaan met die fotonemery vir die tweede Toortsie, Hier’s die Toortsie weer! Ek het ‘n vreeslike spul kos gaan koop om te gebruik vir die foto’s. Aan die einde van die eerste fotosessie was daar baie groente oor wat ons nog nie kon maak en afneem nie. Die volgende fotosessie sou eers oor ‘n week wees en dan sou die groente nie meer reg en vars wees nie. Daar was ook baie groente wat halfpad opgesny was vir een of ander foto.

Ek kon nie al die kos laat verlore gaan nie, die volgende week moes ek wéér koop en geld groei nie op my rug nie!

Net daar beland al die groente in ‘n pot saam met water en ‘n pakkie benevleis. Dit was goed soos ‘n patat, halwe botterskorsie, wortels, groenboontjies, kopkool, blomkool, broccoli, ui, knoffel, spinasie, tamaties, groenpeper, wat nog alles. Natuurlik geurmiddels ook, want sop moet geurig wees, soos sout en peper en koljander, gemmer, Wonderpeper van Piment, blatjang, Worcestersous.
Wanneer alles sag en gaar is, word die bene verwyder en die vleis in blokkies gesny en die hele pot sop verpulp met die stokmenger. Zuuuttttt.

500 ml room bygevoeg en whala! Die heerlikste, geurigste, romerigste sop!

Net daar het ‘n nuwe gewoonte ontstaan. Ek koop weekliks my kruideniersware. So, die groente wat oor is van die afgelope week, beland in die soppot en word ‘n heerlike sop wat orals benut word.

Wag ons vir die kinders om huis toe te kom, eet ons solank ‘n bordjie sop. Voel ons sommer net lus vir iets om te eet, is groentesop die antwoord. Kry ons gaste vir braai, word ‘n bordjie groentesop in die hand gestop as voorgereg en hoef daar nie ‘n dure ‘snack’-bord voorgesit te word nie. Kry jy onverwags gaste vir middagete, is die sop die antwoord. Die pot sop is soos die weduwee se kruik, dit wil net nie leeg raak nie.

Terloops, daar ís ‘n groentesopresep in Toortsie se Bantingboerekos.

So, wat is die kodewoord?

Groetnis
Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Koop tyd

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

22 thoughts on “Wat is die kodewoord?

  1. Ek gaan dood oor enige sop. My man kook baie en sy sop is behoorlik uit die boonste rakke – sonder ‘n resep! In die winter weet hy dat ek elke aand sal sop eet en nie kla nie. Sy groente-vleissop veral.

    Liked by 1 person

  2. Die uwe het ook redelik onlangs ontpop as sopkoker, nou nie juis van formaat nie maar Vroukie se dis lekker. Dalk smeer sy my heuning om die mond sodat ek nog meer kokery op my neem?
    Nietemin, daai sop van jou klink soos moerby sop.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!