Wie is Sebastiaan?

Christina B vertel van hulle kampery by Brandberg en ek kon nie help om te onthou van ons eie ervaring daar nie.  Ek het dit destyds op my vorige blog geskryf, en toe ek een nag in waansin my blog uitvee, was daar sowaar ‘n blogmaat wat my bloginskrywings vir my kon stuur! Blogmaats. 🙂

Hierdie is die verwerkte weergawe van daardie bloginskrywing, baie lank gelede geskryf:

Ons was op ‘n tent-safari in Namibië. Ons het twee nagte by Palmwag geslaap, in tentjies in die oopte – ek bedoel, daar is nie omheinings om die kamp nie! So, as jy in die nag ‘n draaitjie wil loop, lig jy net met jou  flits so in die rondte en dan spring jy vir die toilet.

By Palmwag is die baie bekende Sebastiaan, ‘n olifant. Ons word baie mooi geleer dat ons hom moet respekteer en glad nie moet pla nie. Hy beweeg maar daar rond, dan vreet hy naby jou tent aan die boom, netnou is hy weer iewers anders. Sou hy in die pad wees as jy wil toilet toe gaan, dan knyp jy maar totdat hy weer besluit om aan te skuif! Dit het heel goed gewerk!

Die volgende kampplek was by Brandberg. Hulle waarsku ons teen die woestynolifante wat soms deur die kamp beweeg, waarop my man so ‘n lekker snork gee. “Watse olifante! Hulle bly waarsku en ons sien hulle nêrens.” Elke tentjie is heerlik onder ‘n boom opgeslaan, tog te lekker. Terloops, by daardie “kamp” het die badkamers nie eintlik deure nie. Ook nie dakke nie!!! Dis sulke riet-“mure”. As jy in die badkamer is, sit jy ‘n stokkie so skeef neer, dan weet iemand anders dis beset! Dit werk heel goed! Daardie nag stap ‘n tienermeisie alleen toilet toe en toe sy klaar is en weer so met haar flits lig, sien sy geel oë. Wel, ons weet nou nog nie wie se oë dit was nie, maar sy het besef die badkamer gee nie eintlik skuiling nie en het toe maar gehardloop! Sy was baie waaghalsig! Ek het maar altyd vir pappa wakker gemaak in die nag as ek ‘n draaitjie wou loop.

Die tweede nag by Brandberg het ons redelik vroeg gaan slaap en dit was nie lank nie, toe hoor ons ‘n vreeslike lawaai. Dit was ‘n klomp donkies wat deur die kamp hardloop, maar die groot lawaai was ‘n trop olifante wat ook die kamp betree het. Hulle kom baklei toe styf teen ons tent. Ons lê doodstil, te bang om te beweeg of om ‘n geluid te maak. Jy kon die olifante se mae hoor rommel! En hulle was OMGEKRAP!  My vrees was nie dat hulle op my sou trap nie, hulle weet mos ek is daar, maar as hulle baklei kyk hulle nie waar hulle hulle voete neersit nie!! Die volgende oomblik skuur daar net ‘n tak teen ons tent, ‘n tak wat hulle bokant ons tent afgeskeur het!

Ons hét dit oorleef, anders kon ek mos nie die storie vertel nie!

Groete

Toortsie

Toortsie se faceboekblad.

13 thoughts on “Wie is Sebastiaan?

  1. Sjoe dit moes angswekkend gewees het! Ek moet sê ons kampeerdery daar was baie rustig, ons het niks olifante gesien nie. Blykbaar trek die olifante deesdae verder noord op soek na weiding en water. Gelukkig is daar darem deesdae ‘n baksteenmuur rondom die stort en toilet met ‘n hekkie wat toemaak so dit bied darem meer skuiling! Dankie vir die vertel, ek het dit geniet.

    Liked by 1 person

      1. Yep, ek glo jou!!! Dit is nou een ding wat almal in gemeen het, ryk of arm… party se trone is bietjie deftiger as ander s’n soos bv om ‘n dak oor jou kop te hê 🙂

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!